Uit oerwoud en vlakte. Sangiro

Uit oerwoud en vlakte - Sangiro


Скачать книгу
ion>

      

      SANGIRO

      UIT OERWOUD EN VLAKTE

      Sketse uit die dierewêreld van Oos-Afrika

      Tafelberg

      Voorwoord

      In die volgende dieresketse speel die verbeelding geen rol nie. Die skrywer het getrag om die lewe en gewoontes van wilde diere, soos hy dié in vele jare leer ken het, eenvoudig weer te gee. Ook onder die wilde diere bestaan daar ’n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vervul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hulle uiterlike beweginge te verstaan.

      In die skets “Renosterlewe”, waar die verhaal oor ’n langer tydperk en ’n afwisselende toneel loop, het die skrywer verskillende gevalle tot een verhaal saamgevat; dog tot in die kleinste besonderhede berus dit op natuurware waarneminge en persoonlike ondervindinge.

      In “Die lotgevalle van ’n leeufamilie” is die gebeurtenisse, met uitsondering van gedeeltes van die laaste hoofstuk, nagenoeg letterlik opgeskryf soos hulle plaasgevind het.

      Die omgewings waarin die diere hulle beweeg, is in alle opsigte na die werklikheid geteken.

      DIE SKRYWER

Die lotgevalle van ’n leeufamilie

      Hoofstuk 1

      Wyd en stil lê die wildernis onder die betowerende kleuregloed van ’n tropiese sonsondergang. ’n Sagte purperrooi, wat allengs verdiep tot ’n donker ametis, kleur die bosryke kruine van die Koueberge en oorvloei die wye vlaktes wat rondom lê. Ligte miswolkies, wat telkens van onder af teen die berg opkruip, vang die aandskyn op en verander vir ’n oomblik in fyn, deursigtige gordyne, waaragter die berg donker gloei, om dan weer oopgeskeur en meegesleep te word deur die koue wind wat elke nag hierdie eensame toppe oorswewe.

      Ver benede aan die noordekant, tussen hoë blou berge, wat donker en geheimsinnig in die dynsige atmosfeer deurskemer, lê die Natronmeer, oorvloei deur die volle glorie van die skeidende son, wat reg agter hom in die berge wegsink. Die waterplasse in die uitgestrekte salpetermeer, eers nouliks sigbaar, verander nou in lewende massas van silwer en goud, wat treffend afsteek by die donker omgewing. Die swart kolle bosse en hoë papirus – lieflingskuilplek van soveel wilde diere – laat hulle van hier slegs in floue omtrekke herken.

      Die sterwende sonskyn sprei ’n vlugtige rooi oor die vlakte hier aan die voet van die berg. Verder af, in die doringlaagtes wat die lang uitgestrektheid na die meer hier en daar deurkruis, trek donker skaduwees reeds vinnig op.

      In lang rye kom sebras en hartbeeste na die drinkplek aangestap om hul dors te les eer hulle die oop veld opsoek vir die nag. Die water in hierdie geval is ’n fonteintjie wat uit ’n kloof van die berg kom en ná ’n kortstondige loopbaan van ongeveer honderd tree weer in die grond verdwyn; ’n streep groen gras, af in die vlakte, verraai sy verdere onderaardse gang.

      Sorgeloos en met knikkende hoofde stap die sebras aan; want van mense het hulle vir lange jare hier niks gewaar nie, en dis nog lig genoeg om die gevaar van leeus gering te maak. Hulle stap nietemin teen die aandwind aan, om nie verras te word nie. Dat die leeu hom selde by die water versteek, weet hulle goed; daarvoor is hy ’n te goeie jagter. Hy weet dat die wild altyd teen die wind op kom na die water en gemaklik sy reuk kry, waarna hulle dan eenvoudig omdraai en op ’n ander plek gaan drink. Dog by die terugtog moet dan gewaak word, en dis beter om maar betyds seker te maak dat die omgewing veilig is.

      Nie te ver van die water nie kom ’n breë sandsloot uit die berg en deurkruis al kronkelend die vlakte. Die trotse bome, met swaar ronde krone, wat hulle daaruit ophef en skerp afsteek teen die kaal grasvlakte, sou ’n vreemdeling laat vermoed het dat daar ’n sterk rivier moet loop. En as hy nader gekom en die wal afgegaan het, sou hy op sommige plekke maklik in die waan kon geraak het dat hy in ’n oerwoud is. Bo in die hoek tussen twee berge, waar die sloot sy oorsprong het, kom talryke klein reënslootjies van die berghange weerskante af na die sandsloot; in die reëntyd vorm hul bydrae ook inderdaad soms vir ’n paar uur ’n sterk rivier.

      In een van hierdie slootjies, ruig toegewas met struike en ranke wat van wal tot wal strek en ’n aangename koelte vorm, lê ons leeufamilie, wie se lotgevalle ons in die volgende bladsye wens te vertel.

      En waarom hier hoog teen die berg en nie daar onder in die skaduryke sandsloot, dig by die wild en water nie? – wyl die leeu hom hier veiliger gevoel; wyl hy ’n groot deel van die vlakte van hier kan oorsien en dus betyds naderende gevaar kan gewaarword; wyl die renosters wat op en af in die sandsloot wei, hom hier nie kan hinder nie; en wyl hy weet dat mense, ingeval hulle kom, altyd naby die water kamp. Hoewel hy gedurende die nag so ’n verbasende lewenslus openbaar, haat die leeu niks meer as in sy dagslaap gesteur te word nie.

      Daar lê hulle toe – op ’n rif onder ’n oorhangende wal, waar ’n gordyn van klimopranke oor val, met vensters hier en daar wat ’n blik gee op ’n gedeelte van die vlakte en die verre horison. Twee forse mannetjies, reeds oor die beste jare van hul leeftyd, twee wyfies wat nog in hul fleur is, en drie kleintjies, ongeveer ses weke oud. Die grootste, ’n geweldige maanhaarleeu, van wie die ruie hare wat langs hals en voor bene tot byna op die grond neerhang, reeds grysswart is, en wat een van sy groot slagtande mis, lê effe opsy en aanskou met enige belangstelling die stoeiery van twee van die kleintjies, wat hulle volgens die aard van klein katjies vermaak. Die derde kleintjie kyk ook toe, nog slaperig maar tog geïnteresseerd. Die ander mannetjie, aan wie twee slagtande ontbreek, lyk ’n weinig minder indrukwekkend, daar hy in stede van die woeste maanhare van sy maat slegs ’n swart kraag om die hals dra. Hy skyn nog vas aan die slaap te wees – so ook die twee wyfies, wat agter teen die wal lê.

      Ver benede tussen die donker berge skiet die son ’n laaste flikkerstraal oor die meer, toe verbleek die glans, en nou rys die bergmassas swart teen die rooi gloed daaragter op. Die maanhaar laat sy blikke oor die vlakte gaan; hy sien die awendskyn bo hom in die takkies speel en dink ná of hy nie sy gevolg sal wek en die jag begin nie. Verlede nag het hulle geen geluk gehad nie, hy voel hom deur ’n lewendige eetlus aangespoor.

      Opeens spits hy die ore. Wat was dit? – ’n dowwe knal ver onder in die vlakte! Sy oë neem opeens ’n ander uitdrukking aan; die onverskillige, half slaperige houding verdwyn. Nog ’n skoot! Dié keer het hy hom nie vergis nie. Hy rig hom half op in ’n sittende houding, en ’n onwillekeurige knor laat nou ook die ander leeus ontwaak. Die kraagmannetjie strek sy kragtige voorpote uit in die sand en gaap; die wyfie aan wie die kleintjies behoort, kyk onrustig na haar gesin en trek die ore plat toe sy die houding van die maanhaar sien; dit spel duidelik: gevaar! Want net so gemaklik as ons mekaar verstaan deur ons gedagtes in woorde mee te deel, begryp die diere mekaar deur die uitdrukking van gesig en deur die uiterlike houding.

      Daar val ’n derde skoot, en die eggo’s trek langs die berge weg soos ’n dreigende waarskuwing. Al die leeus sit nou regop en kyk mekaar afwisselend vraend aan of sien skerp uit na die kant van die vlakte; die kleintjies sit met onnosel gesiggies na die toedrag van sake en kyk. Maar alte goed onthou die ervare ou leeus die eienaardige skerp knal; dat dit in noue verbinding staan met die geheimsinnige mens, het hulle ook ondervind. Telkens as hulle die gehate rusverstoorders in gesig gekry het, dan het daar een of meer van die snerpende skote geval, en dan spat gewoonlik die sand om hulle op, of iets sny skreeuend langs hul ore verby. Toe eindelik een van die knalle ’n stekende pyn in die ou leier se nek veroorsaak het en daar bloed uit ’n wond vloei, het sy verwondering en eerbied oorgegaan in haat en vrees. Hier was eindelik ’n vyand met wie hy nie kon klaarkom nie. ’n Gevoel van haat en woede het hom by dié geleentheid oorweldig; maar hoe om ’n vyand aan te pak wat honderde treë ver staan en nie ophou met die koeëls om jou te laat fluit nie? Met smart en skaamte moes hy die wyk neem, ’n skuiling opsoek en daar sy pynlike wond lek. Toe een van sy twee wyfies nog die volgende môre by die terugkeer uit die vlakte dodelik getref word, het hulle die streek verlaat en hierheen gekom; en nou . . .!

      Die ou leier rys op, laat sak sy ruie kop tot by die grond, en stort sy langverkropte haat uit in diepdeurdringende, aanhoudende gebrul, wat tussen die berge afrol en ver oor


Скачать книгу