Ek stamel ek sterwe. Eben Venter

Ek stamel ek sterwe - Eben Venter


Скачать книгу
die een wat verkeerd is. ’n Mens kan jou mos nie verweer teen sulke mense nie. Dis beter om jou bek te hou. Ag, ek ken hierdie mense. Niemand kan my iets van hulle vertel nie. Die oomblik as die trein roer, gaan sit ek op daai sitplek en krap elke stoffie van my sole af, sowaar.

      Vanaf die oomblik toe my voorvel afgesny is tot nou toe het Pa my rondgeneuk, maar nou’s dit verby. Dit sal die dag wees, boetie – ek het geweet dis wat Pa sal sê. Wel, ek sê nou vir Pa: Wanneer hierdie trein trek, is ek vir goed onder Pa se vlerk uit. Buitendien, baie sake staan deesdae buite julle ou garde se beheer. Ons dogters word deesdae kaalbas reg voor die Voortrekker-monument afgeneem. Het Pa dit geweet? En vannag hier op die trein kan van alles en nog wat gebeur. Daar’s geen keer meer daaraan, nes my besluit, geen keer meer geen keer meer. Die trein vat my weg. Gaan derwaarts, ontroue. Gaan in jou moer in.

      Iewers vorentoe, onsigbaar van my familie se staankolletjie af, blaas die kondukteur sy fluitjie en soos ’n opslagkoeël spat die klank in ons rigting.

      Albert, ou Albert. Kyk hoe hou hy homself met sy eie arms vas. Dis ’n tragedie, het hy bly sê gisteraand, dis ’n tragedie.

      Ek weet nie eers waar ek in Johannesburg gaan bly nie. Dis die grootste tragedie.

      Konstant, roep Albert, Konnie.

      Hester se geel polkadot-rok kom tussen die mense op die perron aangenael, steeds sonder ons twee malgoed-sussies. Konnie, gil sy, Konnie, wag vir my, laat ek jou vashou.

      Die trein wag nie vir mens nie, sê Pa. Hy steek sy hand uit en druk myne deur die venster. Dis al wat hy my kan gee: Moenie vergeet wat jy hier geleer het nie, jong, moenie jou rug na ons keer nie. Ek hoop jy laat staan al jou dinge daar anderkant en keer terug, terug, Konstant Wasserman wat jy is.

      Versigtig tog, Hester, skree Ma.

      Die trein begin al rol en Hester swaai nog steeds soos ’n geelvink aan my nek, haar sout nattigheid nou op my wang afgevee.

      Hester, kom weg daar, ’n ongeluk gebeur gou, ’n trein is nie ’n ding om mee te speel nie, skree my ma weer, benoud nou. Vlagies van die parfuum op haar vel laat sy by my venster agter.

      Toe die trein verby die peperboom beweeg, storm Tilla en Mirjampie agter die stam uit en ’n joliger afskeid kan ek nie verlang nie. Konnie, dis ons, gil Tilla en hardloop al langs die trein terwyl sy ’n rooibessietakkie van die boom na my uithou. Konnie, gil Tilla en Mirjampie saam, lekker bly, en wuif soentjies, tande skitterend van spoeg. Konnieee, jodel hulle totdat die trein die draai vat.

      Tilla, Mirjam, skree ek, my mond soos ’n oog so nat.

      By die brug oor die spruit kan ek oor die dorp terugkyk. Die laaste stukkie laatmiddaghemel vou voor my oop. Teen vlokke appelkoos wolkies en die glaserige ylheid van die blou vlieg twee kraaie, tegelykertyd kraskwaad en triomfantlik op hulle hoogvlug.

      Ek kan nog iets ruik aan my van Ma, of is dit van Hester? Wat dra sy nou weer? Sy het gesê ek moet vir haar Chanel-lipstiffie saambring as ek terugkom. Dit was toe nie so vreeslik nie, die afskeid. Ek het tog maar verwag Pa sou so reageer. Ek het al baie stasie-afskeide agter die rug. Almal van hulle ou gekoude bene en nie die moeite werd om op te grawe nie.

      Behalwe die enkele keer toe Pa se oë blink geraak het, die keer toe ek army toe is. Was hy dalk getrek? Eers die gewone: Pas jouself op, Konstant, en so aan. En toe: Dis jou groot kans, man, maak die beste daarvan, die army gaan ’n man van jou maak. Ag, gaan kak, Pa, wat weet jy van my? Al kry ek nie eers ’n kussing vir my kop, is ek ten minste weg van jou handsambok, wat maak ou Konnie daar! Wie weet? Net ek en Ma. Sy’t so bedroef gelyk. Haar kinders, dis al waarvoor sy leef, nie vir Pa nie. Oh, well, sy leef seker maar vir hom ook. Sy luister in elk geval na hom. Dans na sy pype. En Albert, dit was baie treurig om van hom afskeid te neem, maar hy’s ook so kop in een mus met daai familie. Hy sê nooit wat hy regtig dink nie. Regte bleddie tweegatjakkals. Dis wat my so de moer in maak van hom. En as ek hom daaroor konfronteer, dan sê hy net: Moenie jy worrie nie, ek weet wat ek is en ek weet wat ek dink. Maar hy spel dit nooit uit nie. Hy kan seker ook nie anders nie. Hy wil nie die hand hap wat hom help nie. Ek’s die enigste een wat my mond oopmaak. Soms. En Pa, natuurlik, ek moet hom dit toegee, hy praat hart-op mond-verby. Konsekwent. Dis nie altyd ’n edel eienskap nie. As Adolf meer inkonsekwent was, is daar dalk minder van Abel se nasate ter helle gestuur. Maar daar bly maar altyd die hoop. Hel, man, dat hy nie eers hoop vir my wil oorhou nie. Dis wat my so … Wonder of hy ’n druppeltjie gevoel kan uitpers? Hy kan, maar weet nie hoe nie. Al ding van my wat hy raaksien, is my voël wat die familieboom, ek bedoel stamboom, moet laat voortwoeker.

      Vermenigvuldig en beswerm die aarde. Eintlik bedoel hy meer as dit. Dis hier ’n kwessie van twee vlieë met een klap, want wat hy óók in sy agterkop het, is ’n outnumbering, ’n out-whiting van die swartes. Alhoewel hy tog moet besef dis hopeloos naïef. Nogtans, ek dink dit bly ’n onuitgesproke wens van hom soos die een daai aand toe ek hulle afgeluister het.

      Ek weet dit was nie eerbaar nie en ek sal dit nooit weer doen nie, want dis beter as alles openlik gesê, gedaan en opgemors word. Bowendien het die luistervinkery my bedremmeld gelaat: Pa en Ma het buite op die stoep gesit, dit was al laat. Sy het gesê nee, sy moet nou in, die muskiete dra haar weg daarso. Maar toe sê hy: Sit nog so ’n rapsie, want hy wou haar van hierdie groot hartewens van hom vertel. En dit is dat hy eendag as silwerbaard net so op daardie selfde voorstoep wil sit en uitkyk, so daar na die groot populierbos se kant toe, en al sy kinders en kleinkinders tussen die boomstamme wil sien ingaan en uitkom en rondbaljaar. Daar sal wees Mirjampie, miskien nog verwagtend aan haar eerste, en dalk Hester se oudste wat Tilla se klein kwyler abba. Maar die eintlike ramkat sal my eersgeborene wees. So ’n mooi bruinoog sal hy wees. En sy naam? Raster Wasserman, natuurlik. Maar almal sal sommer van Rassie praat. En daarby kom nog Albert se bakoorseuntjies wat sonder ophou in en uit die bos nael, die laaste een van hulle Wassermantjies. En so af en toe sal een van hulle ’n es hier voor die stoep gooi: Watch hierie een, Oupa.

      Soos ’n kind met ’n nat stert word ek op my slaapbank wakker, een van die twee boonstes in die kompartement. Dis ’n klein uur van die nag. My een hand het bo-op my kopkussing aan die slaap geraak. Blou en bloedloos moet ek hom met my ander, lewende hand gaan haal en langs my sy plaas om prikkels en stekies lewe terug te bring. Die reghoekige ruimte tussen my bed en die plafon weeg swaar op my. ’n Koute swiep oor my nagsweetnat liggaam ten spyte van die warm bedompigheid in die kompartement. Ek rus duim en voorvinger op my ooglede.

      Dis benoud hier. Die spoorwegkombers is te dik. Net goed vir winternagte op die Transkaroo. Ek moet hom af kry. Die trein vat my weg, vat my weg. Ek het myself uitgelewer en dit is my keuse. As iets skeefloop, kan ek net myself blameer. Kan Pa my seblief haak met ’n paar sente? Hoeveel het jy nodig, Konstant? Met ’n paar sente kan jy mos niks ordentliks vir jou koop nie. Jy gaan moet leer om te vra wat jy nodig het, jong. Ma, ek het sokkies nodig, en nog ’n warm hemp sal nie sleg wees nie. En hoekom is dit dan makliker vir mamma-se-seuntjie om vir sy ma iets te vra? Die vaderhoormy, Konstant, van nou af gaan jy moet bôls hê. Onthou, dis nou alles iets van die verlede. Jy kan nie meer na jou pa toe hardloop vir ’n paar sente nie. Ek sweer ek gee nie om nie. Dit gaan ’n plesier wees om my eie sokkies te koop.

      Die kompartement ruik na mansvoet en bierpoep. Slaap, almal van hulle vas aan die slaap. Op die plaas ook. Gaan ek hulle ooit weer sien? Maar natuurlik, boetman, jy gaan mos nie jou pappie en mammie sommerso wegsmyt nie, hoe’s jou hart dan nou? Naar, my hart is naar, te veel bier, te kort ná die tennis. Ek moet my naarheid probeer wegsteek, dis ’n skande. Maar dit help niks nie. En Ma het als gesien. Ek moet by die manskleedkamer kom, agter die klubhuis. Ek moet my brein uitbraak. Die kleedkamer is vol ooms en ’n paar jongeres, ou klasmaats. Almal is besig om uit te trek, om tennissweet weg te stort.

      Fools. Julle’t gedink ek is al weg, mond afgevee, toilet getrek en vort. Maar ek het julle gehoor, agter die muurtjie het ek getalm en elke liewe bliksemse woord gehoor. Oom Jassie van Donkerpoort: Het hy darem ’n paal? Oom, ek dink die vraag is nie of hy ’n paal het nie. Dis daai Engelse boertjie wat daar agter die dam boer. Dunkeld, dink ek, simpel naam. Die vraag is of hy hom darem kan opkry, sê hy, lag hy. Ek hoor julle. Ek ruik julle rubbersole, julle Deep Heat. ’n Man antwoord Dunkeld. Ek kan nie sy stem plaas nie: Nee, nee, nee, julle praat almal kak, die vraag is eintlik


Скачать книгу