Die tronkgesprekke. Willie Esterhuyse

Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse


Скачать книгу
op Christelike beginsels van reg en billikheid. Dit beoog die handhawing en beskerming van die blanke bevolking as ’n suiwer blanke ras …”

      Die ANC neem kennis van dié blatante rassisme. Nelson Mandela was in 1948 reeds ’n bekende gesig op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en aktief betrokke by die ANC. Sy jare lange vriendskap met George Bizos het trouens op die Wits-kampus begin. Dit was een van die sogenaamde oop universiteite waar swart studente kon studeer, maar byvoorbeeld nie in die swembad kon swem nie. Integrasie was nie inklusief nie, maar streng gekontroleerd. Malan en sy NP sou egter baie gou dié selektiewe integrasie met sy sorgvuldige, beskermde skyn van rassetoleransie doelbewus teiken.

      Die eerste skoot klap in die parlement tydens sy nooienstoespraak as eerste minister: Oop universiteite is ’n onding. ’n Ander reëling, selfs aparte instellings, sal getref moet word. En wat maak swart buitelanders aan die oop universiteite? Dit was ook nie net ’n eenmalige leë politieke dreigement nie. Daar word baie gou aan ’n kwotastelsel vir swart studente in die mediese en tandheelkunde fakulteite gedink. Dit lei tot studenteproteste en massavergaderings. Liberale, kommunistiese en swart nasionalistiese studente word deur dié kwessie verenig. Dit skeel Malan en sy NP min en hulle wil by die universiteitsowerhede weet wat onder die protesterende studente aangaan. Van die Wits-studente sou later bekende persoonlikhede word: Harry Schwartz, Philip Tobias, Ruth First, George Bizos en natuurlik Nelson Mandela.

      Kort op die hakke van die verbod op gemengde huwelike, en binne twee jaar ná die VVO se aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte, kry die beleid van staatsgedrewe segregasie in 1950 vier vername boublokke:

      •Die Bevolkingsregistrasiewet, oftewel die amptelike klassifikasie van mense volgens hul ras.

      •Die Groepsgebiedewet, oftewel woongebiede volgens rasseklassifikasie.

      •Die Ontugwet, wat seksuele verkeer tussen wit/swart kriminaliseer.

      •Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, wat onmiddellik toegepas is met die verbanning van die SAKP.

      Intussen vorder Nelson Mandela se leierskapsprofiel binne die ANC. Hy word in 1949 verkies tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee. In 1951 word hy die president van die ANC-jeugliga. Die ANC, wat reeds in 1912 gestig is, was teen 1950 nie juis ’n beweging wat die bewindhebbers snags laat wakker lê het of bedags as ’n belangrike besprekingspunt op beleidsagendas geplaas is nie.

      Die Nasionale Party het dié situasie egter verander en met hul beleidspunte nuwe politieke lewe en energie in die ANC ontketen. Die rol van die NP vanaf 1948 in die wel en wee van ons land, en die groei van die ANC gedurende die dekades ná 1948, staan in ’n regstreekse en wisselwerkende verband met mekaar. Dié wisselwerking lei tot die eerste werklik betekenisvolle politieke kantelpunt (tipping point) in wit-swart-verhoudinge: die beroemde Defiance Campaign oftewel Versetveldtog van Junie 1952, met Nelson Mandela as een van die hooforganiseerders. Dit was ’n vreedsame en nierassige massaprotes, ’n vorm van burgerlike ongehoorsaamheid wat duisende mense teen apartheidswetgewing gemobiliseer het. Die meeste van hulle het nie stemreg gehad nie. Onder die inspirasie van mahatma Mohandas Gandhi se lewensfilosofie en optredes, bevry die protesteerders hulself van ’n slaafse aanvaarding deur die onderdruktes van wat hulle aangedoen word.

      Met Nelson Mandela se ondersteuning rig James Moroka – die ANC se president – ’n brief aan Malan as eerste minister. Hy versoek die afskaffing van ’n paar spesifieke apartheidswette. Dit sal, so reken hy, massaprotesaksies voorkom. Malan antwoord ten minste die ANC-leier se brief, al was dit deur middel van sy sekretaris. Die antwoord was negatief. Malan, wat soos ’n tipiese oudmodiese en konserwatiewe predikant gedink het dat volkereverskille ’n goddelike verordening is en dat Afrikaners ’n spesiale roeping het, reken selfs dat die regering se beleid een van “goodwill to the Bantu (swart mense)” is.

      As ’n toonbeeld van redelik grootskaalse massaprotesoptrede en ’n vorm van burgerlike ongehoorsaamheid, was die Versetveldtog ’n reusesukses. Dit het die protesteerders selfvertroue gegee én terselfdertyd die owerhede totaal en al onkant gevang: Wat om met al die oortreders te doen, want die howe kon nie die dik stroom oortreders vervolg nie, en die tronke het voller en voller geword …

      Nelson Mandela was een van die wat gearresteer is.

      Die ANC se jaarlikse nasionale kongres teen die einde van 1952 het vir heelwat drama gesorg. Albert Luthuli word tot president verkies. Nelson Mandela kon egter nie die konferensie bywoon nie omdat hy en 51 ander leidende figure ’n paar dae voor die konferensie met erge verbodsbepalings wat vir ses maande gegeld het, uit die openbare lewe verwyder is. Hy moes in Johannesburg bly, kon nie met meer as een persoon op ’n keer praat nie en mag nie eens sy seun se verjaardagpartytjie bywoon nie. Sy botsings met die owerhede het van toe af al erger geword en ’n roete gevolg wat na Robbeneiland gelei het.

      Die verbodsbepalings kort voor die konferensie kon egter nie verhoed dat Mandela as die eerste visepresident (van vier) van die ANC verkies is nie. Die apartheidstaat, sy gesagsfigure en volgelinge het natuurlik nooit kon droom dat Mandela se verbodsbepalings deel sou wees van ’n trajek wat hom uiteindelik as president van ’n gedemokratiseerde Suid-Afrika verkies sou sien en die einde van die NP sou meebring nie.

      Daar is ’n belangrike rede waarom hierdie hoofstuk met ’n verwysing na Verwoerd begin. Die ANC, wat in 1912 gestig is, was vir baie dekades nie ’n revolusionêre beweging wat geweld gebruik het om politieke doelwitte te bereik nie. Die regeringsoorname van die Nasionale Party (1948), en veral die verskyning van Verwoerd, het nuwe uitdagings tot die ANC gerig. Politieke regte, deelname aan die ekonomie, verblyfreg en bewegingsvryheid het algaande sterk mobiliserende kwessies geword. Dit het binne die Suid-Afrikaanse regering ’n groeiende fokus op staatsveiligheid in die handhawing van wet en orde geskep. Verwoerd word in 1950 lid van DF Malan se kabinet as minister van naturellesake (naturel – native – was destyds die algemene woord vir swart mense). In 1958 volg Verwoerd vir Strijdom op as eerste minister. Die idee van rasseskeiding en selfregerende swart (etniese) state word ’n kernstuk van sy ideologiese raamwerk.

      Dit is gedurende die vyftigerjare dat die ANC as bevrydingsbeweging met ’n sterker protes- en versetstrategie na vore begin tree het. Die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) sien in Junie 1955 die lig. Vroue trek in 1956 saam voor die Uniegebou en die gehate pasboeke, in swart geledere by uitstek die simbool van vernedering, oorheersing en verdrukking, word verbrand. Verwoerd word ’n massamobiliserende faktor soos nooit vantevore nie.

      Verskeie wette oor sogenaamde naturellesake sien trouens gedurende die vyftigerjare die lig, waaronder die gehate Bantoe-Onderwyswet (1953) wat vir aparte swart onderwys voorsiening gemaak het. In dieselfde jaar word ook die berugte wette oor die afkondiging van ’n noodtoestand ingestel, asook ’n wysigingswet wat burgerlike ongehoorsaamheid kriminaliseer en strafbaar met tronkstraf van drie jaar maak – ’n reaksie op die Versetveldtog van die vorige jaar. En in 1956 begin die ewe berugte Hoogverraadverhoor (Treason Trial) wat vyf jaar lank sou duur. Nelson Mandela was een van die aangeklaagdes. Nog ’n uiters belangrike gebeurtenis vir Afrika-nasionaliste vind in 1957 plaas: Ghana word onafhanklik van Britse koloniale beheer.

      Swart leiers en intellektuele was oor die algemeen goed ingelig oor die apartheidsbeleid. Baie van hulle sou waarskynlik kennis geneem het van die volgende uitspraak van Verwoerd: “In a multi-racial society where power must eventually be transferred into the hands of the numerically stronger Bantu, not only the White, but also the Coloured and Indian will go under. Over time even the Bantu masses will not benefit because on the strength of what has happened elsewhere in Africa, it must be taken into consideration that South Africa will develop into an autocracy or dictatorship. On account of their lack of ability to manage a complicated administration, the country will moreover administratively and economically be destroyed for everyone.”4 Verwoerd se regime word trouens ook ’n politieke kantelpunt en georganiseerde verset, ook in ’n gewelddadige vorm, word vir die ANC onafwendbaar.

      Op 21 Maart 1960 word dit met koeëls, bloed en lyke geïllustreer by Sharpeville. Dit word ’n kragtige politieke simbool, ’n definierende oomblik in ons geskiedenis.

      Die kwessie van integrasie/segregasie, en selfregerende swart state, was daarom nie die enigste kwessie wat deur Verwoerd se


Скачать книгу