Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
silwerstukke is ’n belediging!”
“Die evangelie vertel,” het Ariel saggies voortgegaan, “dat die Here Jesus vir 30 silwerstukke uitverkoop is. U is tog nie meer werd as die Here nie! Aangesien u sê dat u die Here dien en die hoogste gesag in die land het, het ek net een silwerstuk afgetrek.”
Die koning was verstom en het dié antwoord ook aanvaar: “Nou my derde vraag: Wat dink ek?”
“U Majesteit, u dink ek is die biskop, maar u is verkeerd. Ek is die biskop se vrou.” Toe haal sy die biskopmus van haar kop af en skud haar lang hare los. Die koning was geskok, maar toe bulder hy van die lag.
“Jy is ’n wyse vrou. Jy het al my raaisels reg beantwoord en my daarmee ’n bietjie nederiger gemaak. Gaan sê vir jou man hy bly die biskop. En as jy belangstel, bied ek jou ’n pos in my regering aan. Ek sien nou ek het sulke wysheid nodig …”
24 Wat is die waardevolste?
Daar was eenmaal ’n belangrike koning wat al baie oud was. Hy het drie seuns gehad: Prins Hooghartig, Prins Ridderhart en Prins Goedhartig. Al drie was goeie, knap seuns, sodat dit moeilik was om te besluit wie die ou koning moes opvolg.
Eendag het die koning sy drie seuns laat roep en gesê: “Ek raak elke dag ouer en swakker, en om te kies watter een van julle by my moet oorneem, gaan ek julle toets. Julle moet kos vir net een dag saamneem en dan die hele koninkryk deursoek na dít-wat-die-waardevolste-is. Julle moet self uitvind wat dit is, maar die een wat dit vir my bring, sal koning word.”
Die drie prinse het hulle koppe gebreek, want hulle het nie ’n benul gehad wát dít-wat-die-waardevolste-is kon wees nie. Prins Hooghartig het in die koninkryk se reusehoofstad gesoek, want hy het gereken alles van belang sal daar gehou word. Prins Ridderhart is na die naburige kastele, want hy het gereken sy vriende sou hom kon help. Maar Prins Goedhartig het buite die stad en ver van alle kastele af gegaan, na die kleinboer se seun toe.
Teen die aand het al drie prinse die koning in die troonsaal ontmoet.
Prins Hooghartig het ’n goue kissie onder sy mantel uitgehaal. Toe hy dit oopmaak, het die lig rooi en wit en pers van honderd edelstene af weerkaats. “Dis die oudste gierigaard in die koninkryk se skat, en hy het gesê ek moet dit vir Pa bring,” het hy trots gesê. Maar die koning het net hartseer sy kop geskud.
Prins Ridderhart het ’n waardevolle stuk fyn kant gebring. Dit was sag soos ’n wolk en ragfyn soos ’n spinneweb, met die pragtige patroon van ’n sneeuvlokkie. “Een van die buurprinsesse het dit self gemaak, en sy gaan dit dra wanneer sy haar debuut aan die hof maak,” het hy gesê. Steeds was dit ook nie dít-wat-die-waardevolste-is nie.
Prins Goedhartig het egter niks saamgebring nie. “Ek het nie tyd gekry om te soek nie. Ek het by die kleinboer se seun aangegaan en hom op die ou end heeldag help ploeg, want sy pa is siek en die landerye moet omgeploeg word sodat hulle kan koring saai,” het hy met trane in sy oë gesê.
“Kom hier, Goedhartig,” het die koning gesê en sy seun se hand in syne geneem. Die palm was hard en grof van heeldag ploeg. “Jy het dít-wat-die-waardevolste-is vir my gebring – die tekens van onselfsugtige diens.”
___________________________________
’n Christen is absoluut vry: meester van almal; onderdanig aan niemand. ’n Christen is ook absoluut gebonde: dienskneg van God en diensbaar aan almal.
MARTIN LUTHER
Mooi so! … Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.
JESUS CHRISTUS
(MATT 25:24)
25 Afspraak met die Dood
’n Ou legende vertel van die handelaar van Bagdad wat eendag sy bediende mark toe gestuur het. Na ’n kort tydjie was die bediende terug, witgeskrik en bewend, en vertel oorstuur: “Iemand het in die geroesemoes op die markplein teen my gestamp en toe ek omkyk, sien ek dis die Dood wat my aangeraak het. Sy het my aangestaar en ’n teken met haar hande gemaak. Meneer, leen my asseblief jou perd dat ek van dié donker vrou af kan wegvlug. Ek sal Samarra toe ry en daar wegkruip, en dan sal die Dood my nie kry nie.”
Die handelaar het hom sy perd geleen en die bediende is in alle haas daar weg.
Later die dag gaan die handelaar self mark toe, en daar sien hy die Dood tussen die mense rondloop. Die handelaar besluit toe om haar te gaan uitvra: “Hoekom het jy vanoggend my bediende so laat skrik?” vra hy. “Watse teken het jy vir hom gewys?”
“Dit was nie een of ander duistere teken nie,” het die Dood geantwoord. “Ek het net my hande in die lug gegooi van verbasing om jou bediende in Bagdad te kry, want ek het vanaand met hom ’n afspraak in Samarra.”
___________________________________
God het ons verlos van ons vrees vir die onontvlugbare dood deurdat Hy die einde van hierdie lewe die begin gemaak het van ’n nuwe lewe, die ware lewe.
MACRINA (327-379 nC)
’n Gelowige mens kyk na die dood soos Christopher Columbus sy eerste ontdekkingsreis na die kus van Spanje beskou het. Hy kon nie sê wat aan die oorkant van die onbekende see sou lê nie. Dit was moontlik dat al sy hoë verwagtings op niks sou uitloop. Maar sy insig in die duidelike betekenis van die feite wat hy tot sy beskikking gehad het, het hom oortuig dat in God se volmaakte skepping die see ook ’n oorkantse kus sou hê.
HARRY EMERSON FOSDICK
Lewe met vergenoegdheid
Vergenoegdheid is om te weet wanneer is genoeg genoeg …
___________________________________
Wie nie tevrede is met wat hy het nie, sal ook nie tevrede wees met dit wat hy so begeer nie
BERTHOLT AUERBACH
Niks in oordaad nie
MUURSKRIF IN DIE TEMPEL VAN APOLLO IN DELPHI
Matigheid (of vergenoegdheid) het te make met hoe ’n mens jouself sien …
Dit is om vrede in jouself te vind met wie en wat jy is, en het.
Vergenoegdheid kom in die vorm van eenvoud en tevredenheid.
Dit staan teenoor heb- en grypsug.
Dit kom in die vorm van nederigheid teenoor trots en selfverheffing; en as nederigheid teenoor aggressie en selfhandhawing.
Vergenoegdheid is dankbaarheid, teenoor onbeteuelde woede.”
DIRKIE SMIT
Minder is meer.
MILES VAN DER ROHE
Inleidend
My ma sê van kleins af: “Pasop vir alles wat ’n ‘te’ bykry. Behalwe te-vrede.”
Vergenoegdheid is die deug van weet wanneer genoeg genoeg is. Dit is die deug van selfbegrensing, mildheid en nederigheid. Dit is iets van: “Hier stop ek vir eers. Selfs al kan ek verder.”
Vergenoegdheid behoort die wagwoord vir die wetenskap te wees: Nie alles wat kan, behoort nie.
Dis ook gepas as slagspreuk vir die Groenes en vir almal wat weet Planeet Aarde is ons enigste huis: Nie alles wat kan, hoef nie.
Dis ’n leuse ook vir ongebreidelde kapitalisme, wat behoort te weet: “The rich must live more simply so that the poor may simply live” (gespreek deur Elizabeth Ann Seaton): Nie alles wat kan, moet nie.
’n Ryk sakeman van Louis Trichardt het eenkeer ’n goeie belegging in ’n strategiese gebou laat verbygaan. Almal was verbaas oor sy terughoudenheid. “Maar jy hét mos die geld!” het hulle hom aangespoor.