Die De Zalze-moorde. Julian Jansen
Kühne, vanuit Rapport se kantoor in Johannesburg. Ons stuur teksboodskappe na al wat ’n polisiekontak is. Die internet word gefynkam. Die soekwoorde: “byl” en “De Zalze”. Die vangnette vir inkomende nuus oor dié vars treurspel word gestel.
***
In Goskestraat raak dit ’n miernes van bedrywighede. Voor no. 12 is die polisie en forensiese spanne in hul ligblou oorpakke en handskoene druk besig.
Adjudant-offisier Nicky Steyn daag op. Hy en sy kollegas was besig met ’n ondersoek na die klapmusbende toe hulle na De Zalze ontbied word en het onmiddellik hierheen gejaag. Hy hoop om dalk die spoor van die bende op die landgoed op te tel. As dit hulle sou wees.
Twee ambulanse met die paramedici Victor Isaacs, Axel Mouton, Marco Jones en Christiaan Koegelenberg is op die toneel. Hulle het van Stellenbosch se ambulansstasie in Merrimanstraat met loeiende sirenes deur die oggendspitsverkeer gevleg ná die oproep van die noodsentrum in Parow.
Speurkonst. Matho neem die paramedici na die boonste verdieping en kyk toe hoe hulle by elke slagoffer kniel, tekens van lewe soek. Drie keer skud hulle net hul koppe. Geen polsslag nie, geen asemhaling nie.
By die bewustelose meisie voel een haar pols om seker te maak haar bloed sirkuleer. ’n Ander soek vir ’n obstruksie in haar lugweg, waarna nog een seker maak sy haal gemaklik asem. Sy het ’n gapende wond aan haar kop en haar nek-aar lyk of dit feitlik af is. Die paramedici stop die bloeding en verbind die wond. ’n Draagbaar word inderhaas gebring. Hulle tel die meisie versigtig daarop. Sy kreun. Hulle moet so gou moontlik by die Mediclinic Stellenbosch uitkom.
Die paramedici se stewels laat rooi spore van die boonste verdieping na buite.
Buite is dit Victor Isaacs se taak om ’n swelsel op Henri se voorkop te behandel. Daar is ook twee lang, dun rooi merke oor sy bors. Aan sy linkersy is ’n vlak, blouerige steekwond. Dit bloei nie. Daar is drie dun skrape aan sy linkerarm. Die paramedikus skyn met sy flitsliggie in die jong man se glasige oë. Die pupille lyk kleiner as die normale drie tot vier millimeter, wat hom en sy kollegas verbaas. Dit kan dui op die een of ander onbekende middel in ’n mens se bloedstroom.
Die toneel, en veral die gru-wonde aan die slagoffers, begin al klaar by Isaacs spook. Toe hy sy toerusting wegpak en sy handskoene afstroop, kom sit ’n hartseer in sy lyf. Dit sal nog lank duur voor hy en sy kollegas dié beelde verwerk.
Lede van die polisie se forensiese eenheid plaas ’n bloedbevlekte byl en ’n kombuismes, glo deel van ’n stel, in deurskynende plastieksakke en merk dit. Dit sal vir DNS getoets word, asook vir sogenaamde “aanraak-DNS” (DNS wat oorgedra word deur velselle wat agterbly wanneer iemand iets hanteer of daaraan raak).
Die byl het splinternuut gelyk, het dié wat dit vlugtig gesien het, later vertel.
Intussen het verslaggewers, fotograwe en ’n televisiespan hulle na De Zalze gehaas. By die landgoed se hoofingang stuit die sekuriteitspersoneel hulle in hul spore. Ander planne moet beraam word om by Goskestraat uit te kom. Twee verslaggewers probeer ’n alternatiewe roete via die aanliggende Kleine Zalze-wynlandgoed, waarvandaan hulle op ’n toegangspad na De Zalze beland en tot vlak voor die huis in Goskestraat vorder.
Van agter die afgesperde gebied stuur hulle twiets uit, neem foto’s van lede van die polisie en forensiese span en praat met van die bure. Die omstanders se oë is op die dubbelverdieping gerig, die skok en ongeloof op talle gesigte duidelik sigbaar.
Onder hulle is Felicity Louis, ’n huishulp op die landgoed. Sy het Henri vroeër voor die huis sien staan. Sy blou oë was donker, amper niksseggend, vertel sy. “Sy oë het so ’n snaakse kyk gehad, asof hulle ver, ver kyk. Hy het net daar gestaan.” Teen sy een been het glo urine afgeloop, tot by sy kous. “Hy het nog vir die neighbours ook gewaai.”
Agter in ’n geparkeerde polisievoertuig sit een van die Van Breda’s se twee huishulpe, erg getraumatiseer. Sy het vroegoggend opgedaag vir werk – nog voordat die eerste polisiemanne hier aangekom het – en is op na die boonste verdieping, waar sy die liggame gesien en histeries na buite gehardloop het. Nou is alles steeds te veel vir haar. Sy huil kort-kort saggies. ’n Polisieman bring vir haar ’n nuwe sakdoek en ’n glas water.
Martin Locke, ’n buurman en bekende SAUK-TV-sportaanbieder in die 1980’s, slaan alles buite die afgesperde gebied gade saam met sy blondekopverloofde, Jeanette. Vandag is sy 75ste verjaardag en vanmiddag trou hy en Jeanette. Hy roep Henri, wat eenkant staan, maar dié staar net voor hom uit. Later stap Martin weg en hou verder daarvandaan die polisie en lede van die forensiese eenheid dop wat swart plastiekhouers uit ’n voertuig haal en die huis binnedra. Langs hom staan van sy bure. Hulle gesels kort-kort in gedempte stemtoon.
Iemand wat laer af in Goskestraat woon, vertel bakhand dat van die bure in die vroeë oggendure ’n “rumoer” uit die huis gehoor het.
Later daag Henri se meisie, Bianca van der Westhuizen, op nadat sy vroeër die oproepe van Henri op haar selfoon gesien het. Saam met haar is Alex Boshoff, ’n boesemvriend van Henri. Bianca is ontroosbaar en Henri sit sy arm om haar. Hyself huil nou onbeskaamd. Alex vertroos sy vriend en huil saam.
André du Toit, Henri se oom aan moederskant, staan ook voor die moordhuis. Die landgoedbestuur het hom dringend ontbied, maar hy wou glo eers weet waaroor voordat hy die spitsverkeer van die noordelike voorstede van Kaapstad af Stellenbosch toe aandurf. Toe hy hoor mense is dood, het hy in sy dubbelkajuitbakkie hierheen gejaag.
Sy swaer het die vorige jaar André se naam en kontaknommer aan die bestuur gegee, ingeval ’n noodgeval sou opduik. Min het hy geweet wat daardie noodgeval sou wees.
Intussen kom nog verslaggewers en fotograwe wat van die roete deur Kleine Zalze na die huis gehoor het, in Goskestraat aan en drom agter die polisielinte saam. Die media weet in dié stadium nie presies waar in die huis die lyke lê nie. Buiten dat dit die Van Breda’s is wat hier woon, is inligting oor die aanval en die slagoffers nog bitter skraps. Dié met ’n bietjie inligting deel dit fluisterend mee of skryf dit vinnig in ’n notaboek neer.
Op Facebook wys die profiele van die dogter, Marli, en haar broer Rudi die gesin het vroeër in Perth en Brisbane, Australië, gewoon. Die digitale nuuswiel is aan die rol en op Twitter gons dit oor die moorde.
Forensiese spanne in hul ligblou oorpakke en handskoene, vergesel van ’n geduldige konst. Matho, beweeg steeds in en uit die huis. Dit lyk soos ’n toneel uit ’n rillerfliek.
Dit is baie moeilik vir fotograwe om ’n kameraskoot van die moordhuis se vooraansig te kry. Die afgesperde gebied strek tot drie huise van die moordhuis af. Die polisie- en noodvoertuie, asook twee bome voor die huis, versper die uitsig verder. Fotograwe moet met syaansigfoto’s van die buurhuise af tevrede wees. Van hulle neem met toestemming foto’s van die bure se huisbalkonne af, maar kan nie ’n goeie blik op die huis kry nie. Die polisielede hou die media baie fyn dop. Niemand waag dit verby die geel-en-blou linte nie.
Namate die ure aanstap, neem die groter prentjie vorm aan: Die 54-jarige Martin van Breda was ’n sakeman en skatryk. Sy vrou was die 55-jarige Teresa, ’n huisvrou. Rudi, hul oudste, was ’n 22-jarige student aan die Universiteit van Melbourne. Hul enigste ander seun is die twintigjarige Henri. Marli is sestien en in ’n privaat skool buite Somerset-Wes. Die gesin kom oorspronklik van Pretoria. Waterkloofhoogte-mense. Hulle het ook ’n tyd lank in Perth gewoon.
Die meeste van hul familie woon in Gauteng en Mpumalanga, onder wie Teresa en André se negentigjarige ma, Rika du Toit, wat in ’n aftreeoord in Kempton Park die skoknuus moet verneem dat haar dogter, skoonseun en kleinkind in die Kaap vermoor is. Sy het Alzheimers en besef aanvanklik nie die volle betekenis daarvan nie.
André en sy vrou, Sonja, begin ’n WhatsApp-groep om die uitgebreide familie op die hoogte te hou van verwikkelinge.
Vir die lede van die media wat laatmiddag nog by die hoofingang in die somerson saamdrom, is die verligting groot toe Eben Potgieter, voorsitter van die De Zalze-huiseienaarsvereniging, en Boet Grobler, landgoedbestuurder, hulle eindelik innooi en ’n nuuskonferensie hou.
Eben vertel onmiddellik nadat die lyke in die huis ontdek is, het hy die sekuriteitsameroeper