‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett
op sosiale media post waarop hulle saam met seuns, tieners en jong mans verskyn. Kinders wat, noudat jy dit noem, dikwels merkwaardig eenders lyk. Soos grootwildjagters met mure vol trofeë vertoon die mans hul slagoffers vir enigiemand wat weet hoe prooi lyk.
In 2018 stel Craig voor dat ek begin deur te soek soek na Willem se trofeë. Presies wáár jy hulle gaan kry, hang maar af van die tipe brulpadda wat jy wil vang.
Wanneer ek Willem s’n kry, belas dit my met ’n geheim wat nie myne is om te bewaar nie. Hy is nog ál die tyd ’n onversadigbare jagter.
Iemand sal hom moet stop. Klaarblyklik gaan dit ek moet wees.
5
Dit is die eerste dae van 2019 en hoogsomer in Johannesburg. Ek sit in ons huis se solder, waarvan die helfte nou my kantoor is. Ek is nie meer ’n kopieskrywer nie; ek werk in my solder as ’n speurder, of joernalis, of iets soos dit.
Ek het ’n lessenaar saamgebring van my ou kantoor af, asook twee kantoorstoele en skryfbehoeftes aangekoop vir mense met ander behoeftes as myne.
My kruistog om Willem te stop bring beide professionele marginalisering en finansiële komplikasies mee. Die advertensiebedryf verwoes dalk jou siel, maar ten minste op ’n ietwat swierige manier. My klein paddajag kan nie lank vat nie: die aangename solder betaal nie vir homself nie.
Hoe dit ook al sy, hierdie gaan tjoef-tjaf wees. Willem se trofeë is oral; sy grooming het arrogant en agtelosig geraak. Twee of drie maande en dis neusie verby! As alles volgens plan verloop, word hy teen Kersfees in die tronk verwelkom; ek sou dink die tronkbewaarders doen moeite met gestolde slaaie vir Kersdag.
My helfte van die solder was voorheen deel van Riaan se netjiese en eksklusiewe studeerkamer.
“Kyk hier, hier in die middel,” sê Riaan en beduie en frons en sny die vertrek in twee. “Daar is soos ’n force-field hier. Jy kan nie uitsprei soos jy altyd doen nie.”
“Ek sál nie. Daar is basies ’n force-field deur die middel van die loft!” sê ek, want Riaan is ’n Trekkie en force-fields geval hom.
My lessenaar is netjies soos ’n nuwe onnie. Ek gaan begin om ’n geskiedenis van Willem se lewe saam te stel. As ek hierdie brulpadda gaan vang, sal ek die wêreld se voorste kenner van hom én sy moeras moet word.
Ek het ’n pak kataloguskaartjies gekoop, net soos ’n regte speurder. Dit is hoe ek met Willem se trofeë gaan tred hou. Om hom te ontmasker sal ek ander oorlewers moet kry; vir myself ’n paar broers moet vind. As dit net ek is, is dit my woord teen syne. Ek sal iets beweer, hy sal dit ontken, en so sal dit voortsloer terwyl Willem homself help aan elke seun wat hy wil. Maar as daar twee of drie van ons is, dalk selfs vier, wat almal ’n soortgelyke storie het …
In my solder tik ek Willem se naam in Instagram, Facebook en Twitter. Ek soek na nog trofeë: spogfoto’s van hom met jong mans van ’n bepaalde voorkoms. Ek wil uitvind waar hy was, en saam met wie.
Die bedrog word duideliker wanneer ek begin kyk.
Willem is versot op die strand. Versot daarop! Sy liggaam waggel loom in die Afrika-son, sy oë op skrefies na die kamera getrek. Ek vind ’n grillerige foto waar hy aan twee baie jong mans vasklou. Hy staan agter hulle, en hulle is soveel kleiner dat hulle maklik deur ’n reuse-arm elk in posisie gehou kan word. Albei seuns lyk ongemaklik, maar Willem stel hulle nietemin ten toon.
Dié foto is nie ’n smoking gun wat ek êrens uit kon snuffel nie. Dit is Willem se profielfoto op Facebook.
Ek gaan nie uitbrei oor die seuns wat hy uitstal oor seisoene heen nie, maar ons ontmoet ’n eindelose draaiboek vol, almal met ’n bepaalde voorkoms: slank, slim, gaaf en glad. Jong mans wat soos seuns kan lyk as die kamer donker genoeg is en jy jou bril afhaal.
Ek het groot kataloguskaartjies vir Willem en heelwat kleineres vir sy vermoedelike teikens. Elke seun wat die profiel pas, kry sy eie kaartjie.
Ek soek onsistematies deur sy sosiale media. Om sy foto te sien affekteer my hele lyf; net daai klein glimlaggie van hom verhoog alles in my – hartklop, asemhaling, vrees, asook wanhoop. Selfs na al die jare is my liggaam bang vir hom; kan ek nie na sy glimlaggie kyk nie. Dis nooit goed as hy so gryns nie.
En so kyk ek dus na ’n foto of drie, en die stories wat elkeen vertel, en dan moet ek ontsnap uit die solder, af en buitentoe, om omgekrap oor die grasperk op en af te stap.
Dit is nie slegs sy teikens wat ek sal moet vind nie, maar ook die ander inwoners van sy slymerige visdam. Byvoorbeeld: In ’n sekere stadium het Willem hope tyd deurgebring met ’n aantreklike ou in sy laat 20’s. (Ontspan: te oud vir Willem.) Op my gunstelingfoto uit daardie jare is die twee van hulle teen Tafelberg. Die Aantreklike Ou moes Willem oortuig het om bietjie te gaan stap, net hierdie een keer – wie weet, dalk hou hy selfs daarvan.
Maar op dié betrokke Instagram-foto het die twee nog skaars begin en daar is paniek in Willem se oë. Hy besef reeds hy het ’n vreeslike fout gemaak. Hy moes nie dat Aantreklike Ou hom hiervan oortuig het nie. Sy liggaam begin reeds katastrofies op die oefening reageer. Teen die tyd dat hulle Tafelberg verlaat, sal Willem se gesig pers en rooi wees, sy massiewe T-hemp (“HOE WORCESTER HOE BETER”) sal druipnat wees, en hy sal woedend en verneder voel. Ek gun myself die ruimte om dié gedagte te geniet.
Ek skryf die Tafelberg-datum neer op my kaartjie van Willem. Ek sal ook die ander man se identiteit moet uitpluis. “Aantreklike Ou” kry ’n kaartjie.
Ek spoor foto’s van Willem se ouers op. Sy pa is ’n bietjie onpeilbaar, maar sy ma, Stefanie, lyk na ’n dierbare mens met praktiese blommetjiesbloese en vriendelike blou oë. Ek snuffel so ’n bietjie rond, en dan kry “Willem Johannes Breytenbach (1934-1993)” en “Stefanie Breytenbach (née Lamprecht), (1936-)” – elkeen ’n kaartjie.
Soos ek verder terug soek, raak temas klinkklaar. Jong mans word geparadeer as die spil waarom Willem se lewe draai. Party van hulle vat hy oorsee; meeste gaan draai by sy ma se strandhuis. Dan, bykans oornag, verdwyn ’n jong man weer. Sy ma blyk deurgaans dierbaar en goedgelowig.
Op die uitkyk vir nog ’n trofee? Merk jong Zak. Hy en Willem is saam op die strand. Albei dra swembroeke en Zak beskik oor ’n bepaalde voorkoms. Ek skryf sy regte naam op ’n kaartjie.
Op my tog deur ’n dekade se sosialemedia-posts identifiseer ek dosyne seuns en jong mans wat die patroon pas. Basies al wat ek moet doen, is om hulle sover te kry om my te vertel van ’n vernedering wat so onlangs gebeur het dat hulle dit waarskynlik reeds vergeet het.
Ek maak screengrabs van alles. Willem se lewe pronk voor my oë.
So ’n paar maande na my ondersoek begin het, praat ek met iemand wat met iemand anders praat, wat vir my Willem se huisadres in Kaapstad stuur. Dis in Mutleyweg, Drieankerbaai, en ek kyk rond met Google Street View.
Ek vermoed die foto is ’n tydjie gelede geneem; die eiendom lyk krotterig en ’n Seeff-kennisgewing sê: THIS PRIME PROPERTY FOR SALE. ’n Potplant het tussen die garagedeur en ’n gangetjie na die voordeur gesterf. Die huis is wit geverf, maar die gangetjie is ’n luidrugtige appelkoos gedomp deur ’n leeftyd se stofreën. ’n Mens sou vermoed dat Willem en Danie die pondok gekoop het en toe die bouers ingestuur het.
Ek wil weet waar Willem woon en Google wil my nie wys nie. Ek sal self moet loop kyk.
6
Na twee ure land ek in Kaapstad. Ek is ongemaklik oor die rit na Willem se huis; bang dat ek hom sal sien of, nog erger, dat hy mý sal sien. Ek stel dit dus uit deur met ou vriende en joernaliste te gesels. Hulle het skinderstories en gerugte en hoorsê – of “leidrade”, soos speurverhale dit noem.
Ek het middagete by ’n Italiaanse restaurant met Adriaan Basson, deesdae ’n vername redakteur. Ons is aan die Foreshore en Adriaan het oorgestap van die Naspersgebou. (Dit heet deesdae die Media24-gebou, maar vir enigiemand wat nie gister gebore is nie bly dit die Naspers-gebou.) Adriaan was ’n skoongesigskoolseun toe ons mekaar leer ken het met Naspers