Vatmaar. AHM Scholtz
geen sprake nie. Ek het al die koppies tot op die rand volgemaak, en party mans het bekers gehad wat ek ook propvol gegooi het. Toe is die vleis aangedra. Groot stukke, bo-op ’n bord vol pap. Daar was nie genoeg borde nie en die jong meisies moes na hulle hutte toe hardloop vir meer hol goed.
Na die grootvreet het van die jong vrouens blikbekers en dopemmertjies bojalwa, bier, gebring. Die hoofman moes eerste drink. Hy het sy koppie toe vir George aangegee, wat dit na ’n paar mondevol weer vir my gegee het. So is dit in die ry af. Die meisie het staan en wag dat die emmer leeg word sodat sy dit weer kon gaan volmaak. Maar daar het deurentyd ’n ander meisie agter haar reggestaan met nog ’n vol dopemmer of beker.
Na ’n rukkie het die manne een na die ander begin opstaan en agter ’n yslike groot klip weggeraak. Dit is die pisklip genoem – net vir groot manne. Toe het hulle gedoen wat alle dronk mans doen, maak nie saak waar hulle is nie, hulle het almal tegelyk begin praat.
George het vir my met sy oë beduie om nog ’n rondte brandewyn uit te deel. Ek het net soos die eerste keer gemaak, totdat daar geen brandewyn oor was nie. Die ngosi kon nie meer woorde by sy mond uitkry nie en hy is saam met ’n paar van sy mense na hulle hut toe. Party gaste het sommer geslaap waar hulle sit.
Ons afspraak met die hoofman en oupas was dat George sy nuwe vrou voor sononder met die kapkar na die kamer wat hy in Du Toitspan gehuur het, kon neem. Ek het by die Cloetes oorgebly wat ek van voor die Boere-oorlog geken het. Al Ruth se besittings was in ’n meelsak. Dit was nie maklik om gegroet te kry nie, want die gaste was baie plesierig en het aanmekaar “Dumela, dumela” gesê.
Na die troue het George en Ruth gereeld haar mense besoek, maar na ’n paar maande net as ’n familielid van haar doodgaan. Haar mense het gesê sy behoort nie meer aan hulle nie. Sy het meer George geword as Ruth.
Na hulle sesde huweliksmaand het hulle in Vatmaar kom bly.
Ta Vuurmaak vertel hoe alles begin het
Die Sondag na die volgende pensioendag was ons weer by Ta Vuurmaak se cabin en hy het ons meer van sy waarheid oor Vatmaar vertel:
Terwyl ek in die Pan, soos Du Toitspan genoem is, was om twak, vuurhoutjies en ander dinge te koop, het Ta Vuurmaak gesê, loop ek een van onse boys wat aan die Queen behoort het, raak. Hy het my vertel dat Chai ’n witman se werk gekry het. Ek het toe by die dorpsraadskantoor gaan wag tot dit tyd vir Chai was om te tjaila.
Toe hy my sien, gee hy my twee pond om te koop wat ek nodig het en terug te gaan en onse aardse besittings verder op te pas.
Daai Saterdagmiddag het Chai my by my kaija kom sien. Hy het ’n bottel sjerrie saamgebring en hy het my vertel hoe hy aan die plan vir Vatmaar gekom het. Vatmaar was die naam wat ek aan sy en Corporal Lewis se gesteelde goed gegee het. Nou het hy sommer die plek ook so genoem.
Chai het glo een nag terwyl hy wakker gelê het, die plan gekry vir wat die Engelse ’n settlement noem. In sy gedagtes het hy die plek naby die vlei gesien.
Ek het met George daaroor gepraat, het Chai gesê, en hy het gesê hy sal graag op sy eie saam met Ruth wou bly, opsy van sy én haar mense. Want sy gaan ’n bybie kry. George het weer met sy army-captain gaan praat. Die twee het mekaar goed verstaan. Die captain het beloof om die saak op die agenda vir die aankomde vergadering van die myn-company en die dorpsraad te sit.
Op altwee vergaderings is goedgekeur dat daar ’n nedersetting op die myn se grond kan kom – vyf myl buite Du Toitspan, naby die vlei wat binne Du Toitspan se dorpsgronde val. Dit sou ’n buitewyk van Du Toitspan wees vir die arme Cape-boys wat vir die Queen geveg het, en vir ander wat ook graag daar wou woon.
Ta Vuurmaak het gesê: Chai het die bottel omgekeer, my hand gevat en gesê: Ek het lanklaas so lekker gesels. Toe het hy op sy bicycle geklim en gery.
My stert van die storie is, het Ta Vuurmaak gesê, dat Chai en sy George met vier volk gekom het en twee hope van die vatmaar-goed gemaak het. Toe het Chai ’n halfkroon gevat en vir sy George gesê: Heads or tails? Chai kon eerste kies. Toe het hulle hulle se goed gevat na wat hulle hulle se erwe genoem het.
You, Vuurmaak, het die Engelsman vir my gesê, are well looked after. Take this brick mould and start your own business. People will soon need bricks to build their houses. Only the three of us know how you got the tank, and with your monthly pension you can live like a king.
Ek het party van die manne wat nie werk gehad het nie, of wat afgedank is, aan die stene maak gesit. Van elke drie wat gemaak is, was twee die maker s’n en een myne.
Na die winter was Chai en sy George se eenkamer-huise so lat hulle kon intrek – dié kamers wat hulle diesdae vir pakkamers gebruik. Hulle het ingetrek – Chai alleen en Oupa Lewies met sy jong vrou en een van haar ou tantes.
Die twee mans is elke oggend op hulle se splinternuwe bicycles werk toe in die Pan.
Ou Chetty se winkel
Die baas van die winkel, Ou Chetty, het gesê hy kom uit Natal maar hy is in Indië gebore. Hy het ons vertel waar Indië is, maar ons het hom nie geglo nie, want hy was dan een van ons en hy het dan in Vatmaar gewoon. Hy was ’n skraal man met ’n strooisel wit hare in sy kortgeknipte donker baard. Hy was lig-swart, nie bruin nie, met ’n dun halfmaanneus en geen voortande nie.
Ons het Ou Chetty die Koelie genoem, en sy twee kamers, een om in te bly en die ander om in handel te dryf, was die Koeliewinkel. Hy het alles aangehou wat die mense van Vatmaar nodig gehad het maar teen ’n hoër prys as in die Pan.
Die winkel was voor en die woonkamer agter, met ’n dubbele deur tussenin. ’n Skuifraamvenster met ogiesdraad voor het gekeer dat stout seuns goed deur die venster buitentoe aangee. Die winkel was agtien by agtien voet en die agterkamer agtien by sestien voet. Daar was ook ’n venster in die agterste kamer. Die platdak het van agter af vorentoe afgeloop tot oor die voorste muur, sodat daar ’n veranda voor die winkel was. Die veranda het op vier houtpilare en ’n dwarsbalk gerus. Ou Chetty het die sinkplate by Oom Chai en Oupa Lewies gekoop. Hulle het gesê dit was rommel uit die oorlog. Aan die middelste twee veranda-pilare was daar ’n plank met die woorde General Dealer op vasgekap.
Die winkel was toe wanneer Ou Chetty op sy karwei-bicycle met die groot mandjie voor of saam met Oom Flip na die Pan toe is om voorraad te gaan koop. Oom Flip het ’n trollie gehad en ’n eenoog-perd met die naam Ou Swaai. Dit was sy tweede perd. Sy eerste perd, het hy vertel, het skierlik eendag gevrek. Dit was nog voor Devi, Ou Chetty se dogter, met die kleingeld in die winkel kon werk.
Haar ma, Free-da, het haar stat in die tyd van die groot droogte verlaat. Sy was wees en het by mense gebly wat haar op die landerye laat werk het. Sy het vrou geword en hierdie mense het hulle klaargemaak om haar vir ’n goeie bogadie uit te trou.
Kos was skaars en sy het ’n pak slae gekry vir iets wat sy nie gedoen het nie – die blou riemmerke was nog te sien toe sy die nag by Ou Chetty se winkel ingestap het.
Sy het later vertel hoe sy op ’n donker nag ’n kalabas vol water gemaak en die paaitjie gevat het wat die ou mense gesê het oor die ysterperd se spoor loop tot in ’n groot stat.
Sy het geloop totdat die son ’n tweede keer ondergegaan het. Toe het sy by die twee spore gekom wat die ysterperd laat agterbly het. Sy was moeg en honger en dors toe sy deur die draad klim. Sy het seker gemaak dat sy nie op die spore trap nie.
Toe was daar geen paaitjies meer nie, maar sy het aangehou loop. Sy het Moediem, God, gevra om haar hand te vat. Uiteindelik het sy gestaan voor ’n soort huis wat sy nie gedink het bestaan nie en voor ’n man van gesig en hart wat sy nie geweet het op aarde is nie. Hy het die deur oopgemaak en na haar gekyk. Haar rok was ’n meelsak met gate vir haar kop en arms. Dit was koud want dit was winter.
Die man het na my gekyk en met sy hande gesê: Kom. Ek het die huis ingegaan want ek was meer dood as lewendag, het sy vertel. Hy het my ’n beker warm koffie gegee, die eerste koffie wat ek in my lewe gedrink het. Ek het op die vloer gaan sit met my rug teen die muur en gou aan die slaap geraak.
Ou Chetty se vrou, Free-da, was kort en het na