Ek stamel ek sterwe. Eben Venter
Maar ’n ent voor die kantoor maak hy sy elmboog op ’n baal leë goiingsakke gemaklik en begin die groen kwitansie in sy hand na die wit vrou agter die venster waai.
Dis nie meer die ou dae, dié van gatkruip nie. Jongboy korrel heeltemal verby my na tannie Trynie agter die glasvenster. Met my is hy min gepla.
Mies, skree hy stuitig, daai ureum hy’s klaar, hy’s net een sak daar.
Is dit die Afrikaans wat hy by ons geleer het?
Maar hoe’s dit dan nou moontlik? sug tannie Trynie. Hoe wys die ou computer dan ons voorraad staan nog, wag, laat my net weer kyk. Maar plotseling laat sy alles net so staan.
In die veilige hawe van haar kantoortjie reik tannie Trynie na haar glas water, drup ’n paar traantjies dokterstonikum of iets dergeliks daarin en sluk gulsig. Dan sak sy weer op die stukkie sponsrubber op haar stoel voor die computer neer en tipper-tipper, die ene bekwaamheid. Met so min moeite moontlik draai sy haar na Jongboy. Slegs haar linkerskouer draai effens agtertoe, ook die kop en nek net so skraps-skraps agtertoe sodat haar linkeroog sweerlik uit fokus op Jongboy te ruste kom.
Vier en twintig sakke ureum, lees sy af, vier en twintig, Jong-boy, vier en twintig behoort daar te wees, kyk julle nou nie weer half nie?
Maar Jongboy, wat steeds elmboog op die goiingsakke geleun lê, neem van haar geen notisie meer nie.
Nou gee dan maar vir die kleinbaas wat daar is, sê sy. Dan draai sy haar só ver om na my toe dat net haar regterarm nog op die lessenaar agterbly.
En ek herken daai soort kyk, die ene heulery: o, medevolksgenoot, jy moet tog met my saamstem dat daar nie salf aan hierie kaffers te smere is nie. Slapgat is hulle gebore, en slapgat sal hulle vrek.
Konstant, ek is nou baie jammer, jong. Jy moet maar vir jou pappie sê ons het nou nie genoeg ureum in voorraad nie. Ek kan dit nie verstaan nie. Sy beur swaar op: bring vir my daai vorm dat ek dit kan verander.
Velle vorm om haar elmboog as sy op die toonbank druk. Gaan myne ook eendag so los raak? Ou gedaan vel wat ál om haar funny-bone opdam. Ek kan sweer sy’t my gedagte gelees, ’n mens moet haar nie onderskat nie.
En sê bietjie vir my, Konstant, is jy nou hier om te kom boer? Kom jy jou pappie bietjie uithelp? Haai nee, wragties, hy verdien ’n blaaskans.
Nou waar val sy nou uit?
Hoor my, daai man het hom afgeslowe vir julle. Net om jou alie op universiteit te hou. Ek kyk jou pa lankal so. Al die jare. Nee, wat, dis nou jou beurt om hom bietjie van ’n blaaskans te gee. Die vaderhoormy, en sy stoot die kwitansie oor die toonbank na my toe aan, haar oog op myne.
Sy hou nie op, sy hou nié op nie. O, wragtag, tannie Trynie, waarmee neuk jy nou? Waddehel het jy nou daar gesê? Jy ken my nie. Ek voel hom, voel hom kom. ’n Vlaag vuur wat my voorkop bloedrooi in die brand laat staan, ’n hitsigheid wat my met geweld vat.
Maar my liewe aarde, Konstant. Jy laat my dan nou aan my kalkoe …
Ek kan my oorskulpe sién gloei, my keelvel ook. My baardstoppels kom orent. Turksvydorings. Ek kan jou nie meer sien nie, Trynie, jy drywe agter glas in meelwalms. Hoor jy my snaakse horte, Trynie?
Mar, mar, jy gaan tog nie iets onverantwoor … hè, Konstant?
Ek gaan, Trynie, ek gaan! Sien jy my opgeswelde hande teen jou venster druk? Kyk net hoe maak jou hangwange bewerasies. Nee, jou kantoordeurtjie is nie gesluit nie. Jy sluit hom immer, gewoontedier wat jy is. Net vandag het jy vergeet. Gedog jy kan my vertrou met jou lewe in die hande van die Liewe …
Ek kan nie langer na haar kyk nie. Na daai yl slaaphaartjies. Kyk af, af, dis nie nodig om in haar oë te kyk nie. Af, nóg affer: mooi glad gevat is die grein van die toonbank.
En waddehel het dit met jou uit te waaie, T-T-Trynie FokkenvanStraat? kry ek dit uit. Ek wens ek het nie gestotter nie; ek gee myself net weg. Waar’s my kwitansie?
Ditsem, spoeg ’n lekker groen ghwel teen haar trap. Sy kan bly wees dit was nie teen haar venster nie. Sal ek gaan? Ek, ek, wragtag, ek moet dit doen. Ek moet hier wegkom. Dis hoog tyd. Lekker hoog, lekker ver. Weg uit die kontrei, uit die land. Vir altyd. Die oomblik het gekom, ek wil besluit. Gee my net nog ’n rapsie tyd, net om nog ’n bietjie in te sluimer. Van uitslaap kom afstel.
Ek moet laaibank toe, my goed is seker al klaar daar. Ek het die kwitansie. My lyf is nat. Niemand kan vat aan my kry. Ek gryp die kwitansie en loop.
Wie is dit nou tog? Dis oom Dirk, oom Dirk Damplaas wat daar by die laaiwerf ingetrek het.
Ek kan nie vandag met oom gesels nie, sorrie, oom, ek weet oom se oë is die ene sagmoedigheid. Ons het voor hulle grootgeword.
Dag, Konstant, liewe magtag, maar kan ek jou nie ’n hand daar gee nie, Konnie, jy’s omtrent in ’n toestand lykkit my.
Seker maar, oom, seker maar koors of iets. Dag, oom.
Skei uit, oom Dirk. My sleutels? Oukei. Nee, ek weet die ureum is klaar, sê ek aan een van die laaiers. Oukei, als op, flap toe.
Oom Dirk, ek moet gaan.
Nee, maar groete aan ou Raster, hy’s my ou bulmaat, daai pa van jou. En aan jou mooi ma. En ry nou versigtig.
Versigtig se gat, oom. Die duiwel moet ek vandag gaan uitjaag. Jammer vir die stof, oom, maar my moer het gestrip, oom. Ek sal oom vanaand bel en om verskoning vra, want oom is nie ’n sleg oom nie, oom.
Wat’s dit nou met hom? Hy bal sy vuis vir my in die truspieëltjie. Ag, gaan bars jy ook, oom Dirk Drol. Net omdat ek jonger is, verwag jy ’n geja-oom, nee-oom. Dis te veel gevra. Onthou, dis julle oukêrels wat julle seuns geleer het om net so toornig soos hulle te word. En vir wat het die donnerse ou Trynie in elk geval met my geneuk? Ek gee nie om wat ek kwytgeraak het nie, gee nottehel om wat ek sê, nou of in die toekoms. Hierdie mense moet ook maar leer om hulle woorde te tel. Trynie het my gesoek en toe strip my moer. Wat het dit met haar te make of ek kom boer, of ek ooit in my hele lewe kom boer, of ek my pa kom help en daai soort kak. Waddemoer het dit met haar te make, dis wat ek wil weet? Wie gee haar die reg om my so te ondervra: jou pappie het hard vir julle klomp gewerk … Herre, sy kan bly wees ek het haar nie geklap nie.
Oop met die vensters, ek brand nog uit. Waar’s my sigarette? Ek gee nie ’n dêm om nie, vandag gebruik ek hierdie asbak in Pa se bakkie. Hy kan ook na die … sorrie, oom Dirk, ek het niks teen jou nie, maar jy moet ook maar leer alle mense is nie elke dag dieselfde nie. Hier moet ek weg, nee, o wragtag. Ek hoort buitendien nie tussen hierdie mense nie. Dis nie my mense nie. Weg? Vyf sakke ureum, vier sakke voermol, waddehel! Wat soek ek nog hier? Jou pappie het hard vir julle … Pappie nogal. Wie se pappie, vra ek jou. Sy kan gaan dinges, man. Dis al wat ek nog kortgekom het. Vanaand, vanaand. Ek gaan. Ek wou my lewe lank nog hier weg. Vanaand nog sê ek vir hulle ek waai. My plan is klaar. Ek’s môre sak en pak met die trein weg om nooit weer om te draai nie. Hulle sal hulle ore nie glo nie.
Dit gaan moeilik wees om my besluit bekend te maak. Wanneer, by aandete? Man, dan’s almal se ete opgekoffie, myne inkluis. Die kos kan mos so dik word in ’n mens se mond. Miskien ná ete. Ook Albert sal geskok wees. Ek weet hy’t vir ons saam die een of ander plan uitgewerk.Wasserman Broers en Kie. En Ma? Ek hoop nie sy huil nie. Sy sal seker maar. Blaas agter haar oge, nè, oupa Konstant. Jy’t geweet. Ma sal dit maar net moet vat. Vanaand of nooit. Dis mý lewe after all. En hier kan ek nie meer bly nie, o wragtag, daar sal niks van my oorbly nie.
Daar is vaalvleis vir aandete. Tjops wat stadig potbraai en dan met ’n skeutjie water op die stoof verder kook totdat hulle so sag soos murg is. Vaalvleis met wit rys, maar vir Pa is daar gebluste aartappels. Daar is ook gekapte komkommerslaai met swart peper en druiweasyn.
Ek is honger. Ek sal wag tot almal ’n tandestokkie uit daai silwerkelkie geneem het. Hy’s nie op tafel nie. Wie’t hom nou weer vir Ma-hulle gegee? Verdomp, wie gee om wie die kelkie hier aangedra het? Ek sal wag tot ná die ete, anders is almal se kos bederf. Tot daarna, voordat ek sê: Ek loop nou van die plaas af soos ’n slegte ding.
Ek bly dors van al die sweet vanmiddag. Dis al my derde bier,