Anderman se vrou. Chris Karsten
op die wittebrood, of wanneer ook al, as hulle hul huwelik met Die Daad voltrek het, dan’s dit verby, dan’s daar g’n kans vir egskeiding agterna nie. Dan’s hulle een en nie meer twee nie. Skeiding, ja, maar nooit égskeiding nie. Net die dood kan daai sakramentele trouband breek, en ek, Wim Kellerman, is nie van plan om binne die afsienbare tyd om te kap nie; my gat mag klaar bespreek wees daar in die kerkhoffie langs Vader Stefano se kerk op die nek, maar ek is allermins gretig om dit nou al te gaan beset. Want ek het nog ’n hele paar goed op my kluiteklaplys. Soos hoekom ek Lenny Arries môre wil gaan sien.
“Wim,” sê Mira oor die foon, “kan ons later weer daaroor praat, ek’s bietjie besig op die oomblik, ek en … ek en Dirk is besig om kos te maak.”
Dirk kan kook!
“Wim?”
“Wou net weet oor … Oukei, ek bel later weer, môre of so.”
Die “Declaration of Nullity” waarvoor Mira by haar kerk gaan aansoek doen het, beteken nie die ontbinding van ons huwelik nie, kerkregtelik moet nou bevind word dat ons huwelik eintlik nooit wettiglik voltrek was nie. Die huwelik het dus nooit bestaan nie; dit was ongeldig, ab initio. Die ekklesiastiese tribunaal moet beslis of Mira se aansoek op grondige redes berus. Soos dat ek, Wim, Mira “bedrieg” het deur net voor te gee dat ek haar liefhet, en dat ek haar kerk boonop nooit werklik in my hart aanvaar het nie. En ek wou net gou bel om te sê sy moet nooit aanvaar dat dit werklik so is nie.
Maar nou het sy nie tyd vir my nie, sy en Dirk maak kos, saam met: Joy! Joy! … Whoever has found a beloved wife, let him join our songs of praise!
Met mý gedagtes by: Revenge, revenge, Timotheus cries, see the furies arise, see the snakes that they rear, how they hiss in their hair …
Bedug om Mira en haar Dirk wéér oor ’n kosmakery, of erger, te onderbreek, wag ek dat Mira my terugbel.
Soos koning Hendrik moet ek drie dae en drie nagte lank in spanning wag.
“Wim, jy moet ’n verklaring voor jou priester gaan aflê en hy moet dit bevestig en teken en aan Vader Tomasso stuur.”
“Ek het nie meer ’n priester nie, Mira.”
“Gaan jy nie meer mis toe nie, Vader Stefano se kerkie is dan net daar om die draai by jou?”
“Ek’s ’n afvallige Katoliek … ek dink daaraan om weer die Dordtse wette aan te hang.”
“Voor jy aanhang wat jy wil aanhang, gaan verklaar net eers by Vader Stefano dat jy my mislei het, en ek vir jou, dat ons mekaar nooit regtig liefgehad het nie, dat ons huweliksbevestiging daarom op valse gronde berus, dus ongeldig is en nietig verklaar moet word.”
“Jy wil hê ek moet vir my priester lieg?”
“Ja, Wim, dis wat ek wil hê.”
“Oukei. Maar jy weet ek was lief vir jou? Dis hoekom ek jou kerk aanvaar het.”
“Ek weet, en ek vir jou. Maar dis nie nou die punt nie.”
“Oukei,” sê ek.
“Hoe gaan dit met Dolly?” vra sy.
“Dolly?”
“Daardie doktervriendin van jou … dokter Dolly watsenaam?
“Molly. Dit gaan goed met haar.”
“Is julle nog ’n item?”
“Ons was nog nooit ’n item nie, Mira, ons is net goeie vriende.” Ook nie eens meer sulke goeie vriende nie, blyk dit nou.
“Onthou jy vir Rachel … Rachel Pope?”
Ek verskuif regopper. “Ja, Mira, ek het saam met haar man gewerk, en ons het mos almal sosiaal saamgekuier ook. Ek onthou vir Rachel. Wat van haar?”
“Sy’t mos daardie aaklige ding oorgekom. In haar eie huis doodgebrand, sy en Simon. Haar suster kom nog so af en toe hier by die bakkery in. Lea Bonthuys. Sy kan vreeslik baie praat, sê hulle ma is nou die dag oorlede.”
“Sê sy iets oor Rachel?”
“Wat moet sy sê, arme ding?”
Lea. Wat Rachel se ringe en Simon se horlosie gaan uitken het. “Het jy haar nommer? Dalk moet ek ook my simpatie betuig.”
“Jy? Jy ken haar nie eers nie, Wim. En wanneer het jy laas vir Simon en Rachel voor hulle dood gesien?”
“Maar laat ek haar net bel, wys ek gee om.”
“Wag, hou aan.” Ek wag. “Nee,” sê sy ná ’n rukkie, “ek het nie haar nommer nie, net ’n adres. Ek onthou nou, ek het vir haar ’n kaartjie van meegevoel gestuur. Het jy ’n skryfding? Per adres TipTop Auto Body Repairs, Hendrick van Eck-straat, Rosslyn.”
Lenny bel twee dae ná Mira. “Hulle wil niks weet nie,” sê hy.
“Ja, so verwag.”
“Sorry, Wim.”
“Moenie vir mý sorry sê nie, sê sorry vir al die dooies en verminktes en vermistes wat agter op Simon Pope se spore lê.”
“Ek wens ek kon iets meer doen, maar as die hoofde besluit hulle gaan nie lugdienste vir passasierslyste dagvaar nie, dan’s my hande afgekap.”
“Dis nie jou skuld nie. Ek sal ’n ander manier bedink.”
“Wees versigtig, Wim.”
“Ek moet daai vyf vermiste kinders kry, Lenny. En die man wat Portis se voete gevat het. Al is dit die laaste ding wat ek op hierdie aarde doen.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.