Die tronkgesprekke. Willie Esterhuyse

Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse


Скачать книгу
was in die geval van Suid-Afrika ’n spanpoging. In die tronk was dit eers tussen Coetsee, senior gevangenispersoneel en Prisonier 913. Later het ook Niël Barnard bygekom en, in ’n mate, president PW Botha. Soos dit die geval met alle politici is, was Botha se deelname sodanig dat hy alles sou kon ontken indien openbare bewerings gemaak sou word. Die interaksie was immers nie-amptelik en veral nie op papier met opskrifte en stempels nie – ’n algemene handelingswyse tydens voorpuntdiplomasie. Daar was dus eerder mondelinge as geskrewe ooreenkomste.

      Om iets van dié spanpoging te snap, is dit nodig om ’n agtergrond te skets van die destydse politieke konteks. Dié konteks het immers ’n vormende invloed op die ANC as protes- en uiteindelik versetbeweging gehad.

      Nelson Mandela speel ’n leidinggewende rol in die verskuiwing vanaf blote protes na openbare verset. Hy was, as vryheidsvegter en versetsleier, in ’n sin die “produk” van die NP, wat uiteindelik die NP “oorneem” en na sy graf stuur. Sy eggenote, Winnie Mandela, was trouens self as vryheidstryder en versetsleier die noodwendige en noodsaaklike teenspeler van die apartheidsregime.

      Daar was ’n polities bepalende en selfs dwingende konteks wat verstaan moet word.

      Dit word in Afdeling 1 gedoen. Die fokus op die apartheidsregering se stryd teen kommunisme en terrorisme hou onder meer verband met die feit dat die ANC ’n kongresbeweging was wat verskillende organisasies en bewegings (movements) ingesluit het, waaronder die Moskou-georiënteerde SAKP. Talle wit Suid-Afrikaners, onder andere Bram Fischer en Joe Slovo, was lede van die SAKP. Die ANC, as movement, later selfs ’n breë kerk genoem, het daarop aanspraak gemaak om ’n verenigende rol kragtens ’n paar sleutelwaardes (nie-rassigheid, gelykheid, geregtigheid) en sleuteldoelwitte (bevryding) te speel. Dit was, so is gesê, ’n dinamiese en groeiende organisasie wat die diverse belange van sy lede verteenwoordig. Gevolglik was die ANC besonder selfversekerd van ’n uiteindelike oorwinning.

      Dié konteks-analise hou verband met die volgende: Vir die NP-regering was die teenwoordigheid van die SAKP binne die beweging ’n sentrale kwessie, soos vertolk binne die werklikhede van ’n felle ideologiese stryd. En toe Umkhonto we Sizwe (MK), die militêre vleuel van die ANC, verskyn, met opleiding en wapenvoorsiening uit hoofsaaklik kommunistiese lande, word die ideologiese stryd ook ’n stryd teen terrorisme wat vanuit Moskou georkestreer is. ’n Belangrike gevolg was die vraag: Is Prisonier 913 ’n swart nasionalis of ’n kommunis? Afrikanernasionalisme was immers fel anti-kommunisties.

      Daar word in dié afdeling ook aangevoer dat die NP-regering se stuksgewyse hervormingsprogram en balkanisering van Suid-Afrika deur middel van selfregerende etniese swart state (tuislande), nie die vryheidstryd kon troef met standhoudende vredesprosesse of dit selfs net kon demp nie. ’n Politieke dooiepunt was ewe onafwendbaar as gesprek-met-die-vyand. Wit mense, sowel Afrikaans as Engels, ontdek wel ’n reddingsboei: hervorming. En die ANC reken: Die apartheidstelsel is aan die wankel. Apartheid kan nie hervorm word nie. Dit moet afgeskaf word. Dit is trouens in dié tye dat die vertroulike tronkgesprekke met Prisonier 913 begin vlam vat het, aangevul deur ewe vertroulike gesprekke vanaf 1987 tussen Afrikanermeningsvormers en ANC-leiers soos Thabo Mbeki en Jacob Zuma.

      Al dié gesprekke lei tot die werklike Rubicon-ontmoeting op 12 September 1989 tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma van die ANC aan die een kant, en twee baie senior lede van die Nasionale Intelligensiediens aan die ander, in ’n hotel in Luzern, Switserland. Dit was ’n dramatiese en nuwe fase in die proses van voorpuntdiplomasie. En FW de Klerk, wat enkele dae vantevore by Botha as president oorgeneem het, tel die bal op. Hy word uiteindelik tereg, saam met Mandela, met die Nobelprys vir vrede beloon.

      Afdeling 2 vertel die verhaal van Prisonier 913 se rol in die beslegting van die dooiepunt, die rolle wat ’n paar ander instansies en individue, onder andere Kobie Coetsee, gespeel het en Prisonier 913 se uiteindelike vrylating, en die herstel van sy volle naam en reputasie: Nelson Rolihlahla Mandela, oftewel Madiba, soos hy in die volksmond bekend sou staan.

      Nie meer as ’n prisonier nie, maar as die eerste president van ’n gedemokratiseerde RSA.

      DEEL 1

      _______________________________

      Kontoere van die politieke landskap voor 1990

      1.

      Die stryd teen kommunisme en terrorisme

      OP 6 SEPTEMBER 1966 word dr. HF Verwoerd, eerste minister van Suid-Afrika, met ’n dolk deur Dimitri Tsafendas in die parlement vermoor. Verwoerd word by uitstek beskou as Suid-Afrika se argitek van apartheid. Hy was ’n ideoloog by uitnemendheid wat rasseskeiding (segregasie) tot ’n beginselposisie teenoor rassevermenging (integrasie) verhef het. Onder sy leiding word ’n stelsel van beleidsmaatreëls, wetgewing én rasgebaseerde waardes planmatig gekonstrueer. Pogings om dié rasse-ideologie aanvaarbaar te maak met argumente oor etnisiteit (volk) en vorme van selfbeskikking, kon nooit die kernbeginsel van sy ideologie verdoesel nie: rassesegregasie, soos dit voorgeskryf en deurgevoer is deur die NP-regering. Vir die teenstanders van apartheid, soos die ANC en Mandela, was dié stelsel ’n vorm van praktiese en strukturele gewelddadige rassisme.

      Billikheidshalwe moet daarop gewys word dat Verwoerd nie regtig die vader van die apartheidsideologie en -stelsel was nie. Verwoerd het wel aan die apartheidsideologie, soos wat dit reeds in Afrikanergeledere begin gis en floreer het, duideliker begrip, aanvaarbaarheid (onder Afrikaners) en gespesifiseerde beleidsdoelwitte gegee. Trouens, die gistingsproses was nie eens ’n outentieke Afrikaner-affêre nie. Dit was deel van ’n Westerse en selfs globale tendens. Arbeidswetgewing om goedkoop mynarbeid te verseker, was byvoorbeeld nie die produk van Verwoerd se rassistiese politieke drogbeelde nie. Die Britte het entoesiasties en in eiebelang aan dié rassistiese arbeidstelsel getimmer.

      Die apartheidsideologie was, by wyse van spreke, lankal in Afrikaners se lugweë. Om ’n voorbeeld te noem: In Julie 1949, ná dr. DF Malan en die NP se oorwinning in die verkiesing van 1948, hou die gefedereerde NG Kerke ’n kongres. Hulle reik ook ’n verklaring uit, opgeneem in hul Referate en besluite:3

      “… aangesien die blanke ras in Suid-Afrika die draer van die Christelike kultuur en beskawing is, en geroepe is om hom op die hoogste peil van suiwerheid en doeltreffendheid te hou indien hy die beste dienste aan die godsdiens en sedelikheid, die wetenskap en kuns in Suid-Afrika wil lewer, verwelkom die Kongres die stappe wat die Regering getref het om huwelike tussen blank en nie-blank te verbied”.

      Wetgewing in dié verband is in 1949 deur die NP-regering onder leiding van sy oud-dominee, Malan, ingestel. Soos ’n klompie NG dominees voor en na hom, byvoorbeeld die konserwatiewe Andries Treurnicht, wat die Nasionale Party van PW Botha laat skeur het en die regse Konserwatiewe Party gestig het, loop Malan se pad vanaf die preekstoel na die politiek. Malan verlaat die preekstoel eers vir Die Burger (as redakteur) en later leier van die Nasionale Party wat generaal Jannie Smuts van die Verenigde Party in 1948 die loef afsteek. Hierna sou die NP vir bykans ’n halfeeu die politieke septer oor Suid-Afrika en sy groeiende bevolking swaai; onder andere die massiewe swart verstedeliking.

      Die NP se verkiesingsoorwinning en Malan se leierskap vind binne ’n definiërende internasionale omgewing plaas. Sowel die Nazi’s as die fasciste is verpletterend verslaan, deels met behulp van kernbomtegnologie wat ’n dekades lange Koue Oorlog met Washington en Moskou as hoofantagoniste veroorsaak. Die Verenigde Nasies (VN), indertyd algemeen in Afrikaans die Verenigde Volke-Organisasie (VVO) genoem, word gevestig met Smuts as een van die vroedvroue. ’n Verklaring van universele menseregte word in Desember 1948 deur baie lande aanvaar. Die Atlantiese Manifes (Atlantic Charter), soos dit sedert bekragtiging in 1941 bekendgestaan het, het die reg op selfbeskikking en selfregering van kolonies beklemtoon. Indië (1947), Ceylon en Birma word onafhanklik, en in Suid-Afrika neem die Nasionale Party in 1948 die leisels oor.

      Die NP se kleurbeleidsverklaring in die destydse koerant Die Transvaler op 29 en 30 Maart 1948 het dit duidelik gestel: “Aan die een kant is daar die beleid van gelykstelling wat voorstaan gelyke regte vir alle beskaafde en ontwikkelde mense, afgesien van ras of kleur, en die geleidelike toekenning van stemreg aan die nie-blankes namate hulle bevoeg word om van die demokratiese regte gebruik te maak. Aan die ander kant het


Скачать книгу