Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
Die sogenaamde geluksgodin kan jou niks meer gee as die goud wat reeds binne-in jou is en wag om ontgin te word nie.
CICERO
Mag God ons oë oopmaak om die verborge skat raak te sien in die doodgewone dinge rondom ons – dié dinge waarvan die wêreid verveeld wegdraai.
JOHANNES VAN AVILA
35 Wat wil jy doen met ’n miljoen?
Die jong verslaggewertjie was desperaat vir ’n storie toe hy op ’n dag by die outehuis verby ry. Hy draai op die ingewing van die oomblik daar in en vra die matrone: “Wie is die oudste inwoner hier?”
“Ek sal ou oom Fasie gaan roep. Hy is vyf en negentig.”
“Oupatjie,” sê die joernalis, “jy is nou al so oud dat die lewe seker nie meer vir jou so lekker is nie, nè? Dit sal seker jou hele lewe verander as jy nou skielik ’n brief sou kry wat sê dat ’n verlangse familielid vir jou ’n miljoen rand nagelaat het?”
“Ou seun, hoe sal ek nou sê?” antwoord die ou man nadenkend. “Jy weet, ek sal nog altyd vyf en negentig wees.”
___________________________________
Hy wat vergenoeg is, is ryk genoeg.
JAPANNESE SPREEKWOORD
Die rykes is niks gelukkiger as hulle wat genoeg het nie.
SOLON
Ek is nou stokoud en was nog my lewe lank arm, tog glo ek dat God môre sakke vol geld voor my deur kan laat neersit. Aan die ander kant kan Hy my ook kom haal om te woon in ’n stad waar die strate van goud gemaak is – waar Hy self sal wees. Sal dit nie oneindig beter wees nie?
CAMILLUS DE LALLUS
36 Die stad van God
Die korrupsie en haat wat hy elke dag in sy omgewing gesien het, het vir arme Ephraim te veel geword. Hy kon net nie meer die onreg waaraan sy mense onderwerp is, verdra nie. Iewers moes daar tog ’n plek wees waar geregtigheid bestaan? Nag ná nag het hy gedroom van ’n stad waar mense in vrede saamwoon, waar hemel en aarde mekaar ontmoet: die stad van God.
Eendag kondig hy aan dat hy nie langer kan wag dat dinge in sy dorpie moet verander nie. Hy het sy vrou en kind gegroet, sy bondeltjie gevat, en te voet vertrek op soek na die verre, volmaakte stad. Daardie hele dag het hy flink gestap. Toe dit begin donker word, bevind hy hom in ’n digte bos, en hy maak hom onder ’n welige boom tuis vir die nag. Hy eet sy eenvoudige broodjie, sê ’n gebed op en trek sy skoene uit. Uit vrees dat hy die volgende oggend in die digte woud sy koers sal kwytraak, sit hy hulle in die paadjie neer met die tone gedraai in die rigting waarin hy verder wil loop.
Hoe moes hy weet dat daar gedurende die nag in dieselfde paadjie ’n reisiger sou verbykom wat nie die versoeking kon weerstaan om hom ’n poets te bak nie? Die grapmaker tel die skoene op en draai hulle om in die rigting waarvandaan Ephraim gekom het. Die volgende môre staan hy uitgerus op, eet die res van sy brood, dank die Vader vir die veilige nagrus en val weg in die rigting waarheen sy skoenpunte wys.
Weer loop Ephraim die hele dag en teen donkeraand staan hy op ’n koppie van waar hy die liggies sien brand van wat net die stad van God kan wees. Dit was nie so groot soos hy verwag het nie, en dit het vreemd bekend gelyk, maar hy het geweet dat dít is waarheen sy hart hom gelei het. Hy loop die bult af en kies die straat reg voor hom. Dit lyk vir hom baie soos die een waar hy gewoon het en die huisie waarby hy aanklop, se deurslot is ook stukkend – nes sy eie. Die blondekopkind wat die deur oopmaak, slaan haar armpies om sy knieë en die vrou voor die vuurherd sê met ’n glimlag: “Kom in, dis net mooi tyd vir aandete.”
Ephraim het sy bestemming bereik.
___________________________________
Oos wes tuis bes
HOLLANDSE SPREEKWOORD
Ons is so besig om te kla oor wat ons nie het nie dat ons nie tyd het om te geniet wat ons wel hét nie.
HV PROCHNOW
Liewer ’n pondok waar mense lag, as ’n paleis waar trane vloei.
CHINESE SPREEKWOORD
Alles wat skitter, is nie goud nie; en alles wat goud is, skitter nie.
DUITSE SPREEKWOORD
37 Hoeveel grond het ’n man nodig?
Na ’n Russiese verhaal (van Leo Tolstoi)
Pahom was ’n plaasarbeider wat elke dag lank en hard gewerk het. Omdat hy self geen grond besit het nie, het hy altyd arm gebly. “As ek maar net my eie stukkie grond kon hê,” het hy dikwels gesug, “sou ek ook iewers kon kom.”
Eendag kry hy ’n gelukskoot toe ’n grondeienaar naby hom instem om 40 hektaar van haar grond teen afbetaling aan hom te verkoop. Hy en sy vrou het geraap en geskraap en geleen om die deposito bymekaar te kry. Daardie jaar het hy hard gewerk en ’n goeie oes gehad. Aan die einde van die jaar was sy skuld betaal en Pahom was uiteindelik ’n grondeienaar. Wanneer hy nou na sy eie koringlande gekyk het, wou sy hart oorloop. Hy het met vreugde geploeg en gesaai en geoes.
Eendag sit Pahom op sy stoep oor sy 40 hektaar grond en uitkyk toe ’n reisiger daar verbykom. Hulle groet en begin gesels en die man vertel vir Pahom hoe hy op ’n plaas oorkant die Volga stukwerk gedoen het. “Man,” sê hy, “dáár is die grond die vrugbaarste wat ek in my lewe gesien het! Die rog groei hoër as ’n perd se rug en die koringare is so dik dat net vyf daarvan ’n gerf volmaak.”
Skielik was Pahom nie meer tevrede met sy stukkie grond nie. Hy het meer en beter begeer. “Hoekom sal ons hier sit en sukkel as ons elders skatryk kan word?” sê hy daardie aand vir sy vrou. Toe verkoop hulle hul 40 hektaar grond teen ’n wins en koop ’n groter plaas oorkant die Volga. Alles wat die reisiger hom van die vrugbaarheid van dié omgewing vertel het, was waar. Pahom was gou tien keer beter af as vroeër. Hy kon nou baie meer saai en baie meer beeste aanhou. Die oeste en die veepryse was goed en sy bankrekening het mooi gegroei.
Die volgende jaar wou hy meer saai, maar sy eie grond was te min en hy moes ’n paar hektaar by sy buurman huur. Maar baie gou was hy nie meer daarmee tevrede nie. Hy wou nog meer grond vir homself hê. In dié tyd kom daar toe juis ’n grondagent by hom aan wat vertel van die Basjkir-stam wat hy in ’n afgeleë deel van Rusland ontmoet het. Hulle ken blykbaar nie die waarde van grond nie, want hulle het aan hom 13 000 hektaar verkoop vir net 1 000 roebels!
Pahom se hebsug was nou behoorlik aangewakker. Waarom sou hy tevrede wees met ’n kleinerige stuk grond as hy duisende hektaar teen ’n belaglike prys kan bekom? Gou het hy homself oortuig dat hy baie meer grond nodig het om ’n ordentlike bestaan te maak. Hy wou opsluit na die land van die Basjkirs trek. Hierdie keer het sy vrou hom nie ondersteun nie. Sy was tevrede met hul gemaklike leefstyl.
Toe gaan Pahom op sy eie, met een van sy plaaswerkers as reisgenoot, en ’n groot deel van hulle spaargeld. Hulle het die grondagent se aanwysings noukeurig gevolg en na sewe dae sien hulle die tente van die Basjkirs in die verte.
Die stamlede kom hulle tegemoet en Pahom sê hy soek grond. “Daaroor moet jy met ons hoofman praat. Ons sal jou na hom toe neem.” Die opperhoof het rustig na hom geluister en geantwoord: “Is jy seker jy het nóg grond nodig?”
“Beslis!” sê Pahom.
“Nou maar reg. Hier by ons kos grond nie baie geld nie. Jy kan maar vir jou ’n stuk kies so groot soos wat jy nodig het.”
“En wat is die prys?”
“Ons prys is altyd dieselfde: 1 000 roebels per dag.”
“Per dag?” vra Pahom. “Wat bedoel jy? Op hoeveel hektaar kom dit neer?”
“Ons weet nie hoe om dit uit te reken nie,” glimlag die hoofman. “Ons verkoop dit per dag. So ver soos jy in