Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
COX
31 Die klont goud
’n Fabel van Esopus
’n Gierigaard wat hom nooit ophou bekommer het oor die veiligheid van al sy besittings nie – daar was so baie dáárvan dat hy gedurig bang was iemand besteel hom – het alles wat hy besit, verkoop en van die geld een yslike klont goud laat maak. Nou sou hy alles met een oogopslag kon dophou en baie makliker beskerm. (Dit was in die dae voor bankkluise en elektroniese transaksies.)
Sy klont goud het hy in ’n gat in die grond begrawe, in sy agterplaas. Elke oggend het hy die plek opgesoek, die gat oopgemaak, en dan sit en droom en hom verlekker oor die rykdom wat daar begrawe lê.
Die dorpsdief was gou om raak te sien dat daar iets snaaks met die gierigaard aan die gang was. Hy het nie meer van die môre tot die aand tussen sy verskillende besittings rondgedraf om ’n oog oor alles te probeer hou nie. Die dief het sy bewegings fyn dopgehou en gemerk dat hy elke dag lang tye op ’n sekere plek in sy agterplaas sit, met ’n geluksalige uitdrukking op sy gesig. Die dief het twee en twee bymekaargetel en daardie nag klim hy oor die omheining, grawe ’n bietjie rond en kom op die gat af waarin die reusagtige stuk goud begrawe lê. Hy vat dit toe en laat spat.
Die volgende oggend was die vrek in ’n toestand. Sy bol goud was weg! Daar was net ’n leë gat! Hy het gehuil en gevloek, sy vuis in die lug geswaai en sy hare uit sy kop getrek. Hy het so te kere gegaan dat sy buurman aangehardloop gekom het. Toe hy uitvind wat gebeur het, dink die buurman ’n oomblik na. Hy het sy vrekkerige buurman goed geken en kon hom goeie raad gee.
“Moenie jou so ontstel oor iets wat in elk geval in die grond begrawe was nie, man,” sê hy vertroostend. “Al wat jy hoef te doen, is om ’n klip te vat wat min of meer so groot soos jou verlore klont goud is en dit in die plek van jou skat te begrawe. Dan kan jy nog steeds elke dag hier kom sit en lekkerkry. Jy verbeel jou net die klip is jou klont goud. Jy was mos in elk geval nooit van plan om daardie goud te gebruik nie. Dus sal dit mos geen verskil aan jou maak of jy ’n klont graniet of ’n klont goud sit en streel nie!”
Daardie aand sê die buurman vir sy kind: “Onthou dat die waarde van geld nie daarin lê om dit te besit nie, maar in die gebruik en geniet daarvan.”
___________________________________
Die besit van baie geld bring nie die rus wat hulle besit wat dit nié begeer nie.
MARKIES DE SABLé
Dis dwase wat arm lewe om ryk te kan sterwe.
BH BROCKES
Die vermenigvuldiging van groot rykdom terwyl daar soveel armoede in jou land is, moet ’n oortreding van God se bedoeling wees. Dis waarom inhalige, hebsugtige mense nooit so gelukkig kan wees soos mense wat min het maar dit geniet nie.
POUS JOHANNES XXIII
32 Wanneer is genoeg genoeg?
Lord Congleton, ’n Engelse edelman en ’n ware gelowige, het eendag toevallig gehoor hoe een van sy huisbediendes vir ’n ander sê: “As ek net £5 000 kon hê, sal ek vir altyd tevrede en gelukkig wees.”
Congleton het in sy rykmanslewe nog min mense gesien wat volkome vergenoeg is met wat hulle het. Hy sou graag iemand wou sien wat werklik tevrede is met wat hy of sy het. Hier was nou die geleentheid.
Daarom gaan hy na die vrou en sê dat hy toevallig gehoor het wat sy sê, waarop hy sy hand in sy sak steek en £5 000 kontant aan haar oorhandig. Sy was vir ’n oomblik oorstelp, want in daardie dae was dit ’n fortuin.
Toe Congleton buite kom, staan hy ’n oomblik stil en hoor hoe die vrou, die oomblik toe sy dog haar weldoener is weg, vir haar vriendin sê: “Waarom het ek tog nie £10 000 gesê nie?!”
___________________________________
Vergenoegdheid maak ’n arm man ryk, en hebsug ’n ryk man arm.
BENJAMIN FRANKLIN
Dis nie die mens wat min het, wat die armste is nie, maar hy wat baie begeer.
THOMAS FULLER
Hy wat die minste begeer, is hy wat die meeste besit.
HENRI DAVID THOREAU
33 Om wat mee te maak?
’n Professor uit China het eenkeer in Berlyn ’n lesing gaan hou. Toe hy die dag voor die kongres in die stad aankom, wag sy Duitse kollega hom op die stasieplatform in.
Net toe hulle by die hoofingang van die stasiegebou uitkom, sien die Duitser ’n bus wat aan die oorkant van die straat op die punt is om te vertrek.
Hy gryp die Chinees aan sy hand. “Kom dadelik!” sê hy vervaard. “Daardie bus gaan in die rigting van jou hotel.” Hy stuur hom op lewensgevaar tussen die swaar verkeer deur en bondel hom in die bus. Toe die Duitser langs sy gas neersak, vertrek die bus ook dadelik.
“Dank die Vader ons het dit gemaak!” hyg die Duitser uitasem terwyl hy op sy horlosie kyk. “Ons het ’n hele tien minute gewen.”
“Om wat mee te maak?” vra die Chinees hoflik.
___________________________________
Dat tyd geld is, is die krygskreet van ons eie vernietiging.
MARTHINUS VERSVELD
’n Mens hoef net een keer op ’n dag op die horlosie te kyk. Vroegoggend.
HOLLANDSE SPREUK
Wat ek met vandag doen, is van groot belang. Ek koop dit immers met 24 uur van my lewenstyd.
AM WELLS
34 Die skat in Krakow
In Pole vertel hulle die verhaal van rabbi Isak bar Esegiël, ’n ou Jood wat nog in drome geglo het.
Hy was ’n arm man wat in ’n eenvoudige huisie in die stad Krakow gewoon het. Bedags het hy lang ure in diens van sy gemeente gewerk, en snags het hy uitgeput aan die slaap geraak.
Een nag droom hy dat hy die verre stad Praag besoek. Voor die koning se paleis is daar ’n rivier met ’n brug oor. Terwyl hy daaroor loop, sê ’n stem vir hom: “Kyk onder die water!” En daar tussen die waterplante sien hy ’n kosbare skat versteek lê. Dadelik begin hy beplan hoe hy daarmee vir die armes in sy gemeente kos en klere kan koop.
Toe hy wakker word, het die droom hom nog lank bygebly. Sê nou dit is waar? “Ai, Isak,” het hy homself gemaan, “jy het al soveel keer bedroë daarvan afgekom wanneer jy jou drome wou glo …” Maar toe die droom die volgende drie nagte terugkeer, besluit Isak om maar weer die kans te waag.
Die lang, lang pad na Praag pak hy te voet aan. Toe hy baie dae later daar aankom, vind hy sonder enige moeite die koning se paleis op ’n heuwel, net soos in sy droom. Die enigste probleem was dat die brug oor die rivier deur ’n hele afdeling soldate bewaak is. Hy kon glad nie naby die water kom nie. “Ek moes dit mos geweet het,” sug hy terwyl hy na die plek staar waar die skat tussen die waterplante moet lê. “Ek moet ophou om my lawwe drome te glo.”
“Wat soek jy, ou man?” vra ’n bars soldatestem agter hom. Isak is so verskrik dat hy sommer uitblaker: “Ek is ’n arme rabbi en kom van ver af om ’n skat hier onder die brug te kom soek. U sien, ek het gedroom …”
“Maar jy is seker laf,” lag die soldaat. “Jy glo tog nie in drome nie? Rabbi’s behoort darem nugterder te wees as dit! Ek steur my nie aan sulke nonsens nie. Om die waarheid te sê, ek droom al die afgelope drie nagte dat ek na die stad Krakow toe moet gaan. Daar sal ek dan kwansuis ’n skat vind wat onder die vuurherd begrawe lê in die huisie van ene Isak, seun van Esegiël. Maar sien jy my soos ’n mal mens daarheen reis om iemand te gaan soek wat nie bestaan nie? Isak en Esegiël is sulke algemene Joodse name – daar moet duisende van hulle in Krakow woon. Nee wat, vergeet van drome en gaan huis toe.”
En