Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
het die huis vanoggend voor ontbyt verlaat en eers vyftien minute gelede tuis gekom. Hy weet dus nog nie dat ek môreoggend sak en pak Dennebaai toe gaan nie. Trouens, ek verkies dat hy glad nie weet waar ek gaan bly nie. Wanneer ek môreoggend uit hierdie huis stap, wil ek alle bande met Dewalt verbreek … Maar waarom sit jy nie, Irene?”
“Ek wil net eers my hande was en dan kan ons lekker hier voor die vuur gesels,” sê Irene en stap badkamer toe.
Dewalt is nie juis verbaas toe hy Natasha daardie aand aan tafel sien nie. Hy weet dat sy die etenstafel die afgelope twee dae opsetlik vermy het omdat Esna en sy twee vriende daar was. Hy vra nie hoe dit met haar gaan nie, hoewel sy vir hom baie bleek lyk.
“Waarheen is die reis met die groot stasiewa, as ek mag vra?” vra hy vir Irene.
“Ek en Natasha gaan al met die kus langs ry totdat ons ’n dorpie vind waarvan sy hou en waar sy haar graag sal wil vestig,” verduidelik Irene. “Ons vertrek môreoggend.”
“Môreoggend …” sê hy en kyk dan na Natasha. “Wanneer het jy besluit om langs die kus te gaan bly, Natasha?”
“O, ek het gistermiddag, tydens jou pa se besoek, finaal besluit,” antwoord sy toonloos. Sy sien terloops dat mevrou Hugo van die tafel af opstaan en die vertrek stil verlaat.
Dewalt kyk skerp na Natasha en sê bars: “So, dan het jy gister al geweet dat jy môreoggend weggaan – en ek hoor nou eers daarvan!”
“Ek het hoegenaamd geen rede gesien waarom ek dit met jou moes bespreek nie,” sê sy ongeërg. “Jy was buitendien nie beskikbaar nie, al sou ek dit ook met jou wou bespreek het, Dewalt. En moet asseblief nie maak of jy ’n veronregte eggenoot is nie. Ek weet tog van beter …”
“Wat bedoel jy presies?” vra hy onthuts.
“Ek bedoel dat my vertrek die een ding is waarna jy en jou … e … vriendin bepaald die meeste uitsien,” antwoord Natasha reguit. “Sy kan maar môre haar intrek hier by jou in die huis neem. Dan sal dit nie meer vir jou nodig wees om elke dag agter haar aan te ry nie.”
“My privaat sake gaan jou nie aan nie, Natasha. Ek sal dit –” begin Dewalt onthuts, maar Natasha gee hom nie kans om meer te sê nie.
“In daardie geval gaan my bewegings jou ook nie aan nie,” val sy hom met soveel onverskilligheid in die rede dat hy nie anders kan as om haar verbaas aan te kyk nie.
Irene merk dit en glimlag onderlangs. Sy is baie lief vir Dewalt, maar sy is nie blind vir sy selfsugtigheid nie. Maar nou, voel sy, het sy selfsug te ver gegaan. Soos dinge vir haar lyk, wil hy vir Esna hê – maar Natasha moet darem ook op die agtergrond wees.
“Jy is nog steeds my vrou en my verantwoordelikheid, Natasha,” keer hy.
“En jy is nog steeds my man, maar jou getroude status verhoed jou nie om jou minnares huis toe te bring nie,” troef sy hom. “Vergeet dus maar asseblief dat ek jou vrou is. Ek sal dit in elk geval nie meer lank wees nie … Waarom frons jy nou so danig?”
“Ek sou verkies het dat jy hier in die huis aanbly, Natasha – selfs na die egskeiding,” sê Dewalt.
Natasha skud haar kop stadig. “Ek is jammer, Dewalt, maar ek is nie vir so ’n saamblyery te vinde nie.”
“Hier sal geen saamblyery wees nie,” kap hy terug. “Ek vertrek oor drie weke Amerika toe vir die verfilming van my draaiboek en ek sal stellig maande lank daar in die vreemde vertoef.”
Hiervan wil Natasha niks weet nie. Sy het klaar besluit om weg te gaan en sy gaan haar nie nou laat ompraat nie.
“Jy sal iemand anders moet kry om hier te kom woon en na jou huis te kyk, Dewalt,” sê sy beslis. “Aangesien ons tog op die punt staan om te skei, verkies ek dat ons alle bande met mekaar verbreek. Ek koester geen begeerte vir ’n onderonsie met jou en die nuwe mevrou De Meyer om elke hoek en draai nie – en dit is beslis wat sal gebeur as ek hier aanbly.”
“Bedoel jy dat ons mekaar na môre nooit weer sal sien nie?” Hy kyk haar snaaks aan, so asof dit ’n gedagte is wat nog nooit by hom opgekom het nie. Noudat hy so daaraan dink, hou hy glad nie van die gedagte nie.
Sy knik. “Dit sal vir ons albei beter wees.”
“O, nou goed dan,” sê hy met ’n ligte skouerophaling. “Ek hoop dat jy gelukkig sal wees – waar jy jou ook al mag vestig, Natasha. Ek neem aan Irene gaan ’n rukkie by jou bly, of hoe?”
“Ja, ek is van plan om by Natasha te bly totdat sy eers goed gevestig is,” kom dit van Irene. “Pappa sal hom moontlik ook later vir ’n paar dae by ons aansluit.”
Die maaltyd kom so onder die gesels deur ten einde en vir ’n wonder bly Dewalt daardie aand tuis.
Na ete gaan hulle in die groot sitkamer sit. Natasha maak later verskoning en loop dan na haar kamer toe om te kyk of daar nie straks iets is wat sy vergeet het om in te pak nie.
Haar blik val skielik op haar en Dewalt se geraamde troufoto op die spieëlkas en sy besluit om die foto ook maar in te pak. Dewalt sal dit tog maar net vernietig wanneer hy en Esna getroud is. Buitendien is daar ’n vergroting in die sitkamer.
Terwyl Natasha nog besig is om ’n paar kleinigheidjies in te pak, kom mevrou Hugo verneem of sy haar tee na die sitkamer of na die kamer toe moet bring.
“Bring dit maar asseblief hier na die kamer toe, tannie Rina,” sê Natasha. “Ek voel nou nog te slordig om my gesig in die sitkamer te wys.”
Mevrou Hugo verlaat die vertrek, maar keer ’n rukkie later weer terug. “Meneer De Meyer wil weet waarom jy nie jou tee saam met hulle in die sitkamer kom drink nie, my kind. Wat moet ek vir hom sê?”
“Sê maar vir hom ek lyk nie nou netjies genoeg om in die sitkamer tee te drink nie, tannie Rina. Ek sal maar my tee hier in die kamer geniet,” sê Natasha terwyl haar gesig geslote bly. Sy weet hoeveel inspanning dit van haar verg om in Dewalt se teenwoordigheid ongeërg en bedaard te lyk as haar hele wese en alles in haar na hom roep.
Nee, ek moet hom liewer nie weer sien nie, mymer sy nadat die ouer vrou die vertrek verlaat het. Hy het vanaand aan tafel nie juis vreeslik gelukkig gelyk nie. Dis waar, noudat ek daaraan dink, tref dit my dat daar duidelik ’n ongelukkige trek om sy mond was … Dit is snaaks, want noudat hy sy geliefde Esna as vrou kan kry, behoort hy tog uitermate gelukkig te wees! Veral noudat ek ook nog uit sy lewe padgee sonder om vir hom moeilikheid te veroorsaak!
Natasha sug, want daar is ’n groot hartseer in haar wat sy nie met ander kan deel nie – ’n pyn wat net die tyd kan heel.
Dewalt dring nie verder daarop aan dat sy haar tee saam met hom en Irene moet kom drink nie en Natasha kan haar aandag bepaal by die dinge wat sy nog moet doen.
Dit is haar laaste aand in Die Arendsnes. Waar sy nou in die bed lê, dink sy terug aan die paar dae wat sy hierdie kamer, asook die bed waarop sy lê, met Dewalt gedeel het. Dit was skaars ’n week gelede … en so baie dinge het in die kort rukkie gebeur.
Natasha voel weer Dewalt se arms om haar – daardie laaste aand toe hulle saam op hierdie bed geslaap het. Hy was nooit ’n vurige minnaar nie, maar sy toenadering en selfs sy aanraking was altyd sag en bedagsaam. Sy lippe was altyd sag en teer teen hare, al het daardie soene vir hom niks beteken nie. Sy voel hoe die trane warm agter haar ooglede brand en, soos al die ander aande sedert Esna in Dewalt se lewe gekom het, huil sy haar aan die slaap.
Natasha en Irene is die volgende oggend vroeg wakker en uit die bed. Mevrou Hugo het vir hulle ’n kosmandjie vir die pad gepak. Terwyl die twee koffie drink, neem die huishulp Natasha se bagasie na buite waar sy en Mieta alles netjies in die stasiewa en in Natasha se motor laai.
Wanneer hulle wil ry, slaap Dewalt nog. Natasha skryf ’n kort briefie vir hom om tot siens te sê, groet mevrou Hugo en vertrek.
Die son is reeds lankal op toe Dewalt eindelik wakker word. Hy gaap lank, maar dan dink hy daaraan dat Natasha en Irene vanoggend vertrek. Hy kyk na sy horlosie en frons toe hy merk dat