Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua
is hopeloos laat. Natasha-hulle het reeds sesuur die oggend vertrek. Hy kry mevrou Hugo in die eetkamer waar sy besig is om die tafel vir ontbyt te dek.
Hy groet haar beleef en vra dan haastig: “Het my suster-hulle al vertrek, mevrou Hugo?”
“Hulle het al sesuur vertrek, meneer,” sê sy vir hom. “Mevrou De Meyer het vir u ’n briefie op die lessenaar in die studeerkamer gelaat.”
“Dankie, mevrou,” sê hy kortaf en haas hom na sy studeerkamer waar Natasha se briefie op die lessenaar lê.
Net ’n paar woorde waarmee ek jou al die geluk in die wêreld wil toewens, Dewalt – en dit sluit die verfilming van jou draaiboek en al die ander draaiboeke in wat jy nog gaan skryf. Ook jou huwelikslewe met Esna le Clus. Ek gaan nie tot siens sê nie, Dewalt; dit is nie tot siens nie, maar vaarwel … Natasha.
Dewalt lees die kort briefie ’n tweede keer. Hy kyk deur die venster na die hoë berg, die groen hellings en die diep klowe. ’n Vreemde eensaamheid sak skielik oor hom toe. Hy verwens homself omdat hy nie vroeër opgestaan het nie en hy wonder ook waarom Natasha hom nie wakker gemaak het nie.
Nee, nie Natasha nie – Irene, help hy homself reg. Natasha sou vir geen geld ter wêreld na my kamer toe gekom het nie. Sedert Esna weer in my lewe gekom het, het sy doelbewus alle kontak met my probeer vermy. Nee, sy sou my nie kom wakker maak het nie …
Nou kring sy gedagtes om Natasha. Hy dink aan haar fynbesnede gesiggie, raafswart hare en mooi, fyn maniere. Hy dink aan hul wittebrood en daar kruip ’n verdwaaldheid in sy oë. Hy weet nie waarom nie, maar daar is ’n vreemde leegheid in hom.
Dit is Natasha se vertrek wat my so leeg en eensaam laat voel, gesels hy met homself terwyl sy blik op die hoogste bergpiek rus. Ek het al te gewoond aan haar hier in die huis en by my geraak …
Die gelui van die telefoon maak meteens ’n einde aan sy gedagtes. Hy tel die gehoorbuis op en hoor Esna se stem sê: “Ek wil asseblief met meneer De Meyer praat.”
“Jy praat met hom, my groenoog,” lag Dewalt saggies in die gehoorbuis, sy eensaamheid vir die oomblik vergete.
“O, Dewalt, jou lawwe ding!” roep sy laggend uit. “Het jou suster toe gistermiddag gekom?”
“Ja, sy het gekom. Vanoggend het sy en Natasha saam vertrek,” vertel hy. “Natasha het glo Saterdag al besluit om vanoggend sak en pak iewers na die kus te verhuis, maar ek hoor eers gisteraand daarvan.”
“Wel, ek moet sê dit klink byna of jy jammer voel oor haar vertrek,” sê Esna.
“Jy het gelyk, ek sou verkies het dat sy hier in die huis aanbly totdat ek terug van Amerika af is …”
“Jy bedoel, totdat óns terug is, my skat,” help sy hom reg en daar is ’n verleidelike ondertoon in haar stem. “Maar vertel vir my; is Natasha nou vir altyd van jou af weg? En wanneer gaan sy met die egskeiding begin?”
“Ja, my poppie, Natasha is nou vir altyd weg,” antwoord hy, “maar sy het nie gesê wanneer sy met die egskeidingsaak gaan begin nie. Sy sal bepaald aandag aan die saak skenk sodra sy eers gevestig is. Maar ek gaan nie nou langer met jou oor die telefoon praat nie, my engel. Ek sien jou sodra ek ontbyt geëet het.”
Daar speel ’n glimlaggie van diepe tevredenheid om Esna se mond toe sy die gehoorbuis op die mikkie terugsit. Noudat Natasha vir altyd uit Dewalt se lewe verdwyn het, kan sy hom begin voorberei vir die duur diamanthalssnoer wat sy in die oog het. En as sy oor drie weke saam met hom na Amerika moet gaan, sal sy vir seker etlike nuwe aandrokke nodig hê.
Die lewe is Esna inderdaad goedgesind; veral noudat die pad vir haar na Dewalt se bankrekening oop is. Haar groen oë blink soos smaragde terwyl sy dink aan al die weelde wat op haar wag.
Natasha en Irene se reis was so voorspoedig dat hulle Dennebaai pas na middagete binnery. Natasha hou dadelik van die mooi, lowergroen dorpie wat van onder die strand tot bo-op die heuwel strek. Toe hulle na ’n rukkie voor die strandhuis, ’n hanetreetjie van die waterkant af, stilhou, merk Natasha dat die strandhuis gelukkig nie op die woeligste deel van die strand staan nie. Sy sal dus nie te afgeleë en eensaam, maar ook nie in die gedrang, wees nie.
“O, die see is vandag wonderlik kalm en blou,” laat Irene opgewonde hoor terwyl sy en Natasha langs die motor na die aanrollende golwe staan en kyk. “Ek dink jy gaan baie gelukkig hier wees, Natasha.”
’n Weemoedige glimlaggie vorm om die swartkop se mond. “Ja, ek sal seker so gelukkig wees soos wat ’n mens in die omstandighede kan wees – nadat jou man jou vir ’n ander vrou verlaat het.”
Die hartseer in Natasha se stem laat die ouer meisie vinnig en verleë na haar kyk.
“Ek is jammer, Natasha,” sê sy verontskuldigend. “Wat ek eintlik bedoel het, is dat jy lekker hier sal bly. En wanneer jy eendag oor jou hartseer is en nie meer aan Dewalt en jul gebroke huwelik dink nie, sal jy besef dat jy hier gelukkig kan wees.”
“Op die oomblik voel dit nie vir my of daar ooit so ’n dag sal wees nie, Irene,” kom dit sag van die jong vrou. “Maar ek sal jou nie weerspreek nie. Ek het self eendag êrens gelees dat tyd sulke wonde heel. En as dit die geval is, sal ek stellig hier gelukkig kan wees, soos jy sê.”
“Jy sal weer eendag gelukkig wees, ou sussie,” verseker Irene haar baie ernstig. “Maar kom, laat ons binnetoe gaan. Ek sien Mieta het ons bagasie al na die stoep toe geneem.”
Die aande is koud, maar die dae is lekker warm langs die kus.
Natasha se hart bly egter koud en bitter seer. Irene probeer alles in haar vermoë om die jong vrou se gedagtes met ander dinge besig te hou, maar dit is vir haar duidelik dat sy nie volkome daarin slaag nie. Natasha se oë is elke oggend rooi van die trane.
Irene se hart gaan uit na haar en sy verwens Esna elke dag net meer. Sy het ook al dikwels gewonder of die liefde regtig so ’n goeie ding is soos wat skrywers en digters sê. Vir haar lyk dit nie so nie, want kyk net hoe ongelukkig het die liefde vir Natasha gemaak.
Waar Irene op die strand in die son lê, besluit sy dat sy liewer niks met die liefde te doen wil hê nie.
“Wat gaan ons vanaand doen, ou sussie?” vra sy vir die swartkop wat langs haar op ’n kleurryke strandhanddoek lê.
“Net wat jy wil doen, solank dit net nie daardie wilde musiek waarvoor jy so lief is insluit nie,” laat Natasha met ’n lui, slaperige stem hoor.
Irene bars uit van die lag. “Nou ja, daar is vanaand ’n paar goeie flieks op televisie. Jy kan kies tussen ’n komedie, ’n riller en ’n outydse tranetrekker.”
“O, dit sal beslis ’n komedie moet wees,” glimlag Natasha. “Ek het nie nog krag vir ander mense se smarte nie – al is dit net in ’n fliek.”
Só verwyl die twee hul verblyf op Dennebaai. Bedags boer hulle op die strand en saans soek hulle ander afleiding. Natasha besef dat sy haar op die een of ander manier besig sal moet hou as sy van Dewalt wil vergeet. Tans is haar lewe te leeg en kry sy ook gans te veel tyd om aan hom en hul gebroke huwelik te dink.
Toe hulle later op die voorstoep sit en tee drink, sê Natasha so ewe uit die bloute: “Ek het besluit om te gaan werk, Irene …”
“Werk …!” Irene kyk haar verbaas aan en bars hardop uit van die lag. “Moenie vir my sê jy wil nou ook so ’n werkesel soos Rita word nie, my sussie. Jy gaan net vir jouself probleme skep met so ’n werkery. Almal by die werk sal wil weet waar jou man is.”
“Nee wat, ek glo nie dit is so erg nie.”
“O, nou goed, gaan dan maar jou gang. Moet net nie van my verwag om jou te help werk soek nie, want dit weier ek beslis.”
“Nee, toemaar, ek sal jou nie daarmee belas nie,” glimlag Natasha. “Lê jy maar bedags op die strand en geniet jouself. Ek sal elke week die plaaslike koerant koop en kyk wat dit oplewer.”
Natasha hou voet by stuk, maar dit is nou al