Stories vir die lewe-omnibus. Piet Naude
Inleidend
In sy boek A pretty good person skryf Lewis B Smedes:
“Toe aan Plato gevra is hoe om deugde vir kinders aan te leer, het hy gesê: ‘Vertel vir hulle stories.’
“Toe die ou Jode vir hulle kinders en dié se kinders die stories vertel het oor hoe God hul vaders en moeders uit slawerny en deur die woestyn gelei het, het moed die harte van hul kinders binnegesypel deur ’n proses van geestelike osmose.
“En so sal die stories wat gewone ouers vandag vir hul kinders vertel oor die ongeprese helde in hul doodgewone families, of uit die verhaleskat van die wêreld, ook die alchemie van deug aanvuur in die harte van hul doodgewone kinders.”
Ferdinand Deist, die baas-storieverteller aan wie hierdie boek opgedra is, skryf ook in een van sy essays in die bundel Coram Deo:
“Daar kan meer helende krag in een verhaal sit as wat ’n rak vol dogmatiese werke kan genereer. ’n Verhaal doen wat die evangelie doen: Dit voer mense mee na ’n ander dimensie. Dit maak ’n vlietende oomblik lig … en genees.”
In die lig van bogenoemde kan die waarde van stories om morele waardes te illustreer kwalik oorskat word. By kinders sal dit nie net hul taalvermoë en algemene kennis uitbrei nie, maar ook hul verbeelding stimuleer.
En dít is een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee.
Vir ’n verbeeldinglose mens is die wêreld vaal en flou. Iemand het eendag vir Albert Einstein gevra wat ’n mens kan doen om jou kinders slim te maak.
“Lees vir hulle ’n storie,” was sy antwoord.
“En dan?” kom die verbaasde vraag.
“Lees vir hulle nog een.”
En wat van stories-voorlees vir kinders geld, geld ook van stories-selflees en stories-vertel vir grootmense.
Piet Naudé
1 Die krag van ’n storie
Toe mense eendag ’n wyse man vra hoe ’n mens ’n storie moet vertel, het hy geantwoord:
“’n Storie moet só vertel word dat dit in sigself hulp verleen aan dié wat dit hoor én aan dié wat dit vertel.
“My oupa was lam,” vertel die man toe verder. “Eendag het mense hom gevra om hulle te vertel van sy held, Baal Sjem Tov. My oupa begin toe vol geesdrif vertel hoe die heilige Baal Sjem altyd rondgespring en gedans het wanneer hy baie ernstig bid.
“Terwyl my bedlêende oupa so van sy held vertel, het hy uit sy bed opgestaan. Meegevoer deur sy eie vertelling het hy self begin rondspring en dans om te wys presies hoe Baal Sjem gemaak het …
“Dít is hoe ’n mens ’n storie moet vertel.”
___________________________________
Al wat ons regtig gelukkig sal maak, wat ons sal genees van ons negatiwiteit, is ’n iets waaroor ons regtig opgewonde kan raak.
CHARLES KINGSLEY
2 Die verteller se geheim
’n Beroemde akteur is eenkeer uitgenooi as eregas na ’n dinee by ’n aftree-oord. Ná die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die akteur se roemryke loopbaan en ten slotte is hy gevra om iets voor te dra. Hy het gevra of daar ’n spesiale versoek uit die gehoor is.
Die mense was maar skaam en ook nie so bekend met sy repertoire nie. Toe staan ’n ou dominee op. “Sal u nie vir ons Psalm 23 voordra nie?” Die akteur was effens uit die veld geslaan – want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van Shakespeare – maar net vir ’n oomblik. “Met plesier,” sê hy sjarmant. “Ek dink ek ken nog die woorde.”
Toe hy met sy pragtige stem en suiwer intonasie begin voordra, het die gehoor aan sy lippe gehang. Nog nooit het die klanke van die bekende psalm so melodieus op hul ore geval nie. Toe hy klaar was, het spontane applous losgebars.
“Baie dankie, baie dankie.” Die akteur was amper aangedaan deur die gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy: “Maar nou wil ék graag ’n guns vra. Sal die persoon wat dié psalm versoek het, dit nie óók vir ons voordra nie?”
“Ek?” vra die bejaarde Godsman verbaas. “Ek weet niks van die voordragkuns nie. En my stem is al taamlik treurig. Maar as u dit as ’n guns vra, kan ek nie weier nie.” Die akteur beduie dat hy moet vorentoe kom, maar die ou man glimlag: “Toemaar, ek staan sommer hier by my sitplek.” Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra.
Aan die einde van die psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en min oë was droog. “Sien julle die verskil?” vra die akteur, self bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se psalm, maar hy ken die Herder …”
3 Kolskoot!
Daar was eendag ’n rabbi wat elke vraag wat aan hom gestel is met ’n gepaste storie beantwoord het. Eendag vra een van sy leerlinge: “U het so ’n wonderlike vermoë om altyd met presies die regte verhaal vorendag te kom as antwoord op elke vraag. Wat is u geheim?” Met ’n ondeunde glimlag antwoord die rabbi: “Dit herinner my aan ’n storie …
“’n Soldaat het eenkeer by ’n dorpie aangekom waar hy sy perd wou laat rus. Terwyl die dier versorg word, loop hy ’n bietjie rond en kom op ’n houtheining af. Rond en bont op die heining het iemand sowat veertig klein sirkeltjies met wit kryt getrek, en reg in die middel van elk was ’n koeëlgat.
“Watter ongelooflike akkuraatheid, dink die soldaat terwyl hy nader ondersoek instel. Die ou wat hier skyfskiet geoefen het, se pogings was eenvoudig álmal kolskote!
“Die soldaat het dadelik begin rondvra wie so vaardig kan skiet. ‘Wel, ek het klein Misja met sy windbuks hier rond opgemerk,’ vertel een van die bure.
“‘Wie het jou geleer om so goed te skiet?’ vra die soldaat verwonderd toe hy Misja opspoor.
“‘Ek het myself geleer,’ antwoord die seuntjie kordaat.
“‘Maar hoe is dit moontlik dat jy elke keer ’n kolskoot kan skiet? Wat is jou geheim?’
“‘Dis eintlik glad nie moeilik nie, Oom,’ verbaas klein Misja hom aan al dié belangstelling. ‘Ek skiet eers na die heining en dan trek ek ’n kringetjie rondom elke gaatjie.’”
Die ou rabbi lag saggies by homself. “Nou weet jy wat my ‘geheim’ ook is,” sê hy vir sy leerling. “Ek dink nie vir elke moontlike vraag ’n storie uit nie. Ek is net gek oor stories. En ek het nogal ’n goeie geheue. Wanneer die regte geleentheid of vrae dan opduik, koppel ek eenvoudig een van die stories in my kop aan die antwoord wat ek wil gee. En dis verbasend hoe die mense dan my bietjie waarheid of wysheid onthou …
“Al wat ek dus doen, is om ’n storie-kringetjie te trek rondom die gaatjie wat reeds daar is en so kry ek elke keer ’n kolskoot.”
4 God wat van stories hou
’n Joodse legende
Daar word vertel dat God destyds verskillende nasies oorweeg het toe Hy moes besluit wie Hy sy uitverkore volk sou maak.
Hy het eerste met die Grieke gaan gesels:
“As Ek julle God sou wees en julle my spesiale volk, wat is daar waarmee julle My sou kon vreugde gee?”
“O, ons sal U eer met die beste kuns in die wêreld en met die uitnemendste denkskemas waartoe die mens in staat is,” antwoord hulle. “Ons groot denkers sal gedigte en dramas oor U skrywe.”
“Dankie vir julle aanbod,” het God gesê.
Hierna is God na die Romeine toe met dieselfde vraag: “Waarmee sal julle My plesier kan gee as ek julle God is en julle my spesiale volk?”