Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
Ek sien dus geen rede waarom ek en Esna mekaar in die geheim moet ontmoet nie. As Natasha weier om van my te skei, moet sy maar daarmee tevrede wees as ek Esna naweke wil huis toe bring.”
“Wel, ek dink dit is uiters laag en gemeen van jou, Dewalt,” voeg die oubaas hom bitter ontstoke toe. “Tien maande gelede het hierdie heks jou in die pad gesteek vir ’n ryker man. Maar toe sy hoor dat jy oornag byna ’n miljoenêr geword het, wil sy jou skielik weer terughê; maak nie saak of jy getroud is of nie. En jy is so eenvoudig! Jy kom glad nie agter dat dit jou geld is wat skielik die trekpleister geword het nie. Ek sal met Natasha praat. Sy kan jou dagvaar vir ’n egskeiding en die helfte van jou besittings eis. Ek sal haar –”
“Ek het ’n paar dae gelede ’n honderdduisend rand in Natasha se bankrekening betaal – en dit is al wat ek bereid is om vir haar te gee,” val Dewalt sy pa in die rede. “As sy so ’n ongehoorde ding wil doen om die helfte van my besittings te eis, kan sy maar gerus van die egskeiding vergeet.”
“Nee, toemaar, ek sal met haar praat en daarna die saak in die hande van my prokureurs laat,” hou die oubaas vol. “Ek en Irene sal haar saam met ons huis toe neem; dan kan jou flerrie maar solank haar intrek hier neem. En nou moet julle my verskoon; ek wil gaan kyk waar Natasha is. Maar voordat ek loop, wil ek net dit vir jou sê, Dewalt: ek het nou finaal besluit om jou te onterf. Jou suster sal my enigste erfgenaam wees, tensy Natasha dalk swanger is. In daardie geval sal jou kind en Irene my erfgename wees.”
Dewalt is doodsbleek en nie in staat om ’n woord te sê nie. Esna is weer rooi van woede, want as die oubaas al sy dreigemente uitvoer, kan sy maar net sowel na Pieter Marais toe teruggaan.
Die oubaas was kwalik buite hoorafstand, toe bars Esna se woede soos ’n vulkaan uit. Haar mooi, sagte lippe is dun en hard vertrek. “Jou pa is van sy verstand af. Waarvan gaan ons lewe as jy die helfte van jou besittings aan daardie vrou moet afstaan? Jy het haar reeds te veel gegee. Ek waarsku jou, Dewalt. As jy so aangaan, weier ek om met jou te trou. Ek is nie van plan om soos ’n armlastige te lewe nie.”
“Toemaar, dit is nie nodig om jou so te ontstel nie, my lief,” sê Dewalt. “Natasha sal nie so ’n ongehoorde ding doen nie – veral nie aan my nie. Sy is nie ’n wraaksugtige mens nie. My pa kan haar dalk oorgehaal kry om van my te skei, maar beslis nie op die voorwaardes wat hy in gedagte het nie.”
Esna voel half gerusgestel. Nou kan sy darem weer sorgeloos oor ’n weelderige en kommerlose toekoms droom.
Oubaas Lafras is nie verbaas om Natasha ongelukkig en verwese aan te tref nie. Hier waar sy in ’n groot leunstoel voor die vuur sit, lyk sy vir hom klein en verlate soos ’n verstote weeskind.
“Ek het nou net met Dewalt gepraat, Natasha,” vertel die oubaas nadat hy hom gerieflik voor die kaggel in die sitkamertjie tuis gemaak het. “Ek het gesê ek sal jou probeer oorhaal om hom sy vryheid te gee, maar dan op voorwaarde dat hy die helfte van sy besittings aan jou afstaan.” Die oubaas begin saggies lag en vervolg met ’n breë glimlag: “Jy moes hul gesigte gesien het, my kind; kostelik, sê ek jou. Ek het hom ook gesê dat ek nou finaal besluit het om hom te onterf – en op hierdie noot het ek van hulle afskeid geneem.”
Irene lag kopskuddend. Sy dink aan die selfvoldane, uittartende trek op Esna se gesig toe sy en haar pa hulle in so ’n vurige omhelsing op die rusbank betrap het. Haar pa se woorde het die vroumens bepaald so platgeslaan asof ’n atoombom haar getref het. Esna wonder seker op hierdie oomblik of sy wys gehandel het om haar verlowing met die ryk Pieter Marais te verbreek.
“Ek stel voor dat jy jou persoonlike besittings gaan inpak en saam met ons Johannesburg toe kom, kindjie,” dring die oubaas se stem meteens deur Natasha se gedagtes. “Hierdie huis is beslis nie meer ’n plek vir ’n beskaafde mens om in te woon nie.”
“Ek besef dit maar alte goed, Pappa,” stem Natasha saam. “Veral noudat Dewalt selfs sy minnares hier na die huis toe bring. Maar my lewe voel nou so deurmekaar; ek sal liewer iewers heen gaan waar ek myself weer kan vind – ’n stil, rustige en afgesonderde plek. Dalk iets soos –”
“Dennebaai,” val Irene haar skoonsuster vriendelik en hulpvaardig in die rede. “Dit is ’n baie gewilde strandoord – en dit is baie stil buite die seisoen. En Pappa het ’n strandhuis in Dennebaai waar jy sommer dadelik kan intrek.”
“Ja, dit is nogal ’n goeie plan,” meen oubaas Lafras. “Irene kan saam met jou gaan en jou eers help om gevestig te raak.”
“Skitterend!” sê Irene opgewonde. “Ons sal sommer vir Mieta ook saamneem.”
“Wie is Mieta?” vra Natasha nuuskierig. Sy hou besonder baie van hierdie lewenslustige skoonsuster van haar. Irene herinner haar baie aan Rita Grové.
“Mieta, my hartjie, is ’n ou huishulp wat al baie jare in ons diens is,” verduidelik Irene. “Sy kan sommer daar bly en vir jou sorg, want sy praat deesdae net van huis toe gaan. Dit beteken Dennebaai toe, want dit is die wêreld waar sy vandaan kom.”
“Wel, ek moet sê dit klink na ’n uitstekende plan,” erken Natasha. Sy kyk Irene met ’n effense glimlaggie aan en vervolg vriendelik: “Jy is net soos Rita. Julle is altyd vol planne. In elk geval, ek sal dit baie waardeer as jy ’n rukkie saam met my op Dennebaai sal bly. Jy moet net vir my sê wanneer dit jou sal pas om te gaan.”
“Sal jy vandag en môre al jou persoonlike besittings ingepak kan kry, my ou sussie?” wil Irene opgewonde weet. Natasha knik bevestigend. “Gaaf, ek sal môremiddag hier wees met die stasiewa, want ek is seker jy sal nie al jou bagasie in jou motor kry nie,” gaan Irene voort. “Rita sê jy het in Pretoria altyd genoeg klere vir vyf mense gehad.”
“Nee, dit is darem nie so erg nie,” keer Natasha, “maar die stasiewa sal baie welkom wees.”
Terwyl Natasha en Irene nog besig is om oor hul reis na Dennebaai te gesels, kom mevrou Hugo die vertrek binne met die nuus dat Dewalt vir Esna na die hotel op Leliesvlei toe geneem het. Hy het haar ook gevra om nog ’n kamer vir sy pa gereed te maak.
“Dit sal nie nodig wees nie, dankie, mevrou,” lig Irene haar vriendelik in. “Ons ry vanmiddag weer terug. Ek sal môreaand hier slaap sodat ek en Natasha Maandagoggend vroeg Dennebaai toe kan vertrek.”
Dewalt was nog nie tuis toe die oubaas en Irene die middag vertrek nie, maar hy was darem betyds terug om sy twee bergklimvriende tuis te verwelkom. Hy is egter verbaas toe hy merk dat die tafel net vir vier mense gedek is.
“Is ons net vier vir aandete, mevrou Hugo?” wil Dewalt met ’n ligte frons weet.
“U pa en suster het vanmiddag weer vertrek, meneer, en mevrou De Meyer voel nie gesond nie. Maar juffrou De Meyer kom môreaand hier slaap,” verduidelik mevrou Hugo.
Dewalt se frons keep dieper tussen sy oë. Hy begryp nie waarom sy suster terug huis toe gegaan het as sy môreaand hier kom slaap nie. Dan haal hy sy skouers op. Hy sal wel môreaand, nadat Irene hier aangekom het ’n antwoord op sy vraag kry.
Na oubaas Lafras en Irene se vertrek het Natasha in aller yl begin inpak. Mevrou Hugo kom haar help wanneer sy dit nie te druk het met haar huishoudelike take nie.
Natasha is die volgende dag nog steeds besig met inpak. Dewalt is nog voor ontbyt Leliesvlei toe en sy sien hom heeldag nie met ’n oog nie. Die twee bergklimmers het net na middagete vertrek en mevrou Hugo kan meer tyd aan Natasha bestee.
Dit is byna tyd vir aandete toe Irene weer voor Die Arendsnes stilhou en uitklim. Sy neem net ’n oornagtassie en sluit die res van haar bagasie in die stasiewa toe.
Mevrou Hugo, wat Irene se aankoms deur die sitkamervenster gesien het, is dadelik by die voordeur om haar te ontvang.
“Mevrou De Meyer is in die klein sitkamer,” sê sy.
“Hallo!” groet Irene haar skoonsuster met ’n breë glimlag. “Dit lyk vir my jy het nou in hierdie sitkamertjie nesgeskop,” gaan sy laggend voort, “maar ek neem jou nie kwalik nie. Ek sal ook nie daarvan hou om dieselfde lug in te asem as daardie hekseketel wat Dewalt gister hier in jou groot sitkamer onthaal