Die kind uit die wingerd. Helene de Kock

Die kind uit die wingerd - Helene de Kock


Скачать книгу
sleg nie. Sy hou lekker skool op Bethlehem, al verlang sy haar disnis na Laurens. Moontlik doen die afstand dit aan hom ook. Sy kan net hoop. En bly wonder oor die man wat haar so fassineer. Al vandat hy kleintyd hier aangekom het. Want niks het vir haar verander nie.

      Laurens Erasmus het ’n kalm gesig wat selde die uitdrukking van bedaardheid verloor. Nie eens Carijn, wat eintlik die persoon naaste aan hom is, weet wat in sy kop aangaan nie. Sy gesindheid ken sy wel. Hy is lojaal, het integriteit en kan sy man staan. Dis sy emosies wat sy nie kan peil nie. Sy wens toenemend sy kon. Hy is so onafhanklik. So algeheel ’n mens op sy eie. Tog is hy op sy stil manier tuis in enige geselskap. Volgens die ander regstudente saam met wie hy hierdie jaar klaargemaak het, is hy nie ’n man wat mens maklik teëgaan nie. Hy ken nie net sy feite nie, hy kan gladweg redeneer. En dit vind Carijn frustrerend. Want tussen die Erasmusse en die Den Hagens is hy die swyer.

      Hulle twee is boesemvriende. Dit kan sy darem met sekerheid sê. Van daardie dag af in die wingerd toe hy haar hand so styf vasgeklem het en sy oë hare nie wou los nie. Maar sy het die vermoede dat sy net so wel ’n man kon gewees het. Hy soek haar geselskap op met ’n dringendheid wat enige vrou sal raak. Maar dis al. Male sonder tal het sy al gewens dat sy oë en sy hande dieselfde taal wil praat. Hy kan haar so intens aankyk en dan kan sy sweer hy is darem ook ’n bietjie verlief op haar. Maar nee, dan swenk sy blik weer weg en sy mond kry daardie stroewe trek. En dan weet sy met die weet van ’n vrou dat sy siel al weer aan sy versluierde herkoms knaag.

      Na aan hom is sy wel. Maar dikwels ver ook.

      Sy staan op, draai om en loop in die persrooi skemer van die wingerdpaadjie huis toe. Net toe sy op die werf kom, klap ’n vraag haar amper om: noudat Laurens klaar gestudeer het, het hy seker planne. Maar wat?

      ’n Gevoel van ontreddering pak haar meteens beet. Op die een of ander manier het sy nog altyd gedink hy sal maar altyd hier wees.

      Maar hy sal wees, troos sy haarself. Waarheen sal hy tog gaan?

      HOOFSTUK 2

      “JY SIT TE lank hier in die skemerte van die kelder,” raas Shaleen toe sy nader kom. “Dis nie goed vir jou oë nie. Buitendien, jy moet kom eet. Die klok het al gelui.”

      Laurens staan op en kyk af na Shaleen. “Dankie, liewe Shaleen,” sê hy glimlaggend. “As dit ook nie vir jou was nie.”

      “Kyk, daai storie hoor ek nou al lewenslank. Maar jy luister mos g’n niks vir my nie.”

      “Ek luister. Dis net, hierdie tyd van die dag is die geure vir my helderder. Skerper, moet mens seker sê.”

      “Ek sal nie weet nie. Wat het hulle jou dan by die universiteit geleer?”

      “Ag, nie veel nie,” lag hy om haar te tempteer. “In elk geval nie van wyn nie. Van mense en hul geite en wat die wet sê, ja. Maar van wyn het ek mos net hier in hierdie kelder geleer.” So maklik praat hy met haar.

      “Ek glo so, ja,” glimlag sy geduldig. “Maar maak nou klaar. Dis Saterdagaand.”

      “As jy so sê,” terg hy, lag toe sy kamma vies omdraai.

      Noudat hy sy regsgraad gekry het, is die kinderlose Shaleen ooglopend trots. LLB nogal. Sy torring gedurig aan hom oor wat hy geleer het. Kort-kort wil sy iets weet. Hoe is dit dan dat hy nog in die kelder sit as hy al amper ’n regter is?

      Dan lag hy uit sy maag. ’n Regter? Nee, Shaleen, ek is ’n regstudentjie. Een wat nog baie moet leer, grade ofte nie. Dis mos my lot.

      Hy kyk haar krom figuurtjie agterna toe sy uitloop, ’n slag omdraai om weer vir hom te wink dat hy moet kom. Hy maak ’n instemmende handgebaar. Sy gedagtes begin maal en hy frons. Sy word oud. Sy wat, behalwe Carijn, moontlik die enigste een is wat hom nog altyd aanvaar het presies nes hy is. So voel dit.

      Hy wat Laurens Erasmus is, maar tog ook nie.

      Hoe kan mens iemand wees as jy nie weet waar jy vandaan kom nie? Dis wat die Erasmusse van Bontevlei en Vredenhoek nog nooit verstaan het nie. Hulle wat so vredig hier op die oewer van die Eersterivier woon, oor hul wingerde kan tuur tot teenaan die Helderberg se voet. In hul koel kelders die geur van mos inadem en wonder watse mirakel hierdie jaar in die eikevate skuil. Hulle wat in afgewitte gewelhuise woon wat in die laat sewentienhonderds gebou is. Wat hul familieregister kan terugvoer tot amper by Van der Stel. Nee, hulle sal nie weet van wonder oor herkoms nie. En in die laaste tyd ry dit hom. Erger as ooit. Want dis waar wat Carijn altyd ter verdediging van hom sê: hy weet self nie waar hy vandaan kom nie. Al wat ’n feit is, is dat die blote aanskoue van skepe hom naar maak. Daaruit volg logies dat hy op ’n stadium met ’n skip in die Kaap moes geland het. Nes Jan van Riebeeck, terg Cecil altyd ná daardie dag op die kaai toe Laurens so erg mislik geword het.

      Laurens kyk na die drie wynflesse voor hom op die lang keldertafel. Ruik die lieflike bekendheid van die mos wat maar altyd in die plek hang. Hy kan dit nie help nie – wynmaak is sy passie. Rooiwyn en veral brandewyn. Die blote proses maak hom passievol. Die Erasmusse weet dit. Die Den Hagens weet dit ook. Laurens is liewer vir wynmaak as vir die reg.

      Maar Vredenhoek behoort nie aan hom nie. Sal nooit.

      Hy staan traag op, sit reg, pak weg en maak toe. Stap gedrewe uit, want kom hy laat, wip tant Miemie haar. En oom Janus wil graag hê dat Laurens elke aand die wyn uit die bottel in ’n kristalkraffie moet oorskink sodat dit kan asemhaal. Dis tradisie. Maar wee hom as daar van die sediment in die kraffie beland. Dit moet in die bottel agterbly. Laurens slaan oor na ’n drafstap onder die priële deur, lag toe die twee werfhonde spelerig na sy hakke hap. Maar tyd vir speel het hy nie.

      Dis ’n entjie van die kelder af na die groot opstal toe en hy moet om die digte rietbos tussenin draf om by die agterdeur te kom. Gelukkig is hy klaar aangetrek. Hy het geweet hy sal net besig wees met die nuwe versnit, dan moet hy weer huis toe gaan. Etenstyd op Vredenhoek is ’n ritueel. Klokslag saans om sesuur. Die Erasmus-broers het die gewoonte glo destyds van Nederland af saamgebring. Hulle is nogal ernstig daaroor. Soms tot hul vroue se ergernis.

      Watter wyn sal hy vanaand oopmaak? Shaleen het vroeër vandag gesê hulle maak beesstert met gebraaide aartappels, soetpatats en jong groenbone. Hy glip die huis deur die kombuis binne en gaan gangaf na die eetkamer. Almal sit al. Hy steur hom nie aan tant Miemie se stuurs kyk nie. Dit is hy gewoond. Dis nou maar sy. Immer effens terughoudend. En tog, as hulle alleen is, is sy toeganklik. Nog stokkerig, maar tog.

      Sy oog vang die stand van die wysers op die staanhorlosie teen die muur. Vier minute oor ses. Oom Janus kyk stilweg plafon toe en Cecil glimlag onderlangs. Laurens loop na die wynrak vol bottels wat gereeld uit die kelder aangevul word.

      “Toe-toe,” hoor hy tant Miemie sê. Dis haar stopwoorde as sy iets wil kwytraak, maar nie juis ’n rede daartoe het nie.

      “Ek dink,” sê Laurens stadig en haal ’n bottel uit die wynrak, “1935 se cabernet sal goed saam met die beesstert afgaan. Salige nasmaak en geure van ryp bessies.” Hy weet oom Janus hou van sulke taal. Hoe meer poëties daar met wyn omgegaan word, hoe gelukkiger is Janus Erasmus. Nie dat hy dit self ooit doen nie. Soos nou, terwyl Laurens die wyn uit die bottel in die fles oorskink, bly hy net afwagtend na hom kyk.

      Cecil sit terug in sy stoel en sy mond trek geamuseerd.

      “Toe-toe, laat ons bid. Jy is reeds laat,” por tant Miemie weer. Asof sy nie weet haar man se huisreël is dat die wyn geskink moet word en dat daar dan eers gebid word nie.

      Laurens sorg dat elkeen se glas halfpad gevul word. By sy plek aan die heel onderpunt van die tafel gaan hy sit, lig sy glas tot onder sy neus. “Dat ’n swart blinkoogdruif mens só kan laat sweef.”

      Hy sien hoe Cecil liewer sy lag sluk, want tant Miemie hou haar hande palms boontoe uit na hom en na sy suster Roelien waar hulle aan die onderpunt van die tafel sit.

      Oom Janus buig sy kop en prewel soos gewoonlik ’n gebed waarvan mens net die luide “Amen!” duidelik kan uitmaak.

      Die gewone dik swye sak oor die etenstafel. Dis nie ’n rustige stilte nie. Dis gevul met onderstrominge wat niemand eintlik kan peil nie.


Скачать книгу