Anderman se vrou. Chris Karsten
suur afgevreet is. Tevrede vou hy weer alles in die oliedoek toe, en bind dit opnuut, maar losserig, met die nylontou vas tot hy dit in sy duffelsak kan gaan bêre.
Daarna begin hy sy spore doodvee – eers weer die plank op sy plek, dan die stene, die linoleum, en die groot werk met die opstapeling van die fuike.
Hy eet die aand teen skemer in die kombuis die baguette met koue vleis wat hy van Rivière-du-Loup saamgebring het, en sluk dit met ’n liter melk af. En gaan slaap bo op die vloer van sy eertydse slaapkamer. Maandagoggend begin hy sy terugtog. Hy het baie tyd en besluit op ’n toerismeroete waarop hy drie aande kan oorslaap, een van hulle miskien tog op Thetford Mines, net ingeval Monsieur Bastien dit in sy kop kry om Serge oor sy mynagtergrond te toets.
Hy is gewoond aan harde tronkbeddens, selfs tronkvloere as slaapplek, en sukkel nie om aan die slaap te raak nie. En in daardie interim tussen wakker en slaap duik die Saloon se kelner met die stywe boudjies in sy taai, slaperige brein op.
Die onderhoud
Saterdag 6 September 2008
Die korporaal se verlepte ogies word stip. “Meneer Kellerman, verwag jy regtig dat ons jou moet glo? Lyk ons vir jou soos twee idiote?”
“Nee, julle lyk nie so nie … maar dis presies wat ek hier kom doen.”
“Jy vlieg derduisende kilometer net om na skoenlappers te kom kyk?” vra Doucette.
“En loop toevallig ’n ou kollega hier in die vreemde raak, een wat jy twintig jaar gelede laas gesien het?” vra Sarah Young.
Doucette kantel sy stoel agteroor, so asof hy afstand probeer skep tussen hom en hierdie liegbek-swendelaar.
“En dis nie waar die toeval ophou nie,” sê Sarah Young. “Jy loop, baie toevallig, ook sy vróú raak. En vir haar het jy ook twintig jaar laas gesien. Ek vra weer: Dink jy ons is so liggelowig?”
Ek het dit iewers raakgelees. Moet eintlik vir Lenny Arries daaroor vra. Dat daar gewoonlik twee ondervraers is, elkeen met ’n bepaalde rol. Die een se rol is om onbeskof en hardegat te wees. Die ander een wys empatie, laat jou voel daar is tog nog bietjie hoop om tronkdeure vry te spring … sou jy besluit om saam te werk. Met hierdie twee verwag jy dat groot Doucette met die hamhande die onbeskofte een sal wees. Maar nee, dit is petietse Sarah Young, met daai donker ogies wat skaars knip wanneer sy jou in die visier kry.
“Ek’s hier vir skoenlappers, en niks is toeval nie. Toe ek Sondag by sy vrou uitkom, was hy al klaar vermis. En die weersiens met Rachel … met mevrou Pope was óók nie toevallig nie. Haar suster het hulle nommer vir my gegee toe sy hoor ek kom Kanada toe. Ek het gedink dit sou gaaf wees om hulle weer te sien, ná al die jare, en om persoonlik die suster se groete oor te dra.”
Doucette raadpleeg een van sy dokumente en sê: “Jy kom Vrydag hier aan, en die volgende dag raak doktor Pope vermis,” met implikasies so dik jy kan daarvan verstik.
Waarop Sarah Young onheilspellend sê: “Dink mooi, meneer Kellerman, is jy doodseker jy het doktor Pope nie vóór sy vermissing gesien nie?”
“Nee … ek het hom nie gesien nie.” En ek vat ’n sluk uit my waterbottel. Maar selfs in my eie ore klink dit nie baie oortuigend nie.
Doucette laat sak sy stoel en sit vertroulik vooroor om gemeensaam sy slinkse rol van die goeie ondervraer te hervat. “Mevrou Pope was seker aangenaam verras om jou te sien, ’n ou bekende landgenoot met baie nuus van die vaderland af, boodskappe van die familie?”
“Sy was, ja. Is dit al, kan ek maar gaan?”
Doucette staan op. “Koffie?”
Sarah Young knik en sit die mikrofoon en videokamera af.
“Ja, dankie,” sê ek, my mond droog, maar nie van praat nie. Moet dit ook vir Lenny vra. Of verdagtes se monde, uit sy ervaring, droog word tydens ondervragings. Of dalk sal Molly Onkers eerder weet, as medikus, of daar ’n biologiese uitdrogingsproses van jou speekselkliere plaasvind wanneer jy vir die polisie begin lieg.
Tydens die onderbreking maak Sarah Young of ek nie bestaan nie, blaai in een van haar lêers, soek tussen papiere, kry wat sy soek, en begin lees, die frons terug tussen haar oë.
Ek staan ook op. “Gaan my bene rek.”
“Uh-huh,” grom sy net sonder om op te kyk.
In die badkamer bel ek vir Maggie by die Days Inn se ontvangs. “My vriend nog nie daar nie?”
“Nog nie, meneer Kellerman.”
“En jy sal my dadelik bel?”
“Ek bel jou dadelik, meneer Kellerman, die oomblik wanneer hy jou kom soek.”
“Dankie, Maggie … En jy sal nie vergeet nie, nè – hy wil my verras en ek wil dit nie vir hom bederf nie?”
“Ek sal nie vergeet nie, meneer Kellerman.”
* * *
Molly is gelukkig. Vir haar was dit nie nodig om ekklesiastiese struikelblokke te oorkom nadat sy haar owerspelige Lester met ’n paar goedgemikte skoppe onder die jis uit haar bed, huis en lewe geboender het nie.
Nie dat ek my neus in ander mense se sake steek nie, veral nie in intieme sake soos huismoleste nie. Maar namate ek en Molly mekaar beter leer ken het, het sy haar eie treurige mare self episodies oor ’n paar etes bely. Aanvanklik half terughoudend, dalk skaam.
Molly het ’n ander agtergrond as dié van Mira, dogter van die Italiaanse banketbakker. Dokter Molly Onkers is ’n forensiese patoloog. Sy bak nie koeke en terte nie, sy sny dooie mense oop en krap in hulle ingewande. Wanneer sy werk, gebukkend oor haar outopsietafel, is sy nie omgeef deur sexy aromas nie, is daar geen soet smaak van heuning wat jy van haar lippe wil aflek nie, is daar nie smeersels koekmeel aan haar wange en die rondings van haar borste nie. Allesbehalwe. Ek het ’n slag bygestaan, maar eers nadat sy my rou gemmer ingeja en met haar voorvinger ’n klodder Vicks VapoRub op my bolip gesmeer het. Só iemand, een met ’n skalpel in die hand, benader jy met daai spreekwoordelike versigtigheid, die moeder van wysheid.
Nie dat Molly Onkers onsexy is nie. Sy het geleerde heupe vol beloftes. ’n Man sien sulke dinge raak. En soms kom eet sy daar op die vlinderplasie. Sy hou veral van Busi se osstert. En ek hou van haar geselskap.
“Portis is stil vanaand,” merk sy laas ná so ’n lekker ete op. Einde verlede jaar, as ek reg onthou, iewers in Desember.
“Liefdesprobleme,” sê ek met my beperkte kennis van die liefde. “Hy’t ’n meisie in die Kaap. Vanessa. En een hier. Marsie. Dalk is daar ander ook van wie ek nie weet nie. Ek dink nie hy’s reg om hom permanent te verbind nie.”
“Is jy seker dis hoe Portis voel? Dis nie dalk jý wat vasskop nie? Is jy bang jy bly alleen hier in die empty nest agter, net jy en jou skoenlappers?”
“My skoenlappers is goeie geselskap.”
“Komaan, Wim.”
“Daar is nog kwessies wat uitgeklaar moet word.”
“Kwessies?”
“Vyf kinders van die Kaapse Vlakte is onder al dié wat in daai verskriklike jare van sewentig en tagtig vermis geraak het. Onder hulle is Vanessa se suster. Ook Portis se boesemvriend van sy kinderjare. Portis is gedwing om hulle te verraai. Terwyl hy in daai laboratorium by Bon Accord met allerlei eksperimentele middels ingespuit is. Hy dra ’n baie swaar las, Molly. Sy verbrande voete wat geamputeer moes word … dis net die fisieke las. Die geestelike een is swaarder, die een van verraad. Portis sal eers tot ruste kom wanneer hy weer daai vyf vriende van hom aan hulle ouers kan teruggee. Wat van hulle oor is.”
“Maar om hulle terug te gee, is dit nie ’n wensdroom nie? Hoe kan dit gebeur?”
“Eerder ’n lewenstaak vir ons, vir my en Portis. Ons wil weet waar hulle begrawe lê. Ons wil hulle huis toe bring, terug Vlakte toe, vir hulle ’n ordentlike rusplek gee, waar hulle geliefdes hulle kan gaan besoek.