Die kind uit die wingerd. Helene de Kock
Hy is so wakker soos ’n uil in die donker.
Hy trek net sy skoene uit, loop op sy sokkies weer terug. Sien dat oom Janus ook kamer toe is, want die studeerkamer se lig is af. Verligting golf deur hom. Dan kan hy soontoe gaan. Hy glip by die deur in en steek die kers aan wat altyd onder die groot spieël op die kaggelrak staan. Nader aan die boekrak laat hy sy vingers rakelings oor die rye leergebonde boeke gly. Die meeste daarvan het hy al gelees. Maar vannag gaan hy een nodig hê wat bekend is. Enigiets wat bekend is en hom kan anker. Sy blik haak vas by Dickens se David Copperfield. Hy haal dit uit en gaan sit in een van die leunstoele. Die kerslig flikker onseker oor die oop blaaie.
Maar sy kop loop kronkelpaaie en die boek bly ongelees op sy skoot lê. Sy gedagtes gaan terug na sy tiende jaar hier op Vredenhoek. Hy kon al goed lees, Engels ook. Met die tyd saam het hy op ’n manier innerlik tot bedaring gekom. Hier in die vreemde huis op Vredenhoek het hy tuis geraak. Soort van. Dog, hy moes mettertyd ontdek dat hy glad nie ’n goeie slaper is nie.
Een nag toe hy weer so sukkel om weg te raak, het hy ’n besluit geneem. Dit was toe dat hy opgestaan en stilletjies gangaf gesluip het. Die ander huismense het ook al kamer toe gegaan. ’n Skrefie lig het uit die studeerkamer die gang ingesypel. Hy het binnetoe geglip, voor die boekrak gaan staan. Aan die boeke se rugkante geraak. Toe voel hy aan dat hy nie alleen is nie. Hy het benoud omgevlieg. In die leunstoel naaste aan die lessenaar het tant Miemie gesit. Haar mond was effens oop, haar oë vol verbasing, miskien selfs kommer.
“En nou?”
“Ekskuus. Ek kan nie slaap nie, Tante.”
Tot sy verstomming was sy begrypend. Het by hom kom staan en beswaard gesê: “Ja, ek weet ook van nie slaap nie, seun.” Sy het ’n boek uitgehaal en dit na hom uitgehou. “Hier. Jy kan mos al Engels lees, dan nie? Dis van ’n seun, David Copperfield. Dalk hou jy van die storie.”
Sy vingers het die boek gevat, maar hy het dit amper laat val. Tant Miemie, die vrou van die huis wat selde praat as sy nie absoluut moet nie. En hier gee sy vir hom ’n boek en erken sy kan ook nie alnag slaap nie.
“Dankie,” het hy geprewel, maar toe hy wou omdraai, het sy hom kopskuddend teruggeroep, liggies, byna vertroostend aan sy skouer geraak. “Hier, vat die kers. Hoe dink jy gaan jy gelees kry?”
“Dankie, Tante.”
Hy was verstom oor die ontmoeting en die feit dat sy haar gedagtes gedeel het, moeite gedoen het vir hom. Amper gaaf was met hom. Hy het gangaf verkas en sy kamerdeur agter hom toegemaak. Amper tot dagbreek bly lees. Daardie nag en vele ander nagte wat hy tant Miemie in die studeerkamer gekry en nog boeke ontvang het. Later het hy die vrymoedigheid opgediep om nog leesgoed te vra, sonder dat sy dit aanbied. Tog het sy altyd vir hom gegee. Swyend en soms met ’n beduidenis van die glimlag wat sy nooit voor die ander huismense vir hom wys nie.
Laurens blaai rusteloos in die boek rond en wag dat die ou bekende woorde van David Copperfield se verhaal in hom intrek. Dis beter as om te veel te dink. Maar die skok van oom Janus se woorde laat sy gedagtes rondmaal en hy kry nie vatplek aan die storie nie. Die hoofkarakter se wankelende lot en diep emosies skrik hom af. Moontlik ken hy die verhaal te goed. Hy klap die boek toe en skuif dit weer op sy plek in. Dink ’n oomblik na. En weet wat om te doen. Hy kyk op sy polshorlosie. Loop suutjies terug na sy kamer en haal sy skoene onder die bed uit. Sluip weer gangaf, deur die ruim kombuis waar die stoof nog in die haard onder die hangende koperpanne gloei. Die agterdeur se bo- en onderdeur kraak toe hy dit oopmaak. Die mense dieper in die huis sal nie hoor nie. Dit weet hy uit ondervinding.
Hy loop om die huis, tussen die buitenste soldertrap en die rietbos deur. Oor die maanwit grasperk tot op die bruggie oor die Eersterivier. Hy gaan staan ’n oomblik om na die speling van lig op die kabbelende water te staar, die asem van die wind in die riete te hoor. Toe stap hy oor die brug tot by die steenwingerd waar hy links draai om die voetpaadjie na Carijn-hulle se huis te volg. Hy loop gedrewe, amper sonder dat hy kyk waar hy trap. Male sonder tal het hy al dié pad in die donker geloop. Selfs onderdeur die reuse-eik voor die huis struikel hy nie. Hy loop saggies om die bleekwit opstal. Vannag kan hy met niemand anders as Carijn praat nie. Hierdie sware gewig vir haar aangee en kyk wat sy daarmee maak. Sy sal wel iets sê wat hom beter sal laat voel. Daardie gawe het sy. Seker dié dat sy sedert verlede jaar ’n goeie pos as onderwyseres in die Oos-Vrystaat gekry het. Hy was nog nooit op Bethlehem nie. Carijn weet te vertel dis daar snerpend koud in die winter. Hy haat dit dat sy tydens die kwartaal so ver is. Die afgelope jaar het hy reikhalsend elke vakansie op haar gewag. En nou gaan hy Nederland toe. Darem eers ná die parstyd. Maar wanneer sal hy haar ooit weer sien?
Laurens klim die stewige eik voor haar kamer met gemak totdat hy die dikkerige tak bereik wat met ’n bietjie hulp van sy kant af ’n skraapgeluid teen haar kamervenster op die boonste verdieping maak. Hy moet dit twee maal doen voor sy die swaar gordyne wegstoot en hy sien dat haar lamp nog aan is. Carijn is ook lief vir laataand se lees. Sy stoot die raam op, leun effens vorentoe.
“Wat’s dit?” Slegs ’n fluistering in die aandwind, maar hy vang die woorde vas.
Dis al klaar genoeg om hom kalmer te maak. “Kom af,” sê hy net. “Asseblief.”
Sy staar ’n oomblik die nag in. Hy wonder of sy sy gesig so tussen die blare kan uitmaak. Maar toe waai sy en skuif die gordyne weer toe. Hy begin afklim.
Laurens kry haar by die agterdeur. Sy het vinnig ’n romp en bloes aangetrek. ’n Truitjie oor haar skouers. Toe eers voel hy die effense knyp van die aandlug.
“Wat is dit?” Hy hoor die angstigheid in haar stem. Moontlik ook afwagting.
“Kom ons gaan af rivier toe.”
HOOFSTUK 3
CARIJN VAL LANGS Laurens in toe hulle om die huis en met die paadjie af rivier toe loop. Die maan is helder genoeg om sy gelaatstrekke uit te maak. Sy gesig is strak. Dis nie vreemd nie. Hy was nog altyd ’n siel wat lyk of hy swaar dra. Juis dit gee aan hom daardie onweerstaanbare aura; haar jonger sus Alexa se woorde. En toe Carijn haar maan om haar nuutgeleerde woorde vir haarself te hou, het sy net gesê dis feite, en basta.
Maar iets anders pla vanaand. Laurens is nie net in ’n ernstige stemming nie. Hy is somber. Dit raak haar op ’n gevoelige plek. Vandat hierdie mens daardie dag op Vredenhoek deur die wingerd na haar toe aangestap gekom het, weet sy dat hul lewens vervleg is. Net soos hul instinktiewe begrip vir mekaar, is dit ’n feit so seker as wat brandewyn skop in het.
Sy sal nie eerste praat nie, anders klap hy weer toe.
Dis nie vreemd dat hulle in stilte stap nie. Hulle doen dit dikwels. Maar vannag is daar ’n muur om hom. Saam met haar onhoorbare versugting sak daar ’n weemoedigheid op haar toe. Hulle loop deur die steenwingerd en naby die bruggie gaan hulle water toe, daar waar die platterige rots op die oewer halfpad in die vlak water staan. Gewoonlik strek hulle hul in die somermiddae daarop uit om later verspot in die water te plas. Maar nie nou nie. Alle speelsheid is vanaand weg. Hulle gaan versigtig sit. Die rots is klamkoud.
“Wat is dit, Laurens?” por sy eindelik, trek ’n dun takkie wat langs haar gesig fladder weg. “Ek kan nie weet as jy my nie sê nie.”
Hy lag sy diep lag. “En daar dink ek nog altyd jy ken my gedagtes.”
’n Stilte kom so sag dat sy die vloeiing van die water onder hulle kan hoor. “Ek het net daardie dag in die wingerd geweet wat jy dink, Laurens,” sê sy kalm. “Al die ander dae het ek ’n raaiskoot gewaag.”
“Nou kom ons begin by daardie dag. Wat was in my kop?” Sy stem is laag en sy kan haar dit verbeel, maar sy hoor onsekerheid.
Daarom antwoord sy eerlik: “Twyfel. Dalk wantroue. Miskien hoop.”
“Ja?”
“Maar in jou hart was jy bitter bang,” sê sy. “Ek kon sien hoe bang jy was. Ek vermoed dit was omdat jy so verlore gevoel het.”
Hy tel ’n los takkie op, gooi dit water toe. “Net so, ja. My kinderkop het seker die hele situasie probeer uitpluis. Want ek wonder nou nog waarom dit lekker was om