Kus vir die Kluisenaars. Esta Steyn
“Ek loop in elk geval saam om jou lamp aan te steek.” Hy kry ’n kruk en staan op.
“Wat makeer jou been regtig?”
“Ek het knie-operasies aan albei bene gehad. Eers die een, toe die ander, ’n lang proses. Kraakbeen verwyder en wat nie alles nie. Nou is ek nog nie juis veronderstel om op hierdie een te trap nie. Vandaar die krukke.”
Dis eers toe sy omdraai dat sy die skildery bokant die kaggel sien.
Melissa!
Kluisenaarskus hang in ’n groot vergulde raam in die middel van die wit muur. Dis die baai van die klippe, die stil see en die wolkelose hemel. My probleem is, Cisca, dat ek nooit weet wanneer ’n skildery klaar is nie. Melissa se donker oë met die vuur daarin; haar oorjas vol verfspatsels … die ateljee. Hemel! Sy het gekom om Melissa se verlede te ontrafel en wat kry sy hier? Die antwoord lê nie in ’n eenvoudige sin opgesluit nie. Die antwoord is ’n mengelmoes van baie dinge. Jokie. Benjamin. Miss Mavis. Joac, met sy vyandige houding en koue blou oë. Eli wat haar ignoreer asof sy nie bestaan nie. Simon wat pleit dat sy moet teruggaan. Wat is die antwoord dan? Om dit te weet, beteken om te bly, tot elke prys hier te bly. Maar hoe kan sy, as niemand haar hier wil hê nie? Sy is te suf om nou besluite te neem. Die nuwe dag sal nuwe antwoorde bring.
“Hou jy daarvan?” vra Simon langs haar en sy skrik. “Van die skildery?”
“Ja, ek …”
“Dis die Kluisenaarskus. Dis waar Dorkas meer as sestig jaar gelede verdrink het. Sy was ’n kluisenaar.”
Hulle stap buitentoe en met die veldpaadjie langs na die kliphuisie. Hy loop voor, spring-spring op sy een been. Sy volg. Die lug ruik nou vars en sout en die warmte van die dag het gewyk voor die seebries wat oor die kliprante kom. Dis selfs effens koud.
By die klein kliphuisie steek hy die olielamp aan en bly onseker staan. “Jy weet, Dorkas,” hervat hy sy ligter trant van vroeër die aand by die vuur, “daar is mos die ou gesegde onder kluisenaars wat sê: ’n Man wat lig maak vir ’n vrou, is gewoonlik ’n kenner van spoke.”
Sy dink ’n oomblik geamuseerd na. “Daar is ook die ou spreekwoord onder die Romeine wat sê: ’n Man met ’n wond strooi maklik kaf rond.”
Toe lag Simon de Witt. Hy lag lekker uit sy maag uit en sy kan nie anders as saamlag nie. En terwyl sy só lag, dink sy vir die eerste maal aan Henry: Henry het nooit so lekker gelag nie. En daar kom die tyd dat ’n goeie lag soos balsem vir jou wonde word. Soos nou.
“Nag, Frans,” sê Simon uiteindelik. “Sal jy regkom?”
“Ek sal regkom. Nag, Simon.”
Toe hy uit is, sluit sy die houtdeur. ’n Oomblik staan sy besluiteloos in die klein vertrek rond. Sy moet nou maar gaan slaap, voordat sy bang word in hierdie eensame klein huisie. Slaap voordat ’n duisend gedagtes haar oorval. Môre sal sy die koue stort aandurf.
Die bed is gerieflik en sag. Sy vou die skaapvel knus om haar lyf. Buite lê die nagstilte van Dorkasbaai.
Sy word nie wakker voordat die dag grys oor die vertrek kom lê nie. Toe sy haar oë oopmaak, voel sy wonderbaarlik uitgerus. Sy lê en wonder wat hierdie dag sal oplewer. Waarskynlik die terugtog Kaap toe. Of moet sy Kruisendal toe gaan? Miskien kan sy solank in oom Sybrandthulle se huis gaan bly terwyl hulle nog op toer is. In die verte hoor sy die vragmotors in hoogste versnelling brul.
Sy staan op en gaan was haar hare onder die yskoue water van die stort. Toe trek sy vir haar ’n gemaklike rok en sandale aan en vryf haar kort hare droog. Sy maak die vertrek netjies aan die kant en trek die deur dig. Buite in die veldpaadjie op pad huis toe, sien sy dat die oggend skoon en helder is.
Vier van Jokie se katte lê op die stoeptrappies en slaap en roer nie toe sy nader kom nie. Sy wonder of Jokie al op is. Dit sal nogal hartseer wees om weg te ry en hom hier te moet los. Sy bruin ogies vol verwagting; die warm lyfie teen haar, soos gisteraand. Kan ’n mens hom verkwalik dat hy haar aandag so geniet het? Want met Miss Mavis vir geselskap is enigiets of enigiemand sekerlik ’n verbetering.
Waar was Mavis gisteraand? Miskien slaap sy nie saans op die plaas nie.
Fransie maak die voordeur aarselend oop. Dis stil. Sy stap deur die voorste sitkamer na die gang en links af na die kombuis. By die groot kombuistafel sit Jokie en Benjamin elkeen met ’n groot bord pap. Miss Mavis is by die wasbak besig. Sy dra haar swart rok van gister en haar swart kouse en wit voorskoot. Haar dun hare is weer gevleg en in ’n ronde knoetsie teen haar kop vasgesteek. Jokie is klaar aangetrek in ’n donkerblou broekie en skoon wit hempie. Benjamin het weer, soos gister, heeltemal te veel klere aan. Sy grys broek is te groot in die middel, maar vasgegord met ’n groot swart lyfband. Hy dra ’n blou hemp en nog ’n oopknooptrui. ’n Gele wat verkeerd om aangetrek is. Langs hom, onder die tafel, staan sy bruin sak.
Hulle sien haar nie dadelik raak nie en sy bly so in die kombuisdeur staan.
“Ek wil nog suiker oor my pap hê,” kla Jokie.
“Bly stil! Jou tande sal vrot! Vrot, verstaan jy? En dan val almal uit. Éét nou!”
“Mus Mavus,” begin Benjamin stotterend, “vandag … wul ek … vur mui ook ’n lusensu gaan koop. Ek … wul ook … rui.”
“Benjamin, eet jou pap. Lisensie, verbeel jou! Wie sal vir jou ’n lisensie gee?”
Jokie gewaar vir Fransie in die deur. Hy begin sing: “Fransie het geko-hom! Fransie het geko-hom!”
“Sherrap!” skreeu Miss Mavis. “Mens sing nie as jy eet nie.”
“Môre, Jokie!” groet Fransie uitgelate. “Môre, Benjamin! Môre, Miss Mavis! Hoe gaan dit vanmôre, Miss Mavis?” Sy het meteens lus om die ou vroutjie se siel te versondig en gooi ongemerk vir Jokie nog ’n lepeltjie suiker oor sy bord pap. Benjamin hou haar dop en glimlag meteens. Die glimlag breek oor sy dik geswelde ooglede; dit raak aan sy wit lippe en kom lê in sy donker halfmaanoë.
“Hoe sal dit nou gaan? Sê my, hoe? My been is opgeswel vandag. Water, tot my enkels ook. Dis verskriklik. As ek dit nie swaar het nie, het ek dit bitter. Ek sê gisteraand vir Sakkie ek kan dit nie meer hou nie.”
“Wie is Sakkie?”
“Hy is mos my ou broer wat al die jare nog hier by die stene werk. Ek sê vir Sakkie, dis kompleet nou weer soos die slag met my miskraam …”
Fransie sluk haar lag so vinnig weg dat sy amper verstik. ’n Miskraam vir Miss Mavis klink ongehoord.
“… tóé het ek ook so geswel.”
“En Miss Mavis is seker dis nou nie weer dieselfde probleem nie?”
Miss Mavis is heeltemal van stryk gebring. “Maar moenie vir jou kom staan en stuitig hou nie! En dit voor die kinders. Ek praat van vyf-en-veertig jaar gelede. Wil jy pap hê? Die ander het al klaar gebrekfis.”
Jokie begin dadelik weer sing: “Fransie moe-hoet saameet. Fransie moe-hoet saameet!” Dit weergalm luidrugtig. Benjamin trek plegtig vir haar ’n stoel langs hom uit.
“Dankie, Benjamin. Jy is baie bedagsaam,” sê sy en gaan sit. Hy lag ingenome en kyk plesierig af op sy bak pap.
“Ja, Fransie moet pappies eet!” Jokie swaai sy lepel met kragtige hale deur sy pap.
“Ek … gaan … vur mui … ook uh kar koop,” sê Benjamin vir niemand in die besonder nie.
“Ag, nou is hy weer kar-verskrik vandat hy jou rooi Mini gister gesien het,” brom Miss Mavis en plak ’n bak pap voor Fransie neer.
“Waarheen wil jy dan ry?” vra Fransie aan hom.
“Ek … wul Kaap … toe rui,” sê Benjamin met erns.
Fransie skep ’n klontjie botter oor haar pap en dadelik sê Jokie: “Ek wil ook botter op my pappies hê!”
“Jy leer die kind heeltemal verkeerd,”