Die kind uit die wingerd. Helene de Kock
interne woeling wat nooit oppervlak toe kom nie. As dit maar wou hoorbaar of sigbaar word, kon mens dit hanteer.
“Wat het jy vandag gedoen?” vra oom Janus plotseling.
Eintlik vra hy dit elke aand. Of die vraag net retories of eg belangstellend is, weet mens nooit. Maar Laurens antwoord gemoedelik. “Ek het my professore op die dorp gaan groet voordat hulle almal met vakansie gaan, Oom.” Hy hou sy bord dat Roelien vir hom beesstert en aartappels kan inskep. “En vanmiddag was ek in die kelder.”
“En jy, Cecil?” Die stemtoon is skerper.
“Moeilike vraag, Pa. Ek was sommer orals hier rond en toe vir ’n heen en weertjie dorp toe.”
Oom Janus frons. “Om wat te doen? Hier’s genoeg werk op die plaas en jy weet dit.”
Ou ding, hierdie. Oom Janus wat gal afgaan as hy nie haarfyn weet wat Cecil tot die dag se werksaamhede op hierdie plaas bygedra het nie.
“Ja, Pa,” beaam Cecil, min gepla.
“Pa vra nie wat ek gedoen het nie,” red Roelien haar broer.
“Wat het jy dan gedoen, poppie?”
“Ek was vroegoggend by Carijn en laatmiddag het ek gesit en lees.”
“Is dit nuus?” terg oom Janus, sy oë goedig op sy dogter. Die enigste een teenoor wie hy ooit enigsins verteder.
Laurens sien die verligting op Roelien se fyn gesig. Sy is ’n vredemaker. Altyd bly as sy die weerlig van haar broer kan aflei.
Die res van die maaltyd verloop in stilte. Dis nie die eerste maal dat Laurens daaroor wonder nie. Carijn sê mos dis die vrou in die huis wat die atmosfeer skep. Hulle huis is nogal vroliker, beweer sy. En dis omdat haar ma ten alle koste optimisties probeer wees. Nie dat dit deurgaans werk nie. Ongetwyfeld het Carijn dié waarneming by haar bekkige oupa Fritz opgetel.
Laurens eet stadig. Nadenkend. Tant Miemie weet vir seker nie wat ’n gemoedelike atmosfeer behels nie. Sy skep dit nie. Daarom is die etenstafel nog al die jare ’n plek van swye. Anders as by oom Peet-hulle wanneer hy vakansies daar is of sommige middae daar kuier. Tant Janetta lag nogal baie en haar glimlag het hom veral later jare begin insluit. Sy is ’n makliker mens as haar suster, dis seker.
Hy sal seker weer netnou die laaste een wees wat sy mes en vurk langs mekaar op die bord neersit sodat dit agtertoe geneem kan word. Hy kan eenvoudig nie vinnig eet nie. Carijn meen dat hy dit destyds noodgedwonge op die skip moes aangeleer het omdat hy seker heeltyd naar was. En vir seker bang was. Want die Groot Oorlog was toe al aan, dan nie?
Waarom dink hy op hierdie oomblik daaraan? Sy kop tas vervaard rond. Moontlik omdat hy veel van homself by Carijn geleer het. Steeds leer. Hy frons liggies. Carijn is deel van sy lewe, soos sy hand en sy voet is. Sy het dit geword daardie dag toe hy deur die wingerd na haar toe geloop het. Dis al wat hy werklik van daardie dag onthou. Carijn se goudblonde hare wat in die laatmiddagson om haar kop gloei. Die gevoel wat knus om hom gevou het. Hy kan dit nou as ’n sonnige, gerusstellende emosie verwoord. Al is dit net in sy gedagtes. Tegelykertyd kwel dit hom. Want dit word sterker. Soos ’n kooltjie wat vlamvat en skroei. Hy herken dit as gevaarlik. Maar dit kan ook broodnodige warmte gee. En die Vader weet, hy smag al hoe lank na so ’n soort innigheid. Volledige aanvaarding. Volmaakte kameraadskap. Liefdesgeluk. As dit hom ooit beskore is.
Hy sit sy mes en vurk neer, besef dat dit gekletter het, want tant Miemie se wenkbroue lig.
“Jammer,” glimlag hy. “Roelien, mag ek jou vir die sout pla?”
Die swartkopmeisie glimlag goedig. Maak soos hy vra.
Hy tik ’n bietjie sout uit oor die vleis, luister hoe oom Janus weer vir Cecil peper met vrae oor die wingerdbedrywighede. Laurens se gedagtes begin dwaal. Terug na Carijn. Elke keer as hy Carijn den Hagen sien, wil hy aan haar raak. Vir haar wil hy steeds op Nederlands sê: Blijf met mij. Sonder haar wil hy nooit wees nie.
Dit het hy toe hy agtien word al agtergekom. En nou is hy drie en twintig. Sonder dat hy al soveel as haar hand vasgehou het. Hy sal dit in elk geval nie sommer waag nie. Sy is sy enigste ware vriendin. Hulle kan kyke wissel wat die spreekwoordelike boekdele spreek. Hulle praat in woorde én met stiltes. Mens kan so ’n vriendskap nie bederf nie.
Hy eet sy bord leeg, wel wetend dat almal aan tafel vir hom wag. Ook dat Cecil al gesug het en Roelien steeds geamuseerd na hom kyk. In haar het hy rêrig ’n suster.
Tant Miemie gee die teken dat almal maar kan opstaan. Hy bedank haar vir die kos en maak aanstaltes om hom te verskoon.
Maar oom Janus keer hom en Cecil voor. “Kom studeerkamer toe. Ek gaan op hierdie Saterdagaand daardie 1930-brandewyn van ons oopmaak.”
Teëpraat sal nie help nie. As oom Janus besluit het dis ’n brandewynaand, dan is dit so goed soos die oproep tot ’n kerkraadsvergadering. Dieselfde somber erns, die sekerheid dat daar wel ’n stewige agenda is.
Hulle maak hul tuis in die vertrek met sy mure vol houtrakke met leergebonde boeke. Oom Janus agter sy studeertafel en hy en Cecil in die gemakstoele by die leë haard. Hier is oom Janus die skinker. Toe die brandewyn oop is, gooi hy dit plegtig in ’n kristalkraffie uit, een wat hy glo toentertyd uit Nederland saamgebring het. Skink toe in die drie glase en maak ’n gebaar dat die seuns hulself maar kan help. Hulle hou hul hande om die bolglase en voor die bors, versigtig, sodat die brandewyn nie in die glas rondbeweeg nie. Die brandewynglas word heel stadig gelig.
Laurens verlekker hom daarin. Want hier voor die bors word die fyner aromas opgetel. Die verleidelike parfuum van vars vye, ook speserye waarvan kaneel die prominentste is, en daardie onmiskenbare sitrusgeur. Hy lig sy glas stadig tot by sy ken. Raak bewus van die geur van droëvrugte. Salig. Hy haal deur sy mond en neus asem om die meer komplekse aroma van speserye op te tel. Hy sug innerlik. Enersyds van lekkerkry en andersyds van magtelose frustrasie. Dis wat hy heeldag sou wou doen. Wyn maak. Brandewyn stook en versny. Dit pas by sy temperament. Die stadige, dog seker pas van tyd en seisoen, druif en wyn.
Maar hy glimlag onverstoord saam met die ander twee. Dit is immers ’n seremonie wat van ver af kom. By oom Janus en oom Peet geleer. Al waarvan Laurens nie seker is nie, is waarop hulle gaan drink. Hy kyk vraend na oom Janus.
“Ons drink op studies,” sê oom Janus.
Cecil se skouers sak merkbaar. “Op studies,” herhaal hy flou.
Oom Janus proe aan sy brandewyn, brom tevrede uit sy keel. “Jy kan dit weer sê, Cecil. Jy sal moet gou speel dat jy kan klaarmaak. Jy sleep nou al hoe lank daai klomp vakke.”
“Ja, Pa,” sê Cecil en pers sy mond saam.
“Wat ook al. Jy moet klaarmaak. Dit kom nou daarvan dat jy ’n ander spul nuttelose vakke ook geneem het. Jy het jou oorlaai. Hoeveel maal het ek al daaroor gepraat.” En ná nog ’n sluk brandewyn: “Veral noudat Laurens ons gaan verlaat, moet jy opskud. Dis terloops op sy studies wat ons drink.”
Die brandewyn skop onverwags in sy maag. Dis nou van oom Janus. Verrassings is sy forte. Selfs Cecil lyk onverhoeds gevang.
“Waarheen gaan hy, Pa?” vra hy stomp, sy blinkbruin blik ontstemd en vraend op Laurens. Asof hy sal weet.
“Wil ek ook weet, as ek mag vra, oom Janus.”
Laurens sak terug in die diep stoel. Maar die ongemak bly. Sy vingers wil kramp om die glas. Maar hy vra nie verder nie.
Eindelik lig oom Janus sy blik uit die amberblink vog in sy glas en praat met hom, al swenk sy donker oë plafon toe. “Ek het gereël dat jy volgende jaar Leiden toe gaan om verder te studeer. Dis net reg dat jy, wat so goed doen in jou vakgebied, kans kry om jou verder te bekwaam.”
“Maar ek … ek dink nie ek wil nie,” stotter hy ontsteld.
“Natuurlik wil jy,” proes oom Janus en neem nog ’n vinnige sluk van die drank. “Wie sal nou nie aan die Universiteit van Leiden wil studeer nie? Liewe land, die plek bestaan sedert 1575 en het van die beste regsprofessore in die wêreld.”
Laurens