Die tronkgesprekke. Willie Esterhuyse

Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse


Скачать книгу
Botha aan twee Stellenbosse akademici (Sampie Terreblanche en Willie Esterhuyse) gesê het na sy intelligensiemense hom ingelig het dat dié twee op pad na Lusaka was om met die verbode ANC ’n gesprek te gaan voer: “Ons praat nie met moordenaars nie” (1984). Dié beoogde besoek is onder groot geheimhouding deur professor HW van der Merwe van die Universiteit van Kaapstad, ’n Kwaker, gereël. Terreblanche en Esterhuyse het toe die beoogde gesprek gekanselleer.

      Powell maak ’n belangrike punt: Leiers van terroristegroepe bly gewoonlik langer aan die stuur van sake as demokraties verkose regerings. Gerry Adams en Martin McGuinness het nie minder nie as agt Britse eerste ministers oorlewe, en pres. Fidel Castro selfs elf VSA-presidente! Daarom reken dié leiers dat hulle ’n strategiese en taktiese voorsprong het: Na vier tot vyf jaar kan hulle met ’n ander regeringsleierskorps onderhandel.

      Wat Powell se boek belangrik maak, is dat dit ’n faset van voorpuntdiplomasie na vore bring waarop nog nie genoegsaam in die literatuur gefokus is nie, naamlik die rolle van en samewerking tussen intelligensiedienste en uitgesoeke individue in dié tipe diplomasie; byvoorbeeld diplomate, sakelui, gemeenskapsleiers, kruis-kulturele vriendskappe, humaniste en vroue-organisasies. Akademici en intellektuele is minder suksesvol. Hul rolle speel gewoonlik op ’n ander vlak uit, naamlik die van meningsvorming, verskuiwing van persepsies en beredeneerde ontleding. Voorpunt- of tweedespoor-diplomasie verteenwoordig ’n eiesoortige rol: agter-die-skerms, sonder openbare verklarings.

      So ook die verhaal van Prisonier 913, Nelson Rolihlahla Mandela, wat vir baie dekades as Suid-Afrika se mees gevaarlike terroris én kommunis in veral Afrikanergeledere beskou en tot lewenslange gevangeneskap gevonnis is. ’n Sogenaamde sekerheidsgevangene, dit wil sê ’n bedreiging vir die veiligheid oftewel sekerheid van die apartheidstaat. En volgens die apartheidstaat nie ’n politieke gevangene nie.

      Dié sekerheidsgevangene som lank voor sy vrylating in Februarie 1990 die idee én belang van voorpuntdiplomasie glashelder op teenoor ’n vriend en vertroueling wie se naam ongenoem kan bly. Dit is trouens meer as bloot ’n verduideliking en in ’n belangrike mate ’n belydenis: “All I am saying is that I am discussing with the government and nobody knows with whom I am discussing an(d) I will never disclose that. I am the only person who knows about that and I make this particular request especially now that I am alone (in Pollsmoor) … I am not in a position to say anything which is not consistent with my undertakings, but will keep this confidential. Discussions of this nature can go on without (the) public knowing … to see somebody and Minister Coetsee said that he would see me but that I must not let anybody know about it. I doubt if anybody in the NP knows that, and I have kept it to myself. As an attorney I dealt in very sensitive matters …”

      Dié opmerking illustreer die absolute kern van alle vorme van voorpuntdiplomasie, naamlik dat daar sonder ’n hoë mate van integriteit nie “trust and confidence-building” in konflikgeteisterde samelewings in gesprek-met-die-vyand moontlik is nie. Getekende ooreenkomste is belangrik en noodsaaklik, maar persoonlike ondernemings en verbintenisse (commitments), oftewel ongeskrewe en ongetekende rules of engagement – soms rigtinggewende eksistensiële waardes en beginsels genoem – eweseer so. Prisonier 913 beklemtoon dié posisie. En ook dat die integriteit van prosesse en die integriteit van mense in wisselwerking met mekaar staan – ’n belangrike subtema van die volgende hoofstukke. Moraliteit (dit wat algemeen as reg aanvaar word), en algemene belang (dit wat in alle demokratiese samelewings aanvaarbaar en menseregtelik die beste opsie is), is die dryfkrag agter Prisonier 913 se strategiese en taktiese oorweging om met die vyand te praat. In Kobie Coetsee vind hy ’n gewillige gespreksgenoot.

      Dié boek fokus egter nie bloot op Prisonier 913, Nelson Mandela, en Kobie Coetsee nie. Alle skikkings en beslegting van konflik deur middel van gesprek en onderhandeling is per definisie ’n ingewikkelde en soms tydrowende proses. Prisonier 913 en Coetsee was belangrike spelers in dié opsig. Maar hulle was nie die enigste nie. Voorpuntdiplomasie en skikkings- en vredesprosesse in diep verdeelde en gewelddadige samelewings veronderstel immers baie spelers.

      Die fokus van voorpuntdiplomasie, en Prisonier 913 en Coetsee se rolle, wil wel beklemtoon: skikkings- en vredesprosesse in diep verdeelde samelewings veronderstel ’n spesifieke vorm van leierskap; soos byvoorbeeld dat die betrokke leiers nie ’n obsessie met voorbladberigte oor hul doen en late het nie, nie doelbewus publisiteit soek om hul eie beeld te bou of die sogenaamde publiek se guns probeer wen nie. Die onbesonge helde van die staatsdepartement van justisie en gevangeniswese se rolle in dié ingewikkelde proses is ’n voorbeeld.

      In dié boek sal meer vertel word oor die tweedespoor- of voorpuntdiplomasie wat uiteindelik tot pres. FW de Klerk se opspraakwekkende toespraak op 2 Februarie 1990 gelei het. Dit sal ons doen aan die hand van dokumente uit die nagelate dokumenteversameling van mnr. Kobie Coetsee – ’n adjunkminister in eerste minister BJ (John) Vorster se kabinet en mettertyd minister in die kabinette van presidente PW Botha en FW de Klerk.

      Die versameling bevat ’n verskeidenheid notas, verslae en transkripsies van gesprekke tussen politieke gevangenes en hul besoekers (familie of vriende), leiersfigure wat toestemming gekry het om die gevangenes te besoek of selfs amptenare wat van tyd tot tyd gevangenes te woord gestaan het. Al die gesprekke is gemoniteer – die amptelike term wat gebruik is, maar eintlik net beteken gesprekke is afgeluister. Daar is soms ook verslae oor gesprekke opgestel wat op die lessenaar van Kobie Coetsee as minister van justisie en gevangeniswese beland het.

      Die hooffokus was natuurlik op Nelson Mandela, mettertyd in gevangenistaal gedepersonaliseer en herdoop tot Prisonier 913. Hy het voorheen ook ander nommers gehad gedurende sy 27 jaar lange gevangenskap.

      Sy gespreksmonitering het met ’n heilige ywer plaasgevind. Dit het nie saak gemaak of hy nou met sy dogter, sy vrou of sy prokureur gepraat het, of met lede van die Statebond se Eminent Persons Group (EPG) wat Suid-Afrika in 1986 besoek het om oor vredesprosesse en die vrylating van politieke gevangenes te praat nie. Selfs gesprekke tussen Kobie Coetsee en Prisonier 913 is op band vasgelê. Van dié gesprekke is spesiaal deur die intelligensiediens bestudeer om leiding aan die magtige staatsveiligheidsraad (SVR) te gee. Niël Barnard van die Nasionale Intelligensiediens (NI) was die sekretaris van die SVR.

      Dit is ’n verhaal waarin Prisonier 913, Nelson Mandela, ’n sleutelrol speel. Amptelik was hy ’n terroris én kommunis wat op 27 Mei 1962 tot vyf jaar tronkstraf op Robbeneiland gevonnis is en toe tot lewenslank op 12 Junie 1964. Sy vonnisoplegging en ook die van sy medestryders, soos Walter Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Kathrada en Denis Goldberg, deur regter Quartus de Wet, laat ’n wrang smaak in die mond vanuit die perspektief van vandag.

      Die Paleis van Justisie, waar die verhoor plaasgevind het, was aan Kerkplein geleë in die buurt waar Jopie Fourie, ’n Boere-rebel, deur die Smuts-regering gefusilleer is. En dit is hier waar Mandela se lang opmars begin het om by uitstek die wêreldsimbool van vryheid, geregtigheid en martelaarskap te word.

      Sy vrylating word uiteindelik die NP-regering se mees ernstige nasionale en internasionale probleem. Dit was só erg dat dit Prisonier 913 in ’n posisie gestel het waarin ook hý ’n leidende rol in die vrylatingsproses kon speel en nie bloot presidente PW Botha en FW de Klerk nie. Aanvanklik “bestuur” Prisonier 913 sy eie vrylatingsproses informeel en later selfs formeel. Kobie Coetsee speel hierin ’n belangrike rol. So ook Niël Barnard.

      Voorpuntdiplomasie vereis agter-die-skerms-vredesinisiatiewe; die bou van persoonlike vertroue tussen individuele leiersfigure van openlik strydende partye. Geselekteerde binnekringondersteuning van die gesprek-met-die-vyand is ’n voorwaarde vir sukses. Prisonier 913 was hierin ’n meester. Ondersteuning van sy mede-gevangenes, soos Walter Sisulu en selfs OR Tambo, en Kobie Coetsee, senior amptenare van die gevangenisdiens en natuurlik die Nasionale Intelligensiediens se rolle was eweneens deurslaggewend.

      En dan was daar Komvang, oftewel die kommissaris van gevangenisse – ’n invloedryke posisie. Die kommissaris en sy personeel was sleutelfigure in die gespreksproses wat vanaf veral 1985 ontwikkel het om Prisonier 913 op sy uiteindelike vrylating voor te berei. Dit illustreer dat die konstruk van die vyand – oftewel die etikettering van die vyand as die “ander” wat antagonisme, verwerping, teenstand en selfs gewelddadige versetaksies verdien – nie so dominerend is dat daar nie op interpersoonlike en individuele vlakke wel gesprek,


Скачать книгу