Die De Zalze-moorde. Julian Jansen

Die De Zalze-moorde - Julian Jansen


Скачать книгу
van gedwonge toegang tot De Zalze nie. In die besoekersregister het niemand ingeteken om Goskestraat die vorige dag of nag te besoek nie. Volgens hom lyk dit ook glad nie of by die betrokke huis ingebreek is nie. Dit lyk soos ’n “geïsoleerde insident”. Daarvan is hy doodseker.

      ***

      Vroeër die dag het die polisie Henri vir ondervraging ingeneem. Vir party speurders het die jong man op die oog af stil voorgekom; skok kan ’n mens vreemd laat optree, het hulle gemeen. Ander vertel hy het “na drank gestink” en was “aanvanklik harregat”. Maar sy ingesteldheid het later glo verander toe ’n offisier uit die bloute opmerk dat sy suster “begin praat” het.

      In sy getuieverklaring sê hy ’n “onbekende persoon” het sy gesin aangeval. Hy was in die badkamer van sy en sy broer se slaapkamer op die boonste verdieping. Toe hy uitkom, het hy gesien die persoon val sy broer met ’n byl aan. Hy beskryf die aanvaller. Hy was te bang om sy broer te probeer help.

      Die aanvaller het ook sy pa, daarna sy ma en toe sy suster aangeval. Hy het die aanvaller met ’n byl gegooi; ’n vars merk teen die muur staaf dit, het hy aangevoer. Hy het toe op die trappe geval, en was katswink geslaan.

      ’n Ruk daarna het hy sy bewussyn herwin en die nooddienste van sy selfoon af ontbied, lui sy verklaring.

      ***

      Die son het al in die weste gesak toe André en sy vrou Sonja met Sasha, Marli se geliefde swart hond uit Australië, na hul huis in Welgelegen, sowat 17 km van Kaapstad af, ry. Daar word hulle begroet deur televisienuus en -beelde van die grusame bylmoord op ’n gesiene sakeman, sy vrou en hul oudste seun in hul wit dubbelverdiepinghuis in ’n stil straat op ’n spogwynlandgoed.

      In die Mediclinic Vergelegen, op Somerset-Wes, waarheen Marli intussen inderhaas oorgeplas is, veg chirurge om die blondekopmeisie se lewe. Oorleef sy, sal sy kan praat? Indien wel, wat sou haar verhaal wees?

      1 Opname van telefoongesprek na nooddienste soos uitgesaai op eNCA.

      2

      Eindbestemming: veilige De Zalze

      DIE VAN BREDA-GESIN se familie en vriende beleef die ondenkbare: Martin en Teresa en hul Rudi-kind is grusaam en sinneloos om die lewe gebring. Henri en sy sus is nou weeskinders, en dalk sal net hy op die ou end die tragedie oorleef, want Marli se toestand is uiters kritiek. Die polisie sit pal by haar hospitaaldeur; nie eens haar heel naaste familie mag haar besoek nie.

      Twee van talle vrae bly knaag aan die mense wat haar liefhet: Wie het hierdie dade gepleeg? En waarom?

      In die dae wat volg, soek speurkonst. Zuko Matho en sy span onophoudelik antwoorde. Saam met die forensiese span en lede van die misdaadrekordsentrum is hulle dag en nag op die moordtoneel besig. Die straat word drie dae lank afgesper, die huis nog langer. Forensiese getuienis word noukeurig en tydsaam ingesamel. Die konstabel teken elke stap van die prosesse in sy boek aan.

      ’n Polisiehelikopter sirkel van tyd tot tyd oor die landgoed; ’n uitgebreide soektog word vanuit die lug gekoördineer. Dit lewer niks op nie. De Zalze bly wonder, dag ná dag.

      Die gevestigde inwoners weet min van die Van Breda’s. Maar vriende en familie maak mettertyd hul harte oop en die ironiese verhaal van ’n gesin ontvou wat ná jare in ’n “veiliger” land besluit het om na Suid-Afrika terug te keer en hulle op hierdie gesogte veiligheidslandgoed te vestig.

      Michelle praat met heimwee van die tye saam met die gesin toe hulle almal destyds in Die Wilgers naby Pretoria gewoon het. “Al drie hul kinders is daar gebore; eers Rudi, toe Henri. Teresa en Martin was in die wolke toe die derde kind ’n meisie is. Van hulle was later in die Laerskool Anton van Wouw. Marli was die skattige een, Rudi die presteerder en Henri die eenkantkind.”

      Haar hart is stram wanneer sy dink aan hoe haar vriendin vermoor is. Hulle het mekaar gereeld gebel. Die oggend van die moorde het sy Teresa vergeefs in die hande probeer kry en later ’n ander vriendin gebel. Dié sê toe: “Iets terrible het gebeur. Teresa, Martin en Rudi is doodgekap … met ’n byl.” Sy het langs die telefoon neergesak.

      Sy verlang ontsettend baie na Teresa. “Ek kan steeds nie slaap nie. Ek dink heeltyd aan die aksie. Hoe vat jy ’n byl … en jy kap, kap, kap?”

      ***

      Oor Martin is sy vriende dit eens: Hy het in sy werk uitgeblink en ’n vermoënde man geword, altyd omring deur sy vrou en drie kinders. Hulle was ’n hegte gesin. Goed versorg. Baie vakansies saam gehad, en duur. Die kinders was in die beste skole. Hy was streng maar liefdevol.

      Hy het Rudell Holdings Trust gestig sodat goed na die kinders omgesien sou kon word die dag as hy en Teresa dalk nie meer daar sou wees nie. Rudi, Henri en Marli word as die enigste begunstigdes daarin beskryf.

      Martin was ’n entrepreneur by uitnemendheid wat sy rykdom met die skuiwe van ’n meesterskaakspeler bekom het: op die regte tyd en vooraf fyn uitgewerk. Hy het geaard na sy pa, Bailey, op sy dag ’n ewe suksesvolle sakeman. Ook Martin se identiese tweelingbroers, André en Bailey, is groot sakelui, onderskeidelik in Silver Lakes, Pretoria, en Mbombela (Nelspruit), Mpumalanga.

      Hy het aan die Hoërskool Kuswag op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal gematrikuleer. Daarna behaal Martin ’n graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch en sy M.B.A. aan die Universiteit van Pretoria.

      Sakevriende onthou hom as ’n regte “visioenêr” omdat hy hoëpotensiaalgeleenthede in opvoeding, huissekuriteit en die eiendomsmark suksesvol ontwikkel het. Hy kon besigheidsgeleenthede uitsnuffel, sakeplanne saamstel en dit suksesvol implementeer.

      Martin het in die direksie van verskeie beleggings-, eiendoms- en opvoedingsmaatskappye gedien, onder meer in Polokwane, Pretoria en Rustenburg, en van Smartscan, wat te make gehad het met die elektroniese beveiliging van masjinerie.

      Skole en goeie onderrig was sy passie; daarom was Woodhill College in Pretoria, wat hy met groot sakevernuf opgerig het, sy trots. Die skool maak voorsiening vir onderrig van gr. R tot 12 en het ’n Christelike grondslag. Martin was in die wolke toe hy hierdie baba van hom in 2012 vir R185 miljoen aan Curro Holdings verkoop.

      Die hoë misdaadvlakke in die land het hom snags laat wakker lê en hy wou oplossings help soek. So het hy medestigter geword van Netstar, wat die tegnologie verskaf vir die opsporing van gesteelde voertuie.

      ***

      Dit was glo liefde met die eerste oogopslag toe Martin van Breda en Teresa du Toit in 1983 aan mekaar voorgestel word. Albei het in daardie stadium in Pretoriusstraat, Pretoria, gewerk. Sy was een van sewe kinders en het in Florida, Johannesburg, grootgeword. Met haar pa, dr. Rudi du Toit, se aanmoediging het sy rekenaarwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) gaan studeer.

      Teresa het eers vir die IBM-maatskappy en later in die bankwese gewerk voordat sy en Martin in Pretoria getroud is. Elna Venter, wat hulle destyds aan mekaar voorgestel het, vertel die twee was vriendelike, hardwerkende Christenmense wat hul pad stelselmatig boontoe oopgewerk het. Die jong paartjie se gunstelingtydverdryf was om saam na John Wayne-flieks te kyk.

      Martin het vroeg in hul huwelik al vir Teresa vertel hy sou wou hê dat sy kinders eendag by sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, gaan studeer. En dat hy self graag op die dorp sou wou gaan woon.

      Die suksesvolle sakeman het sy gesin gereeld na nuwe en opwindende bestemmings geneem, maar hulle kon ook vakansies deurbring by hul luukse vakansiehuis in die gesogte waterkant-ontwikkeling Thesen-eiland op Knysna in die Suid-Kaap, uitspan by hul eiendom by Sabiepark in die Nasionale Krugerwildtuin, en tyd op ’n plaas, Rietfontein, deurbring of vriende daar onthaal.

      Die Van Breda’s


Скачать книгу