Ultrasatyn 3. Elsa Winckler
Vermeulen, ruk jou reg.
“Sê vir my die trourok het veilig hier aangekom.” Bianca omhels vir Tess, die vrou wat sy broer se hart gesteel het. Gideon is bly vir Dan se onthalwe. ’n Beter vrou sou hy nie self vir sy broer kon kies nie.
“Natuurlik! En jy moet sien hoe pragtig lyk Emma se blommemeisie-rok. Die ontwerper het tot vir ons ’n pragtige goue strik om die middel vasgewerk. Sy is gek oor die lae en lae net. Dit lyk te fraai.”
“Wonderlik,” sê Bianca en vryf oor klein Emma se kop. Dan se kind hou aan Tess vas asof dit haar eie ma is.
Bianca soen sy ma en Tess se ma om die beurt. Tot Dan kry ’n druk, en Gideon is oombliklik jaloers. Waarom weet hy nie.
“Ek hoor Gideon steek jou in die bos weg?” sê-vra Dan.
Bianca se lag weerklink klokhelder oor die stoep en golf oor Gideon. Sy klink sowaar nie meer vies nie.
“Hy het ons vertel hoe jy jou gewip het,” sê Anette.
Bianca kyk na hom.
“Jy moet oppas. Ek hoor hy duld nie temperamentele koeie op sy plaas nie, Bianca,” sê Tanya en vat nog ’n sluk wyn.
Almal lag.
“Toemaar, Sondag is dié temperamentele koei uit jou pad uit,” spot Bianca. “Ek het so amper in die skemer hiernatoe verdwaal. Gelukkig het die liggies daar van die laagwaterbrug af my op my pad hierheen gelei, anders sou julle my moes kom soek het.” Bianca lek oor haar rooi lippe.
Gideon sluk die kreun wat uit sy keel wil bars. Hy was vanmiddag so kwaad dat hy nie eers gedink het hoe sy weer tot hier sal kom nie. Maar toe al die gaste op die stoep bymekaarkom vir vanaand se braai, het hy besef iets … iemand … ontbreek.
Bianca! het dit hom meteens getref. Hy was net op pad om haar te gaan haal, toe sy aangestap kom.
“Ek sal jou vanaand terugvat met die quad en dit daar vir jou los. Dan hoef jy nie elke keer hierheen te stap nie. Jammer …”
“Dankie.” Bianca se oë talm ’n oomblik in syne.
“Ek hoor jou plek het die mooiste uitsig,” sê Tess.
Dis die eintlike rede hoekom hy daardie tent vir haar reggekry het. Soggens kan sy haar koffie en beskuit daar buite geniet terwyl sy kyk hoe die son oor die berge en die dam opkom.
“Dit is asemrowend. Veral met die asaleas wat nou al om die dam blom. Die kleure vat mens se asem regtig skoon weg. Ek weet net nie hoe ek in die bos gaan slaap nie … ek het nog nooit nie.” Bianca byt haar lip.
Wat? Sy het nog nooit in die buitelug geslaap nie?
“Soos ek vir Gideon ken, werk hy nou weer met ’n plan.” Sy ma knipoog vir Bianca.
Gideon besef sommer hier kom ’n ding. Sy ma en tannie Dina, Tess se ma, het ook vanmiddag gearriveer. Die twee het saam van Lanseria-lughawe af tot hier gery.
“Het hulle nie altyd planne nie?” las tannie Dina by. Haar grys hare is in ’n kort moderne styl gesny. Haar baadjie teen die koel aandlug hang oor haar skouers.
“Watse plan nogal, tannie?” vra Bianca glimlaggend vir sy ma.
“Hy wil jou net vir homself hê. Dis hoekom hy jou daar in die bos wegsteek … dis maar net my opinie.”
Bianca se oë flits na syne.
Sy ma druk nou weer haar neus in waar dit nie hoort nie. Sy en Tess se ma raak hul wynglase teenmekaar voor die twee te lekker lag. Miskien moet hy die wyn wegsteek voor hulle hom en Bianca behoorlik laat skaamkry.
“Is dit so?” Bianca het weer daardie ondeunde blik in haar oë en as hy nie wegkyk nie, gaan al die bloed wat veronderstel is om deur sy hart te pomp binnekort na sy onderlyf beweeg. Sy ma is reg. In sy agterkop het hy dalk gehoop … nee, dis malligheid.
Bianca is sy aanstaande skoonsus se vriendin, maar dit beteken nie sy is off limits nie. Of dalk wel?
“Ma is laf. Ignoreer haar asseblief, Bianca.” Hy pak die hout op die braaier en steek dit aan die brand. “Buitendien sal sy van Vrydag af nie meer alleen wees nie. Dan kom van die ander gaste ook in die chalets daar naby bly.”
“Dit gee hom mos genoeg tyd om sy move te maak,” sê tannie Dina. As sy ma nie keer nie, gaan haar kunstande nou in haar glas wyn val soos sy lag.
“Jy bedoel seker tente?” Bianca se oë terg hom, en hy kan net sy kop skud.
“Tente?” vra Tanya nuuskierig.
“Ja, Gideon, hier, het dit goed gedink om my in ’n tent te laat slaap.”
“Luukse tent,” korrigeer hy haar.
Nou is dit Anette en Tanya wat lag.
“Dis nie snaaks nie,” sê Bianca ernstig. “As ek nie môreoggend vir ontbyt opdaag nie, moet julle my maar kom soek. Dan weet julle ek is deur ’n luislang of iets opgevreet.”
Tanya sit haar hand op Bianca se skouer: “Ai, Bianca, dis tyd dat jy en moederaarde bietjie kennis maak. Wie weet, dalk hou jy van die buitelewe.”
Bianca gril. “Nee, dankie. Ek weet nie hoe enigiemand vrywillig so tussen niks en nêrens kan bly nie.”
Haar woorde steek Gideon dwars in die krop. Hy kan hom ’n lewe sonder die natuur nie indink nie. Dit bewys net weer vir hom dat hulle twee niks gemeen het nie, maar vir wat hy in gedagte het, is gemeenskaplikheid nie iets om oor te bekommer nie.
Na die troue sal hulle mekaar waarskynlik nie gou weer sien nie. Hy sal vanaand met Bianca moet praat. Hoe sal sy reageer oor wat hy wil voorstel? As haar reaksie van vanmiddag enige voorspelling is, sou hy sê sy sal hom eerder ’n goeie klap gee as om in te stem.
Tog … dit het vir ’n oomblik gevoel asof haar lyf teen sy lyf wou smelt. Hy is nie seker nie, maar hy gaan beslis vasstel.
“Wil jy inkom vir koffie?” vra Bianca vir Gideon wat met een voet op die trappe voor haar tent staan. Die hele aand was hy geheel en al ’n heer. Nie een parmantige opmerking het eers oor sy lippe gekom nie. Selfs op pad terug met die motorfiets het hy nie eintlik veel gepraat nie. Sy moet erken vanaand het sy die geskerts tussen hulle nogal gemis. Hy was heeltemal te ordentlik.
Van sy ma hou sy beslis. Sy wou hardop lag toe Gideon sy ma se opmerking so vinnig afskiet. Mens sou sweer daar steek waarheid in.
“Sjerrie eerder?” vra hy.
Sy knik en stap na binne. Die kraffie met die sjerrie staan op ’n pragtige silwerskinkbordjie wat met ’n spieël op die bodem versier is. Die lig wat deur die twee kristalglase skyn, gooi weerkaatsings teen die dak van die tent. Hulle albei vat gelyk aan die prop van die kraffie.
Bianca se asem steek in haar keel vas nes vanmiddag toe hulle albei aan die tas gevat het, maar dié keer hou sy haar hand daar. Gideon se hand bly roerloos op hare. Die geur van muskaat en seder omring haar onverwags. Sy naskeermiddel. Hy is heeltemal te naby. Net soos vanmiddag toe hy haar gesoen het.
Stadig skuif hy sy hand al met haar arm langs boontoe.
Haar hart begin al hoe vinniger klop. Wat gaan met haar aan? Toe sy mond vroeër vandag aan hare geraak het, was haar hart net so rebels.
“Ek moet met …” praat hulle albei tegelyk. Toe lag hulle.
“Praat jy eerste,” sê hy.
Bianca knik. Sy los die sjerrie eers en draai na hom: “Gideon … ek,” dis moeiliker om die woorde te sê as wat sy gedink het dit gaan wees. “Ek is jammer oor vanmiddag. Ek moet eerlik wees … ek kan glad nie onthou wat daardie aand met die verlowing tussen ons gebeur het nie. Al wat ek onthou, is dat die sjampanje onverwags na my kop toe gegaan het. Jy moes my huis toe vat en toe word ek in ’n vreemde bed wakker. Ek het my eie afleidings gemaak … en ek moes nie.”
“Jy het gedink ek en jy?” Hy beduie heen en weer tussen hulle met sy hand. Bianca knik: “Ja.