Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
net te ontsnap, maar tevergeefs.
Eers was die voëlvangers baie in hul skik met die vangs. Maar toe hulle die duiwe uithaal om te gaan verkoop, sien hulle dat die voëls maar treurig daar uitsien. “Niemand sal sulke maer voëls wil koop nie,” sug die een.
“Man, moenie so pessimisties wees nie,” troos die ander jagter. “Al wat ons nodig het, is ’n bietjie voëlkos. Ons kan hulle binne ’n paar dae spekvet voer en gaan verkoop.” Elke dag bring die voëlvangers toe vir die duiwe kos en water. En die duiwe éét. Bietjie vir bietjie word hulle vetter.
Net een duif het geweier om te eet. Terwyl die ander gulsig sluk en vet word, het dié moedswillige voël maerder geword en steeds gesukkel om deur die gaatjies in die net te kom.
Op die dag toe die jagters die vetgevoerde voëls kom haal om mark toe te neem om verkoop en later geslag te word, was die een wat sy eetlus bedwing het, al só maer dat hy met ’n reusepoging daarin kon slaag om deur ’n gat in die fyngeweefde net te breek en weg te vlieg.
Net hy was vry.
___________________________________
Wie het die meeste vryheid? Hy wat homself aan bande kan lê.
SENECA
39 Is Mevrou ryk?
Die wind gryp ’n hand vol herfsblare wat op die woonstelstoep gelê het en slinger dit saam met ’n vlaag ysige reën by my voordeur in toe ek dit oopmaak.
Ek ken die twee wat daar staan. Enetjie so ses jaar, met die grootste oë en die treurigste gesiggie wat ek in my lewe gesien het. En haar sussie, ’n tiener met lang bene en woeste hare. Hulle ma is ’n invalide ná ’n taxi-ongeluk en die pa het hulle nooit geken nie. Die drie en hul twee kleuterboeties lewe van die disability en die tiener se “naweekwerk”. Oor wat dit is, het ek my vermoedens. Haar donker oë is nie dié van ’n dertienjarige kind nie.
Hulle het weer die papiertjie met die ma se netjies geskrewe briefie om die nuutste nood te verduidelik.
Ek is kwaad. Ek het al hoeveel maal verduidelik dat ek self ’n alleenvrou is, dat ek finansieel regtig sukkel; dat ek van een vryskuttjek na die ander lewe. En hoe ver uitmekaar hulle opdaag, kan niemand voorspel nie; dat my stokou motortjie aanhoudend ingee; dat ek … Talle geldige en, sou ek dink, oortuigende verskonings.
Maar hier is hulle weer. Die arm wat die briefie deur die veiligheidshek steek, is geklee in ’n baadjie wat net onder die elmboog van haar lang arms eindig. Kaalvoet. Die kleintjie dra sandale wat deurnat-voetspore op die stoep agter haar gemaak het.
My gesig wys seker my emosie, want voor ek nog iets sê, word die arm woordeloos teruggetrek en die kleintjie aan die skouer gepor om om te draai.
Ag hemel, die Kaapse winter is so knaend. “Kom tog in!” hoor ek myself sê. “Ek kan julle minstens ’n koppie sop laat drink en ’n paar blikkiesgoed saamgee.” Ek ignoreer hulle terwyl hulle styf teen mekaar op die punt van my rusbank hul sop sit en drink. Hul voete letterlik teen die eenstaaf-verwarmertjie. Ek gaan aan met my rekenaarwerk. Ek vergeet byna van hulle.
“Mevrou, is jy ryk?” Ek kyk geïrriteerd op. Die kleintjie sit nog met haar hande om die warm koppie gestrengel en die tiener sukkel om die soplepel in die piering van haar leë koppie te balanseer. Ek kyk na my uitgetrapte mat, die goedkoop afdrukke teen die mure, my afgeleefde rekenaar.
“Natuurlik nie!”
“Maar Mevrou se koppies en pierings pas bymekaar!” Haar stem is oud met ’n honger wat niks met haar leë maag te doen het nie. Niks word verder gevra of verduidelik nie. Hulle dankie vir die blikkieskos kom in plat, verveelde stemme. Net nog ’n dag, nog ’n guns, nog ’n ryk vrou.
“Dankie,” sê ek, toe ek die deur agter hulle toemaak. Want hulle het my meer gegee as ek vir hulle.
Ek weet nou ek is ryk. Koppies en pierings wat pas. Boeke en musiek (al is dit Naxos-CD’s). Geleerdheid. ’n Werk. Familie en vriende. Warmte en menswaardigheid.
___________________________________
Sal jy regtig jou geliefde of jou kind of jou sig of jou gesondheid of jou selfrespek vir ’n miljoen rand verruil? Nie? Vir wat kla jy dan so – as jy meer het as wat geld kan koop?
CHANNING POLLOCK
40 Die jas
In Duitsland word die legende vertel van die skatryk koning wat sterwend was aan ’n seldsame siekte waaraan nie een van sy geneeshere iets kon doen nie.
Toe lees sy wysgere eendag in ’n ou, ou boek dat ’n koning gesond kan word as hy die jas van ’n volkome gelukkige man sou aantrek. Die koning se boodskappers het sy koninkryk deurkruis, maar almal wat gelukkig gelyk het weens hul rykdom of aansien moes erken dat hulle ten diepste nie regtig gelukkig was nie.
Uiteindelik het hulle in ’n eenvoudige huisie diep in die hart van ’n pragtige woud op ’n brandarm man afgekom. Hy het mens en dier liefgehad en was werklik sielsgelukkig.
Maar hy was te arm om ’n jas te besit.
___________________________________
Daar is net een vereiste vir geluk: om dit wat jy het – hoe min ook al – te geniet. Slegs die wysste van mense ken dié geheim. En hulle is dikwels nie ryk nie.
LOGAN PEARSALL SMITH
41 Wat van die ander skoen?
Mahatma Gandhi was al ’n baie beroemde man toe hy eenkeer op reis was in die Indiese platteland.
Op een stasie moes hy en sy gevolg vinnig van een trein na ’n ander oorstap. Toe hy haastig met die trappies na die passasierswa opklim, glip een van sy skoene uit en val tussen die perron en die spoor in. Niemand kon dit nog optel nie, want die trein was reeds aan die beweeg.
Verleë het Gandhi gaan sit en met sy hand oor sy sokkievoet gevryf. Toe spring hy skielik weer op, trek die orige skoen ook uit en gooi dit deur die oop venster in die rigting waar ’n mens nou die ander een kon sien lê.
Verbaas wou sy medereisigers weet wat dan nou aangaan.
“Die arme man wat één skoen langs die treinspoor optel, kan mos niks daarmee doen nie,” het Gandhi geglimlag. “Nou het hy darem ’n paar wat hy kan gebruik.”
___________________________________
Weldade aan ander is God se instrument om sy liefde aan mense uit te deel.
MAHATMA GANDHI
42 Wat weeg jy?
Glen Adsett, ’n Amerikaanse sendeling wat baie lank in China gewerk het, vertel dié storie uit eie ervaring.
Dit was bra moeilik om ’n sendeling in ’n kommunistiese land te wees en hy was maar gedurig in die moeilikheid by die owerhede. Hy en sy huismense was tye lank in huisarres. Maar eendag kom een van die soldate wat moes toesien dat hulle nooit hulle huis verlaat nie, na Glen toe met die nuus: “Julle word Amerika toe gedeporteer!”
Die Adsett-egpaar was uit hulle nate van vreugde! Toe kom die soldaat met die voorskrif dat hulle net 100 kg bagasie saam met hulle twee in die vliegtuig mag terugneem.
Dit was moeilik. Hulle was baie jare in China. 100 kg! Wat neem jy saam en wat los jy? Hulle het die weegskaal gebring en ’n familieargument het begin.
“Wat van my boeke?”
“Maar ons kan tog nie sonder ons eetstel gaan nie!”
“Wel, hierdie is ’n nuwe rekenaar, ek kan dit onmoontlik laat agterbly.”
“Wat word van ons CD’s?”
Hulle het alles geweeg; nou dit op die skaal geplaas en dan dat afgehaal.
Uiteindelik het hulle met baie meet en pas en tot groot ongeduld van die wagtende soldaat presies 100 kg se besittings bymekaar gehad.