Die tronkgesprekke. Willie Esterhuyse
ook die internasionaal mobiliserende simbool. Hy help Umkhonto we Sizwe (MK) – die Spies van die Nasie – stig en bly ’n tyd lank suksesvol voortvlugtend uit die kloue van die veiligheidspolisie. Op 27 Mei 1963 word hy na Robbeneiland gestuur om ’n vyf jaar lange gevangenisstraf uit te dien.
In 1964 word hy en ander swart aktiviste lewenslange gevangenisstraf vir hoogverraad opgelê, iets wat die brandstof sou word wat mettertyd die ANC op ’n wentrajek sou plaas. Mandela word in ’n hoë mate Verwoerd se teenspeler, al was dié Afrikanerleier toe al dood. Sy nalatenskap was immers nie in die graf nie.
John Vorster, minister van polisie, volg Verwoerd op in 1966, dieselfde jaar dat Botswana onafhanklik word. Vorster was nie onbekend aan Nelson Mandela nie. Duma Nokwe, iemand wat Mandela geken het, word in 1956 die eerste swart persoon wat tot die Balie toegelaat word. Daar was onmiddellik tipiese apartheidsbesware teen sy gebruik van die biblioteek, personeelkamer en togakamer. Kragtens die Groepsgebiedewet is sy gebruik daarvan ’n kriminele oortreding, so het advokate Lammie Snyman, George Munnik en ander geprotesteer. Vorster, ook tot die Balie toegelaat, het gereken dat Nokwe nie amptelike toestemming sal kry om kantore in ’n blanke area te huur nie. Hy moet deur middel van die departement van naturellesake kantore in ’n swart gebied verkry. Nokwe se aansoek om kantore in ’n blanke area is inderdaad geweier.
John Vorster, en sy Wet op Terrorisme (1967), lui ’n fase in ons geskiedenis in waarin die apartheidsdroom hand aan hand gaan met iets anders: sekuriteit en ’n verhewigde stryd teen terrorisme.
Hoe om van Malan, Strijdom, Verwoerd en Vorster se apartheidsnalatenskap ontslae te raak, word ’n strydpunt wat ’n paar dekades sou duur om te beredder. PW Botha se bydrae begin met dié agendapunt: Hy moet die oplaaiende georganiseerde binnelandse opstande, asook die toenemende gewapende verset van die South West African Peoples’ Organisation (Swapo) in Namibië (destyds Suidwes-Afrika genoem) en die ANC in Suid-Afrika, hanteer. Ian Smith, eerste minister van die destyds wit regeerde Rhodesië (vandag Zimbabwe), en die Portugese koloniale teenwoordigheid in Angola en Mosambiek, was ook kernkwessies. Strategies en takties het Botha nie juis tyd gehad om baie aandag aan Verwoerd se groot ideologiese droom te gee nie.
Dit is nie nodig om ’n lang storie oor dié politieke fokusverskuiwing te vertel nie. Vorster was die vader van drakoniese maatreëls soos aanhouding-sonder-verhoor, selfs vir 180 dae en langer. Dit is binne dié praktyk dat daar gou begin praat is van die marteling van politieke aktiviste en selfdood. Tussen 1963 en 1983 het meer as 50 aangehoudenes onder vreemde omstandighede gesterf. Een van hulle was Ahmed Timol, wie se beweerde selfdood onlangs herondersoek is. Daar is in 2017 bevind dat hy deur agente van die John Vorster-veiligheidhoofkwartier in Johannesburg vermoor is toe hulle hom in Oktober 1971 van die dak afgegooi of by die venster uitgestoot het. As daar nou één minister van justisie en later eerste minister was wat gereken het dat die veiligheidsituasie in die land, asook die kommunistiese en revolusionêr-geïnspireerde terreur, dit hoegenaamd nie moontlik maak om volgens algemeen aanvaarde demokratiese en morele reëls op te tree nie, was dit John Vorster. Die sukses by Rivonia in 1963, toe ’n klompie ANC/SAKP-lede aangekeer is waar hulle saamgesweer het om die apartheidstaat te ondermyn, was brandstof vir Vorster se begrip van sekuriteit en hoe “die vyand” verslaan moes word. Dit word ’n dringende aangeleentheid toe Mosambiek op 25 Junie 1975 en Angola op 11 November 1975 onafhanklik word. Daarvolgens kom Portugese beheer tot ’n einde en sogenaamde terroristebewegings (Frelimo en die MPLA) neem oor.
In 1977 word Winnie Mandela, Nelson Mandela se vrou, na Brandfort in die Vrystaat verban. En op 12 September 1977 sterf die Swart Bewussynsleier, Steve Biko, in aanhouding.
Interne gesprekke in Afrikanerkringe, soos binne die geheime jeugorganisasie die Ruiterwag en die Afrikaner-Broederbond, het al minder op kwessies soos Afrikaner-identiteit, die onderwys, plaaslike sake en aanverwante probleme begin fokus, en al meer en meer op veiligheidskwessies. Goeie menseverhoudinge en die noodsaaklikheid van “oor-kleur-kontakte” is algemeen bespreek. Die revolusionêre en gewelddadige stryd van veral die ANC word in dié tye toenemend in Westerse kringe as ’n aanvaarbare vryheidstryd beskou. En die politieke gevangene Nelson Mandela word by uitstek die gesig én verpersoonliking van hierdie bevrydingstryd.
Oliver Tambo en Thabo Mbeki ontwikkel ook ’n diplomatieke stryd teen die apartheidstaat. Hulle reis van land tot land, stad tot stad, organisasie tot organisasie met die boodskap: “Nelson Mandela moet vrygelaat word. Suid-Afrika moet van rasseverdrukking bevry word. Die Weste behoort sanksies teen die apartheidsregime in te stel.” Dié diplomatieke offensief word ’n reusesukses. In die geskiedenis is dit waarskynlik die beste voorbeeld van ’n revolusionêre vryheidsbeweging wat ’n diplomatieke oorwinning oor sy militêr sterker opponent behaal het. Tambo en Mbeki het aanvaar dat strukturele rassisme nie militêr verslaan sou kon word nie. Daarom kies hulle ’n diplomatieke offensief, ’n strategies én takties uitstekende keuse. En PW Botha word die regerende elite se leier wat dié offensief die hoof moet bied.
Ná ’n hewige magstryd tussen PW Botha van Kaapland en Connie Mulder van Transvaal, twee ministers, word Botha in 1978 tot eerste minister verkies. Daar was maar altyd ’n verskil van mening tussen die Transvaalse nasionaliste, uit ’n omgewing van oorwegend swart mense, en die Kaaplanders met hul interaksie met bruin mense wat oorwegend Afrikaans was. Nóg ’n verskil was die feit dat die Afrikaanse landbousektor verskillende belange en daarom ook verskillende politieke drukgroepe verteenwoordig het. Die Suide was ten volle ingestel op uitvoerprodukte soos vrugte en wol terwyl die Noorde weer hoofsaaklik op die binneland gefokus het vanweë die vleis- en mieliemarkte. Dié verskil in ekonomiese en markgeoriënteerde aktiwiteite het ’n belangrike politieke rol gespeel. Daarom was daar binne die Nasionale Party ook die sogenaamde Kaapse liberaliste en nie bloot net die Transvaalse Republikeine nie.
Nóg John Vorster nóg PW Botha was ideoloë. Albei was fanaties veiligheidsbewus en het kommunisme en Moskou se rol in die bedreiging van die veiligheidstaat as hoofbedreiging beskou. Wat in die literatuur as die konstruk-van-die-vyand beskou word, kry by Vorster en Botha ’n naam: Moskou, kommunisme én die ANC, met laasgenoemde as ’n protégé en agent van Moskou.
Botha, wat vanaf 1966 in Vorster se kabinet gedien het as die minister van verdediging, was dit oor dié kwessie roerend eens met sy partyleier, al was hulle nou nie juis geesgenote of selfs vriende nie. Dié anti-kommunistiese lewens- en wêreldbeskouing was onder veral Afrikaners ’n sterk motiverings- én mobiliserende faktor. Boonop is dit nie net polities uitgedra nie, maar ook religieus met die hulp van die drie Afrikaanse susterskerke.
Vorster verwoord dié redenasie trouens baie goed. Op 24 November 1977, tydens ’n byeenkoms in Pietermaritzburg, verkondig hy dat Suid-Afrika ’n teiken van Moskou is. Moskou wil die seeroete rondom die Kaap beheer, ’n roete waarlangs sommige van Europa se olievoorrade vervoer word. Moskou rig ook sy gierige oë op Suid-Afrika se minerale rykdom. As Moskou met die hulp van die ANC beheer kan kry, is Europa sommer baie diep in die moeilikheid. Die kommuniste soek ’n monopolie oor die seeroete en minerale rykdom van Suid-Afrika. Die Vrye Wêreld kan in die proses verloor.
Hy verseker sy geesdriftige gehoor dat Suid-Afrika weliswaar ’n klein land is, maar tot die laaste man sal veg om dié oorname te verhoed. Dit sal nie net in belang van Suid-Afrika wees nie, maar ook in belang van die Vrye Wêreld én die Christendom. Sy bedoelinge was ongetwyfeld om Westerse menings positief te beïnvloed en tyd vir Suid-Afrika te wen. Dit was op daardie tydstip geensins ’n swak argument nie en Westerse lande was maar té bewus van hierdie gegewe; al kon hulle dit nie in die openbaar sê nie.
Hoe ook al, Botha neem in 1978 oor by Vorster. Botha was deurdrenk met ’n veiligheidskultuur, ’n allesoorheersende ordebewussyn, ’n obsessie met dissipline en iemand wat nie na lang argumente wou luister nie. Die regte van bruin mense was nietemin vir hom ’n topprioriteit. In private gesprekke kon hy nie daaroor uitgepraat raak nie – soos in die geval van die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap) se posisie oor toegang. Hoe om verhoudinge met bruin mense te verbeter, was vir hom ’n belangrike morele kwessie. Sy persoonlike konflikte hieroor is in ’n hele paar private gesprekke belewe.
Oor een ding was hy onwrikbaar, naamlik die beweerde “Totale Aanslag” teen Suid-Afrika en die gevolglike noodsaaklikheid van ’n “Totale Strategie” teen dié “kommunisties