Uit oerwoud en vlakte. Sangiro
asof hulle wil vasstel watter soort van wild hy eintlik mag wees.
Beurtelings het die groot leeus uit die opening probeer haal wat hulle kon; en ofskoon dit nou so diep uitgeëet is dat hals en kop daarin verdwyn en hulle nie anders dan klein stukkies vleis meer kan losskeur nie, voel hulle tog almal vir vannag tevrede. Die tussenpose word deur dié wat hul beurt afwag, gebruik om die omtrek te bespied of in die sand te rol. Tussen die ou maanhaar en die jong mannetjie is die vrede ook weer geheel herstel. Almal verkeer in ’n besonder goeie stemming, want hulle het uitgereken dat die groot stuk wild hulle nog vir verskeie dae van alle moeite en kommer sal ontslaan. Hier in die ruigte sou dit wel gaan om die aasvoëls – wat op die kaal vlakte altyd alles wat van hul vangs oorbly, met die eerste lig laat verdwyn – op ’n afstand te hou; en met hiënas, ingeval hulle die reuk kry en van onder af uit hul skuilplekke hierheen kom, kon ook wel ’n plan gemaak word.
So het ons klompie leeus hulle dit alles baie mooi voorgestel. Selfs hul gevaarlike vyande, die mense, word deur hulle vir ’n oomblik vergeet; en toe die drie mannetjies teen vieruur een ná die ander begin te brul, was dit niks anders as voldoening en die uitbundigste lewenslus wat daar in hul diep-uitdreunende stemme tril nie.
Die twee ou mannetjies stap onder die skaduwee van die akasia uit in die volle maanlig en begin die grond met hul naels oop te skeur. Hierdie oefening maak hul naels skerp, en terselfdertyd gebruik hulle die losgemaakte grond om ’n droë bad in te neem. Onder veel gesteun en gekreun rek en rol die twee oues om en om, en eindelik bly hulle nog ’n rukkie lui uitgestrek lê.
Die stilte van die nag se laaste uur heers alom. Die twee leeus het hul koppe opgerig en skyn nou aandagtig te luister: hulle soek na die eerste tekens van die naderende dag. Die ou maanhaar wil weggaan eer dit lig word, en hy voel dat die dag haas gaan aanbreek. Dis of die leeu ’n ekstra sintuig het, waarmee hy die nadering van die dag presies weet te bespeur nog voor daar iets van merkbaar is – vir die menslike sinne ten minste.
Onder die boom is alleen die jong paar nog besig met eet. Die maanhaar se wyfie het begin onrustig word en staan nou onbeslis halfweg tussen die renoster en die twee ou mannetjies. Die pyn wat deur die koue môrelug in die oop wond aan haar voet veroorsaak word, het verhinder dat sy die gevaar sou vergeet; en sy het daar skielik gemerk dat ’n aasvoël wat oorkant op ’n doringboom swart teen die lug afsteek, sy vere al begin regskud. Die kleintjies, intussen, oor wie sy eintlik die meeste besorg is, het begin slaperig word; en daar hulle meen dat hierdie plek net so goed is as enige ander, lê twee reeds en slaap teen die boomstam, waar hulle die grond losgekrap en vir hulself ’n behoorlike lêplekkie reggemaak het; die derde een sit nog regop op die kop van die renoster en kyk hoe die twee leeus eet. Die uitskeuringsproses skyn skielik sy bewondering in die hoogste mate gaande te maak.
Die twee ou mannetjies het intussen opgestaan, die sand van hulle afgeskud, en begin nou verlaas, eer hulle afskeid neem, nog eens na hartelus uit te brul. Hul opwekkende môregroet werk aansteeklik; een ná die ander val die ander leeus ook in, tot weer ’n volle leeukoor die berghoek laat dreun en weergalm. Verskrik verlaat die aasvoëls hul sitplekke in die bome rondom en vlieg die donker lug in; en ver onder uit die vlakte, waar die maanlig verder en verder oor heenvlug, kom die antwoord van twee ander leeus.
Nouliks is die ou maanhaar se growwe, gedempte endnote – “uuuummppf – uuumpf – mmmff” – dof soos ’n eggo in die verte weggesterf, of hy verdwyn met sy wyfie en die kleintjies oor die wal in die ruigte van die sandsloot, gevolg deur die kraagmannetjie, wat goeie rede het om die verstandigheid van ’n tydige terugtog in te sien. Die jong paar, wat minder kans gehad het om te eet en nog nie soveel ondervinding met mense opgedoen het nie, bly by die renoster.
Ná ’n rukkie, toe dit reeds begin lig word, gaan die mannetjie naas die renoster lê en wag geduldig en sorgeloos tot die wyfie sou klaar wees – sorgeloos, want hy meen dat hier bo in die ruie hoek tog geen gevaar van mense kan wees nie, veral nie in die skemermôre nie.
Die jagters het intussen aan die gebrul van die ou maanhaar, hoër op in die sloot, gemerk dat die leeus die renoster reeds verlaat het, en het versigtig op die wal tussen hoë gras langs gekruip tot op ongeveer tien tree van die renoster af. Op dieselfde oomblik toe die maanhaar met sy geselle die dwarsslootjie bereik en nog in twyfel staan of hulle die dag weer op die krans sal deurbring, of dit liewer maar waag om hier in die ou rusplek onder die wal in te kruip, van waar hulle kan sien wat by die renoster aangaan, spring die wyfie luid brullend in die lug, met ’n koeël deur die hart. Die verskrikte mannetjie, wat agter die renoster deur die jagter nie kon gesien word nie, is met een enkele sprong in die sloot, terwyl sy ongelukkige wyfie, in haar poging om hom te volg, nie verder as die wal kom nie, waar sy in wanhoop haar tande in die pynlike wond inslaan en onderwyl afwisselend woedend brul en jammerlik klae. Ná ’n minuut is dit uit met haar.
Die jong mannetjie het terstond onder ruie struikgewas ingeduik en laat hoor nou herhaaldelik ’n eienaardige geluid – “uuuupp” – waarmee leeus mekaar roep as hulle nie te veel geraas in teenwoordigheid van gevaar wens te maak nie. Maar hierdie keer roep hy tevergeefs; en toe twee donker gedaantes bokant hom op die wal verskyn en ondersoekend in die bossies afkyk, kruip hy stilletjies dieper in.
Die jagters het die nutteloosheid van verdere moeite ingesien, daar hulle geen honde by hulle het nie; en so vertrek hulle ná ’n rukkie weer. ’n Halfuur later kom enige swartes aan om die vel van die dooie leeuin af te slag. Dog toe hulle naby kom, rys skielik die dreigende gestalte van die mannetjie naas die wyfie op; en in verwarring ontruim hulle die veld.
Die leeu doen vergeefse poginge om sy gesellin tot die lewe terug te bring. Onderwyl hy met sy voorpoot aan haar krap, net soos hy dit dikwels uit speelsheid en by weersydse plaery gedoen het, laat hy herhaaldelik ’n sagte, half klaende “aaôôuu” hoor; toe stap hy radeloos ’n keer of twee om die gevoellose liggaam, lek aan die bloedige wond, stap ’n paar tree weg en roep weer “uuuupp”, asof hy haar wil beweeg om hom te volg. Met ’n klaende geluid vly hy hom eindelik naas haar neer, die oë gerig na die bergpunt waar die swartes om verdwyn het.
Nie te lank nie, of daar kom hulle ook werklik weer aan, maar dié keer vergesel van die twee wit jagters. Die laasgenoemde feit het die leeu dadelik opgemerk; en onderwyl hy boosaardig deur sy snorbaard brom, spring hy in die sloot en gaan digby onder ’n oorhangende wal lê. Weldra hoor hy die dowwe voetstappe van die mense reg bokant hom en sien hul donker skaduwees hier voor hom op die bossies val. Onwillekeurig begin hy te knor en verraai daardeur sy skuilplek. ’n Oomblik later spring hy ontsteld op, want in die sand van die sloot hoor hy duidelik versigtige voetstappe aankom; en onderwyl hy met die stert krampagtig heen en weer piets en nog onbeslis is of hy sal storm of vlug, hoor hy reg agter hom van die bokant af ook voetstappe nader kom. Terselfdertyd kraak die bossies op die wal oorkant waar die swartes langs kom. Hulle wil hom vaskeer! Dit is eenmaal te veel. Met ’n kortaf, dreigende “grrrôôau!” vlieg hy die wal uit waar die terugtog nog oop is. Hier spring hy hom byna teen die een jagter vas, wat ’n bol grond onder hom uitskiet, deurkruis met ’n paar lang hale die klein openinkie waarin die renoster lê, en verdwyn in ’n sytakkie van die sandsloot.
Selfs nou gaan hy nog nie die ander leeus opsoek nie. Toe die jagters hom hier ook agtervolg, gly hy onder die ruigte deur terug tot waar die slootjie weer in die sandsloot loop. En so speel hy heen en weer nog ’n rukkie voort in die gevaarlike soort van wegkruipertjie, waarby die jagters hom nog ’n paar keer te sien kry; maar altyd is hy weg nog eer die oog sy volle beeld kan opvang. Alleen weg te vlug en sy wyfie so agter te laat – dit kan hy nie; inderdaad, was die oormag nie so groot nie, dan sou hy wel glad nie aan vlug gedink het nie. Maar die gebeurtenisse van die laaste twee dae: die dood van die renoster, die verdwyning van die kraagmannetjie se wyfie, en veral die toestand van sy eie wyfie nou en die skoot op homself – dit alles het saamgewerk om sy gewone selfvertroue geweldig te skok en hom vir die oomblik van alle moed teenoor hierdie astrante vervolgers te beroof.
Eindelik is die swartes klaar met die slagtery en almal, ook die jagters, vertrek weer na die kamp onder in die vlakte. ’n Hele rukkie ná dit stil geword het, duur dit eer die leeu dit waag om sy skuilplek in die ruigte van die sandsloot te verlaat en hom weer op die wal onder die akasia