Man van lig en skadu. Schalkie van Wyk
ontmoet. En moenie vir my sê dis te laat nie. Ek wed die ou fossiele sit nog penregop in julle sitkamer en wag dat jy veilig huis toe kom.”
Petri kyk op haar polshorlosie en staan vinnig op. “Dis reeds twintig oor elf. Dankie vir jou aanbod, Ian, maar ek is met my eie motor hier. Ek moet dadelik ry, want my groottantes verkies om teen middernag in die bed te wees.”
“Nog ’n bloutjie!” sê hy met ’n oordrewe sug.
Hy staan op en neem haar hand in syne. “Mag ek die voorreg hê om jou na jou motor te vergesel, my ontwykende Sneeuprinses?”
Sy draai na hom, intens bewus van die warmte van sy hand wat hare vashou, en sê waarskuwend: “Behalwe vir Nicolette se jong vriende, is die meeste gaste lede van ons personeel, Ian. Jan-Hendrik is moontlik net so verkramp soos my groottantes, want hy keur verhoudings tussen sy personeellede ten sterkste af. Jy is ’n knap prokureur, maar ek is net ’n ingeskrewe klerk. Wil jy die rede wees dat ek my pos verloor?”
“Geen intimiteite tussen personeellede nie?” vra Ian en lag wrang. “Ek is bewus van Jan-Hendrik se verkramptheid, daarom loop ek draaie om sy bedorwe Nicolette. Maar ons staan nog veilig onder die takke van hierdie groot ou wilgeboom, my bekoorlike meisie. As ek jou net een maal soen … Bome verklap nie geheime nie.”
Hougaard! onthou Petri en ruk haar hand haastig uit dié van Ian. “Dis wat jy dink! Hierdie boom is ’n regte klikbek,” sê sy onnodig hard en hoop Hougaard het haar gehoor. Sy stap onder die takke deur na die ligkring.
“Ek sien Jan-Hendrik nêrens nie. Sal ek dit waag om saam met jou na jou motor te loop?” vra Ian tergend toe hy by haar aansluit.
“Solank jy nie my hand vashou nie. Ek het buite in die straat geparkeer,” antwoord sy en wonder fronsend oor Hougaard. Hy is heel waarskynlik net so ’n verkrampte ou oom soos Jan-Hendrik. Want as dit nie vir hom was nie, sou sy toegelaat het dat Ian haar soen – of sou sy?
Nicolette het haar vertel Ian is drie-en-dertig – ’n hele elf jaar ouer as sy. Nie dat sy ouderdom haar pla nie, redeneer sy met haarself, maar Ian skep die indruk van ’n ervare man wat ten volle bewus is van sy eie aantreklikheid en sy vermoë om elke meisie wat hy ontmoet te bekoor. Is haar terughoudendheid die enigste rede waarom Ian in haar belang stel? Is hy die soort man wat nie kan aanvaar dat ’n meisie nie voor sy sjarme swig nie?
“My motor staan ook in die straat. As jy my beloof jy sal my vanaand aan jou groottantes voorstel, sal ek al die pad agter jou aanry, Petri,” sê Ian toe hulle die enkele trappe van die terras opklim na die oopstaande dubbeldeur van die huis.
“Ek dink dis al effens laat daarvoor. As jy my sal verskoon – ek het my aandsakkie met my motorsleutels in Nicolette se slaapkamer gelaat,” antwoord sy.
Sy glimlag halfhartig vir Nicolette wat gretig naderkom en groet haastig: “Dankie vir die gesels. Nag, Ian.”
“Ek loop solank na jou motor toe,” antwoord Ian gedemp en draai weg na die voordeur.
Petri kyk met gevoelens wat wissel tussen frustrasie en ergernis na Nicolette, wat met ’n glasie sjampanje in haar hand haar slaapkamer op onsekere voete binnestrompel. Met struikelende bewegings drapeer sy haar oor die rugleuning van ’n stoel.
Wanneer gaan Nicolette besef haar kinderagtige jaloesie is onnodig? wonder Petri. Sy trek die onderste laai in Nicolette se ingeboude klerekas oop en klap dit dan onnodig hard toe.
“Jou grappie was vanuit die staanspoor nie snaaks nie, Nicolette, maar op hierdie oomblik is dit nog minder snaaks. Wat het jy met my motorsleutels aangevang?” vra Petri onvergenoeg.
Nicolette giggellag. Sy lek die enkele druppels sjampanje wat uit haar glasie gespat het van haar hand af en kyk met halftoe oë na Petri. “Weet nie. Wil ok nie weet nie. Ek is dronk en jy is slim.”
“Dis reg, Nicolette: ek is te slim om te glo jy het werklik te veel sjampanje gedrink, want jy sal dit nie waag om jou in jou pa se huis aan drank te vergryp nie. Ek weet ook hoe jy optree as jy werklik te veel gedrink het: jy maak met almal rusie, verseker almal oor en oor dat jy nie dronk is nie, en jy glo niemand is slimmer as jy nie. Wat is jou speletjie? My motorsleutels het uit my aandsakkie verdwyn. Wat het jy daarmee aangevang?”
Nicolette gluur haar nydig aan, kom orent en haal haar skouers onverskillig op. “Jy het jou motorsleutels langs jou aandsakkie op my spieëltafel laat lê, jou mislike meisiemens, en ek het een van ons gaste gevra om die sleutels vir jou te gee. Dalk was dit die lieflike Ian Olivier …”
Sy glimlag uittartend en vervolg vermakerig: “Of dalk nie. As jý hom nie wil hê nie, stuur hom na my toe. Miskien kan ek hom oortuig dis nie teen my pa se goue reël om met die baas se dogter uit te gaan nie. Sien jou môre as jy die nag saam met Ian oorleef, my maatjie.”
Nicolette lag triomfantelik toe Petri haar ontsteld aanstaar en loop die vertrek haastig uit.
“Wag eers, Nicolette!” roep Petri.
Sy stap enkele treë agter Nicolette aan en bly dan staan. Ek gaan Nicolette beslis nie die genoegdoening gee om by haar te pleit nie, dink sy misnoeg. Maar as Ian my sleutels het …
Ian en Nicolette … Nicolette weet van die ruikers wat Ian die afgelope ses weke aan haar gestuur het. Dis vanselfsprekend dat Nicolette haar motorsleutels vir Ian gegee het, maar as dit die geval is, waarom het Ian nie die sleutels vir haar, Petri, gegee nie? Omdat Ian haar huis toe wil neem om haar groottantes te ontmoet?
Dan beantwoord sy self haar vraag: ’n Man vergesel nie ’n meisie om middernag huis toe om haar mense te ontmoet nie. En ’n eerbare man steel nie ’n meisie se motorsleutels nie. Hougaard sou nooit …
Wat kom lol Hougaard in haar gedagtes? wonder sy onthuts terwyl sy die kamer vinnig uitstap. Hougaard is ’n boom … ’n boom met ’n stem. Maar wat haar betref, net ’n boom. Sy sal vergeet van Hougaard en onthou van Ian wat by haar motor wag met haar motorsleutels in sy broeksak.
Maar sy wens nogtans sy weet wie Hougaard is, hoe hy lyk en of hy ook hulle vreemde ontmoeting geniet het. Sy sal nooit die klank van sy diep, welluidende stem vergeet nie, mymer sy droomverlore en bly ’n oomblik in die trapportaal staan.
Ruk jou reg, Petri, maan sy haarself. Hougaard is ’n mooi herinnering, maar Ian … Haar mansvriende is gewoonlik haar ouderdom, dalk ’n jaar of twee ouer as sy, maar hoe graag sy dit ook al wil ontken: sy het gevlei gevoel oor die aantreklike, ouer Ian se belangstelling in haar. Hy kan haar mooi en begeerlik laat voel deur net na haar te kyk, onthou sy, maar as hy en Nicolette saamknoei …
Vreemd dat Nicolette altyd daarin slaag om iets wat mooi is te bederf, dink sy wrang. Sy bereik die ontvangsportaal en glip ongemerk by die voordeur uit. Gelukkig hoef sy Jan-Hendrik nie te groet of vir sy gasvryheid te bedank nie, want hy en sy groepie vriende het hulle reeds vroegaand na sy studeerkamer onttrek.
Terwyl sy vinnig oor die sypaadjie na haar motor toe loop, is sy net half bewus van die sekuriteitswagte en enkele ander partytjiegangers wat ook op pad is na hulle motors.
“Eindelik!” groet Ian haar met ’n kamma moeë glimlaggie. “Is dit deel van vrouwees om altyd ’n man te laat wag?”
“As ek ander vervoer gehad het, het ek jou tot dagbreek laat wag,” antwoord Petri verontwaardig. “Nicolette het my motorsleutels vir jou gegee. Ha-ha, baie snaaks, maar ek lag nie. My sleutels, asseblief, Ian.”
“Ekskuus?” vra hy verward.
“Nicolette het my sleutels vir jou gegee. Gee hulle asseblief nou vir my,” versoek sy ysig en hou haar hand gebiedend na hom uit.
“Ek het nie jou motorsleutels nie, Petri! Ek weet nie waarom Nicolette vir jou gelieg het nie, maar ek verseker jou ek het nie jou sleutels nie,” ontken hy met soveel erns dat Petri vir ’n oomblik wonder of hy nie tog onskuldig is nie.
“Nicolette weet van die ruikers wat jy vir my gestuur het, en ek vermoed jy het haar vertel van jou gereelde uitnodigings aan my. Sy het my motorsleutels vir jou gegee, Ian, maar as jy hoop ek sal in jou motor klim: Vergeet