‘n Enkele verhaal. Deon Wiggett
het pedofiele meestal ’n tipe, en hulle vind dus maniere om hulself te omring met kinders met die bepaalde voorkoms van hul keuse.
Om ons kinders te beskerm moet ons, onsmaaklik soos dit is, die wêreld sien soos kinderverkragters dit sien. Dit is beter om die ergste aan te neem tot jy seker is – in jou kop en hart en derms – dat jou kind veilig sal wees met ’n volwassene wat sy held is.
In my solder werk ek my op oor Willem se Instagram. Ek sien hoe hy hom verander in die held van seuns wat lyk soos ek gelyk het toe ek hul ouderdom was. Hy geniet hulle ouer as oom Fanie – seuns tussen 13 en 16 – maar ’n paar jaar in enige rigting is ook goed genoeg. As sy gunsteling nie beskikbaar is nie, sal ’n brulpadda ’n ander plan maak.
Volgens die profiel is die huidige seuns net die nuutste in ’n patroon wat begin het lank voor mý gasverskyning in 1997 en volgehou behoort te word tot die dag wat Willem ons met sy afwesigheid seën.
Maar al is die Instagram-bewyse daar vir enigeen wat wil kyk, is dit wetlik betekenisloos as ek geen van hierdie seuns kan kry om te erken wat met hulle gebeur het nie. Die probleem is: hierdie seuns op Instagram is te onlangs getraumatiseer. Die morsige ontmoeting met Mike het my daarvan oortuig.
Ek maak weer Willem se LinkedIn oop. Die eerste keer wat ek dit gelees het, het ’n vreemde gaping my opgeval. Hy sê hy het in 1987 graad gevang by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, en het toe in 1995 in Kaapstad begin werk. Vreemd. Wat dan van die sewe jaar wat hy skoolgegee het by Grey Kollege? Hoekom sou hy sy luisterryke onderwysloopbaan verswyg?
En dít is wanneer ek iets besef wat deurslaggewend sal wees. Something that will blow this case wide open, soos hulle graag in rillers sê.
Ek soek na die verkeerde ouens. Die Instagram-mans is seuns en hulle is bang. Dit het mý twee dekades geneem om my verkragting te sien vir wat dit is: ek kan nie van hierdie seuns verwag om te begryp watse bedrog nou in hul geeste woon nie.
Ek moet mans vind wat ouer is as ek, nie jonger nie. Mans wat reeds twintig-plus jaar gehad het om hul verledes te verwerk. Mans wat Willem se leerlinge was en wat hy nou probeer wegsteek. Dit is tussen hierdie mans dat ek konkrete bewyse sal kry – getuies sal vind. Dít is hoe ek vir myself ’n paar broers sal vind.
Ek weet nou waar om te soek. Willem het immers nie áltyd geswyg oor die geheimsinnige jare van 1988 tot 1994 nie. Eens op ’n tyd was hy baie trots op wat hy alles by Grey Kollege uitgerig het. Toe ek hom ontmoet het, het hy my dit alles vertel.
10
Dit is April 2019 en tentatief herfs in Johannesburg. My solder het vensters aan drie kante en meestal sien ek net bome en voëls. Asof my lessenaar in ’n boomhuis is, as boomhuise glasvensters gehad het en hope kataloguskaartjies en vier katte.
Ek probeer die 1980’s en 1990’s in Bloemfontein uitpluis. Ek weet Willem is nie aan die einde van 1987 daar weg nie. Dit was een van die eerste goed wat hy my vertel het daardie sweterige somersdag toe ons mekaar ontmoet het: dat hy skoolgegee het by die beroemde Grey Kollege, en toe Kaapstad toe getrek het in 1995 om iets ongelooflik te doen. Soos hy dit vertel het, was dit die loopbaanskuif van ’n leeftyd.
Noudat ek met volwasse oë na Willem kyk, ruik ek ’n rot. Ek hoor datums en stories wat nie vir my sin maak nie. Is Willem regtig by Grey weg omdat hy “die kans van ’n leeftyd” gekry het? Of het Grey hom afgedank en die nuwe werk was bloot ’n gelukkige toeval? Wat is die ware rede agter Willem se duisend-kilometer-lange uittog van Bloemfontein na die Atlantiese Oseaan? Dis ver vir ’n brulpadda om te swerf.
As Willem wél deur Grey afgedank is en dit iets met ’n seun te doen gehad het, sou dit tog logies ’n seun in Willem se laaste jaar daar gewees het. As ek ’n volledige lys kan kry van almal in Grey die jaar wat Willem weg is, is dit verder maklik. Dan moet ek hulle almal net opspoor en vra.
Die internet is onvoldoende vir Bloemfontein toentertyd. Dit is tyd om Grey Kollege toe te gaan, myself in hul argiewe in te praat en te kyk of ek ’n lys leerlinge uit Willem se tyd daar kan kry.
Maar sal Grey ’n volkome vreemdeling toelaat om in hul argiewe rond te krap? Dit gaan ’n mooipratery en ’n bietjie onderduimsheid verg.
Eerder as om te sê: “Haai, ek’s van Johannesburg, lei my na die bewyse,” berei ek ’n leuen voor: Ek maak ’n dokumentêre program oor skoolkoerante en -publikasies aan die einde van apartheid.
Grotendeels reken ek daarop dat ek en die Grey-boys ’n gedeelde geskiedenis het. Grey se aartsvyand is die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch – wat juis toe mos is waar ék skoolgegaan het. Wat beteken ek en die Grey-boys het teoreties gesproke ’n broederlike wedywering in gemeen.
Ek moet meer uitvind van Grey Kollege uit ’n hoofseunagtige perd se bek. Ek kry vir Jean Craven, hoofseun van 1990.
Jean is ouer en meer gespierd as ek en is die baas van ’n welvaartfonds wat blykbaar goed vaar. Op Facebook en sy webblad, madswimmer.com, word die bron van sy lewenskragtigheid gedokumenteer: “Wat in 2009 begin het as ’n weddenskap een laat wintersnag in ’n chalet op die Franse berghange, het ’n groep dapper individue aangevuur om elke jaar ’n reeks ongelooflike swemtogte aan te pak om geld vir behoeftige kinders in te samel,” lees ek dit in Engels.
Uit oppervlakkige navorsing is ek gewoond daaraan om Jean in ’n Speedo te sien. In een van die fotogalerye op die webblad is hy in Antarktika. Hy sny deur donker water waar ysberge dreig. In ’n ander galery swem hy van Asië na Noord-Amerika, en dit lyk weer eens te koud vir swem. Maar hy doen dit in aangename plekke ook: van die Middellandse See en die Dooie See na die Malawimeer en Madagaskar. Dit het aan hom postuur en gespierde ewewigtigheid besorg wat ’n mens selde in mans van sy ouderdom vind.
Jean bly met sy vrou en twee dogters net om die draai in Johannesburg se boomryke noorde en ek gaan maak een Saterdag ’n draai daar.
Terwyl ek voor sy groot, moderne huis parkeer, sien ek ’n jong man op die grasperk op en af stap en duidelik instruksies oor sy selfoon blaf. Hy waai toe ek uit my kar klim. Ek wil nie sy vasberade oproep onderbreek nie, maar hy wuif my nader.
“Is jou pa hier?” wil ek saggies vra, maar hy onderbreek sy oproep, skud my hand en sê: “Deon, ek is nou by jou.”
Van nader is dit duidelik dat die jong man ouer as veertig is.
Vir die podcast praat ek en hy Engels, maar ons albei is Afrikaans; so ek vertaal terug.
“Was jou hele familie in Grey?”
“My oupa was daar in ’36, my pa in ’60, my broer in ’85 en ek in 1990. As ek seuns gehad het, sou hulle dalk ook soontoe gegaan het; hulle keuse …”
Jean is ’n Grey-boy uitgeknip en nog steeds baie betrokke by die skool wat hy dertig jaar gelede verlaat het.
“Sou jy sê Grey Kollege is die beste skool in die wêreld?”
“Ek sóú,” sê Jean en knik innig, “soos ’n ware Grey-boy sou.” Dan haal hy ’n oudskoolhoof aan: “Grey College is not an institution; it’s a way of life.”
“Hoekom?”
“Wel, dit onderskei hom definitief, ten minste op ’n sigbare wyse, in terme van die tipe persoon en seun wat [die skool] wil, jy weet, mould oor vier of vyf jaar. Jy weet: die etiket; die maniere … hoe om op te tree teenoor jou medeleerlinge, ouers.”
En: “Boonop het dit ’n baie ryk tradisie. Dis die derde oudste skool in Suid-Afrika; 1855. Uhm, en net [vir] seuns, wat, ek reken, dit, definitief vir sommiges, ’n bietjie meer spesiaal maak. Oor die afgelope 160 of so jaar het dit ’n fenomenale rekord. Voorwaar ’n plek om op trots te wees.”
Grey se bewering om die land se derde oudste skool te wees, is ’n dikwels herhaalde leuen; dit is die vyfde oudste. Die top-drie is seunskole in Kaapstad: SACS (1829), Wynberg Boys’ High (1841) en Bishops (1849). In 1855 is beide St Andrew’s College in Grahamstad en Grey Kollege in Bloemfontein