Man van lig en skadu. Schalkie van Wyk
dink sy ontnugter terwyl sy agter die stuurwiel van haar motor inskuif. Sy moes nie in Hougaard se motor geklim het nie, want dan het sy net haar mooi herinneringe aan haar gesiglose boomvriend gehad. Nou sal sy altyd onthou hy is ’n verkrampte ou oom wat die rol van haar beskermengel gespeel het omdat hy besluit het sy is dom en onervare. Vreemd hoe hartseer sy voel omdat sy nooit sal weet wat die kleur van sy oë is nie.
Sy ry huis toe met ’n gevoel van ongekende onrus in haar binneste.
Petri het nog nooit daaraan getwyfel dat Nicolette ’n besonder mooi meisie met haar lang, raafswart hare en groot, donker oë is nie, maar ná ’n partytjie wat heel waarskynlik tot die vroegoggendure geduur het, herinner Nicolette se gelaatskleur aan ’n wit vadoek wat te lank in bleikmiddel geweek is.
“Hoekom het jy toegelaat dat ’n wildvreemde man jou huis toe neem, Petri?” blaf Nicolette soos ’n aanvallende terriër toe sy die kantoor binnestorm. Sy kom met haar hande in haar sye geplant voor Petri se lessenaar tot stilstand.
Petri lees die onbedekte afguns in Nicolette se oë en antwoord met ’n onderdrukte glimlag: “Jy moes groen oë gehad het. Groen is jou kleur, Nicolette.”
“Moenie jouself vlei nie, jou arme ding!” kap Nicolette nydig terug.
Sy gooi haar lang hare met ’n rukbeweging van haar kop oor haar skouer en vervolg neerhalend: “Wat laat jou dink ek is jaloers op jou ou honneursgraadjie in die regte? My pa sê ’n beeldskone meisie soos ek het nie die sekuriteit van ’n professionele loopbaan nodig nie, want dis vanselfsprekend dat ek binnekort met ’n skatryk man sal trou. En daarby is ek my skatryk pa se enigste erfgenaam.”
“Ook waar. Gelukkig is ons armes gewoonlik slim en hardwerkend, daarom werk ons vir jou pa,” antwoord Petri droog.
“Dis net omdat jy nie ’n sosiale lewe het nie dat jy akademies so goed gepresteer het. En my pa het jou altyd net uit jammerte geprys omdat jou eie pa nie ’n flenter vir jou omgee nie. Hy het nie eens verlede November jou gradeplegtigheid bygewoon nie. Jy is werklik bejammerenswaardig, jou arme mens,” kom dit neerhalend van Nicolette.
“Dankie. As jy beter voel ná al die gal wat jy gebraak het, sal ek graag wil voortgaan met my werk,” antwoord Petri met ’n ongeduldige suggie.
“Ek sal loop wanneer dit mý pas,” sê Nicolette en betrag Petri met geskreefde oë, ’n uitdrukking van agterdog op haar gesig. “Ek ken jou, Petri Aucamp. Jy is ’n lang, maer ding soos jou twee ou tantes, en jy aard ook na hulle: so verkramp en preuts dat jy my en al my vriende ’n pyn gee. Jy sou nooit toegelaat het dat ’n vreemde man jou laatnag huis toe neem nie. Hoe lank ken jy al vir Hougaard Reyneke?”
“Hougaard Reyneke?” herhaal Ian uit die deur. Hy aarsel ’n oomblik en kom dan die kantoor fronsend binne. Hy bly langs Nicolette staan, slaan sy arm om haar skouers en kyk beskuldigend na Petri, wat hom stom aanstaar.
“Dis presies wat ek ook wil weet. Presies hoe lank en hoe goed ken jy die man, Petri?” vra hy bruusk.
“Jy is aanmatigend, Ian. Ek kan nie sien hoe my vriendskap met Hougaard jou óf Nicolette raak nie,” antwoord Petri gelykmatig.
“Vriendskap?” vra Nicolette met skrille minagting. “Hougaard het nie eens geweet wie jy is nie, ellendige leuenaar! Hy het mý gevra of jy een van my vriendinne is toe ons twee gedans het.”
“Jy en daardie Hougaard-vent is die oorsaak dat ek en Nicolette gisteraand ’n hewige rusie gehad het, Petri. Ek hoop jy kan vir ons ’n goeie verduideliking gee,” kom dit verwytend van Ian.
“Goeiste toggie, julle laat my voel asof ek in die beskuldigdebank staan,” sê Petri onthuts en kyk met ’n verskonende glimlaggie na Ian. “Ek is jammer ek het jou gisteraand van diefstal beskuldig, Ian. Ek het aanvaar Nicolette het my motorsleutels vir jou gegee omdat jy so gereeld ruikers vir my gestuur het. Ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom Nicolette my sleutels vir Hougaard gegee het nie – dalk kan sy die saak vir ons opklaar.”
Ian neem sy arm vinnig weg van Nicolette se skouers. “Jy het vir my gelieg, Nicolette,” sê hy beskuldigend.
“Ek het nie!” ontken Nicolette heftig. “Ek was op pad om die vervlakste sleutels vir jou te gee, maar toe kom my pa onverwags uit sy studeerkamer en stel Hougaard Reyneke aan my voor. Hougaard het my gevra om te dans en vanselfsprekend wou ek, maar ek kon nie met ’n spul sleutels in my hand dans nie. Dis waarom ek hom gevra het om die sleutels in sy sak te hou en dan vir jou te gee, Ian. Hougaard het nie eens geweet dis Petri se sleutels nie.”
“Maar hoekom het Hougaard …?” begin Ian en staar Petri met fronsende onbegrip aan.
“Hoekom het Hougaard my huis toe geneem?” voltooi Petri sy vraag en glimlag met sonnige onskuld. “Hy het my en jou hoor rusie maak langs my motor en hy het baie galant aangebied om my huis toe te neem.”
Sy wend haar met ’n ongeduldige suggie tot Nicolette. “Dis alles jou skuld, Nicolette. As jy vir Hougaard gesê het dis mý sleutels wat jy vir hom gegee het, was dit nie vir hom nodig om my huis toe te neem sodat ek my spaarsleutels kon gaan haal nie.” Sy sit haar hande vinnig op haar wange en hoop haar skuldige blos verraai nie haar leuen nie.
“Ek glo jou nie!” snou Nicolette haar toe. “Hougaard sou saam met my geswem het, maar toe verdwyn hy net skielik. Ek weet jy het hom weggelok, jou ellendige onderkruiper. Jy doen dit al jare lank: speel die onskuldige, hulpelose meisietjie en laat al die aantreklike mans agter jou aandraf. As my pa moet hoor daar is ’n verhouding tussen jou en Hougaard, kan jy maar elders ’n pos gaan soek – onthou dit!”
“Hoekom? Het jou pa en Hougaard dan ’n verhouding?” vra Petri kamma bekommerd.
Ian bars uit van die lag, maar smoor dit haastig met sy hand toe Nicolette hom ’n verskroeiende blik toewerp.
“Jammer, Nicolette, maar jou rusie met Petri het niks met haar professionele werk te doen nie. Jou pa weet dit ook. Wees vies vir jouself, want jy is die oorsaak dat Hougaard Petri gisteraand huis toe geneem het. Hoekom bel jy hom nie en herinner hom daaraan dat hy vergeet het om die sleutels vir my te gee nie?” stel hy diplomaties voor.
Nicolette glimlag stralend. “Ek sal! Ek sal Hougaard vra om die sleutels vir my te bring en hom sommer uitnooi vir ete Vrydagaand. As hy eers hier is, sal ek sorg dat hy die hele naweek by ons kuier!” antwoord Nicolette verruk en dans die kantoor opgewonde uit.
“En daarvoor betaal haar pa haar ’n vet salaris: om sy besige personeel se kosbare tyd te mors, of om ure lank op die foon te lê en met al haar kêrels te gesels. Selfs ’n slim man soos Jan-Hendrik kan dom wees,” merk Ian wrang op.
“Is Hougaard ook ’n prokureur?” Petri hoop sy klink belangstellend en nie nuuskierig nie.
Ian haal sy skouers op. “Ek weet nie. Ek ken die vent nie. Nicolette het my gisteraand vertel hy en haar pa stel albei belang in die industriële eiendomsmark – ontwikkeling en so aan. Hulle is manne met geld. Geen wonder Jan-Hendrik het besluit Hougaard is sy aanstaande skoonseun nie,” vertel hy met gedwonge belangeloosheid, maar slaag nie daarin om die afguns uit sy stem te hou nie.
“Jy verdien oorgenoeg om aan beleggings te dink,” sê Petri vinnig, vreemd onwillig om aan Hougaard as Nicolette se toekomstige bruidegom te dink.
“Ek is gelukkig om in my ouerhuis te kan tuisgaan, want ek verdien net genoeg om my en my afhanklikes – my twee katte – te onderhou,” spot hy.
Sy kyk hom verras aan. “Ek het gedink jy het jou eie huis of ’n woonstel. Ek kan my nie voorstel dat jy nog saam met jou ouers woon nie.”
“Dis net tydelik. Ek pas hulle huis sedert Desember op, want hulle kuier by my suster in Australië. Sodra hulle terugkom, sal ek ’n eie woonplek aanskaf,” antwoord hy en glimlag vrolik vir haar. “Ek is bly Hougaard het voor Nicolette se skoonheid en Jan-Hendrik se indrukwekkende bankrekening geswig, want nou kan ek weer hoop. Of het Hougaard jou ook met sy manlikheid en sjarme oorrompel, Petri?”
“Watter sjarme?” vra sy oorbluf en glimlag saam met Ian