Ek stamel ek sterwe. Eben Venter

Ek stamel ek sterwe - Eben Venter


Скачать книгу
tion>

      Eben Venter

      Ek stamel ek sterwe

      Tafelberg

      OPGEDRA AAN MY OUERS

      Voorwoord

      “Om pad te gee uit die kontrei en my in die vreemde te gaan klaarmaak vir my lewe.” Met dié ironiese sin open Eben Venter se tweede roman, Ek stamel ek sterwe, waarin die hoofkarakter, Konstant Wasserman, na Australië emigreer om daar sy eie potjie te krap. “Ek gaan hier weg soos ’n hond,” dink hy wrang. “Om my eie gat te gaan grou.”

      Venter se kortverhaaldebuut, Witblitz, verskyn in 1986, die jaar waarin hý na Australië emigreer en ook die jaar dat die noodtoestand in Suid-Afrika afgekondig word. Daarna volg Foxtrot van die vleiseters (1992), ’n ontluisterende plaasroman wat in die Oos-Kaap tydens die laaste stuiptrekkings van apartheid afspeel, en wat bekroon word met die W.A. Hofmeyr-prys. Ek stamel ek sterwe, wat in 1996 verskyn en afspeel in ’n postapartheid-Suid-Afrika is eweneens ’n herskrywing van die plaasroman en word ook met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon. Hierna verskyn die roman My simpatie, Cerise (1999), die kortverhaalbundel Twaalf (2000) en die uitstekende Begeerte (2003), ’n roman waarvoor hy sy derde W.A. Hofmeyr-prys ontvang. Sowel Foxtrot van die vleiseters as Ek stamel ek sterwe is in Nederlands en Duits vertaal.

      Venter skryf prosa met die intensiteit, die gedrongenheid van die kortverhaalskrywer, en die taalaanvoeling van die digter: dit is trouens hierdie vakmanskap wat sy werk van baie tydgenootlike prosa onderskei.

      Meesterlik is sy evokasie van karakter, ruimte en tyd, déúr en ín die taal. In Ek stamel ek sterwe gee sy eiesoortige variasie op die bewussynstroomtegniek gekombineer met ’n idiomatiese geselstrant boeiend gestalte aan Konstant se verskeurdheid en verknogtheid aan sy kontrei – ook die kontrei van sy taal.

      Venter weef ’n digte tekstuur met toespelings op moderne liedjies, die mitologie, volksverhale en die skilderkuns. Daar is ’n speelse op die kop keer van woorde, idiome, volkse geestigheid, ’n siniese spel met tradisie, nie net die patriargale tradisie waaraan sy hoofkarakter probeer ontkom nie, maar ook die tradisie van die plaasroman én die breër literêre tradisie (in die gedaante van toespelings op ander tekste soos D.J. Opperman se “Gebed om die gebeente”, en verse van Adam Small en N.P. van Wyk Louw).

      Die verhaal speel in sy geheel af in Konstant se gedagtewêreld: ’n wêreld bevolk deur sy eie én ander karakters se gedagtes, briewe, telefoongesprekke, verbeelde gesprekke, drome, begeertes, herinnerings, hallusinasies en oomblikke van verheldering. Die spronge tussen hierdie inhoude word deurgaans virtuoos gehanteer, gedra deur die gekonsentreerde, meerduidige taalgebruik.

      Konstant, een van Venter se vele manlike karakters met noodlottige karaktergebreke, wil hom losmaak van die houvas van sy aard en aarde, maar kom agter dat hy sy kontrei in hom saamdra, dat hy onlosmaaklik vergroeid bly met die plaas en met die sondes van die vaders. Wanneer hy padgee van die plaas keer hy sy rug op alles wat daardeur verteenwoordig word: die eng eise van die patriargie en Afrikaner-wees. In die stad ondermyn hy sy plaasagtergrond verder deur byvoorbeeld in ’n “meidekamer” te gaan loseer, dagga te leer rook, hom oor te gee aan ’n hedonistiese lewenstyl, sy hare in ’n kort “bandietagtige” styl te laat sny, en saam met die androgene Jude sy seksuele ambivalensie te eksploreer.

      In Australië leer Konstant sy nuwe kontrei deur die inheemse kos ken, deur die name van geregte en bestanddele. In sy liefde vir kos ontdek hy ’n manier om kontak te maak met sy nuwe kollegas en vriende, maar tegelykertyd bly dit ’n verbintenis met die verlede.

      In Sydney kan hy hom as voormalige vleiseter stelselmatig losmaak van die ideologiese lading wat kos, veral vleis, vir hom het. Hy word ’n vegetariër, word al hoe ligter. Hy doen ook ’n virus op en soos hy fisiek kwyn, word sy verbintenis met kos al skrapser totdat hy oplaas nog net na water ’n begeerte het.

      Vir Konstant word kos dus nie alleen die naelstring wat hom verbind aan hede en verlede nie, dit word ook ’n metafoor vir lewe en dood.

      Ek stamel ek sterwe is ’n verhaal van transformasie, van die kontras tussen nou en tóé, hier en daar, stad en platteland, wit en swart, vleiseters en vegetariërs, man en vrou. In sy poging om hom los te maak van sy bloedbande kom die hoofkarakter agter dat bloed dikker is as water, dat dit ’n heuglike én haglike verbintenis is, die draer van lewe en dood. Hy word gedwing om afskeid te neem van al sy liefdes en geliefdes, uiteindelik ook van die lewe self. In sy begin is ook sy einde.

      In sy laaste oomblikke, alleen met net sy gedagtes, verloor hy ook sy greep op taal, op die woorde wat hom gevoed en aan die lewe verknoop het, en al stamelend sterf hy.

      JOHANN DE LANGE

      Kaapstad 2005

      OM PAD TE GEE uit die kontrei en my in die vreemde te gaan klaarmaak vir my lewe.

      Só besluit ek in die Rooistoor, die sinkplaatkolos bo teen die bult op die dorp. So ’n ou bloedrooie, een keer geverf en toe so laat staan.

      Ek kom op die laaiwerf agter die Rooistoor aan en stoot die bakkie teen die bufferbande aan die laaibank vas. ’n Jong boer wag daar dat sy bestelling opgelaai moet word. Hy knik in my rigting sonder om die gegrouery in sy tande met die hoek van sy kwitansie te staak. Ek ken hom nie.

      Dis reeds ná twee, ná die middaguur wanneer almal iets gaan eet en ’n bietjie skeef gaan lê het, en die sinkplaatmure van die Rooistoor is soos oondplate. Op die dak kap-kap die vuurklippies.

      Die uitleg van die Rooistoor is soos dié van ’n dorp: daar is ’n hoofstraat wat teen ’n berg lusernbale vasloop en daar is afdraaipaadjies wat na ’n toring voerpille of ’n blok kalk of ’n stawel mielies lei. In die wasigheid van lusernwalms en fynmeeldampe stoot swart mans trollies met vrag.

      Ek moet my bestelling by die klerk in die kantoortjie slap links van die ingang plaas. Dit is benoud binnekant.

      Marrag, tannie … Ummm.

      My wêreld, Konstant, is dit jy?Wag dat ek hier agter uitkom. Lat ek jou darem ordentlik … Allawêreld, maar ek het jou lank laas gesien. Sy begin beweeg.

      Nee, oukei goet, tannie.

      Die rubberplant in haar kantoortjie lyk olik, asof hy saam met haar in die melerige lug hyg. En die waaier op haar lessenaar beteken op dees aarde niks nie: daar is sweet op haar bolip. Pumps, nee, dis pantoffels wat sy dra. Hier kom ou Doekvoet. Oop en toe skarnier die kantoordeur in sy knippie. Dit lyk na verbleikte magnolias op haar rok: bleekgroen materiaal met ’n weggesnyde kraag. En ’n bypassende beltjie om haar ietwat van ’n middel te gee. Sou sy nog steeds probeer sexy wees? Alle vroue wil seker maar, tot die dag van hulle dood. Voorwaar ’n lot. Uitgevang: die lissie op haar linkerheup het losgetorring. Is dit ’n Cyma daar aan haar melkwit pols? Sy’s nog steeds melkerig, haar kinders hoe lank al huis uit. Hier kom sy, sy mik na my lippe toe. Sy wil té naby aan my kom. Daar’s ’n reukie van die Rooistoor en ’n vegie roserigheid aan haar. Sies tog.

      Haai, nee, Konstant, jy lyk ook nie ’n dag ouer as toe ek jou laas gesien het nie. En sy vee haar wolliebolip oor my wang.

      Indien sy gemerk het hoe ek van haar terugdeins, wys sy niks nie. Sy’s ’n ou flikflooier. Maar ek moenie vir my staan en hansgat hou nie, die ou ding wou my maar net komplimenteer.

      Nou wanneer sou dit laas gewees het, magties, man, waar trek jy nou? gaan sy voort. Sê nou maar ’n ding soos hy is, julle Wassermans dra algar julle jare goed. Kyk nou maar vir daai ma van jou. Wieeejy, ek sê nou die dag vir oom Giep toe ek jou mammie sien afstap Nagmaaltafel toe, ek sê vir hom: Giep, mens sal darem nooit in des lewens sê Mirjam het vyf kinders grootgemaak nie. Jinne, mens kan haar aaaltyd deur ’n ring trek. En dan jou pappie wat so hard werk. Aaai, boetman, daai Raster Wasserman is nog van die ou soort. Regte voorslag, daai pa van jou. Lekker warm hier binne, nè. Ag, mens raak dit mos maar naderhand gewoond. Maar ek moet jou sê: dis darem besonders vandag.

      Tannie Dinges, wat is haar naam tog? Jare lank het sy my nie gesien nie, maar mý naam, dié sal sy nooit vergeet nie. Dis natuurlik makliker op ’n klein plekkie en sy bedoel dit nie sleg nie. Ek kan nie glo sy werk nog steeds


Скачать книгу