Uit oerwoud en vlakte. Sangiro

Uit oerwoud en vlakte - Sangiro


Скачать книгу
kleintjies neem hul kans waar om te drink onderwyl die wyfies lê; dog toe een, met die stoeiery vir die beste plek, ’n knor laat hoor, kry hy ’n vry harde klap van sy ma. Selfs klein leeutjies het lesse om te leer, en ons drietal moet onthou dat hulle nie die enigstes is wat vanaand honger het nie. Net ’n paar weke nog, dan kom die instink van die roofdier sterker te voorskyn en sal dit nie meer nodig wees om hulle daaraan te herinner dat op die jag nie mag geraas word nie.

      Geruime tyd is alles stil. Vreedsaam wei die sebras in die maanskyn, onbewus nog van die teenwoordigheid van die gevaarlike roofdiere. Die maanhaar het teruggesluip tot hy byna reg teenoor die ander leeus staan, met die sebras tussenin. Verder durf hy nie gaan nie – dan ruik hulle hom. Ongeveer twintig tree van die naaste sebra is ’n groot miershoop. “Sou hy dit ongesien kan bereik en van daar die naaste een byloop?” Die kans lyk baie swak; te meer daar ’n ou wildebeesbul, wat nou net van die water af kom en van plan was om vir die nag by die sebras aan te sluit, daar skielik as versteend bly staan, met die gesig strak hierheen gewend. Hy moet iets gemerk het – dit sien die ou leeu; en hy weet dat daar nou nie tyd is om te aarsel nie. Versigtig sluip hy nader. Die jong paar bly agter ’n klein bossie lê; hulle begryp dat hier hul teenwoordigheid hinderlik sou wees en die kanse verminder. Ook begin hulle reeds vir die ou leier groot agting te voel; sonder geluid of teken het hulle sy plan verstaan.

      Soos ’n skaduwee oor die grond het die ou leeu reeds die helfte van die afstand na die miershoop afgelê . . . daar vlieg ’n paar kiewiete skreeuend voor hom op! Die sebras skrik, die leeu val plat; maar een het opsy gedraf en … kom onderkant die wind. Een snork … daar gaan hulle, reguit na die ander leeus.

      In spannende verwagting, die lede krampagtig bewende, wag die drie leeus die aanstormende sebras af. Dog vergeefs; op twintig tree dreun die trop verby in volle vaart. “Om hulle so te laat gaan sonder eens ’n poging te waag!” Die kraagmannetjie ontspan sy kragtige senings, vlieg voort, en is met ’n paar geweldige spronge kort agter ’n sebra. Hulle het hom egter dadelik gewaar en swenk in verwarring links weg. Twintig tot dertig tree bly die kraagmannetjie op die beangste dier se hakke; dog hy kry nie kans om te spring nie.

      Met ’n paar brulle, kortaf en dreigend, steek hy vas en kyk half beskaamd die vlieënde gedaantes ná. Die opgewondenheid en lus het hom sy leeuwaardigheid sover laat vergeet dat hy werklik agter wild aan gehardloop het en dit vergeefs! Sy stertkwas piets krampagtig heen en weer; toe laat hy ’n ergerlike gebrom hoor – “arruau” – en stap langsaam terug.

      En ver oor die maanligvlakte proes en runnik ’n uitgelate trop sebras teen die aandwind.

      Hoofstuk 2

      Ofskoon hy self so naby die sebras was dat hy die swart en wit strepe op hulle kon onderskei en reeds in verbeelding die warm bloed wat onder die glansende velle klop, gesmaak het, het die ou maanhaar nie ’n tree versit toe die trop wegstorm nie. Die ervare ou leier het homself slegs baie selde sover vergeet om agter gewaarskude wild aan te hardloop, en dan alleen wanneer sy humeur deur herhaalde mislukkings te veel op die proef gestel was. In sy jong dae het hy ook wel eens, soos elke ander jong leeu, toegegee aan ’n te grote opgewondenheid, wat in nege uit die tien gevalle ’n vernederende mislukking ten gevolge gehad het en hom dan telkens weer tot dieselfde besluit laat kom het: om kalm te bly en sy kans af te wag; daarby is hy nie meer so rats en lig van lyf nie. Deur ondervinding het hy meer en meer geleer om op slim oorleg en sy noukeurige kennis van die wild en hul gewoontes staat te maak. En dat hy dit ver gebring het in die jagkuns, daarvan getuig die geraamtes wat oral hier in die gelyktes rondlê, sommige van hulle op die kaalste plekke, waar ’n verrassing byna nie moontlik skyn te wees nie.

      Met groot belangstelling het hy die poging van die kraagmannetjie gadegeslaan: ook sy ou maat sou nie sommer sonder rede hardloop nie! In sy gretigheid om die afloop te sien, het hy opgespring en sy voorbeeld is onmiddellik gevolg deur die jong paar, wat met gespanne oë die beweging van die kraagmannetjie volg; met bekke half oop, die ore platgetrek, en die lyf ineengekrimp, is dit of hulle die beslissende spring wat die kraagmannetjie op die rug van sy vervolgde prooi moet neerbring, wil verhaas. Dog die sebra gly onder sy vervolger uit, en teleurgestel stap die drie oor die grond waar ’n oomblik tevore die sebras gewei het en waar hul reuk nog tergend warm is, terug na die ander leeus. Die kraagmannetjie het ook weer aangekom. ’n Dowwe gebrom wat hulle binnensmonds laat hoor, is ál teken wat tussen die twee ou mannetjies gewissel word toe hulle bymekaarkom.

      Die mislukking het almal se eetlus verskerp; hulle voel dat hulle tot elke prys vannag iets moet kry. Verder af in die vlakte dus; maar nou op ’n kort draffie. Die spookagtige stilte waarmee elke beweging gepaardgaan, waar die grimmige gedaantes nou omdraai om ’n ander rigting in te slaan, is veel meer onheilspellend as die indrukwekkende aankondiging by hul uitvaart uit die skuilplek daar bo in die donker berghoek. ’n Ou hiëna wat elke nag gereeld op hul spore volg, word onverwags deur een van die leeus tot sondebok gekies. Sy teleurstelling toe die aanval op die sebras misluk, was nie minder groot as dié van die leeus nie; en vir ’n oomblik het hy misnoeg bly sit en vergeet om sy gewone eerbiedige afstand in ag te neem. Een van die ouere wyfies was reeds dig by hom en sou, volgens sy mening, verbystap, agter die ander leeus aan. Toe sy met ’n sywaartse sprong en dreigende gebrom skielik op hom toeskiet, was sy skrik so groot dat hy net een benoude skreeu kon uitkry eer hy halsoorkop deur ’n streep bossies tuimel; en vir ’n hele paar minute daarna was hy nog so aamborstig dat sy gehoes deur die leeus kon gehoor word.

      Toe hulle ’n bietjie verder af ’n laagte deurgaan en juis op die vars spore van wildebeeste kom, bemerk die leeus links op ’n bultjie elf girafs, in ’n kaalte waar net ’n enkele doringboom hier en daar sy skraal swart stam en donker kroon verhef. Hulle kom ook van die water en stap nou af na veiliger weiveld; die ruier akasiabosse, wat klompieswys in die omgewing van die fontein staan, het hulle vir die nag vaarwel gesê. Van hier uit die laagte gesien, beweeg die donker gestaltes hulle soos silhoeëtte, hoog teen die maanlighemel.

      Die ervare ou leeus sien dat dit nuttelose tydverkwisting sou wees om hier ’n poging aan te wend en hou derhalwe op die wildebeesspore aan. Hulle het meer as een keer, op ’n veel ruier en gunstiger veld, dit moeilik gevind om hierdie verbasend skerpsinnige diere aan die lyf te kom. Die jong mannetjie, egter, dink anders. Die onmiddellike nabyheid van die girafs werk op sy begeerte sterker as die hoop om die wildebeeste te kry. Onderwyl die ander leeus verder draf, bly die jong paar agter; en ná ’n rukkie begin hulle versigtig die girafs voorloop, al in die laagte langs.

      Sy plan was goed, maar die jong mannetjie het te veel aandag aan die girafs gewys en die veld nie genoeg bespied nie. Reeds het hulle byna die punt bereik waar die girafs die laagte moet deurgaan, en waar ’n klein reënslootjie hul hinderlaag gunstig is, toe ’n paar gaselle skielik hul snuiwende alarmklank laat hoor en lugtig oor die veld spring, by die girafs verby. Met ’n halfluide steun val die leeus plat. Die girafs staan roerloos – die naaste een soos ’n versteende beeld teen die lug.

      Tien minute gaan verby, vyftien – ’n halfuur; en nog geen verandering nie. Die voorste giraf het sy kop effe gedraai, net vir ’n oomblik, toe die geluid van ’n hiëna skielik en duidelik die stilte verbreek; eindelik geheel van sy skrik bekom, het die ou wolf genoeg moed geskep om uit die verte te “boe”. Die toestand word vir die twee leeus ondraaglik; moet hulle die hele nag dan hier lê, onderwyl die girafs waghou en hulle elke beweging belet?

      Eer die jong mannetjie kan beslis of hy dit sal opgee en die ander leeus volg, of langer bly lê tot die diere weer gerus is, begin hy ’n sterk vleisreuk gewaar te word. Die windjie het so-ewe omgespring en vertel nou aan die hongerige leeus dat nie alte ver nie een of ander dooie dier moet lê. Sonder verdere aarseling spring die twee op en volg instinkmatig hul neuse; die reuk van vars vleis lok, en die girafs en ander leeus is vergeet.

      Ofskoon die bokkies hulle die rigting van die gevaar aangewys het, kon die girafs die twee leeus nie ontdek nie; en ’n ligte skok vaar deur elkeen toe die gevreesde teenwoordigheid openbaar word. ’n Oomblik nog staar hulle bewegingloos op hul gevaarlike vyande, wat skynbaar so uit die grond te voorskyn gekom het en nou onbekommerd by hulle verbydraf; toe draai hulle skielik om en trek stertswaaiend af in lang galop.


Скачать книгу