Droomdelwers. Esta Steyn
droomdelwers
Esta Steyn
Tafelberg
Vir Elna en Gerda.
Sussies, julle liefde vloei soos strome seën deur my lewe.
Baie, baie dankie.
1
My naam is Kêppies Killian, maar dit staan nie so op my geborente-papiere nie. Daar staan dit opgeskrywe as Kirstoof Jakobus Killian. Ek kan self nie sê waar die naam Kirstoof vedaan kom nie. Niemand het my ooit soe genoem nie, my ma-goed hulle okkie. Ek was maar van kleins af Kêppies gewies. Ek is ses-en-sewentag jaar oud en ek is hiersa gebore op Vlaktevlei by die groot see van onse Weskus. Dis hoeka hiersa waar ek nou sit om my storie te vertel. Ek wietie hoe mens soe ’n soort storie vertel nie. Waar loop haal jy sy begint? Hy’s soesie see self. Hy swel op in jou kop soes ’n groot deining. Maar voorlat jy hom kan vasvat, briek hy yt oppie sand. Al wat jy sien, is sy skymstriep. Dan glip hy terug diepwater toe. Maar voorlat hy terugglip, sal ek hom vasgevat moet kry. Want hy skrou om gevertel te word.
Miskien begint my storie op daai Sondag wat die rooikop yt die Silwerkruis-tronk ytgekom het van die Vrystaat af. Sy was die oudste dogter van oorle’ Hennerik Rooihel.
Leendra van Hellberg kyk om haar heen. Die busterminus op die Kaapse stasie is ’n luidrugtige gedrang van mense wat kom en gaan. Waar is oom Phil? Sê nou hy het vergeet? Mense stoot trollies met bagasie rond. Sy het nie bagasie nie, net die bruin papiersak met padkos wat hulle vir haar by die uitklaringstoonbank gegee het. Toebroodjies met Marmite en kaas, twee appels en ’n pakkie tjips en koeldrank. Sy het nie die brood geëet nie. Net die appels. Sy sien ’n tenger koerantverkopertjie wat teen ’n pilaar leun. Die kind lyk vaal van die honger. Sy stap na hom toe en sit die bruin papiersak op die stapel koerante neer. Hy kyk haar dankbaar aan en maak die papiersak oop. Liewe kind, jy weet nie waar hierdie brood vandaan kom nie. Mag jy nooit in jou lewe op so ’n plek beland nie.
Sy stap weg en wanneer sy omkyk, sien sy hoedat die kind gulsig eet. Haar bene voel bewerig. Sy het nie op die bus geslaap nie, was die hele nag bewus van die weerkaatsing van haar gesig teen die glasruit: niksseggende oë wat in hare kyk, sonder enige teken van vrywording. Toe die oggend grys word oor die Karoo, het sy wel ingedommel, net om weer wakker te skrik en te weet dat sy nooit vry sal kan wees voordat sy nie die waarheid weet nie. Die volle waarheid en niks anders nie as die volle waarheid.
Dan sien sy Phil van Tonder van ver af aankom. Netjies aangetrek, grys baadjie en rooi das. Hy is dikker om die middel as wat sy kan onthou. Die kepe om sy dubbele ken het dieper geword. Voorheen het sy nooit juis veel vir hom te sê gehad nie. Nou is sy oneindig dankbaar om hom te sien. Vir die eerste maal sedert die traliehekke agter haar toegeklap het, besef sy dat sy regtig op pad huis toe is. Soutmansdal toe.
“Oom Phil!”
Sy swaar arms vou vaderlik om haar skraal liggaam. Sy stem klink aangedaan: “Ek kan nie glo jy staan voor my nie.”
“Ek kan dit ook nie glo nie.”
“Waar’s jou goedjies? Die kar is daar oorkant. Ek het gesukkel om parkering te kry.”
“Ek het mos nie … bagasie nie, oom.”
Net ’n helse vrag uit die verlede.
Teen die pilaar is die koerantverkopertjie besig om die pakkie tjips te eet. Hy glimlag vir haar. Sy glimlag terug.
Dis meer as twee uur se ry Soutmansdal toe. Phil van Tonder se groen Mercedes dreun oor die Weskuspad. Leendra sit stil en staar voor haar uit.
Phil kyk haar vlugtig aan. Hy het gedog dat die pad kort sal wees, dat sy aanhoudend sal praat oor die lewe daar anderkant. Maar sy praat nie. Daar is net ’n vreemde stilte tussen hulle.
Hy skraap sy keel skoon. “Jy weet seker dat ek weer getroud is, nè?”
“Ant Sweetie het vir my geskryf.”
“Ook maar goed, want ek is nou nie so ’n wafferse korrespondent nie. En ou Sweetie sal natuurlik altyd die eerste een wees om al die skinderstories oor te dra. Wat sê sy nogal van Lucia?”
“Nie veel nie. Dat sy ’n stillerige soort mens is.”
“Ek het die huis so bietjie laat opknap ná die troue. Lucia is dit nogal goed gewoond. Haar ma kuier op die oomblik by ons. Welgestelde ou lady. Met ’n plaas in die Karoo. Hulle beplan ’n groot ete vir vanmiddag. Vir jou koms.”
“Ek wil nie hê hulle moet moeite doen nie.”
“Liewe land, Leendra, dis nie moeite nie. Lucia sien baie daarna uit om jou te ontmoet. Sy’t nuwe gordyne en duvets in jou kamer gesit.”
“Ek wil nie ’n ontwrigting veroorsaak nie.”
“Dis maar soos Lucia is. Alles moet altyd perfek wees. Jy sal haar nog leer ken.”
Sy kyk hom dringend aan. “Hoe … hoe gaan dit met Sielie?”
“Wel, Lucia kom gelukkig goed klaar met daai sussie van jou. Dis natuurlik nie aldag maklik nie. Dit … ek … ek dink dit sal vir Sielie tyd vat om weer aan jou gewoond te word. Miskien onthou sy vir jou. Miskien nie.”
“Oom Phil, ek sal ook tyd nodig hê.”
Sy stem word sagter: “Ek weet dit. Ek en Lucia besef dit. Dat dit vreemd vir jou sal voel. Maar die mense van Soutmansdal het nie verander nie.”
“Hulle het seker ook nie vergeet nie.”
Phil se vingers klem effens stywer om die stuurwiel.
“Oom Phil, ek het die gebeure van daardie dag weer en weer nagegaan. Honderde kere.”
Hy het nie verwag dat die gesprek so ver sou vorder nie. “Wil ons regtig daaroor praat?”
“Ek sal nooit …”
“Hoekom wil jy jouself verder kasty? Het dit nie tyd geword om die verlede te los waar dit hoort nie?”
“Ek sal nooit vry kan wees voordat ek weet wat ek moet weet nie.”
Daar is ’n lang stilte voor hy sê: “Jy lyk nogal moeg. Jy kan mos ’n bietjie slaap.”
Sy krul haar op teen die sitplek. Haar lang rooi hare val eenkant toe.
Sy sug diep terwyl die slaap haar oorval.
Hy kyk met ’n opwelling van deernis na haar. Na die klein rooi sproetjies op haar wit vel. Vandat hy haar laas gesien het, het die sagte ronding van haar wange plek gemaak vir skerper lyne. Sy het ouer geword. Maerder ook. Die bruin langbroek sit los om haar middel. Die roomkleurige linnebaadjie lyk maar bra verkreukeld. Hy onthou met ’n skok dat dit dieselfde klere is waarin sy sewe jaar gelede in die hof gestaan het. Sou die lewe daar anderkant hierdie vurige dogter van sy ou swaer, Hendrik Rooihel, regtig ingebreek het? ’n Rissiepit, het hulle haar genoem. Nou, terwyl sy slaap, lyk sy totaal weerloos, asof die veglus finaal geblus is. Sal Lucia met haar kan regkom? wonder hy. En Sielie. Wat van die arme Sielie?
Op die dag wat Hennerik Rooihel se meisiekind huis toe gekom het, het daar ’n anner ding gebeur hierso in die kerk van Vlaktevlei waar my seun Gerald die pastoor is. Gerald, my jongste, was van kleintyd af ’n diep seun van God gewies. ’n Geroepende. As Gerald in die Bybelse tye moet gelewe het, sou hy sweerlik ’n gesalfde gewies het, soos koning Dawid, mooi van aansien, al moet ek dit nou self sê.
Onse kerkie hier in die lokasie staan op die groot oop meent in die middel van Vlaktevlei met die pastorie anie een kant en die viermanskool anie anner kant en bloekombome reg rondom. Baie van Soutmansdal se wit mense kom pertykeer na ons kerk toe, want omdat hulle nie ’n kerk het nie, anderster moet hulle Dwarsmansdal toe ry. Vlaktevlei en Soutmansdal is eintlik soos een. Jy kan die twee plekkies nie van mekaar af losmaak nie. Hulle lê teenaan mekaar, teenaan die see. Nie een van ons het teerstrate nie. Ons het nie groot winkels nie. Ons het oek nie ons eie minisipale kantore nie. Maar ons het ’n poskantoor en ’n slaghuis en ’n general dealer en ’n banktak oek. En natierlik Miss Sweetie se keffie. Dan is daar die hotel van die Redelinghuyse. Dit staan aan die oorkant vannie grootpad teen die koppe. Hoekom hulle doerie tyd so ’n groot hotel daar