Onthou my. Helena Hugo
Sy speel nie meer die orrel nie en hulle gaan sit langs mekaar in die linkerblok heel voor. Janine besluit om so gou moontlik by hulle uit te kom.
Haar oog val op die kansellap, goue letters op ’n purper agtergrond: God is liefde.
En haar hart roep uit: U het my ook lief! Waarom, Here, het ek U nie van die begin af geken nie?
Asof dit haar antwoord is, ontwaak die orrel en vul musiek die ruimte.
’n Siddering trek deur Jenny se klein lyfie, sy druk Pink Panther stywer vas, klou aan hom, wieg op maat van “Kom herwaarts, getroues”. Ouma Leen wys vir haar waar die musiek vandaan kom.
Mevrou Riëtte Volker is voor die orrel. Sy is klein en skraal, maar speel manhaftig. Bokant haar teen die agterste muur toring die orrelpype, ’n glansryke verskansing teen die boosheid daar buite. Jenny se mond hang oop. Sy het nog nie voorheen so ’n instrument aanskou nie, nie sulke musiek gehoor nie. Janine is nou spyt dat sy nie kans gekry het om haar na een van die High Church-dienste te neem nie. In hul Baptiste-gemeente was daar net ’n orkes van kitare en tromme, nie iets so groots soos hierdie orrel nie. Sy hou duime vas dat haar dogter nie in trane uitbars nie. Klein Riekie raak juis ook woelig en aunty Anny het haar hande vol. Jenny staan teen die bank voor hulle se rugleuning en vergaap haar. Janine waag dit om skeef te draai sodat sy kan sien wie agter hulle sit. Dis Bakkies en Tienke, Marta Koster en haar ma, tannie Hetta – heel rustig.
Marta buig oor en raak aan haar skouer, fluister: “Janine, hallo. Lyk my sy verstom haar aan die orrel.”
Janine voel ongemaklik, sy knik formeel. Dink Martha dalk dat die kind nog nooit die binnekant van ’n kerk gesien het nie?
Sy buig haar kop, bid in haar hart: Here, help my om nie almal te wantrou nie.
Mevrou Volker speel een Kerslied ná die ander. Sy sluit af met ’n trompetgeskal en speel dan ’n rustige melodie wat Janine nie ken nie. Jenny, met haar arms om Pink Panther, sit weer netjies op haar plek. Die konsistoriedeur langs die preekstoel gaan oop en die kerkraad kom uitgestap. Janine verwag om Oudominee te sien, maar die predikant is jonk en frisgebou. Hy staan met sy kop geboë en bid voordat hy die trap na die preekstoel klim. Henriëtte trek weg met ’n lied wat Janine nie kan onthou nie, maar ouma Leen hou haar nuwe Liedboek vir haar oop en wys na die woorde: “Bring my na u woning, Here, laat my daar voor U verskyn waar ek lofsing U ter ere, waar u glans oor my kan skyn …”
Jenny staan op die bank tussen hulle en sing soos net sy kan sing.
Janine het nie die hart om haar stil te maak nie, nie eens toe ’n tannie voor hulle gesteurd omkyk nie. Mevrou Volker speel ’n paar frases voor die volgende vers begin en toe Jenny agterkom sy sing alleen, gaan lê sy plat op haar rug op die bank en skop met haar bene in die lug. Ouma Leen sou dit nooit in die verlede toegelaat het nie! Vandag sing sy voort asof niks haar pla nie.
“Here, heilig U my denke, laat u woorde my steeds dring dat ek met my blye klanke singend aan U hulde bring …”
Haar stemmetjie bewe, maar aan hartlikheid ontbreek dit nie. Die gemeente sing uit volle bors. Janine volg die woorde op die bladsy, so anders as die gospel waaraan sy die afgelope maande gewoond geraak het. Maar Ouma se Gesangboek het ook plek gemaak vir die Liedboek van die kerk.
Toe almal sit, Jenny inkluis, en die predikant die seëngroet uitspreek, sien Janine die jong vrou in die pastoriebank. Weerskante van haar sit ’n dogtertjie, wat lyk of sy oud genoeg is om al skool te gaan, en ’n seuntjie nie veel ouer as Jenny nie. Die predikant het ’n vriendelike sonbruin gesig. Hy preek nie soos Oudominee met ’n bulderstem nie, hy praat met die gemeente en wens hulle ’n geseënde dag toe voordat hy die Kanselbybel oopmaak en die ou-ou Kersverhaal uit Lukas voorlees. Vir Janine wat die laaste tyd in haar Engelse Bybel lees, klink dit nuut en vars.
Jenny vra kliphard. “Mamma, is dit ’n Afrikaanse kerk?”
“Ja, luister mooi.”
Die tannie kyk weer om, sy glimlag asof sy hulle vergewe het.
Dit het Jenny, soos enige kleuter van twee jaar en ses maande, ’n tydjie geneem om tot bedaring te kom. Toe het sy rustig geraak. Aunty Anny het ’n slag met Riekie. Sy sit soos ’n pop op haar skoot.
Janine kan nie veel van die preek onthou nie. Die predikant het iets gesê van engele wat vandag nog verskyn en sy het teruggedink aan die liewe ou dame wat haar op Heathrow-lughawe gehelp het om skoon te kom nadat sy opgegooi het in die hysbak. Soos ’n engel uit die hemel het sy verskyn en net so skielik weer verdwyn. Sy was nie te deftig of te haastig om te help nie en sy was op daardie oomblik die enigste mens wat omgegee het. So iemand vergeet jy nie maklik nie. Almal in die hysbak, Greg inkluis, het neus opgetrek, nie haar barmhartige Samaritaan nie. Die dorp se mense is meesal hysbakmense, hulle kyk na haar asof sy besoedel is. Sal die engele onder hulle dapper genoeg wees om saam met haar aangekla te word? So diep ingedagte is Janine, sy skrik toe die predikant die slotsang aankondig.
“Maar eers luister ons na ons eie operaster met ’n wiegelied vir die baba Jesus. Tannie Ciska, dankie dat Tannie ingestem het.”
Daar trek ’n fluistering deur die kerk. Die koppe draai, almal se oë is op haar. Sy het ’n ligblou rok aan, dit vloei soos water om haar slanke figuur. Haar hare is gevleg en soos ’n kroon om haar kop gedraai, daar is pêrels om haar nek. Ciska Swanepoel was Janine se musiekjuffrou, maar vandag voel dit verkeerd om te onthou hoeveel duette hulle saam gespeel het. Sy stap so regop soos ’n vorstin tot voor die preekstoel, kyk oor die gemeente en glimlag asof sy groet.
“Ek sing graag vir julle ‘Mille cherubini in coro’ – ’n koor van duisende engele, geskryf deur die Duitse komponis, Franz Schubert. Die Afrikaanse vertaling is my eie poging sodat julle ook saam met my kan verstaan wat hy wil tuisbring.”
Dit voel vir Janine of sy met haar praat, terselfdertyd sê: Onthou jy nog die romantiese Schubert en sy impromptu’s wat jy oor en oor moes speel? Onthou jy sy depressie en sy ellende, die arme siek jong man wat die mooiste melodieë gekomponeer het en afhanklik was van vriende vir sy lewensonderhoud? Janine voel trane in haar oë opwel.
Ciska haal diep asem. Die kerk is so stil, selfs dit is duidelik hoorbaar.
Sag, baie sag begin sy: “Dormi, dormi, sogna, piccolo amor mio. Dormi, sogna, posa il capo sul mio cor.” Sonder begeleiding vul die soetste, suiwerste klank die Here se huis boordensvol. “Slaap, slaap sag en droom, my kleinste liefkind. Slaap, droom, rus met jou kop hier teen my bors.”
Klein Jenny is wakker, haar goue krulle skeefgeslaap. “Mamma, wie sing so mooi?”
Janine wys vir haar dogtertjie dis die tannie daar voor.
“Sy sing mooi.”
“Sjuut, luister.”
Die kind lig haar kop, daar is sterre in haar ogies. Sy is vasgevang.
Janine bid deur haar trane: Here, in my eenvoud het ek ook vir haar en Riekie aan die slaap gesing, al hoe minder, al hoe moeiliker.
Juffrou Ciska sing van engele. Sy is self een.
“’n Koor van duisende engele glimlag vir jou uit die hemel. Soet is die lied wat jou voorkop nou streel. My hande hou jou saggies vas, ek maak jou toe met goue wolke. Met drome vir jou waak ek oor jou, my skat, beskerm ek jou op jou lewenspad.”
Janine kan die trane nie meer keer, dit stroom. Sy vee dit af met die agterkant van haar hand. Langs haar roer ouma Leen, soek in haar handsakkie na ’n sakdoek, oorhandig dit.
“Slaap, slaap nou, droom, my klein liefste. Sluit jou ogies, luister hoe sing die engelekoor.”
Janine sit haar hande op haar magie, op die onwelkome mensietjie wat dag vir dag in haar groei en groter word. Nie meer ’n embrio nie, ’n fetus met al die eienskappe wat hom of haar eendag ’n stem sal gee, dalk nog so suiwer soos juffrou Ciska s’n. Haar lied troos en kalmeer, die laaste note sterf en raak stil. Almal wag, maar dit is verby. Juffrou Ciska maak haar buiging, knik met