Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden
nie, of dat sy halfmens was nie. Nee, sy was, in my effe outydse taal (verskoon maar), ouwêrelds. Deesdae sou my jong kollegas doodeenvoudig sê: Sy’s ’n alien. Beamed down.
“Môre, ouma Ogies.”
“Jongeheer Tian,” erken sy my teenwoordigheid.
“Ma kom.”
“Ek kyk laas jaar se reën.”
Ek draai my kop skeef, sit my swaar koffer neer en staan daar by haar. Dis nog stil op die werf, Pa en die werkers is onder in die lande en sal opkom vir brekfis sodra ons ry. Pa om in die eetkamer alleen by sy skaaptjop en twee gebakte eiers aan te sit, en die manne om oor die bultjie struise toe te tou vir brood en koffie wat op die oop vuur gebrou is.
Ouma Ogies het die vreemde manier om die woord kyk te gebruik. Dit omskryf ’n wye reeks handelings en duik soms onverwags op. Wanneer sy al die woordeboeke in die boekwinkel met ’n klam lappie afgevee en versigtig in die rak teruggeplaas het, kom sy versigtig en stadig tussen die rakke deur na die toonbank, kom staan daar en wag dat Ma klaar met ’n kliënt praat en sê dan: “Mevrou, ek’t die boeke klaar gekyk.”
Wanneer sy haar middagtoebroodjies by die winkel eet, voel-voel sy haar weg deur die klein stoorkamertjie agter Ma se toonbank na die agterdeur. Soos baie van die winkels in hierdie deel van die straat is Ma se Boek Oase in ’n ou woonhuis en wanneer jy uitgaan agtertoe, is jy in ’n tipiese outydse agterjaart: daar is ’n klein buitekombuisie en ’n kole- of houtkamer, suurlemoenbome, ’n lappie kikoejoe en ’n wasgoeddraad. Rooi malvas blom teen ou mure wat afdop, en dit is vreemd stil. Jy is in die middel van die dorp, maar in ’n tuin wat min aandag kry, in ’n agterplaas met geen huishoudelike aktiwiteit nie, in ’n vreemde niksplek.
Ma noem dit haar privaat, en soms sluit sy die boekwinkel se voordeur en gaan sit in die agterjaart op een van die geroeste tuinstoele en luister hoe ánders die straatgeluide wat nou oor dakke en deur mure na haar kom, hier draai en hoe ver en vreemd hulle voorkom, sodat jy met ’n onverwagte vreugde – iets wat net vir ’n oomblik deur jou skiet – besef dat jy jou rug na die wêreld kán draai, dat jy kán wegloop van als, dat jy ’n heel nuwe lewe kán begin.
Dis Ma se gewoonte om woorde so te beklemtoon. So het sy een aand toe die volmaan op haar ringe blink, in die voortuin teenoor Pa beklemtoon waar hulle gedemp sit en gesels het en die ysblokkies in sy glas gerinkel het en die paddas in die dam gekwaak het en ek buite sig aan ’t luister was, want ek was aan die styg na ’n volgende vlak, ek wou meer weet, ek wou verstaan, ek het afgeluister waar ek kon en het twee en twee bymekaargesit.
Vir my is lees tot vandag toe nog so ’n afluisterproses. Wanneer ’n goeie manuskrip in my hande beland en ek my daarin begin verdiep – bygesê, wanneer dit ’n skrywer is wat haar storie ken – kry ek daardie ou opwinding van stadig nadersluip terwyl my ouers dink ek slaap, van afluister en stadig begin verstaan, asof iets nuuts vir my oopgaan.
Ek gaan ’n geheimenis in. Selfs wanneer ek in die openbaar sit en lees – en ek is die soort wat graag in restaurante alleen sit en lees, al lyk dit vir ander hoe pretensieus – kry ek hierdie reuk van dou op aandkikoejoe, die ligte geur van Pa se whisky en Ma se parfuum. Die ritmiese sang van die Xhosawerkers waar hulle voor oop vure op Bobby Greenblatt se plaas sit, was tegelyk vertroostend en bedreigend; ’n weemoedige lied uit ’n Afrika wat ons nie behoorlik geken het nie. Om my is die wye somersnag met die dam wat lewe van waterdiere en soms ’n onrustige eend wat die sterreweerkaatsing in die water liggies laat wieg.
* * *
Benewens die drukking wat soms in die weer opgebou het en soms uitgereën het en soms nie, en benewens ’n bedompigheid van sommige nagte wat so erg was dat jy nie eens buite in die aandlug wou gaan sit nie, was daar ook ander druktes in ons distrik aan ’t opbou.
Klein dingetjies is laat val, en dit was soos wanneer een van die huisbediendes wat met ’n stoflap besig is per abuis ’n ornament afstamp. Die porseleinpotjie val op die vloer en spat aan skerwe; die klank eggo deur die huis, gevolg deur ’n doodse stilte. Tot Ma se voetstappe ontsteld in die gang afkom en die arme bediende haar gereed maak om geroskam te word.
Klein, huishoudelike insidentjies, wat gedui het op ’n senuweeagtigheid, ’n vasklou aan die dierbaarste kosbaarhede, en ’n frustrasie oor die bedreiging daarvan.
Solomon Mtuze, in die woorde van die plaaswerkers, “is opgetel, laat val, en weer opgetel”. Die wit karretjies het Solomon gemerk as ’n man wat vasgevat moet word. Hy is gereeld ingebring, ondervra en dan weer laat gaan.
Om te sê dat Pa se teenwoordigheid as prokureur op die dorp Veiligheid onrustig gemaak het, sou ’n oordrywing wees. Maar tog was die barbierpaal daar by die ingang na die trap wat na sy kantoor opgelei het, iets van ’n aanmaning dat hulle versigtig moes speel.
Ewenwel, die woord begeerte (weet ek nou) het vir ouma Ogies baie meer beteken as iets wat net met die lyf se drifte te make het. Dit was ’n begeerte na die Renosterveld, na ’n tyd van vryheid.
Krygstaktiek 6
“Wag rustig terwyl die vyand homself uitput.”
In Amsterdam kies ouma Voetjies vir Charlie Ng die fiets as beroep. By die werkswinkel digby die Zeedijk waar hy sy dae deurbring, bring bekommerde eienaars fietse in. Hulle sê nooit “my fiets is siek” nie, maar uit die manier waarop hulle die fiets die werkswinkel binnestoot en versigtig die kwaal uitwys en die blydskap waarmee hulle die reggemaakte fiets later kom haal, blinkgevryf en vars geolie, weet hy die fiets is vir hulle meer as ’n masjien.
Met elke fiets handel hy asof dit ’n gees het. Versigtig olie hy die bewegende dele en vryf die speke een vir een blink. Met sy oor digby die fiets luister hy na die wiel se spin, die ketting oor die rat se tande.
Charlie dring daarop aan om met elke herstelde fiets ’n toetsrit te doen. Die pante van sy oorhemp fladderend, sy riethoed styf vas aan ’n riempie onder sy kinnebak geknoop. Hy word ’n bekende gesig in hierdie buurt, vroegoggend af teen die gragte voor die toe rame van die prostitute verby, verby die eethuise waar emmers vuil water uitgekets word oor sypaadjies en by ’n vrou wat stukke brood na snaterende eende gooi.
Hy ding mee met die Amsterdamse vroue in hul donker jasse wat hoog en trots op groot, swart fietse vaar. Hy kom van agter by hulle verby, die Chinese tiener met die wapperende pante en die fyn, onderontwikkelde snorretjie op die bolip.
Dis sy tye van vryheid en beweging, in hierdie stad waarin duisende fietse heen en weer oor strate skiet.
* * *
Charlie se eerste liefde is ’n jong en blonde Hollandse meisie wat hy gereeld sien wanneer hy die herstelde fietse toets. Sy kyk hom nuuskierig aan, gefassineerd soos die Nederlanders met Oosterlinge is. Chinese gesigte is nog relatief skaars in Amsterdam in daardie tyd en sy kyk hom ondersoekend en met ’n oop gesig aan.
Sy begin soggens vir hom wuif en hy waai terug. Sy sit gereeld op die trappie. Dit is somer. Dalk wag sy vir iemand, dalk is die huis te klein vir haar of is daar struwelinge daarbinne. Dalk sit sy net, nes hy dikwels, en droom van allerlei dinge. Hy dink aan haar terwyl sy oliebesmeerde hande met ’n fietsketting sukkel. Sy roep ’n keer na hom terwyl hy ’n vroueklant se fiets toets en in die Keizersgracht by haar verbyry: “Maar dis ’n damesfiets waarop u ry!”
En ’n dag later, spottend maar vriendelik: “Al weer ’n damesfiets!”
Hy stop eendag by haar. Dit was ’n groot besluit wat hy geneem het. Hy’t die woorde geoefen. “Wil jy saamfiets?”
Opgewonde knik sy en hardloop na binne. Hy is verras. Eintlik het hy nooit verwag sy sou instem nie. Na ’n rukkie kom sy warm toegewikkel teen die vroeë oggendlug by ’n klein poortjie langs die pand uit. Hy’t die vorige nag by die huis verby kom loop. Dit was al laat en net een leeslamp was aan in die huiskamer. Daar het niemand in die kamer beweeg nie, kennelik is die lamp aan vergeet. Agter hom het die Keizersgracht se water swart geblink. Hy’t nader aan die venster beweeg. Binne kon hy ’n boek op ’n tafel sien lê. ’n Groot boek oor die Ooste. Toe stap hy vinnig weg.
Nou