Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
jou gesig sien dat jy weer ’n bloutjie met jou werksoekery geloop het,” glimlag Irene ondeund oor die rand van haar glasie. “Ek dink jy moet maar liewer die hele besigheid los, Natasha, en die lewe bedags saam met my op die strand geniet.”
“Ja, ek sal dit bepaald moet staak,” sê Natasha bedaard, “maar nie om die rede wat jy aangevoer het nie, my liewe Irene.”
“So?” Irene kyk haar skoonsuster verbaas aan. “Mag ek vra waarom jy besluit het om jou werksoekery te staak?”
“Ek dink ek is swanger,” sê Natasha ongeërg.
Irene vlieg soos ’n staalveer orent. Sy neem Natasha se hand opgewonde in hare. “O, my ou sussie, weet jy wat hierdie nuus vir Pappa gaan beteken? Jong, ons moet hom sonder versuim bel. Dewalt sal daardie hekseketel nou dadelik in die pad moet steek. Julle kan nie nou skei nie …”
“Wag so ’n bietjie, jy is nou te haastig, jou voortvarende meisiekind,” glimlag Natasha geamuseer. “Dewalt het net ’n paar dae voor ons vertrek vir my gesê dat as ek swanger is, dit die kroon oor al sy ellende sal span – en mag die Vader verhoed dat ek swanger is. So, vergeet van Dewalt. Ek is buitendien ook nog nie heeltemal seker nie. Die dokter sal eers oor drie dae kan bevestig of ek regtig swanger is.”
“Kan ek maar solank vir Pappa bel en hom vertel wat moontlik op hom wag?” wil Irene weet. “Ek sal hom mooi vra om niks hiervan aan Dewalt te sê nie.”
“O, nou goed, gaan maar jou gang,” kom dit gelate van Natasha. Sy weet Irene brand om hierdie nuus aan haar pa oor te dra.
7
Irene hardloop opgewonde na die telefoon en skakel haar pa se nommer met vingers wat bewe van opgewondenheid.
Om te dink dat daar eindelik ’n klein mensie in die familie gaan wees – en dat ek die ou dingetjie se tante sal wees! dink Irene met genoegdoening. “Dit gaan die beste nuus wees wat my ou paps nog ooit gehoor het. En as dit ’n seun is, ’n klein Lafras, wil ek nie praat hoe trots sy oupa op hom sal wees nie …
Haar pa se stem bring skielik ’n einde aan haar salige gedagtes. “De Meyer hier.”
“Hallo, liewe ou Paps,” roep Irene vrolik uit. “Raai wie praat?”
“Ja, toemaar, asof ek nou nie my verspotte dogter se stem ken nie! Ek het net gisteraand gewonder wanneer jy my weer eendag gaan bel, kleinding. Gaan dit nog goed met jou en Natasha?”
“O, baie goed, Pappa, en ons het wonderlike nuus vir jou. Raai net wat is dit.”
“Irene, jou stouterd, wanneer word jy eendag groot?” lag die oubaas saggies. “Nee, ek kan nie raai nie. Moet net nie sê jy het trouplanne nie; ek wil die gelukkige vent eers goed deurkyk.”
“Ag, jy sal in elk geval ook nooit reg raai nie, Pappa,” lag Irene saam. “Ek sal dus maar sê … Natasha meen dat Pappa oor ’n klompie maande oupa kan word. Sy wil natuurlik nie hê die hele wêreld moet nou al weet nie, want die dokter kan eers oor drie dae met sekerheid sê. Maar ek het gevoel Pappa moet solank weet.”
“Wel, ek sou so dink, ja! Natuurlik moet ek daarvan weet, my ou dogter,” sê die oubaas, nou duidelik in sy skik. “Ek sal Dewalt bel en hom sê dat daar nou geen sprake van ’n egskeiding kan wees nie!”
“Nee, wag ’n bietjie, Pappa!” keer Irene haastig. “Natasha verkies dat Dewalt niks hiervan moet weet nie. Moet hom asseblief nie bel nie.”
“Maar hy is tog die pa, waarom moet hy nie hiervan weet nie?” maak oubaas Lafras haastig beswaar. Die pa van ’n ongebore kind moet tog die eerste wees om van sy kind se bestaan te weet. Hy kan nie begryp waarom Natasha dit vir Dewalt geheim wil hou nie.
“Dit is ’n lang storie, Pappa, maar ek sal probeer om dit kort te hou. Natasha sê die moontlikheid dat sy swanger kan wees, het ter sprake gekom toe Dewalt haar om ’n egskeiding gevra het. Volgens hom sal ’n ongewenste swangerskap nou net die kroon oor al sy ellende span. Natasha het dus besluit hy hoef glad nie te weet dat sy swanger is nie. Pappa moet dit maar liewer nie rugbaar maak nie.”
“O, ek begryp,” is egter al antwoord wat Irene van hom kry. Laat Natasha maar haar eie besluite neem, meen die oubaas. Maar hy wat Lafras is, weet wat die regte ding is om te doen.
“Wanneer kom Pa vir ons kuier?” hoor hy Irene se stem. “En hoe gaan dit nog met Rita?”
“Met Rita gaan dit nog voor die wind, ou dogter. Ek hoor nie dat sy oor enigiets kla nie – maar sy het ook nie juis rede om te kla nie. Daardie gewilde Jurie-mansmens kuier mos nou by haar. Jammer dat jy nie ’n trek vir die man gehad het nie.”
“Pappa, ons gaan nie weer oor Jurie praat nie,” keer Irene vinnig. “Ek het mos gesê waarom ek hom nie wil hê nie …”
“Ja, ek weet. Jy het gesê jul kinders sal almal soos witmuise lyk omdat julle albei blond is. In elk geval, ek sal probeer om môre Dennebaai toe te kom. Intussen moet jy maar sorg dat Natasha haarself stil gedra. Ek wil nie hê my kleinkind moet iets oorkom nie. Ek hoop dis ’n seun.”
“Toemaar, ek en Mieta sal mooi na haar kyk, Pappa,” belowe Irene. “Ek voel self ook in die wolke omdat ek die kleinding se tante sal wees. Dit is inderdaad ’n statusverhoging.”
Die oubaas begin saggies lag. Dan sê hulle tot siens.
“Pappa het gesê ek moet sorg dat jy jou stil gedra, Natasha,” sê Irene toe sy na ’n rukkie langs Natasha op die rusbank gaan sit. “Pappa sê hy wil nie hê sy kleinkind moet iets oorkom nie. Hy sal glo probeer om ook môre hier ’n draai te kom maak.”
“Ek hoop jy het hom gesê om niks vir Dewalt te sê nie, Irene,” kom dit ernstig van Natasha.
Irene knik. Dan gesels hulle oor die oubaas se koms en die verwagte baba.
Daar is ’n vasberade trek om oubaas Lafras se mond toe hy Dewalt se huisnommer skakel. Hy hoop nou net die man is tuis en nie by daardie flerrie nie. Met haar in die prentjie weet ’n mens ook nooit waar om met hom in aanraking te kom nie.
Oubaas Lafras kan maar nie begryp hoe dit moontlik is dat ’n volwasse, intelligente man soos Dewalt so ’n sotheid kan begaan deur ’n goeie vrou te los vir ’n goedkoop flerrie wat net agter sy geld aan is nie.
“Dewalt de Meyer hier,” onderbreek sy seun se stem meteens sy gedagtes.
“Naand, Dewalt,” groet die oubaas. “Ek het nou net gewonder of jy tuis is, want daar is iets wat ek dringend met jou moet bespreek. Kan jy môre hiernatoe kom?”
“Pa, laat ons mekaar goed verstaan,” sê hy ergerlik. “Ek is nie bereid om die helfte van my besittings aan Natasha af te staan nie – as dit is waaroor ek so dringend gespreek moet word. Ek het ook nie tyd om môre te ry nie. Pa moet maar die dringende saak nou met my oor die telefoon bespreek.”
“Nou goed, dan gesels ons maar oor die telefoon,” sê die oubaas bedaard. “Jy maak nou so heftig beswaar teen die regmatige deel wat jou vrou toekom, Dewalt, maar wat gaan jy maak as jy dit ter wille van jou kind moet gee?”
Dewalt is skielik doodsbleek en sy stem is effens skor toe hy ietwat verward sê: “My kind …? Ek het nie ’n kind nie! Wat laat Pa so iets sê?”
Esna, wat op die punt van Dewalt se lessenaar sit, kyk hom ergerlik aan. Dan begin haar groen oë smeul. Sy kan nie hoor wat die oubaas oor die foon sê nie, maar sy kan aan Dewalt se uitroep aflei waaroor die gesprek gaan.
Die oubaas laat hom egter nie van Dewalt se misnoeë van stryk bring nie, maar sê ewe kalm en bedaard: “Irene het my pas gebel met die nuus dat Natasha vermoed sy is swanger. As dit die geval –”
“Verskoon my, Pa, maar ek dink dit is ’n knoeiery van Natasha om meer geld uit my te kry,” val Dewalt sy pa in die rede. “Ek glo geen woord daarvan nie!”
“Wag ’n bietjie, ou seun,” keer die oubaas. “Jy is gans te haastig om jou vrou te veroordeel.