Uit oerwoud en vlakte. Sangiro

Uit oerwoud en vlakte - Sangiro


Скачать книгу
’n skoot val, deur die nou meer en meer astrant wordende maanhaar uitgelok, en hierdie keer spring die moederleeuin met ’n brullende angskreet in die lug. Sowat twintig tree verder haal die kleintjies haar weer in waar sy agter ’n donker bossie weggeduik het; ’n aanhoudende geknor, wat kort-kort in ’n briesende gebrul oorgaan en net afbreek as sy vir ’n oomblik ’n pynlike wond aan die agtervoet lek, toon aan dat sy nie van plan is om ’n tree verder te wyk nie.

      Ná die laaste skoot het die ander leeus weer stil verdwyn; dog slegs om weer van ’n ander kant af nader te kom. Die hoop opgee wil hulle nog nie. Meestal is ’n leeu wat honger het, in die nag onverskrokke en waag hy dit selfs om ’n os of esel te bespring wat deur ’n mens aan die riem gelei word; dog vannag is die maan so helder, en daarby brand die vure weer so groot, dat die jagters hul beweginge goed kan volg; dit merk die leeus wel aan die juistheid van die koeëls, wat altyd net daar gons waar hulle is.

      Daar begin die jong paar te brul! Noudat hul ergste honger gestil is, begin hulle eindelik aan hul vriende te dink. Waarskynlik sal dit ook wel die rumoer van die geveg hier wees wat hulle aan hul verpligtinge herinner het. Sewe leeus – ook die wyfie en die kleintjies het opgespring – staan nou skielik stil en luister: die gebrul daar anderkant is ’n boodskap, ’n uitnodiging van maats wat sukses gehad het. Die maanhaar het onder al die gedoente die twee leeus wat agtergebly het, welhaas vergeet; aangenaam-verrassend val die klanke plotseling op sy gehoor. Drie maal laat hy ’n diepe, vérdraende “uuummppf” as antwoord hoor; toe gaan hulle op ’n vinnige draf onderom die kraal op die gebrul af.

      Hulle is egter nouliks ’n paar honderd tree weg, of die maanhaar buk skielik laag en staar onbeweeglik op ’n vaal voorwerp reg voor hom. Die ander leeus volg onmiddellik sy voorbeeld. Wild is dit – hiervan is hulle almal oortuig; maar dood of lewendig? ’n Jakkals, verskrik deur ’n ligte geruis wat een van die klein leeutjies in die gras veroorsaak het, spring opeens te voorskyn agter die dier waaraan hy stil gelê en eet het, en los meteens die spanning op. Die geluk het die leeus reg op ’n dooie sebra aangevoer; of was dit die ongeluk? Die laaste seker, meen ’n teleurgestelde vos, wat nou al sy skone vooruitsigte omtrent ’n nag van feesviering en ’n week sonder kommer daarna opeens so wreed versteur sien. En dat Reinaert in sy mening nie heeltemal verkeerd was nie, sou die môrelig weldra openbaar.

      Met die geesdrif deur ’n kwaaie honger ingegee, val ons lang-getergde klompie leeus nou op die dooie dier aan.

      Af en toe het die jong paar weer hul stemme laat hoor; en teen halfdrie, toe daar niks meer as ’n paar bene en die nek van die sebra oor is nie, trek die maanhaar met sy wyfie en die kleintjies daarheen. Uit die aard van die herhaalde gebrul kon hulle wel goed verstaan dat die jong paar geluk gehad het; en die ou leier voel dat nog so ’n paar lekker happe hom nie eintlik kwaad sal doen nie.

      Die kraagmannetjie en sy wyfie bly by die geraamte lê. Vir ’n geruime tyd ná die ander leeus weg is, laat geen geluid, behalwe die gekraak van bene, hul teenwoordigheid vermoed nie.

      Die maan, glansend skoon tot op die laaste, is eindelik agter die bergkruine weggesink, en die ganse vallei, met sy duisende wilde inwoners, is skielik in donker en geheimsinnige skaduwees gehul. Die môrester, vir ’n kort oomblik in alleenheerskappy gelaat, skitter met ongewone helderheid hoog teen die donker lug. Sou die leeus sy vriendelike waarskuwing in ag neem?

      ’n Ander ligpunt neem van die kraagmannetjie se hele aandag nou besit. Onrustig blik hy na die kampvuur, wat daar so-ewe weer opgelewe het. Dat die buit aan die mense behoort, het hy aan die reuk wat by hul aankoms nog om die sebra te bespeur was, vasgestel; en dit laat hom vrees dat die terugtog na die sandsloot miskien kan afgesny word. Toe die môreskemering effentjies merkbaar begin te word, groei sy onrus sterk aan. Reeds het hy ’n paar keer opgestaan om die terugtog te begin; maar die wyfie skyn nie geneig om van die geraamte nou al afskeid te neem nie.

      Daar dreun opeens die geweldige stem van die ou maanhaar, en kort daarop die gebrul van al die leeus by hom. Die herhaling daarvan ’n bietjie verder af toon aan dat hulle op die terugweg is. Die kraagmannetjie haal ook nou ’n paar van sy diepste note uit en stap dan beslis weg. Eers as hy ’n ent weg is, spring die wyfie skielik op en draf agterna.

      Regs van die kamp draf hulle nou verby om op die spoor van die ander leeus te kom. Toe hulle die bultjie oorgaan, word die kraagmannetjie geruster. Voor hom lê ’n kort gelykte, begrens aan die ander kant deur die sandsloot, waar dit veilig is. Sy tevredenheid en lewenslus vind nou uiting in ’n aanhoudende gebrul, wat weldra bo uit die sloot beantwoord word. Die ander leeus is dus al daar.

      Het hy maar stilgebly! Nouliks was hulle van die sebrageraamte af weg, of dit het begin lewe in die kamp van die jagters. ’n Oomblik later het twee figure agter ’n boom nader gesluip tot by die dier, wat hulle daar laat lê het as ’n lokaas vir leeus, en ontdek dat hulle te laat was. Snel het hulle toe ook die dooie gemsbok besoek, maar ook vergeefs: die ou maanhaar was daar aanvoerder! Dit was net toe dat die kraagmannetjie kort agter die bultjie brul. ’n Oomblik later val die skote van die heuweltjie af.

      Die wyfie gee ’n smartvolle brul, spring hoog in die lug, hardloop soos ’n rasende nog ’n paar tree voort en slaan dan teen die grond neer; onderwyl sy woedend brul en vergeefs trag om op die been te kom, fluit die koeëls om die mannetjie. ’n Oomblik staan hy asof versteend; woede oormeester hom; en as hy die jagters op hierdie oomblik kon sien, dan sou hy gewis stormloop. Maar die heuweltjie is ver, en die jagters onsigbaar; dit is reeds dag, en die sand spat om hom … Met ’n dreigende gebrom begin hy in lang galop die vlakte oor te steek.

      Eer hy die sloot bereik, kyk hy weer om. Daar kom hulle aan, die gehate wesens! – reguit na sy wyfie toe, wat nou in die laaste stuiptrekkings worstel, onderwyl die geroggel in haar keel van hier nog hoorbaar is.

      Met ’n gevoel van magtelose woede spring hy eindelik in die sloot en draf onder die groot bome langs op na die vorige skuilplek.

      Hoofstuk 3

      Die maanhaar en sy geselskap het die skote gehoor en sit regop voor die ingang van hul rusplek. Almal tuur vol verwagting af in die vlakte; alleen die kleintjies, vermoeid ná ’n nag van ongewone inspanning, het hulle op die wal in die eerste môrestrale uitgestrek en lê reeds in vaste slaap, die voetjies na elke rigting uitgestoot.

      Daar klim die kraagmannetjie uit die sandsloot reg onderkant hulle en kom nader … alleen! Sodra hy hulle bemerk, laat hy ’n klaende “aaaôôuu” hoor en kyk af na die vlakte om te sien of sy wyfie nie miskien nog van ’n ander rigting aankom nie. ’n Halwe minuut staan hy so; toe laat hy ’n gedempte knor hoor en kom stadig nader. Elke vyf of ses tree gaan hy staan om eers weer te kyk. Eindelik skud hy met ’n ongeduldige beweging die dou van sy kop af en sluit by die ander leeus aan.

      Nog lank sit hulle daar – nugter, ofskoon die slaaplus oorweldigend begin te word. Die ou leeus verstaan wat met die ongelukkige wyfie gebeur het. Die skote eers, die kraagmannetjie se gedrag daarna, en nou die lang wegbly van die wyfie – dit alles het maar een verklaring. Die ou maanhaar, veral, onthou nog goed hoe hy nie baie lank gelede nie ’n dergelike verlies gely het. Hulle onthou almal ook dat die mense dikwels op hul spore volg; en die vrees dat hulle in die slaap verras word, hou hulle nog wakker.

      Toe ná ’n uur nog niks van die mense te sien of te hoor was nie, gaan die leeus een vir een lê. Alleen die kraagmannetjie bly sit. Onophoudelik staar hy af in die vlakte, onderwyl sy nekhare nou en dan rys en ’n kreun aan sy bedrukte gemoed ontsnap. Moes hy dan so wegvlug?

      Dog toe die son hoër klim en warmer word, begin die slaaplus eindelik vir hom ook te sterk te word; en toe twee renosters in die sandsloot afgestap kom en reg onderkant hom gaan staan en wei, word hy meer gerus en gaan lê. Dié twee ferme wagposte sou wel betyds die nodige waarskuwing gee. Met sy swaar kop op die uitgestrekte voorpote neergelê en sy vakerige oë reeds toe, skyn dit of die ou leeu onmiddellik in slaap val. Maar ’n ligte trilling van sy senings nou en dan toon aan dat die gebeurde nog in sy gedagtes is; en ná ’n rukkie maak hy sy oë weer half oop om ewe die beeld van die vlakte daarin op te neem. Hy kan nog nie reg tot rus kom nie.

      “Pffrrr!”


Скачать книгу