Die De Zalze-moorde. Julian Jansen
hulle tel verskeie bure, Henri se meisie in daardie stadium, Bianca van der Westhuizen, sy boesemvriend Alex Boshoff, die Van Breda’s se huishulp (wie se naam toe nog onbekend was) en lede van die landgoedbestuur. Hy het selfs neergeskryf dat die gesin se twee Mercedes-Benz-voertuie, ’n ML- en ’n E-klas, in die dubbelmotorhuis vir onder meer vreemde vingerafdrukke en bloedspatsels ondersoek is.
Konst. Matho moes verseker dat waardevolle bewysstukke ingesamel en aangeteken word sodat ’n goeie en akkurate forensiese rekonstruksie van die misdaadtoneel later moontlik sal wees. Soos die “splinternuwe” byl en ’n kombuismes. (Later sou hy reël dat die polisie winkels in die omgewing besoek om te probeer vasstel waar en wanneer die byl gekoop is.) Ook dat die selfone en ’n paar kledingstukke van die slagoffers en ’n handsak van Teresa met R880 daarin onaangeraak was.
En hy het kol. Beneke se opdrag uitgevoer om Henri se iPhone, iPad en MacBook Air in te neem. Dit sou forensies ondersoek word om die oorlewende jong man se aktiwiteite in die tyd voor die aanvalle na te speur.
***
’n Week ná die treurspel “ag die familie dit wys” om vir Henri ’n regspan aan te stel. Adv. Pieter Botha is genader en die opdraggewende prokureur is Lorinda van Niekerk van Stellenbosch.
Dis uit die bloute en opspraakwekkend. Ben Rootman verduidelik namens die familie dit is oor “die talle bespiegelinge deur die publiek”.
Adv. Botha is nie sommer ’n hierjy-regsman nie. Die skatryk Brit Shrien Dewani, wat in die Wes-Kaapse hooggeregshof ná ’n uitgerekte regstryd vrygespreek is van die moord op sy vrou, Anni Dewani, tel onder sy talle hoëprofielkliënte. Hy word wyd in regskringe gerespekteer.
Heelparty vrae knaag: Hoekom ’n formidabele advokaat aanstel? Wat weet die familie wat die media en die publiek nog nie weet nie? Wat word bespiegel op die geheime familievergaderings?
’n Tergender vraag is: Staan die Van Breda’s sowel as die Du Toits heelhartig en eenparig agter Henri? En sal hulle hom steeds ondersteun as hy dalk vir die moorde in hegtenis geneem sou word? Glo albei kampe dat daar nie bloed aan sy hande is nie?
Die tragedie verenig die familie in hul smart, maar wat as vingers later na Henri begin wys?
***
Deel van die enorme verantwoordelikheid wat op die 34-jarige konst. Matho se skouers rus, sal wees om alle getuieverklarings, forensiese en ander verslae en dokumente in ontvangs te neem vir verdere ondersoek, soos nodig. As die tienermeisie oorleef, sal haar verklaring die heel belangrikste een wees – maar ook net mits sy nie blywende breinskade oorhou nie, besef hy.
Die ondersoekbeampte weet: Eers sodra al die verwagte inligting volledig in die De Zalze-dossier gebind en ’n verdagte geïdentifiseer is, sal dit aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê kan word. Dié sal besluit of ’n suksesvolle vervolging van die verdagte moontlik is. Indien wel, sal ’n bevel vir inhegtenisneming uitgereik word.
Einde Februarie, ’n maand ná die moorde, is die ondersoekwerk by Goskestraat 12 afgehandel. Die familie het nou toegang daar, maar gerugte loop dat van die inwoners Henri nie op die landgoed wil hê nie. Boet Grobler, De Zalze se bestuurder, sê daar is met die familie ooreengekom dat hulle die bestuur sal kontak voordat hulle die huis besoek.
***
’n Belangrike forensiese verslag, dié oor die Van Breda-gesinslede se selfone en rekenaars, kom via betroubare bronne onder die media se aandag. Een van die selfone is glo voor 27 Januarie gebruik om op die internet inligting te soek en op te lees oor die bylaanval op Peter en Joan Porco in November 2004 in Bethlehem, Amerika.
Christopher Porco (destyds 21) het sy ouers met ’n brandweerbyl aangeval nadat hulle hom berispe het oor sy swak punte op universiteit en sy spandabelrige gedrag. Sy pa het op die toneel gesterf en sy ma se gesig is vermink, maar sy het dit oorleef.
Die gebruiker van die selfoon het luidens die verslag blykbaar ook inligting gesoek oor hoe lank dit sal duur voor ’n mens doodbloei. En ’n Google-soektog is glo ook gedoen na “demensie”. (Dit is die gevolg van ’n breinsiekte of -besering en word gekenmerk deur geheueversteuring, persoonlikheidsverandering en verswakte redenasievermoë.)
Op die einste foon is na bewering gekyk na ’n drama wat vir televisie gemaak is met die titel, Romeo Killer: The Chris Porco Story. Daarin word die moordenaar se storie in detail vertel – hoe en hoekom hy sy ouers so wreed aangeval het. Porco is in 2006 skuldig bevind aan moord en poging tot moord en tot vyftig jaar tronkstraf gevonnis.
Die forensiese ondersoek toon glo ook Henri se selfoon is die aand voor die moord op sy ouers en broer sowel as die oggend daarna gebruik om toegang tot die internet te kry.
***
Ál meer brokkies inligting oor Henri begin in die media verskyn. Vriende van die gesin vertel daar was ’n week voor die moorde “groot onmin by huis no. 12”. In die voorafgaande weke het hy sy ouers “omtrent opdraand gegee”.
Hy het glo aan slapeloosheid gely. Dan moes Teresa haar seun snags na ’n “nurse” in Goskestraat neem. Volgens ’n polisiebron het sy ma hom soms ’n pynstiller gegee waarvan heelwat anekdotiese getuienis bestaan dat dit pasiënte “vreemde goed” in hul slaap laat doen, soos in ’n stryery betrokke raak, loop en selfs motor bestuur.
Daar is ook vertel Henri het met gemoedskommelinge geworstel.
Wat sou hom so gepla het? Wat presies het vir Henri gejaag?
4
Eenkantkind
HENRI SE SENUAGTIGE, byna geamuseerde laggie in die klankopname van sy telefoongesprek met die nooddienste toe hy hulle die oggend van die moorde na De Zalze ontbied het, gaan nie ongemerk en sonder kritiek verby nie. Klink hy regtig soos iemand wat hom te midde van ’n tragedie bevind?
Die kleitrappery deur die ambulansdiens-operateur rondom inligting oor die straatname val ook op. Haar geploeter om die korrekte adres te vind, grens aan die komiese, was dit nie vir die erns van die noodgeval nie. Boonop laat die uitlek van die klankgreep van die noodoproep, wat deur die televisienuuskanaal eNCA eksklusief die wêreld ingestuur is, die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement met rooi gesigte. Dit lei tot ’n interne ondersoek, bykomende sekuriteitsmaatreëls en dissiplinêre stappe.
Twee dae ná die moorde sorg ’n Australiese berig vir ’n groot opskudding in Suid-Afrika. Onder die opskrif, “Family left safety of Perth”, staan dit diep weggesteek in die aanlyn weergawe van die koerant, The West Australian: “Henri is verlede jaar genoodsaak om sy studie tydelik op te skort nadat dokters ’n gewas op sy brein ontdek het. Hy het by sy ouers in Suid-Afrika gaan woon terwyl hy behandeling ontvang het.”
Ben Rootman moet bontstaan. Hy bevestig Henri het ’n breinskandering in die Royal Melbourne-hospitaal in Australië ondergaan, maar die toetse was “negatief” vir enige groeisel of gewas en bloot “deel van ’n mediese ondersoek”. Die familie “beskik oor te min eerstehandse kennis om verdere inligting hieroor te verskaf”. Hulle volstaan daarmee dat Henri ’n “oorbruggingsjaar” geneem en in September van die vorige jaar na Suid-Afrika teruggekeer het.
Die Australiese media noem nie of die hospitaal enige mediese verslae beskikbaar het nie. Indien daar is, sal die polisie dit kan aanvra.
In ’n plaaslike koerant bevestig ’n “onberispelike polisiebron” ’n mediese dokter het die ondersoekspan oor die breinskandering ingelig en dat die woord “breingewas” pertinent in die moordondersoek genoem word. Die media vra kundiges uit en hulle noem dat ’n breingewas, veral in die frontale lobbe van die brein, tot impulsiewe gedrag kan lei.
Het Martin en Teresa van die moontlikheid van ’n gewas in hul seun se brein geweet? Indien wel, is dit baie deeglik van die familie weggehou. Tot hul dood.
Intussen begin nuwe gerugte die rondte doen: oor Henri en dwelms. Dit wil eenvoudig nie gaan lê nie. ’n Inwoner van Perth en nabye kennis van die gesin beweer in ’n spontane e-pos aan Rapport dat Henri daar en later in Melbourne, waar hy studeer het, al “moeilikheid opgetel het