Ek stamel ek sterwe. Eben Venter

Ek stamel ek sterwe - Eben Venter


Скачать книгу
die bestelling? In my sak. Die kakie van my broek is lekker grof. Ek sorg dat ek maar dieselfde as almal aanhet: bosveldhoed, de lot. Smelt in, smelt weg. Wie nie gesien word nie, sal nie gepla word nie. Pa se koöperasienommer: 25311. In daai Valbazen-sakboekie. Ek het alles opgeskryf, anders onthou ek bokkerol. Kosskool, ’n jaar in die army, drie jaar op universiteit, ’n mens vergeet al waaroor dit hier gaan.

      Ureum is heel boaan die bestelling. Dis pisstof wat beeste meer laat vreet. Sou ’n méns ook jou eie urine vir ’n beter aptyt kon drink? Drink pis, word vet.

      Al wat tannie Dinges moet doen, is om die bestelling in haar computer te voer en op die drukker te wag om ’n drievoudige kwitansie uit te spoeg. Dan gaan sy dit oor die toonbank onder die glas deur na my toe skuif om namens Pa te teken. En dan moet ek die groen vorm vir een van die trolliemanne gee.

      Ek wonder of hier nog een van hulle oor is wat my onthou: kleibaas Konnie, haai, maar die kleibasie hy word nou sommer grootman, kom lat ek die kleibasie se gat lek. Wat sou hulle name tog wees? Ek het mos nooit kleintyd omgegee nie. Hulle was maar altyd net gesigte, die oues met plooie, die jonges nog gladswart. Opgeskote, het oupa Konstant altyd van die mannetjies gesê. Al het hulle naamloos gebly, het hulle nooit almal vir my dieselfde gelyk nie, nie soos die Chinese nie. Hulle beweer mos dat ons wittes na lyk ruik. Die ding is: die wit mense bodder nie eintlik met swartes se name nie. En eintlik sou die trolliemanne hulle name op hulle overalls moes vasspeld. Maar die meeste werk kaalbolyf; waar sal die naamplaatjie kom?

      Ek moet die wit vorm vir Pa hou en tjek dat hulle alles oplaai. Ek het nie ’n pen gebring om af te tiek nie. Wie kry die pienk vorm? Ek moet onthou om die gatflap van die bakkie ordentlik toe te maak. Bewaar my siel as die ding oopmoer op pad terug plaas toe. Ek wil nie eers daaraan dink nie: melkpoeier soos kapok op die grondpad plaas toe. En ek moet die laaier tip. Ek wed niemand tip ooit hier nie. Die trolliemanne kan dit op hulle swart mage skryf. Die probleem is daar’s soms tot vyf laaiers om ’n enkele bestelling op te laai – overemployment, ha! – watter een kry die tip?

      Ma het gekla toe sy my met dié hemp sien dorp toe ry: Ag, nee wat, Konstant, sal julle dan nooit leer nie? Maar so ’n ou hemp is handig vir ’n nat voorkop. Dit maak my kriewelrig net om na die trolliemanne te kyk.

      O, tannie Dinges het eindelik opgehou klets. Ek het sommer vir haar gesê, nee, gaan orraait met my, nog vóór sy daarna gevra het. Simpel! Vir wat bekyk sy my so deur daai venster?

      Nee, maar spreek maar die woord, Konstant. Wat sal dit vandag vir jou pappie wees? Sy het terug na haar kantoortjie gesloffel en posisie agter haar computer ingeneem. Die computer is ’n seëning vir haar: minder papierwerk wat kan rondfladder.

      Ureum, vitamelkpoeier …

      Wat weet jy van my, ou Melkpols? Jy’s so uitgewas, geensins opgewasse teen die hittewalms nie. En jou ore is so aangepak dat jy my nie regtig kan hoor nie. Tannie moes my destyds gehoor het, tannie. In die Vrystaatse Jeugkoor was my stem soos ligbruin sjokolade, tannie. Ag, watse bôls raak ek tog hier kwyt.

      Kyk nou hoe besig hou sy haar kamtig agter haar computer. Nou wag sy vir die print-out, rug na my. As sy omkyk, is ek weg. Te laat vir haar om nog ’n knopie te gesels. Daar staan ek al by die sakke mielies.

      Hier’s vandag g’n rot in sig nie. En hier is bielies hierso. Dit onthou ek: jy kan jou simpel skrik as jy skielik om ’n hoek op hom afkom, en die rot net so! Soms sit hulle kiertsregop op daai lekblokke. Die lekker souterige lekblokke. Die beeste hou kwaai daarvan. Dit laat hulle omtrent vreet, net mooi als wat hulle sien, en dit net ter wille van vet word en slag, en Sondag ná kerk lê die tong op die tafel, pienk en sag langs ’n blerts mosterd.

      Pasop! Oral waar jy vir muis vind, daar loop slang se kind, het oupa Konstant altyd geterg. Maar wat eet die slange dan, Oupa? wou Albert dan weet. Muise natuurlik, Allie, toekop! Ons het baie, baie kere saam met oupa Konstant Rooistoor toe gekom. Ek links, Albert aan sy regterhand. Of andersom, maak nie saak nie. As ons eers binnekant was, het hy ons losgelaat om op en af in die paadjies te hol. Die Rooistoor is ’n hemelse plek vir ’n kind. Haai, Allie, weet jy hoe lyk ’n dooie man se hand? Kom ek wys jou: vee hom oor ’n sak sement, so, sien jy. Die stof aan die sak maak hom grys. Hier kom hy, Allie, pasop virrie dooimanshand, pasop virrie … Gaan net vir Oupa sê, Konnie, jy mag nie sulke goet doen nie. Haai, Allie, kyk hierie gat in die sak melkpoeier, dis waar ’n slang hom dik gevreet het.

      Hier’s jou papiere, Konstant, roep tannie Dinges vanaf haar kantoor.

      Waar kom die ou ding se stem vandaan? Ek kan haar skaars in die wolke mytjies uitmaak. Die dik lug draai haar stem in watte toe. Ek wil nie weer naby haar uithang nie. Ek gaan net die bestelvorm vat en loop. Waar’s die man wat die vorm by my moet oorvat? Waar’s die … oom Piet Broeksak? Nee, oom, hoe sal ek nou ooit oom se naam vergeet? Oom het mos altyd een pap handjie in oom se linkerbroeksak weggebêre, die albino’tjie wat g’n mens nog ooit gesien het nie.

      Hier kom oom Piet Broeksak nou aan, jare al net so, aangeskuifel kom hy tussen sakke mieliegruis. Oom Piet die voorman, hand in die sak, oë neergeslaan op soek na die vyand: man, die rotte kan vreeslik moles maak hierso met my voorraad. Ek hoop die Rooistoorbase skenk oom ’n goue horlosie vir oom se lojaliteit.

      Hoe gaatit, boetman?

      Nee, ook goed, oom. En so aan.

      En: Hier’s oom se groen vorm, mooi in oom se enigste hand. Ek sou wat wou gee dat oom daai handjie uit oom se broek haal.

      Jongboy, jou blikslater, beveel oom Piet Broeksak met aangeleerde goedigheid, vat bietjie hierie kleinbaas se order hierso.

      Jongboy kom nader en hou sy hand uit en oom Piet Broeksak gee die vorm met sy regterhand aan en lê hom in Jongboy se hand.

      Ga! Dis die ene vis hierso, dit moet van die vismeel wees. Dit gaan omgesit word in goor hoendervleis. Ma sweer sy sit nie haar mond aan daai soort hoender nie. Nou, laat ek bietjie na hierdie mielies hier agter my kyk, want dan spaar ek oom Piet Broeksak ’n moegmakery om met my geselsies te maak. Hy sal hom vandag verbaas oor hoe geïnteresseerd Konstant Wasserman in sy voorraad geword het. Jy hou jouself vir die fooi, Konstant!

      Dis lekker so met my boude net so liggies agter teen die sakke mielies, net so liggies stamp-stamp daarteen, welige boude, ha! Dis saaimielies dié: NOT FOR HUMAN OR ANIMAL CONSUMPTION. Elke pit is met gifstof afgespoel. Geeldood vir die bloukraanvoël wat op saailande kom rondpik. Toe ons klein was, het die lande nog blou gesit van kraanvoëls; vandag is die arme goed amper tot niet. Pa het altyd oor hulle heen geskiet, hulle net skrikgemaak. Hy’t ’n sagte hart vir hulle gehad, eintlik vir al sy diere, nou nog. Ou sagte, ou groot hart … En vir sy mense?

      Jeerdie, ek wonder darem wat is dit met die ouvrouens van hierdie dorp dat hulle jou alewig wil soen. Dis seker maar bietjie afleiding vir die ou ding hier in die Rooistoor, ’n proefie van my jongmanslippe. Dit ís saai hierso. En sy bedoel dit goed, net goed. Nes die boertjie daar buite wat my groet sonder dat hy my regtig ken. Maar dat die vroue jou nou altyd wil soen! Mans gee jou natuurlik net ’n handdruk, niks meer nie. As jy nog ’n tjokkertjie is, sit jy op jou pa se skoot. Maar op ’n dag is dit ook verby. Ook maar orraait, want jou stêre word te dik. Aaa! maar die rugbyboys, die raggamanne, hulle mag ’n arm om mekaar se skouers gooi vir die koerantfotograaf: ons is mos maatjies.

      As tannie Dinges my gaan begin uitvra … Ek sweer ek moer haar sommer, dit sweer ek. Die mense moet my uitlos. Ek kan nou óf hier by die stawel mielies bly rondhang óf terug na haar kantoor toe stap, net om weer stront te begin praat. ’n Mens wil darem nou ook nie te ongeskik wees nie.

      O ja! Tannie Tryntjie, nee, Trynie. Dissy: tannie Trynie van oom GiepvanStraat. Dis snaaks hoe name terugkom as jy weer ’n ruk hier bly, terwyl ander weer wegraak. Wat was daai army-ou se naam nou weer wat langs my …? Ek sien hom voor my. So ’n bleek gevreet, altyd aan’t vertelle hoe dinges hy sy girl. Ek het hom nooit geglo nie. Brêkgat. Trevor? Dit was so ’n pap Engelse naam. Ek sien hom sit en sy army boots aantrek. Hy’t so ’n slap wit maag gehad, nooit styf geword nie, nie eers ná al daai sit-ups nie.

      Wag, laat ek nader stap, anders kom ek nooit hier weg nie. Laat tannie Melktrein haar verantwoord oor die Rooistoor se diens.


Скачать книгу