‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett
/section>
’n Enkele verhaal
Uitgegee deur Penguin Books,
’n druknaam van Penguin Random House Suid-Afrika (Edms.) Bpk.
Maatskappy-reg.nr. 1953/000441/07
Estuaries nr. 4, Oxbowsingel, Centurylaan, Century City, Kaapstad, 7441
Posbus 1144, Kaapstad, 8000, Suid-Afrika
Eerste druk 2020
Publikasie © Penguin Random House 2020
Teks © Deon Wiggett 2020
Omslagfoto’s © Seth Doyle op unsplash.com/ Emir Saldierna op unsplash.com
“This is why News24 is naming Willem Breytenbach”: aangehaal met toestemming van News24; “Onderwyseres bedank by Grey ná sy seun soen”: aangehaal met toestemming van Netwerk24; “Joernaal van Jorik”: vanaf bladsy 46, soos aangehaal in Joernaal van Jorik deur outeur DJ Opperman, uitgegee deur Tafelberg (1974).
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag gereproduseer, in ’n ontsluitingstelsel bewaar of weergegee word in enige vorm of op enige manier, hetsy elektronies, meganies, deur fotokopiëring, klankopname of andersins, sonder die skriftelike toestemming van die kopiereghouers nie.
UITGEWER: Marlene Fryer
BESTURENDE REDAKTEUR: Ronel Richter-Herbert
PROEFLESER: Louis Esterhuizen
OMSLAG- EN TEKSONTWERP: Ryan Africa
SETWERK: Ryan Africa
Geset in 11.5 pt op 15.5 pt Minion
ISBN 978 177609 562 9 (druk)
ISBN 978 177609 563 6 (e-Pub)
Aan Dadda
I suppose at one time in my life I might have had any number of stories, but now there is no other. This is the only story I will ever be able to tell.
– Donna Tartt, The Secret History
Hy stuur die span jong mans van die koerant
met flitskamera, potlood en snelskrifboek
na al die bose streke van sy land
om voorbeelde van dié verraad te soek. –
Van tolle draai lang linte wit papier
deur die masjiene wat aanhoudend kletter
en tussen rollers dit met swart versier
van tekeninge, fotobeeld en letter.
Versprei: En werkers wat in toue staan
vol olievlek en geur van paraffien,
hul geld stoot en in stukke sellofaan
’n pakkie kos trek uit die slotmasjien,
en al die duisendes wat elke more
die blokkiesraaisel oplos in die bus
en na arena-stoele in kantore
sluip, maak hy van die verraad bewus.
– D.J. Opperman, Joernaal van Jorik
PROLOOG
Daar is iets wat voor my afgespeel het in matriek.
Met my hele hart wou ek joernalis word, en só kom ek af op die storie van ’n leeftyd.
Toe, helaas, vergeet ek skoon daarvan.
Meer as twintig jaar sal verbygaan voor dit my sou byval om die storie te hervat. Voor ek onthou het van die gebeure van daardie skroeiende, verskriklike somer op Stellenbosch.
Maar eers moes iemand doodgaan.
1
Dit is ’n Saterdag wanneer alles verander.
Ek is by ons huis in Johannesburg se boomryke noorde. Dit is November 2017 en ek vier die vroegsomer op die gebruiklike wyse: rook ’n paar spliffies, lees iets, swem ’n bietjie.
Ek is ’n kopieskrywer by ’n klein advertensie-agentskap wat ek besit en seker maar moet geniet, maar in die swembad vandag doen ek my bes om dit te vergeet. Dit maak my angstig, soos baie goed maar.
My man, Riaan, is ’n liefie en selde angstig. En nou is hy op pad na OR Tambo Internasionaal om San Francisco toe te vlieg.
“Vir wat gaan jy so vroeg?” vra ek wanneer hy my totsiens soen. “Jy gaan net moet rondsit en wag.”
“Jy bedoel daar gaan nie ’n groot gejaag teen die einde wees, soos wanneer ons saam is nie?”
“Jy weet dit maak dit meer opwindend,” antwoord ek, soos altyd wanneer Riaan oorversigtig is.
“Lief vir jou!” sê hy en gee my nog ’n druk.
“Geniet Silicon Valley!” En onder ’n geskal van welwense en belangstellende katte wiel Riaan uit.
Ek is self veronderstel om binnekort te waai, maar die water is lekker en die sonnetjie ook. Ek moet éintlik my ma-hulle bel, en vir Riaan ’n boodskap stuur, en werklik, ek moet al reg wees vir dieselfde Mexikaanse restaurant as gisteraand. Dis ’n ent se ry en niks om oor huis toe te skryf nie, maar dis waar die twee helftes van ’n geskeide paartjie op agtereenvolgende aande partytjies gereël het. Nie uit venyn nie; bloot toevallig.
Ek is nie lus vir saai Mexikaans nie, maar om nié vir die tweede aand op te daag nie sal ’n Petrus-vlak verloëning van Geskeide Nommer 2 meebring.
Ek het nou nie meer tyd om my ouers te bel nie. My pa is geselserig in die regte lewe, maar op die foon is hy so kripties soos ’n man wat ’n telegram skryf: “Gaan dit goed? Hoe gaan dit met die besigheid? Hoe gaan dit met Riaan? Hier’s jou ma.”
Dan, ’n lieflike en baie lang gesprek. In die volgende uur sal my ma my op hoogte bring van haar dosyn jong olyfboompies, haar uitdagende nuwe kwilt en wat ook al vandeesweek haar slim oë gevang het.
Ek sal môre bel, besluit ek wanneer ek kaal uit die swembad klim.
Wanneer ek uiteindelik in die Uber sit, dink ek aan die begin van somer, en aan meer ingeligte keuses vanaf gisteraand se spyskaart. Ek vergeet om vir Riaan ’n SMS te stuur terwyl hy nog hier is.
Dit is die laaste aand van my eertydse lewe.
2
Vyf dae later is dit Donderdag en ek is terug op Stellenbosch. Dit kon nie vermy word nie.
Ek dra selde ’n pak en dit is warm in die NG Moederkerk en my das wurg my. Die interieur is imposant met loodglas-apostels en ’n orrel groot genoeg om ’n aantal klein kinders te versteek. Ek sit langs my ma en my sussie in die voorste ry.
Vroeër, toe ons buite gewag het, het die orrelis Bach pragtig gespeel. Maar nou is daar ’n dominee op die kerk se punterige preekstoel. Hy sê ’n paar frases en dit is vir my eksoties en irrelevant. Almal hier weet wat hy volgende gaan sê. My pa is dood op 65. Dit is deel van God se plan.
Níks hiervan was deel van mý plan nie, en God bestaan nie, maar hier staan ek nou agter ’n kateder in sy huis en ek praat oor Dadda wat begin doodgaan het toe ek in die swembad was, en wat twaalf uur later dood was van ’n ongediagnoseerde dog lewensgevaarlike siekte. Ek het my kans gemis om ooit weer met hom te praat.
Die eerste ding wat ek sê,