Die tronkgesprekke. Willie Esterhuyse

Die tronkgesprekke - Willie Esterhuyse


Скачать книгу
6 JUNIE 1976 ontplof ’n gewelddadige verset, wat georkestreer is deur hoofsaaklik skoolkinders, in Soweto en ander plekke in ons land. Die Morris Isaacson-skool in Soweto en die bekende Regina Mundi-kerk word simbole van dié verset. ’n Foto van ’n jong seun wat deur die polisie doodgeskiet en gedra word deur angstige en huilende skoolmaats, word wêreldwyd voorbladnuus; inderdaad ’n voorbeeld van die groeiende rol van ’n onafhanklike media in politieke en ander prosesse. Franklin Sonn, ’n bekende onderwysleier en opvoedkundige uit die bruin gemeenskap en iemand wat hom daaraan gewy het om interrassige gesprekskanale oop te hou, verklaar gedurende ’n gesprek: “Vandag is dit ook verby met apartheid en die Nasionale Party. Soos dié kind se lyk, sal apartheid se lyk ook weggedra word. Niemand sal egter daaroor huil nie. Dis ’n kwessie van tyd.”

      Dié opmerking word ’n redelik algemene gevoel onder swart mense. Afrikaans, as onderrigtaal op skool, word ook ’n teiken, geregverdig of nie. Populistiese politieke protes en opstandsbewegings word nie net uit feite gebore nie, maar ook uit persepsies, waarde-oordele en die gewelddadige toepassing van amptelike ordemaatreëls – soos die skietdood van Hector Pieterson, byvoorbeeld. BJ Vorster was toe die eerste minister, hy wat minister van polisie was toe Sharpeville in 1960 plaasgevind het. Die groot verskil was egter dié keer dat die verset- en geweldgolf besig was om oor die hele land te spoel met die jonger geslag as dryfkrag.

      Die Cillié-kommissie van ondersoek na die proteste vind gedurende 1976 plaas. Winnie Mandela, toe alreeds ’n bekende nasionale en internasionale aktivis, versoek George Bizos om namens haar voor die komitee te verskyn. Vir Suid-Afrika, en veral in swart geledere, was 16 Junie 1976, benewens 1952 (Versetveldtog), 1955 (Vryheidsmanifes) en 1960 (Sharpeville), ’n uiters belangrike politieke kantelpunt.

      Toe PW Botha in Augustus 1979 in Durban verklaar die wêreld bly nooit dieselfde nie, beleidsaanpassings en verstellings is nodig, was dit nogal ’n skok vir baie Afrikaners. Dit is ook in dié jaar dat hy die nasionale veiligheidsbestuurstelsel ingestel het. Hy besoek selfs Soweto en ontmoet leiers van die destydse etniese tuislande. Soweto 1976 het ook die sakesektor uit sy orde- en veiligheidsbewussyn uitgeskud. Die Stedelike Stigting, onder leiding van regter Jan Steyn, kom tot stand en dit word ’n invloedryke ontwikkelingsinstelling. Die Stigting was nierassig en mettertyd gemik op drie hoofdoelwitte:

      •Beter woon-, leef- en onderwysomstandighede in swart stedelike gebiede.

      •Verkryging van regte, soos eiendomsreg – ten minste 99 jaar huurpag – vir stedelike swart mense.

      •Die skrapping van opsigtelik rassediskriminerende maatreëls soos die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike.

      Daar is ’n belangrike rede waarom na die Stedelike Stigting verwys moet word. Dit was naamlik Suid-Afrika se eerste omvattende nie-politieke en nierassige hervormingsinisiatief. Uiteenlopende korporatiewe leiers was betrokke, onder andere Anton Rupert, Harry Oppenheimer, Clive Menell, Raymond Ackerman, Jan van der Horst en Basil Hersov. Swart en bruin leiers, soos Richard van der Ross, Franklin Sonn, Sam Motsuenyane, Debbie Mabiletsa, Nthato Motlana en andere, was ook baie ondersteunend. Die personeel van die Stedelike Stigting het hierdie demonstrasie van nierassigheid en vennootskap grootliks weerspieël.

      Afgesien van die samestelling van dié ontwikkelingsvennootskap – ’n bepalende faktor in die geloofwaardigheid en inklusiewe aanvaarbaarheid daarvan – was ’n ander vraag van ewe groot belang: Hoe moet te werk gegaan word om die belange en doelwitte van die Stedelike Stigting, en die gemeenskappe waarop gefokus is, só te behartig dat die Stedelike Stigting wel ’n oor by die owerheid het, maar nie ’n politieke handperd is nie? En hoe moet politieke verandering wat van ’n strukturele en omvangryke aard is hanteer word? Revolusionêr of stuksgewys, met sogenaamde piecemeal engineering?

      Die Stedelike Stigting het ten gunste van laasgenoemde gekies.

      Dit is teen dié agtergrond dat ’n mens na PW Botha se toespraak in Augustus 1979 in Durban moet kyk. Botha lewer sy toespraak ’n jaar ná ’n geregtelike ondersoek bevind het dat niemand vir Biko se dood in 1977 verantwoordelik gehou kan word nie. En met Botha se toespraak sit Nelson Mandela al 16 jaar lank agter tralies. Vir die Vrye Weste, én vir die kommuniste, was hy toe reeds ’n simbool van politieke onderdrukking en die lewende inkarnasie van apartheid se fisieke en strukturele gewelddadigheid; ’n simbool van ’n onvoltooide vryheidstryd.

      Botha se eintlike punt was dat die wêreld verander en steeds besig is om te verander en dit word wel baie goed gesnap. Ook deur swart mense. Soos gesê is: Die toekoms het ons ingehaal. Trouens, Botha wek met dié toespraak hemelhoë verwagtings in swart geledere.

      Dit was ook nie ’n Botha-foefie nie. Hy wás hervormingsgesind. Die “hoe” en die “wat” daarvan was weliswaar die eintlike vraagstuk. En wat hy en sy raadgewers nie besef of selfs wou aanvaar het nie, is dat sy hervorming-georiënteerde openbare toesprake, én praktiese inisiatiewe in dié verband, nie net stygende verwagtings gewek het nie, maar ook geleenthede én energie vir diegene wat méér dramatiese veranderings gevra het. Trouens, stuksgewyse hervorming word in meer radikale kringe dikwels, en nie ten onregte nie, as regimeverswakking beskou en niks meer nie as pogings om tyd te wen. Botha se hervormingspogings is hoofsaaklik vanuit dié perspektief deur die ANC-leiers en rolspelers binne organisasies soos byvoorbeeld die UDF beoordeel.

      Darem nou ook nie deur almal nie. Daar is altyd in alle samelewings mense wat bereid is om hervormingspogings ’n kans te gee en pleks van pogings tot gewelddadige oorname van mag, ten gunste van gefokusde ontwikkeling, beleidsverandering en onderhandelde skikkings sal kies. Dit is nooit bloot ’n keuse tussen revolusie en gestadigde evolusie of streng bestuurde veranderings nie. Belangrike veranderings, met uiteindelik sistemiese rimpeleffekte, kán stuk-stuk in ’n ontvouende skikkingsproses bevorder word.

      Botha se stuksgewyse hervormings was nie ’n lukrake affêre nie, maar deel van ’n strategie: Hoe om regstellings en veranderings te maak, en selfs regte te verleen, sonder om inisiatief en beheer te verloor. In sy opvatting oor magsdeling was dit vir hom belangrik om in dié tipe omstandighede militêre en ander vorme van veiligheid te verseker. ’n Stuksgewyse hervormer is inderdaad nie iemand wat belang stel in die progressiewe of onmiddellike oorgawe van politieke en ekonomiese mag nie. In sy magsdelingsmodel was daar gespesifiseerde voorwaardes wat selfs die rolspelers ’n geselekteerde groep gemaak het. Vandaar ook die doelgerigte poging om koalisies met voorheen gegriefde partye en leiers te vorm. Stuksgewyse hervorming kan inderdaad uiteindelik nét met behulp van sterk koalisies werk. Dis waar die Botha-projek misluk het.

      Botha word die vader van die driekamerparlement, met swart mense steeds uitgesluit. Hy skaf nietemin die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike af. Hy aanvaar ook besitreg van eiendom vir swart mense in stedelike en ander gebiede. Die rol wat die Stedelike Stigting hierin gespeel het, illustreer iets van die aard van stuksgewyse hervorming, die strategiese en taktiese voetwerk wat dit vereis en die werklik kritieke probleem wat dit skep: Die beskuldiging was dat dit ’n ongeloofwaardige poging is om maghebbers in beheer te hou en daarom nie ’n oorgang na ’n aanvaarbare inklusiewe en gedemokratiseerde bedeling is nie, maar eerder ’n vorm van onproduktiewe verdraagsaamheid bevorder as om wesenlike verandering teweeg te bring.

      In 1985 word artikel 16 van die Wet op Gemengde Huwelike geskrap. Botha, wat baie konsekwent die idee van een-mens-een-stem in ’n eenheids- of federale staat verwerp het, het nietemin vroeg in 1985 in die parlement die permanensie van swart mense in die stad aanvaar. Hy het ook aanvaar dat hulle politieke regte het. Binne welke politieke model dit moes geskied, was die groot kopseer. En wie die leidende figure moes wees wat die model moes bemiddel, was ’n ewe belangrike vraag. Dié soort kernkwessies was nie eenvoudig nie. Gewelddadige straatproteste het toe al verhewig en die ANC was ’n verbode organisasie. Vrylatings en ontbannings was vir die ANC ’n noodsaaklike voorwaarde vir verkennende gesprekvoerings.

      Al dié hervormingspogings en ander aanpassings neutraliseer nie die toenemende georganiseerde protes en selfs geweld nie. Dit word nie net bloot as te min, te laat beskou nie, maar as ’n teken dat die apartheidsregime op die agtervoet is en besig is om sy veiligheidsbeheer oor die land en sy mense te verloor. Die UDF speel ’n groot rol in die wegkalwing van die persepsie van apartheid se onoorwinlikheid. Die verbode ANC doen in die middel 1980’s iets


Скачать книгу