Ek stamel ek sterwe. Eben Venter

Ek stamel ek sterwe - Eben Venter


Скачать книгу
of hoogstens drie op ’n Saterdagaand as ons braaivleis hou en daar’s mense. Bygetel die een of twee wat jy stilletjies gaps as jy nog gaan uithaal in die spens. Dit word beskou as ’n beloning op jou arbeid, reken Albert. Slimgat.

      Wanneer ek opstaan om vir my ’n vierde bier te gaan haal, sê my pa: Maar jy sal my mos vanaand leeg drink. Nee, wat, Konnie, is dit nou nodig? Julle manne sal moet begin dink om self ook julle kant te bring as julle so in oordaad wil drink.

      Ek kyk nie na hom nie, maar na my ma omdat sy voortydig klaarmaak met eet. Sy skraap die oorskiet op haar Queen’s Green-bord in ’n poedingbakkie vir Ketjoerts en vra die souspotjie by Tilla en druip stadig, stadig van die galsterige vleisafsaksel oor die kat se aandporsie. Die lamp gooi ’n glans oor haar glad gekamde hare, die Franse rol wat Pa so baie van hou. En onder die tafel voel ek hoe Ketjoerts se lowerige pels die haartjies op my kuit elektries laai. Hy’s nou ongeduldig vir sy deel van die vaalvleis met sous. Buitekant is daar nog mense. Buitekant is daar mense besig met die melkemmers, maar die gordyne, dik materiaal ten einde ’n swaar hang te verkry, demp die meeste van die klanke.

      Ek ken vir Ma. Daar’s nog kos op haar bord, maar sy maak al klaar. Sy wis daar’s iets in die weer. Ou Trynie het hoogs waarskynlik nie vanmiddag laat toe sy vir Ma gebel het, erken hoe sy aan my gekarring het nie: Nee, Mirjam, ek weet nie wat het verkeerd geloop met daai seun van jou nie. Die ou ding wou glo nie eers my naam noem nie. My naam het onsegbaar geword.

      Ek moes my gaan lawe met ’n brêndietjie toe ek by die huis kom, het Trynie by Ma gekla. En jy weet self dit was ongenadig warm, Mirjam. Nee, wat, ek het jou seun nog nooit so gesien nie. Hy was nog altyd so ’n mooi seun vir my en altyd vreeslik hoflik, en so ken ek al jou kinders, Mirjam. Maar toe issit skierlik of daar iets in hom kom en hy haak af en vloek my iets o allerverskrikliks, so sonder enige respek. Reken, Mirjam, hy noem my sommer op my naam. Ek weet mos Raster en jy het hom nie so geleer nie, al kan jou ou man ook lekker kwaat raak, ek het hom mos ook al kwaat gesien as jy nou nie omgee dat ek dit sê nie.

      Wat het dan verkeerd geloop? wou Ma heeltyd weet.

      Ek het haar nie geantwoord nie. Ek weet mos dis hoe die mense hierso maak: hulle draai ’n storie so dat hy hulle pas. Maar Ma het klaar die tekens van onrus gemerk. Ja, ek is jammer vir haar, maar ek gaan nie nou daaroor tob nie. Anders maak ek nooit my besluit bekend nie, wat nog van hier wegkom. En Pa dan? As hy my maar sou kon troos in hierdie uur, maar wat ek hoor, is: Hoekom is my asbak in die bakkie so bemors en vir wat drink jy so kwaai vanaand en wanneer vat jy vir jou vrou, daar’s sulke oulike meisies hier, dat ons Wassermans kan aangaan, magtag, die lewe staan nie stil nie. Onthou, ons familie kom van ver en ons is nog altyd ryklik geseënd. Nee, wat, van hom wil ek ver weg.

      Toe sê ek wat ek moet sê. ’n Sin wat oud geword het in my mond van oor en oor se geoefen. Poepbang maar vasberade sê ek: Nou ja, Pa en Ma, ek wil net sê ek beplan om môre met die trein te vertrek. Ek het mooi daaroor nagedink. Ek wil bietjie gaan kyk hoe lyk dit daar oorkant die waters. Ek gaan probeer om ’n verblyfpermit vir Australië te kry.

      Nou ja, nogal, nou ja. Oorkant die waters. Ek probeer nes ek wil, maar van die bewing in my stem kan ek nie ontslae raak nie. Die ding is, ’n mens kry so min oefening om dié soort goed te sê, miskien word ek vaardiger daarmee as ek eers daar oorkant bly.

      Nou ja, Konstant, jy moet maar maak soos jy wil, en my pa skuif sy stoel agtertoe en staan op. Maar onthou, as jy so hier weggaat, gaat jy weg sonder die seën van jou vader, en toe kyk hy na Ma en spreek sommer namens haar ook, en sonder die seën van jou moeder.

      My ma se trane loop.

      Op die stasieperron is almal teenwoordig, elkeen voorbereid met ’n laaste sêding vir my, maar hulle hou dit terug totdat ek inklim en by die treinvenster uithang. Net Tilla en Mirjampie kwetter en hol hulself onkapabel teen reiskoffers en bokse goeters en komberse opgebondel met belde, meestal van die swart passasiers. Die twee speel wegkruipertjie agter die peperboom langs die ou melkkandepot wat in onbruik geraak het.

      Konstant! Die peperboom! sê Albert en wys na die broospienk en armmansgroen peperboom langs die stasiegebou. Hy het onthou dat dit my gunstelingboomsoort is. En voeg dan by: Maar wat, jy sien hulle dalk weer in Australië staan.

      My pa sit my boksie padkos neer, kyk die ding so daar op die teerblad van die perron, stoot hom met die punt van sy velskoen, van sy grênder koedoeleerpaar, raap dan weer die boksie op, balanseer hom vir ’n oomblik op sy hand en hou dit uit na my, maar ek is nog nie gereed om dit aan te vat nie en hy tree terug sonder om sy oë van my af te neem. Ek kyk nie reguit na hom nie. Hy begin met sy wit sakdoek vroetel. Dis altyd ’n vreeslike gedoente, dié neusblasery van hom, maar vanmiddag is dit so ’n windsnuit en ook niks meer nie.

      Is dit nou eerste klas dié? wil my ma weet. In tweede klas is sloop en laken glo swart gestreep met hare net waar jy kyk en lê. Selfs Pa het daarop aangedring dat ek eerste klas koop:

      Nee, wat, ordentlike mense ry nie meer tweede klas nie. Maar geen sent sou hy tot die treinkaartjie of die oorsese vliegkaartjie bydra nie.

      Nie omdat ek nie vir jou omgee nie, het hy gerusgestel, maar as ’n man nou sulke groot dinge vir homself in die vooruitsig stel, dan moet hy maar self sy potjie krap. Nee, wat, oom Dirk het mooi vir my vertel hoe ongeskik jy daar by die Rooistoor weggetrek het. Dè, vat dié saam, het hy die vorige aand gesê toe hy by my en Albert se kamer verbyloop waar ek besig was om te pak, en toe stop hy vir my ’n pakkie skeermeslemmetjies in die hand.

      Ma hou my hand deur die treinvenster, plat my vingers uit op hare, wil iets sê wat sy nie sê nie, trek my dan nader terwyl sy op haar tone kom om my hartlik en lyflik te omhels, maar laat my dan weer gaan en kyk langs die perron af: Hester, gaan roep bietjie daai twee sussies van jou dat hulle hulle broer kan kom groet, die trein trek sommer nou-nou, nog voor jy mooi weet. Het jy nou alles, Konnie? En hou nou maar lekker verjaardag môre. Ag, Ma se hart is baie seer dat jy nie eers by ons gaan wees op jou verjaardag nie. En laat weet nou of jy reggekom het met die permit en die oorsese kaartjie, en skryf vir ons, moenie ons gaan staan en verwaarloos nie.

      Ons bly jou pa en ma, jong, maak nie saak wat gebeur nie, en veels geluk vir môre, Konstant, en toe prop my pa sy sakdoek terug. Hy verwag nie dat ek iets daarop gaan sê nie. Die venster langs myne is toe, sodat die springbokkoppie-embleem daarop duidelik sigbaar is.

      Vir wat sukkel die trein so om te trek? Ek moet nou weg, vort, vort. Pa kon darem iets bygedra het tot my kaartjies. Ek hoop ek het genoeg geld. Ag, ek sal oukei wees, maar as hy wou, kon hy al twee my kaartjies betaal het. Hy’t oorgenoeg geld. Vort. Dis soos voertsek. Ek gaan hier weg soos ’n hond. Om my eie gat te gaan grou. Dis miskien ook maar beter so.

      Weet jy darem waar jy gaan bly in daai groot stad? vra my ma. Ek is slegs van haar stem bewus. Die afskeid is so aaklig dat my ander sintuie outomaties op go slow is.

      En Pa: Gopsestad, regte Sodom. Al betaal jy my ook, sal ek nie daar gaan bly nie.

      Hou hy nooit verdomp op nie? Ek is bly hy’t niks vir my betaal nie. Nee, o wragtag, dis beter so, dan bly ek onafhanklik. As daar eers geld in die prentjie kom, moet ’n mens mos verantwoording begin doen. Daar mag mos nie iets gegee word sonder dat daar weer iets terug verwag word nie. Wat heeltemal teenstrydig met die … Ag, los dit. Ek kan nie eers meer worrie om daaroor te dink nie. Ek versondig net verder my siel. Ek wens die bleddie trein wil nou ry. Waar’s Tilla en Mirjampie? Hulle kan nie eers getraak wees om my te kom groet nie.

      Het Hester nou vir Tilla en Mirjampie gaan soek? vra ek.

      Ekskuus tog ’n bietjie, meneer, lat ek kan verbykom, sê ’n vrou agter my boud.

      Pa hys hom op sy tone om in die treingangetjie en my kompartement in te loer.

      Is daar baie Kleurlinge hierso in eerste klas? wil hy weet.

      Wat maak dit tog saak, Pa?

      Ek vra maar net, magties. Dis mos nie nodig om my nou met so ’n toon in jou stem te antwoord nie. Sê my bietjie, Konstant, wanneer gaan jy weer die kans kry om met my te praat, toe, sê my.

      Kyk! Dis hoe die mense hier maak. Enige bobbejaan weet dis húlle wat so kleinlik is, maar as jy iets daarop te sê


Скачать книгу