Anderman se vrou. Chris Karsten

Anderman se vrou - Chris Karsten


Скачать книгу
die wet leef, en aan klubs behoort soos die SS, Popeyes, Devil’s Disciples, Satan’s Choice, Bandidos, Pagans, Death Riders, Outlaws, Warlocks, Gypsy Jokers, Mongols, Hells Angels.

      Serge slaap die Saterdagaand in ’n B&B in Rivière-du-Loup, so halfpad na sy bestemming. Ná ’n goeie brekfis behoort hy die volgende dag so tweeuur op Petit-Cap aan te kom. Moet ook padkos by ’n dépanneur gaan koop, wil nie op Petit-Cap sy gesig by te veel plekke gaan wys nie. Al twyfel hy of iemand hom ná al die jare, en met ’n nuwe voorkoms, sal herken. Maar tog.

      Teen 1985 veg en moor lede van 350 motorfietsbendes mekaar vir ’n sny van Quebec en veral Montreal se misdaadkoek. Quebec se onderwêreld word tot “Rooi Sone” verklaar en selfs die Italiaanse Mafia se berugte hitmen is skrikkerig om gesig te wys in Montreal.

      Aimé Simard kry sy vuurdoop in Maart van daardie jaar: Hy word aangewys as een van die skieters wat in die Hells Angels se klubhuis in Lennoxville van vyf belhamels van ’n groep afvallige Hells Angels ontslae moet raak.

      Drie maande later vang ’n hengelaar in die Sint Lawrence ’n stuk van ’n ontbindende kadawer. Dit word uiteindelik as dié van een van die belhamels geïdentifiseer. Polisieduikers soek dae en kry al vyf slagoffers op die bodem, ook ’n geraamte wat aan DNS uitgeken word as dié van Berthe Desjardins, eens ’n minnares van ’n ander Hells Angel. Daar was baie stories dat Berthe se bek gesnoer moes word omdat sy glo ’n polisie-informant was, daar was ook baie stories dat Aimé Simard haar gesnoer en as viskos gaan dump het. Baie stories, geen bewyse nie.

      Die slagting in die klubhuis laat Aimé voel hy het uiteindelik sy werklike nering gevind: fixer en hitman. Dit is wat hy wil doen. Hy wil op sy Harley ry en fix en hit.

      Serge draai links uit Boulevard Renard af water se kant toe, na die Golf van Sint Lawrence waar die Noormanne die eerste seevarende besoekers was toe hulle in die elfde eeu hier by die monding ingevaar het, eeue later gevolg deur Cabot, Cartier, Baskiese walvisjagters, De Champlain, Cook, en honderdduisende desperate Iere wat in 1847 die hongersnood van die aartappelpes in hulle land probeer ontvlug het.

      Die huis wat hy soek, is steeds eenkant. Hy het in Oktober 1991 sy ma, Sophie, hier kom begrawe. Lore was die enigste ander familielid op die begrafnis, maar ook sy jongste sus kon nie wag om weer die stof van die plek van haar voete af te skud nie. Ná die begrafnis het hy die agterstallige belastings op die vervalle huisie gaan betaal en oorweeg of hy dit moet verkoop. Nie een van sy sibbe sou ooit terugkom nie, wat doen hý daarmee? Maar wat sou hy kry as hy sou verkoop? Fokôl. Hy kry ’n huurder.

      In 1994, op vlug voor die polisie, is hy terug en laat die huurder ’n nuwe kontrak teken: bly verniet, betaal net gereeld die erfbelasting en water en ligte. En onderhou die plek, verf buite, die soutweer is hel op mure.

      Dit was die laaste keer dat hy in sy ouerhuis en geboortedorp was.

      Ses maande voor sy ontslag spoor die balju hom in Archambault op; nie eens in ’n fokken tronk is jy veilig nie! Met ’n dagvaarding vir $13 923.60 se skuld aan agterstallige munisipale belasting en dienste. Hy stuur sy prokureur Petit-Cap toe om die huurders te gaan uitskop en die skuld te betaal en ’n kontrakteur aan te stel om herstelwerk te doen, dak en mure en deure en vensters te inspekteer en te vervang indien nodig, en die hele huis buite oor te verf. Die ou skuur moet hy los, dié wou al vyftien jaar terug intuimel, hy sal dit sloop wanneer hy vry en reg is om terug te gaan Petit-Cap toe. Sy prokureur weet van beter as om ooit te probeer vis na Aimé Simard se skynbaar onuitputbare bron van inkomste.

      Serge sit lank in die kar na sy eertydse ouerhuis en staar. Veral na die vensters bo in die mansardedak. Die een links, dit was sy ouers se slaapkamer. Regs was Emily en Lore se kamer, agter hulle het hy ’n kamer met Guy en Denis gedeel. Waar sy broers en susters is, weet hy nie. Op sy ma se begrafnis het Lore gesê sy is getroud en bly nou in Mississauga, Ontario. Sy dink Emily is in Vancouver, maar het ses, sewe jaar laas iets van haar gehoor. Van die tweeling weet sy niks, maar Emily het een keer gesê sy het gehoor Guy en Denis is in Seattle. Maar dit is lank terug, hulle kan op enige plek wees, of op geen plek meer nie.

      Serge klim uit. Uit die bagasiebak haal hy ’n groterige jagmes en ’n flits, klop aan sy sakke om seker te maak dat hy die huissleutels het, en sluit die Corolla. Hy beskou weer die leë huis. Lyk darem nie of iemand kom plak het nie; sy prokureur sou ’n vertroueling aangesê het om ’n ogie te hou. En die buitemure lyk nog goed. Die tuin erg verwaarloos, maar so lyk dit vandat hy as kind kan onthou. Wie gee om vir ’n tuin as jy sukkel om jou en jou kinders se mae vol kos te kry en warm klere in die winter?

      Hy stap om die huis, haal die sleutels uit en pas een in die agterdeur. Die deur piep skril oop op geroeste skarniere. Binne is dit skemerig, bedompig, muwwerig, stowwerig. Hy los die deur agter hom oop en stap deur die huis, sy voetstappe galmend op die krakende vloere. Die outydse stukkies meubels herleef ineens iewers in ’n ewe donker en muwwerige hoek van sy kop, die een wat gereserveer is vir jeugherinneringe. Daarvan is daar nie baie goeies nie en hy besoek daardie hoek selde. Op met die trappe. Hy slenter tydsaam deur al die vertrekke, steek hier vas, en daar, wanneer iets spesifieks opduik en aan sy geheue torring.

      Buite is die seelug vars en die Golf van Sint Lawrence blou, amper sonder rimpeling. ’n Seldsame gesig, want hier waai die wind altyd, hier het die water altyd wit skuim. Hy stap so honderd meter na die skuur wat steeds skeef hang. Dit is waar sy pa sy bakkie in die winter gebêre het, waar hy sy kreeffuike gestapel het, sy vangnette en visgereedskap gebêre het, die dromme met diesel vir sy kreefskuit, al die toerusting wat ’n seevisserman benodig om ’n bestaan te kan maak.

      Hy vroetel weer na ’n sleutel en trek een van die dubbeldeure oop. Binne lê nog kreeffuike en hulle merkboeie en ’n spul ou nette en buitebande en oliedromme en grawe en vurke en harke en ander gereedskap tussen geroeste ysters van onsekere doel. Hy aarsel ’n oomblik, gaan terug deur toe en kyk buite rond. Die skuur is afgesonder. Hy sien niemand, net die seemeeue wat in die lug duik en sweef en twee swart kraaie wat tussen die gras loop en pik. Hy trek die deur toe, laat sak ’n stutbalk wat verhoed dat die deure oopgemaak kan word, en gee sy oë kans om aan die nuwe donkerte gewoond te raak. Die ruite van die enkele klein venster is amper ondeursigtig van jare se aanpaksel van seelug en stof.

      Hy stap na die hoek waar die ou verweerde kreeffuike tot byna teen die dak opgestapel is. Hy klim op, en begin hulle een vir een afpak. Dit is harde werk en later trek hy sy hemp uit en in die dowwe lig is daar ’n glinstering van druppels aan die tatoes wat saam met sy rollende spiere beweeg asof sy hele bolyf en rug ’n binnelewe van hulle eie het. Nadat hy uiteindelik omtrent die helfte van die fuike verplaas het, is die vloer naby die hoek oop. Dit is bedek met ou linoleum, bedoel om klam vrot aan die fuike te keer.

      Hy lig ’n punt van ’n linoleumstrook op en trek dit versigtig van die vloer weg. Onder die stuk linoleum verskyn plaveisel van roustene. Hy klop-klop met die hef van sy mes op die bakstene. Dit klink solied. Al kloppend volg hy stelselmatig ’n ruitpatroon, sy kop effe skuins asof dit sy gehoor sal help. Dan hoor hy dit wel. Hy klop-klop weer op die steen. Klop-klop op die steen langsaan. Daar is ’n verskil in die klopgeluide, die een solied, die ander een effe hol. Hy druk die breë lem tussen twee stene in, wikkel dit los en lig die stene uit en pak hulle langsaan op ’n netjiese hopie. Hy is nie haastig nie. Onder die stene verskyn ’n vierkantige plank van lamelhout, so ’n meter by ’n meter. Nadat al die stene van die plank weg is, lig hy die plank op, skakel die flits aan en tuur agter die skerp lig in die donker gat af. Hy gaan lê op sy maag en strek ’n arm af, voel-voel en kry sy vingers om die tou. Die spiere in sy arm span en hy lig die sak aan die tou uit die gat. Die katoendoek is in rou lynolie gekook om dit waterdig te maak, en stewig vasgewoel met nylonbergklimtou.

      Hy wikkel die seemansknope los en vou die oliekleed oop. Binne is ’n pak in dik swart plastiek met plastiese kleefband vasgebind. Hy sny die kleefband met sy jagmes los en vou die plastiekomhulsel oop. Vier stapels note. Ook ’n kleiner pakkie, apart in waterdigte plastiek en nog ’n stuk oliekleed toegebind. Hy hoef nie die note te tel nie, hy weet presies hoeveel daar is. Hy lig weer in die gat af, tevrede dat die ander sakke steeds veilig is. Hy beskou dit nie as buit nie, eerder aanwins, selfs beloning; ten minste kom dit hom toe as spoils of war vir al die werk wat hy gedoen het, teen groot opoffering en risiko vir sy persoon en vir sy oorlewing.

      Hy


Скачать книгу