‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett

‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett


Скачать книгу
praat ek die eerste keer met Ethan. ’n Kaapse joernalis het sy naam aan my genoem en hy pas die profiel soos ’n handskoen.

      Ethan het eens oor ’n bepaalde voorkoms beskik. Hy het “kontak” gehad met Willem op universiteit, vertel hy my oor die foon. Dan vertel hy my ’n storie wat nie relevant klink nie. Hy vertel my van ’n vakansiewerk wat hy op hoërskool gehad het, maar hy noem glad nie Willem se naam nie.

      En dan hervat hy: “Toe ek op universiteit was, was hy in Indië. Hy het vir my hierdie emails gestuur wat baie … ek het dit alles gehou.”

      Ek is taamlik teleurgesteld dat Ethan niks anders het om te deel nie. Hy klink na ’n liewe ou, en duidelik was dit vir hom traumaties, maar ’n paar smerige e-posse aan ’n 18-jarige student gaan my net mooi niks help bewys nie.

      Maar nou dink Ethan aan maniere waarop hy kan help. Ek móét vir jou die emails wys!” sê hy.

      Dan verwys hy my na iemand anders wat sê: “Ek ken hierdie ou, Mike.”

      Ek kikker op. Danksy my speurwerk ken ek nou die name en gesigte van almal in Willem se uitgebreide kringe. Ek ken hulle só goed dat wanneer ek Mike se naam hoor, ek presies weet wie dit is.

      Mike kan Willem glo nie verdra nie – hy moes buitengewone stappe doen om van hom weg te kom. Hul verhouding is net soos ek van Instagram afgelei het.

      Mike is heelwat jonger as ek en het op ’n kol vir Willem gewerk, wat beteken ek weet goed hoe sy hele lyf lyk – Willem post daai klas van ding. Die foto’s kom uit ’n tyd toe Mike ’n sentrale karakter in Willem se lewe was – hy is slank en seepglad en het beskik oor ’n bepaalde voorkoms. Ek kan my Willem se opgewondenheid net indink die eerste keer toe Mike sy oog vang.

      Ek is verbaas om te hoor Mike vertel die storie, maar ek reken as hy met ánder mense oor Willem praat, hoekom sou hy nie met my nie? Dit kan my eerste deurbraak wees. As ek net vir Mike sover kan kry om mý te vertel wat hy vir Ethan gesê het, kan ek Willem se Paasfees ruïneer voor hierdie kruistog mý ruïneer; ’n brulpaddakruisiging sal seisoenaal aptytlik wees.

      Ek weet presies hoe om Mike in die hande te kry, dus stuur ek vir hom ’n boodskap.

      Dis te koud vir ’n vroegherfsaand wanneer ek en Mike in ’n koffiewinkel ontmoet. Ek kom eerste daar aan en kry vir ons ’n klein houttafeltjie naby die deur. Daar is net een ander klant. In die agtergrond blêr daar TV-sokker. Ek drink witwyn, want in my kop is dit steeds somer, selfs al dwarrel ’n rukwind blare by die venster verby.

      Uit die hoek van my oog sien ek Mike by die deur, maar ek verdiep my in ’n roman. Ek wil nie hê ons eerste ontmoeting moet ongemaklik wees nie. Dit is mos ongemaklik wanneer ’n mens iemand moet ontmoet en julle maak oogkontak ’n paar oomblikke te vroeg. Onmiddellik moet julle albei wegkyk en stip staar na die eerste ding wat die oog vang; jy na ’n botteltjie olyfolie, hy na ’n lae rusbank. Dis ongemaklik genoeg wanneer dit ’n goeie vriend is, maar wanneer dit ’n vreemdeling is wat vir ’n ongemaklike gesprek opdaag …

      Nou staan Mike langs die tafel. Ek kyk op van my roman, staan op, sê: “Hallo, Mike,” en probeer sy hand skud.

      “Hallo, Deon,” sê hy en reik vlugtig sy hand uit, maar dis nie veel van ’n handdruk nie. Ek is ook nie seker hy het my naam gebruik nie; ek moet ons dialoog so effe rekonstrueer hier.

      Hy kom sit by die tafel – of eerder, sy regterkant kom sit langs die tafel – en hy vou sy bene albei in die rigting van die deur.

      “Wat wil jy drink?” vra ek.

      “Niks,” antwoord hy. “Ek’s oukei vir nou.”

      Die kelner is op pad na ons tafel, maar ek skud my kop terwyl ek “O, wêreld” met my oë probeer sê. Die kelner is min gespin. Hy is skaars terug by die sokkerwedstryd toe iemand ’n doel skop.

      By die houttafeltjie is jong Mike êrens tussen passief-aggressief en gewoon aktief-aggressief. “Sê wat jy wil sê,” sê hy, “en dan sal ek besluit of ek jou enigiets gaan vertel.”

      Sy wantroue betrap my onkant. Ek wou hom redelik klinies van my ondersoek vertel, maar my hart klop wild en my wynglas is amper leeg en ek weet nie hoe om tot Mike deur te dring nie.

      Op ’n ingewing probeer ek iets anders. Ek besluit om my pyn vir Mike te wys.

      “Laat ek jou mý geskiedenis met Breytenbach vertel,” sê ek.

      My storie is vertel en Mike gluur my oor die houttafeltjie aan. Dit voel nie soos empatie nie. Dit voel soos walging.

      Ek onthou duidelik wat hy volgende gesê het: “Wel, eerstens moet ek sê ék het ’n baie sterk persoonlikheid.”

      Ek interpreteer dit as: “Kan jy jouself regruk? Ons is nié dieselfde nie en ons ervarings is nie dieselfde nie, en wat ook al gebeur het, is nie so erg nie.”

      Gelukkig het ek intussen nog wyn van die sokkerkelner bekom, so ek vat ’n reusesluk en, op die een of ander wyse, byt ek my tong terselfdertyd.

      Van alles wat ek dag ek kon hoor, was niks daarvan dié nie. Op hierdie oomblik, selfs al is ek kamtig ’n joernalis of iets, voel ek soos iemand wat gespot word oor sy trauma; soos iemand wat skaars geglo kan word. Dít moet seker wees hoe vroue voel.

      Ons vertoef vlugtig by die onderverteenwoordiging van vroue en swart mense in hierdie verhaal. Dis omdat hulle my niks aangedoen het nie. In hul plek verwelkom ons ’n prosessie van wit mans. Moenie bekommerd wees nie; oor die algemeen word hulle nie hier vir applous geparadeer nie. Dit is hulle wat ’n toksiese kraak deur my lewe en manlikheid probeer kap het, en daarom is daar ’n kleinhuisie vol van hulle hier. Hulle is nie gebring om oor te vat nie; net om hul eie kots te kom skoonmaak.

      Daar is swart mense wat werklik walglik is, in dieselfde proporsie as ander groepe. Jou deursnee straight-of-gay-of-plus swart of Indiese psigopaat geniet ’n lekker verkragting net soveel soos ’n wit of bruin een. My Afrikaanse, kultuurgeïsoleerde jeug het my met wit mans omring, so dit is uit húl geledere dat my brulpadda logies sou kom.

      Daar is ook vroue, eweredig versprei oor rasse en plekke, wat sonder einde hunker na die mag daarvan om ’n kind te verkrag. In my eie lewe het ek egter net goedheid van vroue ontvang; ek weet nie hoe ’n roofdier se vrouegesig lyk nie. Maar hulle is soortgelyk aan die manlike tipe en kom wyd voor, en alhoewel ek met geen gesag oor hulle kan praat nie, moet ’n mens ook vir hulle op die uitkyk wees.

      Alle seuns en meisies maak sommige grootmense jags. Om kinders veilig te hou, kan ons ongelukkig nie profiele saamstel na gelang van ras, geslag of seksualiteit nie. Brulpaddas kom nie uit ’n enkele groep nie; hulle is ’n groep van hul eie.

      Hul teikens kom ook nie uit ’n enkele groep nie, wat beteken geen van ons word gelyk gebore nie. As ’n manlike oorlewer baat ek nog steeds by die sistemiese voorregte van my geslag. My versuim om hier oor vroulike oorlewers van seksaanvalle te skryf, spruit nie uit ’n gebrek aan solidariteit nie. Ek is werklik, diep en deurdringend, jammer oor wat julle deurgaan. Ek is nie die een wat daardie storie kan vertel nie, maar as jy ’n brulpadda van jou eie het, hoop ek hierdie verhaal kan vir jóú ook iets beteken.

      Mike is nie regtig ’n slegte ou nie; hy het net meer van Willem gesien as wat hy wou. Hy wíl help – ek meen, dis duidelik dat hy nie hier by my wil wees óf met my wil praat nie, maar nogtans het hy opgedaag. Hy is vol bravade, maar sy vrees vir Willem is te groot; sy vrees vir Willem se wraak as dié sou uitvind ons het vir koffie ontmoet, al het nie een van ons koffie gehad nie.

      “So, in die tyd wat jý vir Breytenbach geken het,” probeer ek weer, maar Mike skud sy kop. Hy wil help, maar hy vertrou my nie, en ek weet nie hoe om hom verder te oortuig nie. Dit is vir my ook moeilik, en ek het nie verwag enigiets hiervan sal só verloop nie.

      Mike se bene, wat al wou uitloop sedert hul aankoms, neem eindelik beheer van die res van sy lyf. Ons spreek af om verder aanlyn te gesels, maar ek dink ons albei weet dit sal nêrens heen lei nie. Mike hou nie van my nie, en ek begin om dieselfde oor hom te voel. Ek probeer hoflik en vasberade voorkom, maar dis nie hoe ek regtig voel nie. Mike wou nie eens ’n


Скачать книгу