Man van lig en skadu. Schalkie van Wyk
“En?” vra sy ongeduldig toe hy swyg en gemaklik terugleun teen die rugleuning van sy sitplek, sy blik op die stil straat.
Hy kyk na haar en vra met ’n tikkie ergernis in sy stemtoon: “Hoe goed ken jy Ian Olivier, Petri?”
“Jy behoort te weet. Het jy nie ons gesprek onder die wilgeboom afgeluister nie?” vra sy geraak.
“Ek het nie juis ’n keuse gehad nie. Die man stuur ruikers aan jou, wil jou uitneem vir ete en gooi jou toe onder komplimente. Jy voel gevlei, wil graag voor sy sjarme swig, maar jy is bang vir jou eie emosies. Is my afleidings korrek?” vra hy saaklik.
“Nee!” ontken sy met onnodige drif en maak só van haarself ’n leuenaar. Sy voel hoe sy bloos en sê met gedwonge waardigheid: “Ons het ’n prettige gesprek onder die wilgeboom gehad, Hougaard, maar dit beteken nie ek gaan my gevoelens vir Ian of enige ander man met jou bespreek nie.”
“Jy hoef nie, want my afleidings was korrek,” antwoord hy met sekerheid. “En jou optrede teenoor Ian was ook korrek: Sorg dat jou tweelingtantes hom behoorlik onder kruisverhoor neem voordat jy instem om saam met hom uit te gaan. Nee, ek het ’n nog beter voorstel: Nooi eers Ian se hele familie uit om met jou tantes kennis te maak, voordat jy ’n verhouding met die vent aanknoop.”
“Hoekom wantrou jy hom? Is jy jaloers op Ian omdat hy die aantreklikste man op die partytjie was?” vra sy onthuts.
“Hoekom sal ek wees? Ian is net nog ’n man, maar ek is jou enigste boomvriend,” antwoord hy onbesorg.
Hy kyk op sy polshorlosie en sug verlig. “Ek dink ons het Ian lank genoeg tyd gegee om met Nicolette rusie te maak oor jou motorsleutels en hom uit die voete te maak. Ons kan nou terugry sodat jy met jou eie motor huis toe kan ry.”
“Jy het nie my vraag beantwoord nie, Hougaard. Hoekom wantrou jy Ian?” hou sy vol terwyl hy die motor in beweging bring.
“Ek kan aan baie redes dink, maar een is genoeg: Hoekom het hy met Nicolette gekonkel dat sy jou motorsleutels vir hom moet gee?” vra hy bruusk.
Hougaard klink soos ’n befoeterde pa, besef sy met ’n gevoel van teleurstelling. Dit was romanties om ’n boomvriend te hê, want daar was ’n vreemde bekoring in die diep timbre van sy welluidende stem, en sy humorsin en begrip het van hom ’n gesiglose vertroueling gemaak. Toe sy hom die eerste maal in die lig van die straatlamp sien, het sy van sy sterk gelaatstrekke gehou en aanhou wonder oor die kleur van sy oë, maar nou …
Hougaard is omtrent so romanties soos ’n boom, dink sy beledig en voel ’n blos van ergernis oor haar gesig sprei. Hy is net ’n inmengerige ouer man wat hom ontferm het oor haar omdat hy glo sy is ’n naïewe, onervare meisietjie wat deur Ian se sjarme oorrompel sal word.
“Jou besorgdheid oor my beweeg my byna tot trane,” sê sy met snydende sarkasme, “maar as ek geweet het jy speel net kinderoppasser, sou ek nie met jou onder die boom gepraat het of in jou motor geklim het nie. Jou rol van sekuriteitswag was heeltemal oorbodig!”
Hy trap die rempedaal weg en bring die motor met skreeuende bande tot stilstand, skakel die enjin af en vra ru: “Oorbodig? Ek, my liewe, vreeslose Petri, is fisiek soveel groter en sterker as jy dat ek jou met gemak kan oorrompel voordat jy sou kans kry om om hulp te roep. En wie gaan jou dié tyd van die nag te hulp snel in die stil strate van ’n slapende voorstad? Jy het regtig die naïewe vertroue van ’n kleuter. Ek is ’n wildvreemde man, maar jy het sonder teëspraak in my motor geklim. Watter waarborg het jy gehad dat ek jou veilig by jou huis sou besorg? Watter waarborg het jy op hierdie oomblik dat jy veilig is by my?”
Hy klink so kwaad dat sy ’n oomblik wonder of sy moet bang wees vir hom, maar dan antwoord sy met rustige sekerheid: “Jy is my boomvriend en ek weet ek kan jou vertrou. As ek so naïef is, waarom het ek geweier dat Ian my met sý motor huis toe neem?”
Hy kreun sag, stut sy elmboë op die stuurwiel en bedek sy gesig met sy hande.
“Bid jy?” vra sy toe sy hom fluisterend hoor praat.
Hy ruk sy kop op, en sy kan selfs in die dowwe lig van die straatlampe sy donker oë sien blits.
“Nee, ek vloek!” bulder hy met onverwagte volume en gaan toornig voort: “In watter eeu is jy gebore, Petri? Verduiwels, ek ken sestienjariges wat meer lewenservaring as jy het. Goed, jy was wonderlik slim om nie in Ian se motor te klim nie, maar as jy geweier het om in mý motor te klim, sou ek jou motorsleutels vir jou gegee het. Net ’n dom meisie klim in ’n vreemde man se motor!”
“Jy is my boomvriend, nie ’n onbekende man nie. Ek dink dis omdat jy so oud … e … ouer as ek is dat ek so veilig by jou voel. En groot. My pa is lank en groot, maar jy is nog langer,” antwoord sy ongesteurd.
“Ek is nie jou pa nie!” bulder hy weer.
“Ek weet. My pa is veels te besig om my boomvriend te wees. As hy onthou om my te bel, vra hy net of ek nog gesond is. Dan sê hy dis vrek jammer ek is nie ’n seun en ’n ingenieur nie, want dan kon ek saam met hom gewerk het. Maar hy dink nie aan werk nie. Ek wed hy wil net ’n seun hê om saam met hom te drink en te … e … te loer en te koer-koer.”
“Te wát?” vra Hougaard oorbluf.
“Te loer en te koer-koer. Tant Frieda sê dis wat alle mans doen, maar tant Felona sê tant Frieda weet nie waarvan sy praat nie. Weet jy?” vra sy hoopvol.
Hy vryf tydsaam met sy hand oor sy mond, kug en antwoord met die warmte van ingehoue lag in sy stem: “Ek stem saam met tant Felona: jou tant Frieda weet nie waarvan sy praat nie. Selfs op die hoë ouderdom van een-en-dertig het ek nog nooit daardie uitdrukking gehoor nie.”
Hy kug weer en sy sien hom frons voordat hy saaklik voortgaan: “Dis laat en my mense wag vir my. Ek sal jou by jou motor gaan aflaai. Ek kan nie aan jou voorskryf nie, Petri, maar moenie oorhaastig jou volgende boomvriend kies nie.”
Sy mense wag op hom – watter mense? Sy vrou en kinders?
Maar … sy kan nie haar boomvriend met ’n onbekende vrou en ’n spul kinders deel nie, dink sy met ’n gevoel van teleurstelling wat ’n seer knop van hartseer in haar keel laat vorm. Nee, nou redeneer sy werklik soos ’n naïewe kind, want daar is nie ’n enkele rede waarom sy Hougaard ooit weer in die toekoms sal sien nie, besef sy en soek skuiling agter ergernis.
“Glo jy nog steeds ek is ’n dom meisietjie wat mans te maklik vertrou?” vra sy geraak terwyl hy die motor aanskakel en wegtrek.
“Nie dom nie, net goedgelowig. Ek is ’n man, nie ’n boom nie, daarom kan ek begryp waarom Ian jou so graag wil uitneem. Onthou net my waarskuwing: Sorg dat hy sy hele familie aan jou groottantes voorgestel het voordat jy instem om saam met hom uit te gaan.”
Wat weet ek eintlik van Ian Olivier? vra sy haarself onrustig af. Op kantoor weet die hele personeel Ian is ’n knap prokureur wat tot ’n paar maande gelede in Kaapstad – of was dit Durban? – gewerk het. Sy vermoed hy het ’n woonstel, of moontlik besit hy ’n eie huis. Sy aanvaar hy is nog ongetroud, want sy persoonlike assistent vertel graag hoe dikwels sy plek vir hom en een van sy talle meisies by ’n restaurant moet bespreek.
Sy sug. As sy eerlik met haarself is, moet sy toegee: sy weet niks van Ian se privaat lewe nie. Dalk kan sy daarin slaag om Hougaard so vies te maak dat hy bereid is om haar nuuskierigheid oor Ian te bevredig.
“Jou talle waarskuwings teen Ian maak my net gretiger om hom beter te leer ken, Hougaard. Wat weet jy van hom wat so verskriklik is? Het hy ’n duistere verlede?” vra sy uittartend terwyl hulle Jan-Hendrik se helder verligte woning nader.
“Ek bekommer my meer oor jou duistere toekoms as jy nie jou ore oopmaak en luister nie. Ek waarsku jou nie teen Ian omdat ek jou wil amuseer nie, Petri. Onthou dit voordat jy soos ’n ryp pruim in sy arms val,” antwoord hy grimmig.
Hy parkeer sy motor langs hare en gee haar motorsleutels vir haar.
“Hemel, maar jy is ongeskik! Verbeel jou: ’n ryp pruim! Nag, ou suurpruim,” groet sy koggelend