Droomdelwers. Esta Steyn
se meisiekind het daai Sondagmiddag op die dorp aangekom. Sy was saam met Phil van Tonder innie mouter in. Ek konnie haar gesig sien nie. Net die bos rooi hare. Ek het opgekyk na die koppe. Na die Kleinkloef. Tja, die Kleinkloef. Maar anie storie vannie Kleinkloef wou ek nie toe dink nie. Nee. Ek het gekyk hoe die mouter na die soutmyn se kant toe swaai. Wat maak sy hier? het ek gewonner. Het sy dan klaar gesit? Het hulle haar dan gouer laat ytkom? Ek het nie gewiet nie. Al wat ek gewiet het, was dat haar aankoms ’n beroerte oppie dorp sou afgee.
Phil se motor draai in by ’n groot oop stuk grond wat soos ’n plaaswerf lyk. Die naambord by die oop hek blink in die son. Van Hellberg Soutmyn. Daar is bome, buitegeboue en ’n groot ou huis aan die linkerkant. Aan die oorkant staan ’n kleiner huis. Dis hier waar ant Sweetie agter die kantgordyn uitloer en agtertoe roep: “Bontie! Kom kyk! Hulle het gekom!”
“Kom weg van die venster af, Sweetie! Hulle sien vir jou!” Oom Bontie verskyn met krom skouers agter haar.
“Hulle sien my nie,” sê ant Sweetie en probeer haar groot lyf eenkant hou, maar haar oë bly om die draai loer, vasgenael op Leendra wat uit die motor klim. “Jitte, kyk hoe lyk die kind, uitgeteer. En kyk hoe hang die hare. En daar klim Phil ook nou uit. Ewe vol smiles. Wat ek nie kan kleinkry nie, is dat hy haar nooit gebel het nie. Nie eers ’n ou briefietjie geskrywe nie …”
“Ag, Sweetie, jy weet mos hy was daardie tyd ook maar in skok en in rou, soos ons almal.”
Sweetie gee vir Bontie ’n kyk. Dat hy nou wragtag vir Phil opkom. Maar nou ja, Bontie sal nooit ’n verkeerde woord van iemand sê nie. Veral ook nie van Phil wat sy baas is nie.
“Hy’t haar afgeskryf,” sê sy beslis. “Hy’t gedink sy gaan nooit uitkom nie.”
“Ons het almal so gedink, Sweetie,” sug Bontie sag. “Maar die Man van Bo het ons gebede aangehoor.”
Toe Sweetie weer na Bontie kyk, sien sy dat trane oor sy wange afdrup tot in sy stoppelbaard. Sy sit ’n stewige arm rondom hom. Hulle huil saam. En toe kom Boeta ook by die voorhuis in. Hy staan met sy forse lyf die deur vol.
“Ma,” sê hy op sy stadige manier, “Leentjies het huis toe gekom. Oom Phil se kar het nou net gestop.”
“Ons weet, my kind,” sê Sweetie, “ons kan nou-nou oorloop om haar te gaan groet. Sy moet net eers kans kry om vir Lucia te ontmoet. En vir ou Mara.”
“En Sielie, Ma. Sal Sielie haar kan onthou?”
“Ek weet nie, Boeta. Dit weet ek nie. Sewe jaar is ’n lang tyd.”
Lucia van Tonder kyk deur die venster na die skraal meisie wat saam met Phil na die stoep toe aangeloop kom. Die spanning wat al die hele oggend in haar aan die opbou was, gaan binnekort in ’n migraine ontaard, weet sy. Sy het reeds ’n pil gedrink, maar dit het niks gehelp nie. Toe Phil ’n week gelede vir haar gesê het dat sy susterskind ontslaan gaan word, was sy stomgeslaan.
“Daar is nie ’n ander heenkome vir haar nie, Lucia,” het hy gesê. “Sy sal hier by ons moet kom bly, al is dit tydelik, totdat sy iewers ’n werk kry.”
“Natuurlik … hier’s genoeg plek,” was al wat sy beklemd kon uitkry, terwyl haar gedagtes ’n beeld van die meisie probeer vorm het. Die meisie oor wie daar so baie gepraat is.
Lucia loop stadig na die voordeur. Haar ma sluit by haar aan.
Op sewentig is Mara Marais opgetooi soos ’n eertydse aktrise wat wag om weer die verhoog te bestyg. Krale en kettings versier haar beplooide nek. Haar oogskadu is té groen. Haar lipstiffie té pers. Haar gekrulde hare té oranje. Haar bont bloes se groen-en- geel patrone skreeu teen haar skelpienk serp. “Hoekom sê jy nie hulle is hier nie? Lyk ek darem oukei? Dis mos die serp wat professor Louw vir my nog die slag van die Ooste af gebring het. Supergraad-silk.”
Lucia voel hoe klop haar kop. Hoekom moet haar ma net altyd aan haarself dink? “Ma lyk piekfyn,” sê sy stram. Sy sien hoe haar ma se oë nou arendskerp buitekant vasnael op die meisie met die lang rooi hare.
“Kyk net die hare,” fluister Mara kliphard. “Is dit hoekom Phil gesê het sy’t die hel in haar kop?”
“Sagter, Ma …”
“Seker uit ’n bottel. Good grief. Wys jou net. Tronke is ook nie meer wat dit was nie, nè?”
“Ma …” Lucia voel hoe haar wange verkleur. Sy sweer die meisie kon elke woord hoor.
Phil kom nader en sy is bly dat hy so gemaklik en joviaal klink.
“Lucia, ontmoet vir Leendra!”
Die meisie steek ’n skraal wit hand na haar toe uit en die groen oë kyk diep in hare. Ontstellend diep.
Lucia se stem is dun van spanning. “Welkom, Leendra.”
“Dankie,” sê Leendra sag.
“My ma kuier hier by ons … Mara Marais.”
Maar voordat Lucia een woord verder kan praat, begin Mara se konsert. Sy swaai met die arms. Stringe armbande klingel. “Ons is bly julle is nie so vroeg nie!” kondig sy luid aan, “want hier is als in rep en roer. Ons het nou net klaar met die kos. Jy ken nog nie vir Lucia as dit by klaarmaak kom nie.”
Leendra byt op haar lip. “Ek wil nie hê julle moet moeite doen nie.”
Lucia kyk skerp na haar ma. “Ag, Ma maak alles erger.”
“Alles erger? Good grief! Drie soorte vleis! En twee poedings!” Meteens frons Mara en blaas ’n sug uit. Want daar oor die werf kom die Bonthuyse nou van oorkant af aan. “Net soos ek gedink het!” Sy kyk na Leendra. “Daar kom Sweetie-hulle wragtag aangesukkel. Nadat ek so mooi vir haar gesê het hulle moet jou nie so vinnig oorval nie. Dis pure nuuskierigheid.”
Leendra swaai om. Haar gelaat flikker op. ’n Glimlag raak haar breë mond aan. Sy loop die Bonthuyse tegemoet en ant Sweetie se arms hou haar vas. Ant Sweetie is die ene geur van kos, van pampoenkoekies met kaneel. Soos uit ’n tyd lank gelede. Haar bors is sag en warm. En haar trane loop onbedaarlik. “Jitte, ons kan nie glo jy’s uit nie, kind,” snuif sy.
En dan is dit oom Bontie se beurt.
“Oom Bontie!” Leendra hou haar arms na hom uit.
Hy soengroet haar bewoë en sit sy bruingebrande, seningrige arms om haar. Sy stoppelbaard skuur oor haar wang.
“Hoe gaan dit met julle?” vra sy opgewonde.
Ant Sweetie haal ’n opgevoude sakdoek uit haar bors en vryf oor haar oë. “Nog op die ou patroon,” sê sy al snuiwend. “My twee bene staan nog bankvas agter die toonbank en oom Bontie sit nog steeds op die soutmyn. En Boeta het nou sy eie plek. Vir sy sweiswerk.” Sy swaai haar groot lyf om. “Nou waar bly Boeta? Kom nou, Boeta!”
Leendra staar na die groot man wat stadig naderkom en nie weet waar om te kyk nie. Sy groot postuur lyk onbeholpe. Sy kan nie glo dis Boeta nie! Hy was sestien toe sy hom laas gesien het. “Boeta?”
“Dag, Leentjies,” sê hy stadig. Sy stem is grof. “Ek is bly dat jy drie jaar afslag gekry het.”
Mara Marais hou nie daarvan om haar verhoog met ander te deel nie. Dit was nou sommer pure origheid van die Bonthuyse om nou hier te wil aankom. “Ek gaan solank die teewater opsit,” kom sy tussenbeide en kyk vir ant Sweetie misnoegd aan. “Julle sal seker nie nou wil saamdrink nie, nè?”
“Nee, dankie, Mara,” ken Sweetie haar plek, “ons wil nie in die pad wees op so ’n dag nie. Ons het net kom gesig wys.”
Mara gaan haastig die huis in met haar bont bloes wat agterna fladder.
Oom Bontie is dadelik haastig. “Kom nou, Sweetie. Jy’t gesê vyf minute.”
Ant Sweetie vryf oor Leendra se arm. “Ons sal jou later sien, kind. Jy lyk nog een en dieselle. Jitte, mens sal nie sê jy’s deur die dieptes nie.”
Oom Bontie begin al terugstap. Maar Boeta bly