Anderman se vrou. Chris Karsten
’n speurder nie, maar dit is wat ék sou gedoen het, was ek ’n goeie speurder. Wat ek nie is nie.” Ek staan op. “Dankie vir die geselsie.” By die deur draai ek om. “Het julle ’n spul moorde, is julle toegegooi onder kadawers?”
“Wát?”
“Ek wonder net of Molly … of dokter Onkers baie besig is met outopsies. Wanneer het jy haar laas gesien?” Met die uitstap sê ek oor my skouer: “Toemaar, maak nie saak nie.”
RACHEL
Oktober 2006
George Town
Liewe Lea
Die dokter se nuwe diagnose oor Ma maak my hart baie seer, maar dis seker te verwagte, longontsteking by so iemand is mos ’n teken dat haar liggaam besig is om in te gee. Ek dink elke dag aan jou en Ma en laas nag het die trane goed gerol. Toe S vra oor my huilerigheid, was ek eerlik dat ek baie na julle verlang. Al wat hy te sê het, is dat ons sterk moet bly en dat ek nie moet toelaat dat my emosies ons lewens in gevaar stel nie, asof alles mý skuld is.
Vanoggend was my gemoed darem beter, want S het ’n oproep gekry en dit lyk of ’n groot universiteit sy aansoek vir ’n navorsingspos ernstig oorweeg. Dit beteken dat ons verblyf hier op die eiland een van die dae verby kan wees en dat ons weer op ’n vliegtuig gaan klim om uiteindelik (hopelik) nuwe wortels te gaan plant. Ek kan nie wag om weer my eie huis te hê nie! Ek wil nog nie te veel daaroor sê nie want dit moet alles nog gefinaliseer word, maar S het verlede week soontoe gevlieg vir onderhoude en om sy CV en akademiese kwalifikasies te gaan voorlê. Hy sê hulle is welkom om sy credentials in SA te bevestig, dit sal op rekord wees by sy alma mater. Hy sê Sieg Eyselen, sy baas by daardie laboratorium by Bon Accord, het destyds ook nogal ’n gloeiende getuigskrif vir hom geskryf. En as hulle na sy laaste werkplek bel is Ben Koorts gereed met die “regte antwoorde”.
S moes sy strategie mooi uitgewerk het en al sy dokumente netjies bymekaargemaak het terwyl hy ons vlugtog beplan het.
Ja, sy “stupid heresy” (soos jy dit noem)! Dit het al baie rusies en smart veroorsaak en ek weet ek en jy het ook al daaroor gesels. Maar jy ken nie ’n honderdste nie, Sus. Hy sê mense wat hulle laat verlei deur die vlees is vasgevang in ’n duiwelse strik wat al gestel is tydens die groot hemelse oeroorlog tussen die bose engele van Satan en die goeie engele van Migael. Selfs Gandhi was glo getormenteer deur skuldgevoelens omdat hy by sy eie vrou geslaap het! Want wanneer ’n man of vrou seks op die brein begin kry, oorheers dit later hulle denke so erg dat hulle goeie oordeel en ewewig versteur word.
Ek moes destyds beter na sy woorde geluister het toe hy my gevra het om met hom te trou. Maar ek was jonk en daar was sterre in my oë en liefde in my hart vir hierdie slim en aantreklike dokter. Agterna onthou ek sy woorde baie goed: “Jy moet met my trou, Rachel. Jy sal my nooit verstaan nie, want niemand verstaan my nie, maar ek het jou nodig.”
En toe trou ek met hom en hy was reg, want ek verstaan hom steeds nie.
Het ek hom nog lief? Ek weet nie, ek dink ek het my gevoelens vir hom lankal iewers agter in my brein weggepak en toegesluit soos spoke in ’n ou verlate huis. Ek is seker ek voel steeds aangetrokke tot hom, want dis of hy my steeds nodig het, of ek vir hom ’n bron van emosionele krag is by wie hy kort-kort moet kom herlaai. Mense soos S wat nie hulle emosies kan wys nie, skuil mos agter ’n fasade.
Of bluf ek myself? Want is ons nie merkwaardige wesens met die wonderlike vermoë om goed vir onsself weg te steek nie?
En nou het ek my eie preek vir die dag afgesteek en ek hoop nie jy gaan nog jammer wees dat jy my uitgenooi het om op jou skouer te huil nie!
Liefde en ’n ekstra drukkie vir Ma.
R
Liewe Sus Rachel
Ek is bly dat jy beter voel, dit worry my as jy so ongelukkig klink daar in die verte met niemand anders naby as daardie weird swaer van my nie. Dit klink ook nie of jy jou mind oor hom kan opmaak nie, behalwe dat dit dalk vir jou convenient is om weer saam met hom huis op te sit. Sus, kom terug, jy kan tog nie vir die res van jou lewe daar bly nie en jy’s so mooi, ander mans sal toustaan agter jou aan, moenie dat hy langer jou lewe control nie, want ek weet dis wat hy is, ’n control freak. Soos al daardie greedy evangelists wat meer omgee vir geld as vir siele!
By the way, die koerante skryf lankal nie meer ’n woord oor daardie brand en “tragiese dood” van die Pope-egpaar in hulle huis in Groenkloof nie; julle is vergete en nie meer belangrik nie, daar’s nou te veel ander doodslag en gossip.
Dit gaan nou weer beter met Ma, die dokter sê die antibiotika het gehelp om die longinfeksie op te klaar, maar sy praat steeds nie eintlik nie, sit darem nou weer in haar stoel wanneer ek gaan kuier.
Ai, jy kan darem so mysterious wees. Waar het S die werk gekry? Amerika? Vertel bietjie! En seblief, Rachel, enige iets op jou hart, praat met my, dis hoekom ek hier is.
Ek het my job bedank en help nou voltyds vir Peet met die boeke en ontvangs by TipTop. Met die kinders gaan dit ook goed.
Skryf gou en onthou ek delete alles soos jy gevra het, ek sal nooit iets doen wat jou in gevaar stel nie. Peet weet steeds nie dat ek my verlore suster teruggekry het nie, dis net ons geheim, en is ons vroue nie veronderstel om almal onskuldige klein geheimpies te hê nie?
Liefde
L
Liewe Lea
Dis so ’n verligting om te hoor Ma is beter.
Natuurlik mag ons klein geheimpies hê, en ek het ’n hele paar. En as ek sê ek en jy het nooit geheime vir mekaar gehad het, dan moet ek nou bely dat dit nie heeltemal waar is nie. Ek was te skaam om jou te vertel, maar nou, hier op ’n afstand van derduisende kilometers en ’n groot oseaan tussen ons: Ek het die laaste jare ’n paar lovers gehad, drie of vier. Hoe anders, Lea? Ek’s ’n vrou met gesonde volwasse behoeftes wat my man nie kan of wil bevredig nie, ek kan tog nie jaar in en jaar uit net sit en hoop en wag, hoop en wag nie.
Pla mý gewete my? Nee! Want daardie affairs het niks aan my hart verander nie. Dit was net vir die bevrediging van natuurlike behoeftes, om weer ’n man se arms om my te voel.
Jy’s reg oor my onsekerheid oor S, ek is al jare onseker. Watter vrou sal lovers hê as sy seker is van haar man se liefde?
In een van jou vorige e-posse noem jy van Mira Kellerman wat ook by my celebration of life was. S het mos gesê dis die einste Wim Kellerman wat my by die polisie probeer frame het. Ek het weer oor hom gaan dink en dink hy’t ’n wrok omdat hulle hom destyds by daardie laboratorium uitgeskop het waar hy saam met S gewerk het, toe probeer hy die Paasnaweek se moorde by die vleie gebruik om ons almal terug te kry.
Dis goeie nuus dat die koerante ons gelos het. Hopelik sluit hulle die dossiere nou af, hoog tyd ook! Hopelik besef hulle nou dat die moorde almal net Jack se werk was en dat hulle tyd mors om ’n ander sondebok of meesterbrein te probeer soek.
Liefde en ’n drukkie vir Ma.
R
BERNIE
April 2007
Montreal
Dit was ’n brutale winter en teen einde Februarie in ’n verwoede nor’easter het hy getwyfel of hy dit gaan oorleef. Met dié dat sy gestel so af is. Van al die drank, maar nou ook van die crack wat hy begin rook het. Die ou hart wat so jaag, die niere wat pyn, die hoë bloeddruk waarteen hy gewaarsku is die laaste keer toe hy daar langs die Talon-mark in ’n steeg vir dood opgetel is. In ongevalle het die kwakke sy hart glo net betyds met ’n paar skokke weer aan’t klop gekry. Pleks dat hulle hom verdomp los.
Het hy in Doris se hospitaal beland, wás dit koebaai! Sy sou al die pype uitgepluk, masjiene afgesit, hom uit die lewe aangehelp het. Wil mos niks van hom weet nadat sy hom daardie laaste keer soos ’n sleg hond by die huis verja het nie. Toe hy op ’n winderige oggend weer daar rondgesluip en gedog het: Laat sy nou maar die polisie bel as sy wil, laat hulle hom dan maar opsluit. Wat kan hy verloor? Hom