Uit oerwoud en vlakte. Sangiro

Uit oerwoud en vlakte - Sangiro


Скачать книгу
Die berge en kranse gee antwoord. Wel mag die jagter ’n trilling van aandoening voel waar hy luister na die indrukwekkende konsert.

      Ná hulle aldus aan hul gemoed lug gegee het, neem die ou maanhaar die leiding op hom, spring die wal af, en stap in die slootjie langs af na die sandsloot. Agter hom volg die twee wyfies, dan die kleintjies, terwyl die kraagmannetjie die agterhoede vorm. In ’n oop kol tussen die bome hier onder strek die leeus hulle een ná die ander in die koel dryfsand uit. Onderwyl die oues in die sand omrol, speel die kleintjies vergenoeg opsy. Dan gaan dit verder, geruisloos oor die droë bedding, wat al breër en vlakker word namate dit die vlakte nader.

      ’n Weinig laer af, waar net so ’n ruie reënslootjie in die sandsloot afloop, en waar so-ewe ’n diepe gekreun soos ’n dowwe weerklank op die gebrul van die vier leeus hier bokant gevolg het, ontmoet hulle ’n jong paar wat ook enige dae gelede hul intrek hier geneem het. Van dié feit is ons klompie leeus hulle bewus, hoewel hulle die nuwelinge voor vanaand nog nie te sien gekry het nie. Want gistermôre toe hulle van die vlakte af terugkeer, het hulle eers die vreemde spore hier ontdek, en vanmôre nog het hulle die twee leeus gehoor brul. Die ontdekking het in die ou maanhaar se kop ’n gedagte gebring wat hom nou by die onverwagte ontmoeting terstond weer te binne kom: so ’n jong paar is juis net wat hy nodig het! Maar alte dikwels het hy in die laaste tyd ondervind dat sy tande sleg word; en met sy ou maat was dit nie beter gesteld nie. Daarby het nog gekom dat sy wyfie in die laaste tyd vir die drie kleintjies moes sorg en hy haar hulp grotendeels moes ontbeer. Dit sou dus ’n groot aanwins wees om twee sulke rekrute in die geselskap op te neem.

      Die jong paar het net op die punt gestaan om in die sandsloot af te draai toe die klompie leeus om die draai skielik op hulle afkom. Die wyfie gaan sit, en die mannetjie, ’n prag-eksemplaar met silwergrou maanhare, staan reg voor haar in ’n versteurde houding; die ore half platgetrek en die stertkwas wat saggies heen en weer beweeg, verraai sy ontevredenheid. En daarvoor het hy inderdaad goeie rede: die gebrul van die ander leeus het daar juis net ’n pragtige elandkoei verjaag, wat oorkant teen die berghang met haar kalfie geloop het. En die kans vir bekruip was so mooi! Nou sal dit hom miskien ’n hele nag kos om op die oop vlakte iets in die hande te kry.

      Hier kom die ou maanhaar, swart en geweldig in die half-skemer, stadig oor die oop sand na die jong mannetjie toe. Hy is merkbaar swaarder gebou, en die ruie maanhare om die voorlyf maak ’n indruk wat sy uitwerking op die jong mannetjie nie mis nie; daarby spreek uit sy trotse houding soveel selfbewuste krag dat die jongere leeu onwillekeurig afkoel. Lank gewoond aan onbeperkte mag in sy wildgebied en aan die onderdanigheid van ander leeus wat van tyd tot tyd onder sy leiding gejag het, laat die onvriendelike houding van die jong mannetjie die ou maanhaar eers vreemd opkyk; dog hy soek toenadering, en alleen die effens gekromde rug en stert toon aan dat ’n uitbarsting enige oomblik moontlik is.

      Die wyfies het intussen gaan sit om te sien hoe die ontmoeting afloop, en die kraagmannetjie, gewoond om in alles by sy ou maat te wees, kom ook stadig nader. Die drie kleintjies sit in die rondte en kyk met verbasing van die een na die ander, verwonderd oor al die ernstige seremonies. Dit is hul eerste verskyning in vreemde geselskap.

      Sonder om mekaar reg in die oë te sien, het die twee mannetjies teen mekaar verbygeskuur, waarby die een die ander wantrouig besnuffel; en toe die maanhaar agter omstap, weer teen hom skuur, en ’n vriendelike “uuuummpf” laat hoor, was die jong mannetjie gewonne. Die kraagmannetjie gaan deur dieselfde beweginge, net ’n bietjie haastiger, want die maanhaar stap al verder; en nadat die twee wyfies ook die nuweling besnuffel het, is die kennismaking kompleet. Nee, nog nie heeltemal nie: die drie kleintjies is nie van plan om hul deel te mis nie! Die ondersoek is heelwat grondiger en meer sistematies in hul geval; en as die jong paar nie ongeduldig geword en die ander leeus agternagedraf het nie, dan sou die besnuffeling nog die hele aand kon aangehou het. Hul hele houding, onderwyl hulle nou so skeef-skeef wegdraf om die groot leeus in te haal, toon aan dat die kleintjies met hulself nog veel meer tevrede is as met die twee nuwelinge, en dat hulle ’n besef begin kry van wat dit beteken om onder so ’n groep te tel. Nege leeus! Inderdaad nie ’n mag om lig mee te reken nie.

      Onder ’n groot kameeldoringboom maak die ou leier halt. Hier lê die verstrooide bene van ’n giraf wat hulle verlede week gevang het. Die ongelukkige het hom te ver in die ruigte gewaag en is by klaarligte dag deur die vier leeus neergetrek. Die gras rondom is platgetrap. “Wat ’n fees was dit hier!” – so dink ons leeus, onderwyl hulle nog ’n oomblik tussen die bene rondsnuffel.

      Nog ’n ent gaan dit in die sand van die sloot langs, nou onder die skemerdonker van groter bome en bosse, wat die ylstaande bome en lae struikgewas van die skraler berggrond vervang. Daar kraak iets; en toe die maanhaar om ’n buiging kom, staan twee renosters reg voor hom in die hoë buffelgras. Die onplesierige humeur van hierdie bosreuse ken ons leier goed: daarom draai hy liewer uit en bestyg die wal.

      Voor hulle lê die oop veld, die breë vallei wat tussen lae bergrande uitstrek tot aan die meer, waar alles nou in donker skaduwees gehul is. Die skemering gaan oor in nag; die maan is reeds op, dog hou hom nog skuil agter ’n bank wolke aan die horison. ’n Honderd tree op die wal langs; toe kom die leeus by die gewone uitdraaipaadjie; en nou swenk die maanhaar links na die oop vlakte. Met gespanne aandag volg die ander leeus; die jag begin in erns nou.

      Op ’n klein kaal bultjie, nie ver van die sloot nie, staan ’n eensame ou hartbeesbul. Hy het reeds opgehou met wei en staar ons klompie leeus aan met ’n onverskilligheid wat bewys dat hy hulle verwag het. Dit is ook nie die eerste aand dat hy die spookagtige gedaantes soos skaduwees hier sien verbygly na die vlakte nie. Dit het by hom reël geword om ná sononder na hul koms uit te kyk. Van hul kant neem die leeus ook nie veel notisie van hom nie. Hulle het dan ook die onmoontlikheid van hom te verras, lankal ingesien, daar hy elke aand presies dieselfde posisie inneem – want so ’n ou bul, van watter diersoort hy ook mag wees, is geheg aan een plekkie.

      In die rigting van die fonteintjie klink die gerunnik van sebras, en heel natuurlik wend die ou voorloper hom daarheen; maar hy loop eers regs en maak toe ’n groot draai om onder die wind te kom. Dit volg vanself by leeus.

      Opeens kom die maan te voorskyn, en soos ’n golf van towerlig oorvloei sy glans die vlakte. Swart stamme van verspreide doringbome tree skerper te voorskyn, en oral word vorme sigbaar, wat miskien miershope of klein bossies kan wees, maar moontlik ook wild; en daarom verdien hulle ál die aandag wat die leeus op hulle vestig. ’n Verskrikte bok sou in sy vlug die ander wild ook waarsku, en dit sou hul kans op sukses baie geringer maak. Op hierdie oop terrein, inderdaad, sou die ou maanhaar liewers gesien het dat die maan vanaand ’n bietjie later opgekom het.

      Nog eer hulle so ver is dat hulle die wind kry, gewaar die leeus ’n talryke trop sebras op die streep groen gras reg onderkant die water. In gebukte houding, soveel as moontlik in die skaduwee van die enkele doringbome langs, sluip die leeus nader, tot op ongeveer honderd tree van die wild af. Wonderlik genoeg het hulle sover geen ander diere verjaag nie; en so wei die sebras, geheel verlief op die malse groen spruitjies en verder gerusgestel deur die vriendelike maanlig, met minder sorg en oplettendheid as gewoonlik.

      Hier, in die donker skaduwee van ’n groot doringboom, maak die ou maanhaar halt en kyk onbeslis rond. Die posisie is moeilik: geen skuiling bied kans vir bekruip nie; die gras is kort; en die maan skyn helder uit ’n nou onbewolkte lug neer. Hy kyk die kraagmannetjie aan, asof hy wil sê: “Wat nou?” Maar dié skyn ook nie raad te weet nie en het reeds gaan sit, onderwyl hy die wild met verlangende blikke aankyk.

      Die twee oues kan nie help om met ’n bietjie verlange aan hul vorige jaggebied terug te dink nie. Hoe maklik het dit daar altyd gegaan. ’n Breë moeras met staande water, waarin al die wild kom drink het; ’n akasiabos aan die een kant, waar uitmuntende skuilplekke volop kon gekry word; en verder oop veld met lae graskoppies hier en daar. Om by die water te kom, moes die wild dan noodwendig deur hoë gras gaan; en of hulle ook al sorg gedra het om altyd wagposte in die agterhoede te plaas, dit het selde gebeur dat hulle die sirkel wat vier leeus vinnig en onbemerk agter om hulle getrek het, sonder verlies kan bespring.

      Die plan is eindelik gemaak; in stilte trek die maanhaar met die jong paar terug op hul spore. Die ander leeus het verstaan; dit is ou taktiek. Hy sal naamlik omloop en van die ander kant probeer; misluk dit hom, dan vlug die


Скачать книгу