Man van lig en skadu. Schalkie van Wyk
sal jy saam met my gaan middagete eet, Petri? Sommer in die restaurant oorkant die straat. Ek beloof jou plegtig: ek sal jou nie weer vra om in my motor te klim voordat ek jou groottantes ontmoet het nie. En terwyl jy gisteraand so kliphard met my rusie gemaak het: ek sou jou sleutels vir jou gegee het as ek hulle gehad het.”
“Ek kan jou amper glo,” spot sy.
Sy wonder of Nicolette besig is om telefonies met Hougaard te gesels en ervaar ’n sinkende gevoel in haar binneste. Sy is seker honger. Nee, sy is siek met ’n ongekende seer, ’n skrynende hartseer omdat haar Hougaard …
Nee, hy is en was nooit haar Hougaard nie. Maar hy was darem haar boomvriend. Vreemd hoe veilig en gelukkig sy was toe sy met haar boomvriend gesels het – maar dit was voor sy geweet het hy en Nicolette het trouplanne.
Nee, nee, Hougaard het nie gisteraand soos ’n toekomstige bruidegom geklink toe hy van Nicolette gepraat het nie, herinner sy haarself. Hy het gesê Jan-Hendrik het van haar ’n bedorwe, egoïstiese meisie gemaak. Maar as Hougaard Nicolette liefhet of van geld hou … Dis jammer sy het vergeet om Hougaard te vertel haar tweelinggroottantes is skandelik ryk.
“Petri!” roep Ian en skud haar liggies aan die skouer, sodat sy verbaas opkyk na hom. “Genugtig, meisiemens, het jy skielik in ’n marmerstandbeeld verander? Ek praat my stembande lam, maar jy beantwoord nie een van my vrae nie. Waarom weier jy om met my te praat?”
“Ek het net gedink … e … dit oorweeg of …” begin sy stamelend en swyg verlig toe sy vinnig naderende voetstappe in die gang hoor.
“Hy kom kuier, julle!” jubel Nicolette en trippel soos ’n uitgelate kind op een plek rond. “Is dit nie wonderlik nie? My Hougaard het my uitnodiging aanvaar!”
“Net ’n baie dom man sal die uitnodiging van ’n beeldskone meisie met ’n skatryk pa van die hand wys,” merk Ian droog op.
As Nicolette breër glimlag, gaan haar wange oopskeur en bloei, dink Petri en sê met oortuigende hartlikheid: “Dis vanselfsprekend dat jou toekomstige bruidegom jou uitnodiging sal aanvaar, Nicolette. Ek is seker julle sal die naweek saam geniet.”
Die glimlag om Nicolette se lippe versteen ’n oomblik, maar dan lag sy met haar gebruiklike selfvertroue.
“Dan het Hougaard jou van ons planne vertel, Petri? Ek is seker hy het, want ek kon dit in sy oë sien toe hy gisteraand die eerste maal na my gekyk het. Dit was liefde met die eerste oogopslag,” sê sy selfvoldaan.
Sy draai na Ian en streel met die vingers van haar regterhand oor sy wang. “Jy is die aantreklikste man wat ek ken, Ian, maar al my vriendinne sê Hougaard is die manlikste man wat hulle nog gesien het.”
“Jy bedoel die man is so lelik dat hy eintlik mooi is,” grom Ian en knipoog vir Petri. “Gaan ons saameet?”
“Aangesien jy minder manlik is in Nicolette se oë – hoekom nie?” Petri weet dis net trots wat verhoed dat sy uit loutere jaloesie Nicolette se oë uitkrap … of in trane van teleurstelling uitbars.
Ian glimlag geamuseerd toe ’n tienermeisie op pad na ’n tafel in die restaurant oor ’n stoel struikel in ’n poging om hom beter te kan sien.
“A, dit laat my beter voel! Die twee lummels regs van ons staar jou al tien minute lank oopmond aan en vergeet om hulle monde toe te maak as hulle eet,” sê hy gedemp aan Petri.
“Mans staar altyd meisies aan – ek neem aan dis ’n ingebore gedragspatroon,” antwoord sy onbeïndruk.
“Weet jy sowaar nie jy is baie mooier as Nicolette nie?” vra hy ongelowig.
Sy lag hom goedig uit. “Jammer, Ian, maar dis ook deel van jou ingebore gedragspatroon om die meisie wat jy uitneem met komplimente te oorlaai. Ek het al gehoor hoe komplimenteer jy jou persoonlike assistent – en sy is sewe-en-vyftig en opsigtelik oorgewig.”
“Mirrie floreer op my vleitaal,” erken hy met ’n onnutsige glimlaggie en vervolg dan kamma ernstig: “Maar dink net, Petri, ’n vrou soos Mirrie kry selde indien ooit komplimente, daarom is dit my plig om haar mooi en jonk en verleidelik te laat voel. Dis my klein hartjie wat my so skaamteloos laat lieg.”
“Jy gebruik jou sjarme en vleitaal om van Mirrie jou getroue slavin te maak, want sy sal oor haar voete val om al jou instruksies uit te voer. Gelukkig is ek jonk, slank en mooi, daarom beïndruk jou vleitaal my nie,” sê sy, haar stemtoon stroopsoet.
“Slim – dís jou probleem, Petri. Jy het te veel intelligensie, want jy kyk my met jou pragtige persblou oë aan en in plaas daarvan om verlief te lyk, kyk jy dwarsdeur my. Geniet jy darem jou ete en my sprankelende geselskap?”
Sy eet kos wat soos papier smaak, en om na hom te luister, verg al haar konsentrasievermoë. Want haar verraderlike gedagtes dwing heeltyd weg na haar boomvriend wat skielik Nicolette se aanstaande bruidegom geword het. Dank die hemel vir Ian, want hy verhoed dat ek in selfbejammering verval, dink sy en glimlag met opregte dankbaarheid vir hom.
“A, die meisie hou van my geselskap!” maak Ian sy eie afleiding. Hy bring sy kop nader aan haar en vra hoopvol: “Ons weet wat Nicolette se planne is, maar het jy al enige planne vir die eerskomende naweek gemaak?”
“Nee, maar ek en my groottantes gaan Saterdae gewoonlik vir ’n middagvertoning teater toe om ’n drama of ’n opera of ’n balletopvoering te sien. As jy wil saamkom, sal ons vir jou ook ’n kaartjie kry,” antwoord sy tegemoetkomend, maar haar oë lag hom uit.
Hy gluur haar kamma vies aan en skud sy kop. “Dankie vir niks! Ek het ’n beter voorstel: my jonger broer en sy vrou is albei dokters en besig met hulle gemeenskapsdiens. As ek hulle vanaand na jou huis bring om jou groottantes te ontmoet, sal jy inwillig om die naweek saam met ons in ons vakansiehuis langs die Oranjerivier deur te bring? Ek beloof jou: dis ’n groot huis en al die slaapkamerdeure het sleutels.”
“Ek kan dit moontlik waag as …” begin sy tergend en byt dan spytig op haar onderlip. “Nie vanaand nie, Ian. My groottantes speel Donderdagaande brug saam met hulle twee beste vriendinne. Dis ’n jare lange instelling en hulle sal my verkwalik as ek vanaand gaste oornooi.” Sy frons lig toe sy voortgaan: “Nicolette sê graag my tantes is twee ou hekse wat Donderdagaande die toekoms met tarotkaarte voorspel. Het sy jou nog nie daarvan vertel nie?”
Hy frons en skud sy kop ontkennend. “As Nicolette nie lofsange oor haar eie skoonheid sing nie, skinder sy gewoonlik oor haar vriendinne. Ek het al geleer om af te skakel. Maar oorweeg my uitnodiging, Petri. Ek en my broer-hulle vertrek Vrydagoggend net ná agt, maar ek sal vir jou ’n padkaart teken. As jy lus is om te kom inloer, sal ons drie jou met ope arms ontvang.” Hy glimlag tergend. “Dit was figuurlik gesproke, ingeval my ope arms jou afgeskrik het.”
“ ’n Naweek weg uit die stad – miskien moet ek dit oorweeg,” antwoord sy ingedagte. Maar sy weet dis nie van die stad wat sy wil wegkom nie, maar van haar herinneringe aan Hougaard.
Petri bring haar motor voor die helder verligte vakansiewoning op die rivieroewer tot stilstand, skakel die dakliggie aan en raadpleeg weer die kaart wat Ian vir haar geteken het. Dit moet hierdie huis wees, maar sy sal nooit met sekerheid weet as sy nie gaan aanklop nie, dink sy en staar rillend na die donker sluier reën wat die uitsig deur haar windskerm belemmer en oorverdowend op die motor se dak neerstort.
Sy het soos ’n impulsiewe idioot opgetree – nee, nie impulsief nie. Sy het nooit Ian se uitnodiging ernstig oorweeg nie, want op slot van sake is hy ’n vreemdeling vir haar. Sy het vanoggend rustig in haar kantoor gesit en werk totdat Nicolette haar met triomfantelike leedvermaak ingelig het dat sy dadelik huis toe moet gaan. Hougaard het haar glo gebel en gesê sy kan hom oor ’n uur verwag.
“Ek is ’n jaloerse heks,” fluister Petri. Sy skrik vir die klank van haar eie stem en skakel haastig die dakliggie af. Dís wat Hougaard aan haar doen: laat haar met haarself praat asof sy skielik ’n tydgenoot van haar stokou groottantes geword het.
Maar Hougaard is haar boomvriend en sy kan nie, wíl hom nie met enigiemand deel nie. Veral nie met die vermakerige Nicolette nie.