‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett

‘n Enkele verhaal - Deon Wiggett


Скачать книгу
skep nie – en daarom koop Naspers Ventures goedkoop internetbesighede. Ons is voortdurend op jag vir nóg ’n Tencent, so as ons iets gekoop het wat nié soos Tencent sal wees nie, maak ons dit toe in ’n japtrap.

      “Ons besit meer as ’n derde van Tencent. Dit word bestuur deur ’n span wat nie ons is nie. Tencent is een van die grootste fasiliteerders van internetmonitering ter wêreld en ’n voorste kanaal van staatsensuur.

      “Ons koester ook ons innige bande met leiers in Rusland, Indië, Latyns-Amerika, Oos-Europa, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en, off the beaten track, brutale Sentraal-Asië.”

      “Laastens is daar die netelige kwessie van Media24,” sê die vrou. “Vir tagtig jaar was Naspers sinoniem met Die Burger, wat vir die Nasionale Party gesê het wat om te dink. Deesdae is Die Burger ’n skaduwee van wat dit eens was: ’n dalende dagblad met inhoud wat aanlyn geaggregeer word deur die groep se Netwerk24.

      “Maar selfs wyl ons Suid-Afrikaanse bedrywighede vervaag in ons geheue, leef ons kultuur voort in Media24, ’n filiaal wat só volledig ons is, dit wás nog ooit net ons.

      “Dít is ons groep!”

      Vir my brulpadda was ’n organisasie so moreel-neutraal en kommersieel psigopaties soos Naspers die ideale moeras.

      Dis die plek waar hy van krag tot krag gegaan het in ’n glorieryke 19-jaar loopbaan: Eers as opvoedkunde-verslaggewer van Die Burger, en daarna ook die koerant se sake-, nuus- en promosie-redakteur in die Oos- en Wes-Kaap.

      In 2005 het Naspers, midde duister gerugte, hom na Nieu-Delhi verplaas, waar hy glo moontlikhede vir ’n digitale vastrapplek vir Naspers moes ondersoek. Drie jaar later was hy terug in Kaapstad en is hy aangestel as uitgewer van Huisgenoot, YOU en Drum. Hy kon toe Huisgenoot se kommersiële mag gebruik om jong Afrikaanse sangers te maak of breek.

      Willem is in 2014 weg by die Pers en het op sy agtergrond voortgebou om sy eie digitale media-empire te begin: eers Lumico en toe later Lightspeed Digital Media. Hy het ál die plekke waar hy gewerk het as vrugbare terrein gebruik vir die grooming van niksvermoedende jong mans.

      Daar is iets anders wat aan my knaag. Dit is moeilik om voor te gee jy is ’n outsider nadat jy doodluiters ontbyt gehad het met Max du Preez en middagete met Adriaan Basson. Ek probeer ’n shaming-by-media orkestreer wat ’n mens slegs kan regkry deur invloedryke mense te ken. Mense wat jou glo, want hulle ken jou al ’n leeftyd en weet jy sal niks hiervan opmaak nie.

      Apartheid het my die beste opvoeding gegee wat ongelykheid kon koop. Teen die tyd toe ek gebore is op die laaste dag van die 1970’s, was my verligte ouers reeds geseën met die erwe van hul vaad’re. Onverdienstelik het ek die 1980’s met ’n wenhand betree. In daardie stadium het dit nog nie geblyk dat ek beide gay én lomp sou wees nie, en dus nie ál die voordele van my uitverkore demografie sal ontvang nie.

      Maar selfs met die koms van die destydse Nuwe Suid-Afrika kon wit mense hul geld hou en is die meeste van ons nog steeds heelwat ryker as dié van ons landgenote in die Herverouderende Suid-Afrika. Nogtans het amper elke braai mos ’n braaidoos – die ou wat luidrugtig vir almal vertel hoe moeilik dit is om wit te wees, totaal onbewus van die voorstedelike weelde van waar hy dit verkondig.

      U mag, en moet, my vra wat mý verkragting so spesiaal maak dat ek die media mobiliseer om die oortreder te help vervolg. Die antwoord is: absoluut niks. My hoërmiddelklasverkragting het onder bevoordeelde omstandighede plaasgevind vir ’n verkragting. Baie van die mensdom het erger dinge as ek oorgekom, maar daar is tans niks wat ek aan die ander ongeregtighede kan doen nie. Ek kán egter iets doen aan die voortgesette verkragtings deur Willem Breytenbach. As ek hom kan vang, kan ek dalk ’n voorbeeld van hom maak. Kan ek dalk betekenis vind vir die seun en die dekades wat ek verloor het.

      Oor saai pizzas met Adriaan vra ek hom: “Kyk, die baie geldige kritiek wat ons sal kry, is mense wat vra: Waarom berig julle oor ’n verkragting van ’n seun uit die wit middelklas wanneer vroue en kinders in die townships met veel erger te doen kry? Hoekom praat ons nie dáároor nie?”

      “Maar ons praat die hééltyd daaroor,” sê Adriaan. “Ons praat nóóit oor die soort storie waarvan jy praat nie.”

      “Dis nogal ’n goeie punt,” antwoord ek. Adriaan begin my meer aanstaan.

      Maar nou kan ek dit nie meer uitstel nie. Dis ’n grootliks sonnige Donderdag in die Kaapse Skiereiland. Ek is in ’n huurkar en soos ek om die draai gaan, sien ek Tafelberg en Duiwelspiek links en die Atlantiese Oseaan regs. Voor my is Drieankerbaai en sy doolhof van smal eenrigtingstrate – en ook die huis waar Willem woon.

      Soos ek nader ry, raak ek al hoe meer gespanne. Dit voel nou of dit ’n baie slegte idee is. Dit is ’n groot risiko, en waarvoor? Om te kyk hoe iemand se aanbouings lyk?

      Ek is in ’n eenrigtingstraat en het die afdraai na Mutleyweg gemis, en nou is die pad hieruit reg voor en my persoonlike monster agter my. Dit is tyd om my uit die voete te maak.

      Maar ek draai nietemin om, en dan is ek terug in dieselfde eenrigtingstraat. Ek sien die Mutleyweg-afdraai en, myself ten spyt, draai ek links soos Kate (UK) op Waze sê: “You have arrived at your destination.”

      En daar, reg voor my, is die ding wat ek gevrees het. Daar is ’n kar voor Willem se huis geparkeer.

      7

      Stadig sak ek in die sitplek af. Is dit minder verdag om vinnig of stadig verby te ry?

      Stadig begin ek verby ry, maar staar stip voor my en waag dit nie om regs te kyk nie. As Willem nou by sy voordeur sou uitkom, gereed om kantoor toe te ry, en hy kyk op en reguit vorentoe, sal hy my sien – ’n 39-jarige man wat hy meestal vergeet het.

      Maar nou is ek verby. Ek sirkel terug en parkeer op ’n veiliger afstand. As Willem nóú uitkom, behoort hy my nie te sien nie, tensy ek iets opsigtelik doen.

      Ek het ’n klankopnemer en oorfone saamgebring, net soos die regte Sarah Koenig. Ek praat in die mikrofoon en probeer om oor my gevoelens verslag te doen.

      Ek sê: “There’s a car parked outside. Is that his car? Is he metres away?”

      Meeue skreeu; ’n trokkie stop verder af met voorraad vir ’n waterverkoeler; uit ’n blok woonstelle skree ’n ma met ’n bruin aksent: “Hey, stop it!”

      Dit is alles skitterende agtergrondklanke vir my podcast. Al die handboeke oor audio sê ek moet in die pad gaan staan om ’n paar minute se tape op te neem.

      Maar dit sal ’n stap te ver wees. Ek sal die tweede beste ding moet doen. Ek sak so laag af in die kar se sitplek dat verbygaande motoriste net ’n oop venster sal raaksien met ’n lang arm wat in ’n mikrofoon uitmond. Ek neem dertig sekondes se tape op voor my arm begin bewe.

      Ek is werklik geskok oor my vreesvlak. Hoe gaan ek Willem vang as bloot sy huis my laat dissosieer? Wag bietjie: ek sit nou reeds vir ’n paar minute hier sonder dat ek daaraan dink. Dissosieer ek reg hier? Dit is tyd om na my liggaam te luister en vinnig van hier weg to kom.

      Maar eers sal ek my voornemens op tape opneem.

      “I am going to have one more drive past, and then I’m driving to his work. His most basic daily routine … driving to the office. Because everything is changing. I am no longer the one who doesn’t know about him. He’s the one who doesn’t know about me.”

      Ek moet dapperder klink in die opname; ek probeer iets anders: “Soon we’ll have our very first encounter in decades,” sê ek vir ’n teoretiese Willem. “And this time, the surprise will be all yours.”

      En dan eers verstaan ek hoekom ek hierheen moes kom. Ek moes weet waar hy is. Hy is nie ’n teoretiese monster wat oor Drieankerbaai regeer nie. Hy bly in ’n huis hier – daai huis daar – tussen gewone Kapenaars wat glad nie soos hy is nie.

      Dít is deel van die krag wat ek moet terugeis. Hy behoort vir mý bang te wees, want hý is nou die prooi. Net voor ek die kar aanskakel, weet ek wat ek hier moet sê.

      “Willem,”


Скачать книгу